Jy blaai in die argief vir 2008 November.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Eers kind dan wind.

November 29, 2008 in Sonder kategorie

Staan in die bank en wag vir die ry om korter te word. Moet geld trek vir laatlam wat klaar is met matriek en more Kaap toe ry met vriende en vriendinne om blyplek te soek vir volgende jaar se swottery by Kaapse Universiteit. Ek is maar hartseer en die ry gaan stadig, almal het stories en probleme daar voor.

My selfoon lui, dis n sms van laatlam: nth ab d gld v pd e ptl, ps.

Dis haar mxit taal wat sy as n brainteaser vir my op haar sms boodskap gebruik. Vat my n rukkie, maar ek ontsyfer dit so:” Onthou asseblief die geld vir die pad en petrol, Paps.”

My grootste vrees is dat die kinders naderhand so gaan begin praat ook, om modern te wees en om tyd te bespaar. n Nuwe taal wat ek en my vrou nie sal verstaan nie. Ons sal miskien dan met handgebare met hulle moet kommunikeer. Ja, oud is uit, soos in Australia. Geen plek in daardie land vir n oumens nie, jy is in almal se pad.

Toe hoor ek hoe die ou oom reg voor my met die jong tellertjie agter die glas praat. Dis n vroilke behulpsame swart seun wat vlot Afrikaans praat. Die oubaas is seker al tagtig, op daardie ouderdom waar  die harde dele van jou kop al groter word en die sagter dele al dieper wegval. Stem is al dun en  die valstande lyk heeltemaal te groot.

Tellertjie met n groot glimlag: “En hoe gaan dit vandag met oom Gert?”

Oubaas, terwyl hy so effens moedeloos in die lug waai met sy een hand: ” …….. tlank va… “

Tellertjie” ” Ja, my oom, is so en niemand wil eintlik luister na n ou se probleme nie.

Ek is half verstom, die oubaas praat dan soos laatlam op haar mxit. Hy het bedoel: Sleg man, maar dit sal die lank vat as ek jou moet vertel.

En die tellertjie verstaan hom honderd persent!

Tellertjie: “Hoe wil oom dit hê, vyftigs of twintigs”

Oubaas:” …ynes..”

Ek sien hy skil bruin twintig rand note af vir die oom.

Tellertjie: ” Geniet die naweek, Oom”.

Oubaas, met n waai van sy hand: ” …..elle-v..ou..”

My genade, op sy oudag word n man weer kind, nogal mod met sy eie kindertaal!

As hy teen die toue afstap los hy onbewustelik n harde wind. Mense proes hier om my.

“…Aweseu… aweseu”, prewel hy by homself oor die gawe seun daar agter die glasgordyn.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Oom Pietie van Struisbaai.

November 24, 2008 in Sonder kategorie

Hou ek n paar jaar gelede op Struisbaai vakansie by neef Willem. Spierwit sand en die see se kleur is byna elke dag anders, die kleure is wat ek nog nie op ander plekke gesien het nie. Dis ongelooflik mooi.

Sê vriend Willem ons moet op so reënerig dag wat ons nie kon uitgaan op die boot nie, vir sy ou vriend Oom Pietie, gaan kuier. Ons kom daar by die wit huis teen die see aan. Oom Pietie is heelwat ouer as ons en die vriendelik vanself. Bly om ons te sien. Willem vra of ons kan plate luister. Die grammefoon is uit die ark. Dis van hout, so vierkantige houtboks. Werk met n naald so lank soos n kort spykertjie. Die luispreker is n beuel, van metaal. Daar is n hond op gegrafeer met die woorde “His Masters Voice”. Jy wen die ding op met n handvatsel, byna soos die outydse telefone. Die plate is nog van daai, as hy val breek hy in stukke. Oom Pietie is gretig, want hy hou van musiek en dans.

” Watter een soek jy eerste? Weer die een van die spoke?” wil hy van Willem weet. Ons speel hom, dit gaan half so;” Die een ou Spook was vet, en die een ou Spook was maer…”  Hy en Willem staan regop en trippel ritmies rond, dis aansteekik, ek spring ook op. Ons trap daar rond vir n vale. Ons speel seker tien plate wat ek nog nooit tevore gehoor het nie. Ons gaan sit eers toe die Tannie vir ons koffie bring.

