by

Reunies en begrafnisse.

November 21, 2008 in Sonder kategorie

Die eerste twintig jaar van n mens se lewe is die belangrikste, vriende wat so saam met jou grootgeword het bly vir altyd amper soos familie. Deur die jare verloor julle mekaar soms soos julle uitmekaarspat om n lewe te gaan maak. Sterf een skielik in n ongeluk, laat weet almal mekaar en ons kom begrafnis toe. Hier van vyftig af word die begrafnisse al meer, dis nie meer ongelukke nie, dis siektes en wragtig n paar selfmoorde ook. Maar ons laat weet mekaar en ons kom gee ons laaste eerbewys.

Toe sterf n goeie neef van my doer op die platteland waar ons almal grootgeword het en ons ruk weer op, van dwarsdeur die land. Meeste van die tyd gaan die vrouens nie saam, want hulle ken skaars die afgestorwene. Daar is n eienaardige tradisie op hierdie dorp, na kerk en na die begrafnis en na die koek en tee in die kerksaal, gaan al die vrouens wat wel daar is na n familielid se huis en ons mans gaan af die die Klubhuis. By die klubhuis, as die afgestorwene langer as twintig jaar n lid was, is daar n “kitty” en kan ons almal so een of twee doppe drink drink ons praat oor lank gelede se doen en late van die oorledene, toe ons almal nog jonk en mooi was.

Op hierdie geleentheid daag ou Dries mos vir die eerste keer op. Kyk, Dries was nooit die slimste kind daar op die plaaskooltjie nie. Soms het ons hom gehelp om deur te kom, so onder die neus van die onderwyser. Maar Dries was wat ons daai tyd genoem het, n”organiser”. Hy kon planne maak en n ding organiseer, en hy kon praat; glad met die bek. Dis die eerste keer na al die jare wat ons vir Dries nou weer sien. Baie gehoor van hom by die ander; dat hy daar in Transvaal n skatryk sakeman geword het. Ook dat hy n swak plek vir mooi vrouens het, was al drie keer getroud, is nou weer getroud. Ons is omtrent dertig mans daar bymekaar. Dit gons en gesels.

My ontmoeting met ou Dries  na presies twee en veertig jaar het daar in die Klubhuis,  min of meer so verloop:

Ek:  My naam is Outop, nou wie is jy nou eintlik.

Hy vat my hand en daar is egte medelye in sy oë.

Dries: Maar dit kan nie wees nie, Outopo. Jy was dan so mooi outjie op jou dae!

Ek, effens bedroef: Het maar effens grondpad gery. Maar wie is jy?

Dries: Ek is Dries, man. Het jy dan Alzheimers?

Nou eers sien ek dit is Dries, dis die ou wat daar by die kerk met die groot pikswart Mercedes Benz aangekom het. Hy lyk vir my ook of n lang ent in sy lewe grondpad kon gewees het. Ek sien hy drink te vinnig en te veel, en hy praat aanmekaar. Hard en luid.

Dries: Nee, ek slaap maar oor hier in die Hotel vanaand. Paaie te gevaarlik vandag, potholes , kapers.
en sulke dinge.

So gaan n uur of twee verby en ek gesels met die ander mense daar. Land weer by ou Dries, Hy het omtrent tien ouens om hom wat luister. Hy is nou pleinweg getrek.

Dries: My eerste vrou was n weduwee met twee dogters, agt jaar ouer as ek. Man sy was mooi, ek het een kind saam met haar gehad. Sy het niks van die stad gehou nie, net vier jaar toe vat sy die pad.

Dries: Toe trou ek met n vrou van die stad. Sy het my twee kinders gegee, maar sy het my byna uitgeroei. Skuldmaak en shopping was haar lewe. So tien jaar, toe los ons mekaar.

Iemand uit die gehoor: Hel Dries, hoop jy los toe maar die vrouens verder uit, jong.

Dries: Ja, ek het lank gehou, maar hulle los jou nie uit nie. Ek trou toe met my sekretaresse. Sy was drie en twintig jaar jonger as ek. Darem net een kind by haar gehad nie, huwelik het net drie jaar gehou.

