by

Die spesialiste.

November 2, 2008 in Sonder kategorie

So met die jare vind elke mens blykbaar sy spesiale taak hier op aarde. Hulle raak so bedrewe daarmee dat niemand op sy gebied beter as hy kan wees nie. Hy word n soort van spesialis. Ek is gelukkig, ek het drie sulke spesialiste in my familie- en vriendekring. So is hulle ook op my selfoon gelys; onder hulle verskillende spesialiteite. As die foon lui is ek dan ten minste voorbereid vir wat gaan kom.

Nommer een is die “Doodsengel”.  As hy bel, weet ek dis oor die dood. Hy is so op die bol dat hy soms enkele minute na die afsterwe van iemand, bel. Dan gaan dit gewoonlik so:

“Ja, ek het hom altyd gesê mens steek jou verdomde hemp in jou broek. Hammermeul se driving shaft het daai los pante vasgevang en die arme man opgerol soos  tuinslang. Tragies man tragies. n Uur gelede gebeur en op slag dood. Sal jou laat weet van die begrafnis reëlings.’
En ek het hom al dopgehou, hy huil ernstig en met gevoel op elke begrafnis. Kom ook nooit daar aan sonder n groot sakdoek en n kransie nie. Nee, hierdie ou is profesioneel.

Nommer twee is die “Boodskapper”; die een wat altyd bel en vra,” Het jy gehoor….” Dis gewoonlik minder ernstig as die dood en kan wissel van iemand se kind wat matriek gepluk het tot die dominee
wat by n gemeentelid in die bed gevang is. Dis so vinnig en akkuraat; jy sal eers die volgende dag daarvan in die koerante lees. As my selfoon lui en ek sien dis  die ” Boodskapper”, dan gee ek altyd die foon vir my vrou om te antwoord. Daar is altyd iets in die stem wat my afsit, soos wanneer n mens sug wanneer jy die eerste stukkie biltong van die winter ge-eet het. ” Dêmmit, dit was nou lekker!” Dis n soort van verlekkering, n genotservaring of so iets. Gewoonlik is hierdie soort spesialist van die vroulike geslag.

Nommer drie is die” Komplotter”. Altyd n manspersoon. Hy doen ekstra moeite en ek reken hy werk tuis baie hard om nommer een komplotter te wees. Hulle soek die egte waarheid agter die gewone waarheid. Daar is altyd n ” conspiracy” van n geheime groep mense. Hy bel gewoonlik met hierdie gesaghebbende tog bekommerde stem. Hy moet my vertel of waarsku, daar is n moerse komplot wat die hele wered se gang kan verander. My eie lewe erg kan verander. En hy het konkrete bewyse wat hy vir my wil kom wys. Dis goed soos, die swart man wat ou PW se huis op n veiling daar by die see gekoop het.

” Dis vir Mbeki se jongste suster, die een wat met Mugabe getroud is, hulle kom daar aftree. Die Wildernes area gaan n toevlugsoord word vir al wat n diktator en n voortvlugtende Talliban word”, hyg hy skoon uit asem uit.

Ek moes op n keer vir n uur lank saam met hom na n video kyk waarin bewys word dat die Amerikaners nooit op die maan was nie. Alles is sommer daar in n gebou in die Nevada woestyn gemaak om die wereld te impress. Ek het nou al geleer om nie meer te stry nie, want dit kan dae vat. Ek sê maar net ja, die wêreld darem, laat hulle ons nou so aan die neuse wou rondlei. Dan is hy tevrede en gaan tackle die volgende ou.

Ek vrees die week wat kom, want Komplotter het laat weet hy wil my kom sien oor belangrike inligting oor aardverwarming: Kaapstad, Knysna en Port Elizabeth gaan onder die water verdwyn. Sommer een van die dae, om die waarheid te sê , dit val presies saam met die Wereldsokker gebeurtenis hier in 2010. Dis sy plig om almal te waarsku. En hy bring skriftelike en visuële bewyse saam. Wetenskaplik verantwoord. Dis glo n komplot van die ou regime van Amerika;  hulle het die Noord- en Suidpool  in die geheim laat smelt in  “revenge” omdat n Talliban nou Amerika se president gaan word.

Ek het timeshare in Plet, ek moet onthou om hom te vra oor Plet en sommer oor Lekota ook. Sweer hy sien daar ook n onheilige komplot van ons ou regime.

10 antwoorde op Die spesialiste.

  1. Vetjan het gesê op November 2, 2008

    Nou die dag so komplotter weer raakgeloop, laas gesien toe hy in Ondangwa army kamp se inligtingskantoor “gewerk” het. Hy is deesdae van mening dat die Britse koningsfamilie almal wesens van die buitenste ruim is, hy is ‘n groot navolger van ene David Icke.

  2. Ou-Top het gesê op November 2, 2008

    Petrus, wat my verstom is die moeite wat die mense doen. Hulle werk ure of dae aan die soort van goed.

  3. Ceara het gesê op November 2, 2008

    OU Top jy het my dag gemaak met hierdie pos.. Is dit hoe jy die eerste ou op jou foon het, onder die naam “doodsengel”? 🙂 As iemand jou foon steel gaan hulle ‘n groot skok kry. Jy het baie geduld met die Komplotter… Het hierdie stuk baie geniet.

  4. Ou-Top het gesê op November 2, 2008

    Ja, is so op my selfoon. Die Komplotter is familie van my; ek kan hom nie vloek nie, ek kan hom nie slaan nie, ek probeer hom vermy. Soms kruip ek weg vir hom.

  5. Ek is mal oor die komplotter se idees… Hehehe …Leker storie …

  6. Fantasties geskryf, ou Top, ek ken ook mense wat in die kategorieë val!

  7. tronkie het gesê op November 3, 2008

    Jy moet maar bam wees, soos my dogtertjie gesê het, vir no. 3! Maak maar net troosgeluide terwyl jy luister. Ek het kliphard gelag nou. Voel aansienlik minder evil.

  8. Izakdv het gesê op November 3, 2008

    Ken ook sukkes, maar ek is mal oor jou vorige blog.
    izak

  9. Ou-Top het gesê op November 4, 2008

    Dankie julle mense,waardeer julle opmerkings. Baie mooi gedig gelees daar op Boekevat se blog. Mooi so met die resensie op jou boek Izak.

  10. Hehe!
    Jy’s snaaks, Ou Top.
    “Hy soek die egte waarheid agter die gewone waarheid”
    Klink soos iemand wat ek BAIE goed ken.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.