Jy blaai in die argief vir 2008 Oktober.

by ou-top

Ek is n slegte soort mens.

Oktober 6, 2008 in Sonder kategorie

Elke dag besef ek dit meer en meer. Dit wat ek moet doen, die doen ek nie. Dit wat ek nie moet doen nie, die doen ek graag.
 
Vanoggend weer. Ek lees my Bybel vroeg, voor die koerant. Die koerant word sesuur in die oggend afgelewer, die hond blaf ek ek gaan haal die koerant wat ek net so opgevou langs my bed laat lê tot ek klaar my Bybel gelees het. As ek die koerant eerste lees, is ek nie meer lus vir die Bybel nie, ek is ontstig en wil my vrou wakker maak en vertel wat het nou alweer in die land gebeur het. Dan vergeet ek van die Bybel en gaan sit die ketel aan vir koffie. Ek veg teen hierdie swakheid van my.

Net so met die jig, ek kan biltong en tamatie eet en niks oorkom nie. My vriende nie. Maar raak ek net aan droeëwors, het ek jig {gaut}, sommer binne minute. Ek weet dit, maar ek doen dit nog steeds af en toe. Ek verstaan dit nie, ek is mos al n ou en wyse man, wat is dit dan met my?

n Bruin gebraaide vet  skaapribbetjie is dodelik vir my gal en my cholestrol vlakke. Wat doen ek? Ek steek hom diep  in die vrieskas weg en as ek een Saterdag alleen by die huis is, bel ek ou George en hy bring krummelpap saam. Dan braai ons die ribbetjie en eet dat die vet om ons monde blink. Binne n uur is ons naar en duiselig, drink suurlemoensap en allerande boererate om by te kom voor die vrouens terugkom van die kwekery. Is dit stuitigheid of n verdoeselde poging tot selfvernietiging?

Ek praat soms te gou, ek weet ek moet n wagter voor my mond sit, maar ek doen dit nie. Dis wanneer my vrou sê ; ” Ag ou man, was dit nou wragtig nodig!”  Dit was nie, en ek weet dit, maar ek doen dit. En terwyl ek weet ek was verkeerd, probeer ek myself regverdig en verdedig.

Soos by Pic en Pay vandag, die Augustus wind waai stormsterkte en dis die westelike deur van Pic en Pay wat ons nader. Die een deur is effens toegestoot om minder van die westewind en stof in te laat. Maar dit veroorsaak n tonnel van erge wind reg by die deur.  n Pragtige bruingebrande blonde vrou van so vyf en twintig kom met n pakkie in haar hand uitgestap. Die  vasgekeerde westewind vang haar lenterokkie en vou dit byna oor haar kop. Sy het net een hand om mee te keer en sy kry dit nie mooi reg nie, ek is so naby ek kan sien sy dra n n blink dingetjie aan haar naeltjie. Ek weet ek moet nie so staar nie, maar uit vrees dat ek teen die glasdeur kan vasloop, maak ek my oë nie heeltemaal toe nie.

Ja, ek is n slegte mens wat gedurig teen my donkerkant moet stry.

by ou-top

Salige aftrede of n ontwortelde boom.

Oktober 4, 2008 in Sonder kategorie

Gert het vier jaar gelede sy besigheid en huis hier in Bloemfontein verkoop om daar by die see te gaan aftree. Nou loop ek hom nou die dag hier op die Boeremark raak en hy sê hy is sak en pak terug. Het  sy huis by die see verkoop vir n aardige bedrag en hier teen die rivier naby ons stad vir hom n stukkie grond met n huis daarop gekoop. Hy boer nou, sê hy. So land ek toe n Saterdag daar op sy plasie om saam met hom rugby te kyk en n vleisie op die kole te gooi.

” Man”, sê hy oor n bier daar vir my, ” Dis lekker by die see maar dis vreemd. Jy maak goeie vriende daar, maar op n manier is jy eensaam. Ek meen, n ou se lewe is so goed ge-organiseerd en beplan. Jy is heeltemaal gereed vir doodgaan. Die huis is betaal, die begrafnispolis is betaal, die mediese fonds en jou beleggings is in plek en jy het geen bekommernis in jou lewe nie. Maar jy voel skuldig, want jy behoort baie tevrede en gelukkig te wees. Maar weet jy Ou Top, jy is nie. Jy eet, slaap, loop op die strand, loop rond van winkeltjie tot winkeltjie, speel bietjie rolbal of golf, maar jy bly voel jy mis iets in die lewe. Jy leef, maar jy voel nie of jy lewe nie”.

Hy bly n rukkie stil en ek sien hy soek na die regte woorde.

” Ek mis tot die koue Vrystaatse winters, een van die dinge wat ons destyds voor gevlug het. As jy vroeg opstaan en jy kyk oor die see of jy kyk na agter waar die berge lê, dan herken jy nie die “scenery” nie, man. Jy bly soek na doringbome, grasvelde, wolke op die westelike horison, selfs na n stofstorm of n kliprantjie. En die mense praat meer Engels daar as Afrikaans. Ja glo my, tot die Afrikaners en die Kleurlinge praat meer Engels as Afrikaans. En die geluide, alles is anders, man.”

“Kyk hier om jou, kyk my troppie mak tarentale, ek het vier boerbokke, twaalf dorpers, drie melkoeie, agt ganse, daar loop twee mak springbokkies, kyk die die twee poue en die kapokkies wat hier in die tuin skrop. Kyk hoe mollig is daai Shetland ponie wat ek vir die kleinkinders gekoop het.
 n Man kan nie eers biltong daar maak nie, alles muf. Hoor die kolganse, hulle vlieg nou oor na die lappie lusern hier agter. Kyk daai geelvink in die wilgerboom, dis skaars lente en hy bou al nes. Sien jy daai borrels op die water, dis die babers wat nou uit hul winterslaap ontwaak.”