Toe vertel oom Pietie ons van die bosfisant en die hofsaak teen hom. Dit het so gekom.

Hy voer die fisantwyfie met haar tien kuikens wat wild in die fynbos woon. Sommer hier reg voor sy huis in die paadjie.  Toe een oggend is daar n valk en die duik amper oom Pietie se hoed van sy kop af soos hy afpeil op n kuiken. Die valk  vang drie kuikens daardie week.Toe strip oom Pietie se moer, toe die valk weer kom is hy reg met sy haelgeweer en kap hom sommer so uit die lug uit.

Maar daar by die see kry jy mense wat die heel dag niks doen nie en net die wêreld om hulle dophou vir onreëlmatige gedrag. Een bel vir Fauna en Flora en oom Pietie was nog op die stoep besig om te kyk hoe lyk die verdomde valk, toe het die inspekteur hom. Het gaan verskyn in die hof en kry n  boete vir die afvuur van n vuurwapen in n natuurbewaringsreservaat en vir die dood van n valk  in dieselfde gebied.

Maar die dooie valk se familie het hulle lywe van daar af daar skaars geghou by oom Pietie en sy fisante. Seker die boodskap goed oorgedra.

Hy het daardie dag ons ook vertel van die mak pelikaan by die hawetjie, hoe die  voël tragies aan sy einde gekom het. Ek kan wragtig nie die storie mooi onthou nie, want teen daardie tyd het die oom al vir ons n hanepootjie teen die koue en nattigheid, geskink.

Is daar iemand wat weet? Was glo n soort van n “Mascot” daar, vir baie jare.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Die hele bloggin wêreld is vol van trolle.

November 22, 2008 in Sonder kategorie

Die trolle is op ons, selfs die woordeboek vertel nie veel wat dit is nie. In my eenvoudige bestaan het ek egter al n paar keer met trolle te doen gehad.

Die eerste keer was as kind op die plaas toe Danser, die beeswagter en perdeman, een oggend vir Pa sê; ” Ouwaas, Donker hardloop op en af teen die draad. Daar is n merrie wat “trol” soek, moet ek die hek oopmaak?”

Dan het ons bende wit en swart seuns gehardloop om ongemerk agter die kweperlaning te kom sodat ons kan afloer wanneer die hittige merrie by die Vlaamse hings, Donker, ingejaag word om haar soeke na n “trol” voort te sit. Toe Donker die merrie gewaar skreeu n bendelid , Ramatau, kliphard; “Hau bana, kyk hoe slat hy met sy trol teen sy bors!”

Die tweede keer wat ek met trolle te doen kry, is toe op Struisbaai, seker so vyftien kilometer die see in, op Willem se boot.

” Ons is regoor die ou seewrak, gooi uit die Rapalas, ons trol nou verder aan”, gee die skipper sy bevele. Ja, ons trol toe met ons Penn ka- trolle tot n geelstert vat. Daai trollery was nou lekker sports, man.

Toe eendag op Port Alfred lê daar debris oor n kalm see, sover as wat die oog kan sien. Mense is verstom. n Local snaar verduidelik die Japanese bote het gisteraand onwettig in ons waters met nette kom trol. Die seebodem se pragtige lewernsvorme is  heeltemaal uitgewis, dis wat so bo-op die water dryf. Ek besef toe, nee kyk, n trol is n bliksem.

So paar jaar gelede skreeu my laatlam dogter verskriklik hard na ons terwyl sy in die TV kamer op haar eie sit en kyk na The Lord of The Rings.” Kom kyk die trol, dis verskriklik, kom kyk!.”

Ek het vinnig gestorm om te gaan kyk, want my eerste gedagte was mos van Donker se trol, en mens weet ook nie meer wat hulle deesdae vir die kinders op TV wys nie. Moet sê, daai trol in die fliek is iets verskrikliks. My nog meer laat besef n mens behoort bang te wees vir n trol.