Ek kan sien die ou is besig om homself nou hartseer te praat. Geluk het hom gedurig ontwyk. As hy nou n traan sou stort sal ons hom almal vergewe. Maar nee, dis nie die einde nie.

Dries: Toe verkoop ek die fabriek en belê alles in eiendom wat ek verhuur. Toe het ek tyd om te dink en om vir my n ordentlike goeie vrou te gaan soek. Na n ruk besluit ek, ek moet my eerste vrou gaan opsoek, sy was die beste. Ek kry haar daar in Klerksdorp. Ag maar sy het mollig en oud geword, man. Sy woon saam met haar eie dogter wat nooit getrou het nie. Sy lyk nes haar Ma toe die nog jonk en mooi was. Daar raak ons twee toe verlief op nmekaar en binne n jaar trou ons en het een kind, n seun, klein Driessie. Hy is nou vier.

Nou is daar omtrent dertig mense wat na ou Dries luister.

Dries:  Ek het n vakansiehuis by die see. Ek wil Desember vir n maand daar gaan bly. Ek, my vou en klein Driessie. Ek verlang na my ander kinders, ek sien hulle soms, ek betaal hulle skole en universiteitsgelde en ek koop karre en goed as hulle een een en twintig word. Ek bel hulle om hulle saam te nooi see toe. Nie een wil gaan nie, elkeen het n verskoning. Hulle ontken my nie as pa nie, hulle wil net nie saam met my op vakansie gaan nie. Ek dink hulle wil nie saam met my gesien word nie.

Hy rus n oomblik, hy lyk verwese en oud. Ek kry die ou jammer, man.

Dries: Ek het my oudste seun, my eie seun, gisteraand gebel. Hy is lankal getroud en het al kinders. Hy is n beneukte mens, is n ingeneur daar in Joahnnesburg. Ek het hom op die selfoon in die hande gekry, hy was op sy firma se jaareindfunksie. Hy sê hy stap net gou uit om met my te praat.

Dries:  Pa, luister nou vir my, jou probleem is drank en vroumense. Niemand het meer respek vir Pa nie. Ruk jou reg Pa, Jy het n klomp stiefkinders wat jy grootgemaak het en jy het n helse klomp kinders van jou eie. Nou is jy getroud met jou eie stiefdogter en jy het n kind by haar.

Ou Dries haak hier vas en dit lyk of hy iets gaan sê wat hy eintlik nie wil sê nie.

Dries:  Toe sê hy vir my…. Ja, hy sê toe vir my: Pa, waar gaan dit heen Pa, jy is nou al reeds jou eie donderse Oupa. Ja, jy is klein Driessie se Pa en jy is sy Oupa. Jy is Ma se skoonseun en jy is my eie swaer, Pa. Dis hoekom jou ander kinders wegbly van jou, Pa.

Ek het ou Dries se duur motor tot by die Hotel bestuur en die ander ouens het hom daar in sy kamer op die bed gaan neerlê.

8 antwoorde op Reunies en begrafnisse.

  1. Dis ‘n mooi stuk. Laat mens bietjie dink oor jou besluite en die kooi wat jy gemaak het waarin jy nou moet slaap. Dankie.

  2. Sorsie het gesê op November 21, 2008

    Outop Uitstekende Storie en mooi geskryf

  3. tronkie het gesê op November 21, 2008

    Aag siestog, arme Dries – wat ‘n besige lewe – ek voel nou hartseer oor die arme man – shame ek hoop julle het by hom gebly tot hy geslaap het. Jy is nie evil nie Ou Top – jy is goed.

  4. Ou-Top het gesê op November 21, 2008

    Dankie Daan en Alta, Tronk. Ou Dries het al in die kar aan die slaap geraak. Volgende oggend was hy glo al vroeg by die Klub vir n regmaker om die lang pad aan te vat.

  5. Haai foeitog…so hou mense maar aan soek, en party kry dit nooit nie…

    Sad, baie sad.

  6. aixo het gesê op November 21, 2008

    nooit kan mens met jou staaltjies vereveeld word nie …….ja die dae ….

  7. Dis sekerlik die sadste, snaakste storie ooit.
    Pragtig vertel!

  8. susan5 het gesê op November 22, 2008

    Arme ou Dries kon nooit geluk rerig vind nie!!!!!shame

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.