” Dis die goed waarmee ek grootgeword het, dis die goed waarna ek verlang. Mense verstaan dit nie, ekself vertaan dit ook nie mooi nie. Ek kon dan soms nie wag dat Desember aanbreek sodat ons see toe kan gaan nie. Ek weet nie, maar so is dit. Hier wil ek bly. Ek hoort hier.”

Hy krap die kole plat, dis nie hout of donkiedrops nie, dis n stronke vuur, hy kry sakke vol van n mielieboer vriend van hom. Op die tafeltjie staan n rottangmandjie met n paar stukke biltong in. Die mannetjie pou staan nou op die grasperk en gee daardie hartverskeurende roep van hom, dan sprei hy sy kleurvolle stertvere uit. Ons staar die pragtige voël byna oopmond aan.

Op sy gesig kan ek sien ou Gert is terug waar hy moet wees.

by ou-top

As jou huisbediende sou sterf, hier in Afrika.

Oktober 4, 2008 in Sonder kategorie

Vir die afgelope 25 jaar was en stryk ou Maria vir ons. Saam met ons die kinders grootgemaak en vele dinge beleef. Snot en trane saam gehuil toe die twee seuns pad gevat het na Australia. Ja, ons is lief vir haar en sy vir ons. Toe gebeur hierdie ding uit die bloute en ek sit nou al vir n week lank doodstil en dink.

Vrydag kry Maria pay en teen twee uur die middag gaan sy af. Vyf uur lui my foon en dis n histeriese dogter van Maria, Vuzi. Sy is so twintig jaar oud en ons ken haar ook so van sien as sy soms vir Maria kom haal om saam bus te ry lokasie toe. Die Taxi het Maria omgery en sy is op slag dood. Hulle is by die lykshuis  van n begrafnisondernemer in die swart woonbuurt waar Maria se lyk gevries gehou moet word tot die begrafnis volgende naweek. Die ondernemer soek n deposito van R2,000 om die lyk in te neem en voort te gaan met die nodige reelings wat die koste van die kis en die begrafnis insluit.

Ek roep my vrou, die raak onbedaarlik aan die huil. Vuzi sê ek moet asseblief die geld tot by die Caltex Garage op die kant van die swart woonbuurt bring, sy sal iemand stuur om my daar te ontmoet. Sy verlaat nie haat Ma se lyk nie, sy sê ook ek moet vir my vrou en dogter sê haar Ma se laaste woorde was om hulle twee te bel en te laat weet van die ongeluk. Dit laat my vrou en dogter nog meer snik en huil.

My limiet op my spaarrekeningkaart is gelukkig twee duisend rand, want die banke is lankal toe. Ek trek die geld en op pad na die Caltex Garage beplan ek hoe ek Maandag my prokureur gaan sien en namens Maria se kinders  duisende rande gaan eis van die roekelose Taxi bestuurder. By die Caltex Garage aangekom wonder ek vir n oomblik hoe haar vriend my dan gaan herken, maar hier kom n jong swart man dadelik na my motor aangestap . Ek gee hom die geld en probeer uitvis van wat presies daar gebeur het, hy verduidelik in detail, want hy was glo n ooggetuie. Ek vat sy naam en selfoonnommer om Maandag vir my prokureur te gee. Hy is nou haastig, sê hy, want die lyk is nog nie in die koelkamer nie en Vuzi is heeltemaal deurmekaar van die skok en hartseer.

Op pad terug na my huis vloek ek op elke Taxi wat verbykom. Arme Maria, sy het juis die afgelope tyd al meer begin kla oor die suiker in haar bloed en al meer die kliniek besoek. Ek moet die polisie bel as ek by die huis kom, daar sal seker al n saaknommer wees, alles dinge wat ek nodig sal hê vir my prokureur.

So gaan ons die naweek deur en bespiegel oor alles. Ons probeer Maria se selfoon n honderd keer bel oo die naweek, maar dis net dood. Die selfoonnommer van die Vuzi se vriend  bestaan nie, miskien het hy my uit skok n verkeerde nommer gegee.

Maandag is ek vroeg aan die skeer om reg te maak om aan hierdie saak te begin werk. Toe lui die voordeurklokkie en ek hoor my vrou gil asof n adder haar pik. Nee, dis Maria, in lewende lywe. Sy weet van niks. Vuzi is nog steeds in Welkom by haar suster, was glo lanklaas by die huis.

Dit was net n nagmerrie, niks het gebeur nie. Maria is vol lewe en verstom oor alles. Net my spaarrekening kort nog steeds R2,000. Ek is gevang. Ek is met n oulike sielkundige truuk gevang. Die polisie sê dis n nuwe ding wat van Pretoria hier na ons, ons moet versigtig wees.

Ek probeer al n week lank vasstel hoe ek  oor hierdie ervaring voel en dit wissel maar van respek vir die vernuftigheid van die moderne Tsotsis tot n onrustigheid dat ek mos dogehou word deur sekere mense, die mense weet dan alles van my, tot wat se soort kar ek ry en hoe ons oor Maria voel en dat sy al so lank vir ons werk en wat Maria se dogter se naam is.

Ja, ek voel amper soos n Moslem in Amerika, ek staan uit, ek word dopgehou, ek het iets wat ander mense wil hê, ek is n sagte teiken of anders is ek maar net n dom en gewillige ou melkkoei.

En so is ook elkeen van julle wat hier lees. Ons staan uit in Afrika, ons moet wakker loop.