Nou is die trolle op ons blogsites. Nou wie het die trolle losgelaat?

Profile photo of ou-top

by ou-top

Reunies en begrafnisse.

November 21, 2008 in Sonder kategorie

Die eerste twintig jaar van n mens se lewe is die belangrikste, vriende wat so saam met jou grootgeword het bly vir altyd amper soos familie. Deur die jare verloor julle mekaar soms soos julle uitmekaarspat om n lewe te gaan maak. Sterf een skielik in n ongeluk, laat weet almal mekaar en ons kom begrafnis toe. Hier van vyftig af word die begrafnisse al meer, dis nie meer ongelukke nie, dis siektes en wragtig n paar selfmoorde ook. Maar ons laat weet mekaar en ons kom gee ons laaste eerbewys.

Toe sterf n goeie neef van my doer op die platteland waar ons almal grootgeword het en ons ruk weer op, van dwarsdeur die land. Meeste van die tyd gaan die vrouens nie saam, want hulle ken skaars die afgestorwene. Daar is n eienaardige tradisie op hierdie dorp, na kerk en na die begrafnis en na die koek en tee in die kerksaal, gaan al die vrouens wat wel daar is na n familielid se huis en ons mans gaan af die die Klubhuis. By die klubhuis, as die afgestorwene langer as twintig jaar n lid was, is daar n “kitty” en kan ons almal so een of twee doppe drink drink ons praat oor lank gelede se doen en late van die oorledene, toe ons almal nog jonk en mooi was.

Op hierdie geleentheid daag ou Dries mos vir die eerste keer op. Kyk, Dries was nooit die slimste kind daar op die plaaskooltjie nie. Soms het ons hom gehelp om deur te kom, so onder die neus van die onderwyser. Maar Dries was wat ons daai tyd genoem het, n”organiser”. Hy kon planne maak en n ding organiseer, en hy kon praat; glad met die bek. Dis die eerste keer na al die jare wat ons vir Dries nou weer sien. Baie gehoor van hom by die ander; dat hy daar in Transvaal n skatryk sakeman geword het. Ook dat hy n swak plek vir mooi vrouens het, was al drie keer getroud, is nou weer getroud. Ons is omtrent dertig mans daar bymekaar. Dit gons en gesels.

My ontmoeting met ou Dries  na presies twee en veertig jaar het daar in die Klubhuis,  min of meer so verloop:

Ek:  My naam is Outop, nou wie is jy nou eintlik.

Hy vat my hand en daar is egte medelye in sy oë.

Dries: Maar dit kan nie wees nie, Outopo. Jy was dan so mooi outjie op jou dae!

Ek, effens bedroef: Het maar effens grondpad gery. Maar wie is jy?

Dries: Ek is Dries, man. Het jy dan Alzheimers?

Nou eers sien ek dit is Dries, dis die ou wat daar by die kerk met die groot pikswart Mercedes Benz aangekom het. Hy lyk vir my ook of n lang ent in sy lewe grondpad kon gewees het. Ek sien hy drink te vinnig en te veel, en hy praat aanmekaar. Hard en luid.

Dries: Nee, ek slaap maar oor hier in die Hotel vanaand. Paaie te gevaarlik vandag, potholes , kapers.
en sulke dinge.

So gaan n uur of twee verby en ek gesels met die ander mense daar. Land weer by ou Dries, Hy het omtrent tien ouens om hom wat luister. Hy is nou pleinweg getrek.

Dries: My eerste vrou was n weduwee met twee dogters, agt jaar ouer as ek. Man sy was mooi, ek het een kind saam met haar gehad. Sy het niks van die stad gehou nie, net vier jaar toe vat sy die pad.

Dries: Toe trou ek met n vrou van die stad. Sy het my twee kinders gegee, maar sy het my byna uitgeroei. Skuldmaak en shopping was haar lewe. So tien jaar, toe los ons mekaar.

Iemand uit die gehoor: Hel Dries, hoop jy los toe maar die vrouens verder uit, jong.

Dries: Ja, ek het lank gehou, maar hulle los jou nie uit nie. Ek trou toe met my sekretaresse. Sy was drie en twintig jaar jonger as ek. Darem net een kind by haar gehad nie, huwelik het net drie jaar gehou.

Ek kan sien die ou is besig om homself nou hartseer te praat. Geluk het hom gedurig ontwyk. As hy nou n traan sou stort sal ons hom almal vergewe. Maar nee, dis nie die einde nie.

Dries: Toe verkoop ek die fabriek en belê alles in eiendom wat ek verhuur. Toe het ek tyd om te dink en om vir my n ordentlike goeie vrou te gaan soek. Na n ruk besluit ek, ek moet my eerste vrou gaan opsoek, sy was die beste. Ek kry haar daar in Klerksdorp. Ag maar sy het mollig en oud geword, man. Sy woon saam met haar eie dogter wat nooit getrou het nie. Sy lyk nes haar Ma toe die nog jonk en mooi was. Daar raak ons twee toe verlief op nmekaar en binne n jaar trou ons en het een kind, n seun, klein Driessie. Hy is nou vier.

Nou is daar omtrent dertig mense wat na ou Dries luister.

Dries:  Ek het n vakansiehuis by die see. Ek wil Desember vir n maand daar gaan bly. Ek, my vou en klein Driessie. Ek verlang na my ander kinders, ek sien hulle soms, ek betaal hulle skole en universiteitsgelde en ek koop karre en goed as hulle een een en twintig word. Ek bel hulle om hulle saam te nooi see toe. Nie een wil gaan nie, elkeen het n verskoning. Hulle ontken my nie as pa nie, hulle wil net nie saam met my op vakansie gaan nie. Ek dink hulle wil nie saam met my gesien word nie.

Hy rus n oomblik, hy lyk verwese en oud. Ek kry die ou jammer, man.

Dries: Ek het my oudste seun, my eie seun, gisteraand gebel. Hy is lankal getroud en het al kinders. Hy is n beneukte mens, is n ingeneur daar in Joahnnesburg. Ek het hom op die selfoon in die hande gekry, hy was op sy firma se jaareindfunksie. Hy sê hy stap net gou uit om met my te praat.

Dries:  Pa, luister nou vir my, jou probleem is drank en vroumense. Niemand het meer respek vir Pa nie. Ruk jou reg Pa, Jy het n klomp stiefkinders wat jy grootgemaak het en jy het n helse klomp kinders van jou eie. Nou is jy getroud met jou eie stiefdogter en jy het n kind by haar.

Ou Dries haak hier vas en dit lyk of hy iets gaan sê wat hy eintlik nie wil sê nie.

Dries:  Toe sê hy vir my…. Ja, hy sê toe vir my: Pa, waar gaan dit heen Pa, jy is nou al reeds jou eie donderse Oupa. Ja, jy is klein Driessie se Pa en jy is sy Oupa. Jy is Ma se skoonseun en jy is my eie swaer, Pa. Dis hoekom jou ander kinders wegbly van jou, Pa.

Ek het ou Dries se duur motor tot by die Hotel bestuur en die ander ouens het hom daar in sy kamer op die bed gaan neerlê.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Politiek

November 5, 2008 in Sonder kategorie

Daar gaan sê n swart professor toe op Sandton by Lekota se byeenkoms wat ek nog altyd profeteer;

Om n land te bestuur en te regeer is te belangrik vir n volk om dit net in die hande van onnosele, arrogante politici te laat.

As jy minister van gesondheid wil wees moet jy darem ten minste een of ander mediese graad hê. As jy minister van Energiesake is, moet jy nie n diploma in Rusland verwerf het in filosofie nie.

Die politikus moet erken en besef dat hy kundige mense moet aanstel.

Daarom het ek moed vir Lekota en vir Obama.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Die spesialiste.

November 2, 2008 in Sonder kategorie

So met die jare vind elke mens blykbaar sy spesiale taak hier op aarde. Hulle raak so bedrewe daarmee dat niemand op sy gebied beter as hy kan wees nie. Hy word n soort van spesialis. Ek is gelukkig, ek het drie sulke spesialiste in my familie- en vriendekring. So is hulle ook op my selfoon gelys; onder hulle verskillende spesialiteite. As die foon lui is ek dan ten minste voorbereid vir wat gaan kom.

Nommer een is die “Doodsengel”.  As hy bel, weet ek dis oor die dood. Hy is so op die bol dat hy soms enkele minute na die afsterwe van iemand, bel. Dan gaan dit gewoonlik so:

“Ja, ek het hom altyd gesê mens steek jou verdomde hemp in jou broek. Hammermeul se driving shaft het daai los pante vasgevang en die arme man opgerol soos  tuinslang. Tragies man tragies. n Uur gelede gebeur en op slag dood. Sal jou laat weet van die begrafnis reëlings.’
En ek het hom al dopgehou, hy huil ernstig en met gevoel op elke begrafnis. Kom ook nooit daar aan sonder n groot sakdoek en n kransie nie. Nee, hierdie ou is profesioneel.

Nommer twee is die “Boodskapper”; die een wat altyd bel en vra,” Het jy gehoor….” Dis gewoonlik minder ernstig as die dood en kan wissel van iemand se kind wat matriek gepluk het tot die dominee
wat by n gemeentelid in die bed gevang is. Dis so vinnig en akkuraat; jy sal eers die volgende dag daarvan in die koerante lees. As my selfoon lui en ek sien dis  die ” Boodskapper”, dan gee ek altyd die foon vir my vrou om te antwoord. Daar is altyd iets in die stem wat my afsit, soos wanneer n mens sug wanneer jy die eerste stukkie biltong van die winter ge-eet het. ” Dêmmit, dit was nou lekker!” Dis n soort van verlekkering, n genotservaring of so iets. Gewoonlik is hierdie soort spesialist van die vroulike geslag.

Nommer drie is die” Komplotter”. Altyd n manspersoon. Hy doen ekstra moeite en ek reken hy werk tuis baie hard om nommer een komplotter te wees. Hulle soek die egte waarheid agter die gewone waarheid. Daar is altyd n ” conspiracy” van n geheime groep mense. Hy bel gewoonlik met hierdie gesaghebbende tog bekommerde stem. Hy moet my vertel of waarsku, daar is n moerse komplot wat die hele wered se gang kan verander. My eie lewe erg kan verander. En hy het konkrete bewyse wat hy vir my wil kom wys. Dis goed soos, die swart man wat ou PW se huis op n veiling daar by die see gekoop het.

” Dis vir Mbeki se jongste suster, die een wat met Mugabe getroud is, hulle kom daar aftree. Die Wildernes area gaan n toevlugsoord word vir al wat n diktator en n voortvlugtende Talliban word”, hyg hy skoon uit asem uit.

Ek moes op n keer vir n uur lank saam met hom na n video kyk waarin bewys word dat die Amerikaners nooit op die maan was nie. Alles is sommer daar in n gebou in die Nevada woestyn gemaak om die wereld te impress. Ek het nou al geleer om nie meer te stry nie, want dit kan dae vat. Ek sê maar net ja, die wêreld darem, laat hulle ons nou so aan die neuse wou rondlei. Dan is hy tevrede en gaan tackle die volgende ou.

Ek vrees die week wat kom, want Komplotter het laat weet hy wil my kom sien oor belangrike inligting oor aardverwarming: Kaapstad, Knysna en Port Elizabeth gaan onder die water verdwyn. Sommer een van die dae, om die waarheid te sê , dit val presies saam met die Wereldsokker gebeurtenis hier in 2010. Dis sy plig om almal te waarsku. En hy bring skriftelike en visuële bewyse saam. Wetenskaplik verantwoord. Dis glo n komplot van die ou regime van Amerika;  hulle het die Noord- en Suidpool  in die geheim laat smelt in  “revenge” omdat n Talliban nou Amerika se president gaan word.

Ek het timeshare in Plet, ek moet onthou om hom te vra oor Plet en sommer oor Lekota ook. Sweer hy sien daar ook n onheilige komplot van ons ou regime.