by

Genadedood.

Oktober 10, 2008 in Sonder kategorie

My vrou en dogter klae ek skryf en lieg so al om die waarheid omtrent myself; ek moet n slag die feitelike waarheid skryf sodat die mense kan sien hoe leilk ek soms kan wees. Het laasweek probeer met die stormwind storie, maar dis nie maklik om jouself sleg te sê nie.

As dertienjarige seun sonder n Ma op n plaas aan die Vaalrivier, was die lewe rof en lekker. Ek het volkome vryheid gehad, Pa was nie veel gepla of ek onderbroek dra , tandeborsel en of my hare gekam is nie. Ek het honde gehad, ek het perde gehad, ek het my twee swart vriende Ramatau en Mosalla gehad. Op die plaaskooltjie daar naby het die onderwysers my verdra, want om een of ander rede was my punte altyd die hoogste in die klas.

In my wildheid het ek soms daar dinge gedoen wat hier op my oudag by my kom spook.

Soos die draaijakkalsies. Ons stel vir Pa n slagyster by die karkas van n halfgevrete lam, daar teen die kant van die vlei. Vroegoggend is ons drie maters met ons perde by die slagyster om te sien of ons n witrugjakkals gevang het, hulle is skaapvreters. Nee, daar sit n arme draaijakkals tefie met haar voorpoot in die kake van die slagyster. Hulle is skadeloos, ek meen n honger dorperskaap sal haar dalk kan vreet.

Ramatau gee haar n allemintige hou met sy kierie, want sy moet maar dood, sy sal nie oorleef met daai vergruisde voorbeen nie. Sy skreeu van pyn en ruk en pluk om los te kom. Skielik storm haar mannetjie uit die lang gras van die vlei, sy bek wyd oopgesper. Ons hol weg, want enige plaaskind weet as n dier wat gewoonlik bang is vir n mens, nou ewe skielik storm, dan het hy hondsdolheid en daarvan vrek jy verseker.

Atletiese ekke is los voor en hoop maar die mal jakkals woed homself uit op een van die ander. Dan skreeu Ramatau iets en ons gaan staan om terug te kyk. Daar is die mannetjie besig om sy hulpelose wyfie aan flarde te byt. Hy byt haar morsdood. Dan gee hy ons een kyk en verdwyn dan weer terug in die lang gras. Ons staan verslae vir mekaar en kyk.

” Maar hoekom doen hy dit?” wil ek van die ander weet. Hulle skud net hul koppe heen en weer.

 In dieselfde jaar kom die kransduiwe in hul duisende van stede, dorpe en brugge om  Pa se ryp sonneblomme op die land te kom vreet. Hulle rig groot skade aan en ek is daar met Pa se dubbelloop haelgeweer. Ek skiet vir n vale en so nou en dan val daar een, want jy moet hom op vlug in die lug skiet. As hy eers tussen die sonneblomme gaan sit het kan jy maar vergeet, jy sien hom skaars.  Een duif word gekwes, net sy een vlerk se been is af. Hy probeer vlieg, maar dis net n gefladder van so halwe meter hoog. Die ander sien hom spartel en verloor onmiddellik alle vrees vir my. Hulle sak af en begin die gekweste een pik en slaan met hul vlerke. Binne minute is hy dood.

Ramatau kom met nog n gekweste een uit die land genaël. Hy sit hom op die oop grond van die wenakker neer. Daar waar al die vliegende duiwe hom mooi kan sien.

” Skiet nou as hulle kom, Toppie”, skreeu hy vir my.

Ek skiet so kwaai dat ek skoon vergeet om skuldig te voel; n hele streepsak vol. By die huis gekom is Pa baie trots op my, skud my hand asof ek nou n grootmens is.

” So skiet n boer, my seun”, sê Pa vir my.

Ek en Ramatau het nooit vir iemand vertel van ons onwettige jagmetode nie. Onder die ander vleisetende siele op die plaas was ek en hy daardie jaar op die hande gedra; ons is manne wat sorg dat die kospotte vol bly.

Ja, ek is maar net n aaklige ou man uit Afrika. Kyk hier sit ek al klaar en wonder of die mens eendag net soos die duiwe en die jakkalse gaan word.

Pik en byt die swakkes dood. Of is hulle klaar al so?

6 antwoorde op Genadedood.

  1. klaar so , klaar so

  2. Ceara het gesê op Oktober 10, 2008

    Liewe Jimmel Ou Top! Maar ek neem aan dat dit deel uitmaak van plaaskinders se ondervinding die wereld oor, so ek sou nie sê dat dit jou sleg maak nie.. Oor of mense eendag so sal word, ek dink hulle is deesdae minder so as wat hulle eens was. Mense is meer bewus daarvan deesdae dat dit nie aanvaarbaar is om mense skade aan te doen net omdat hulle “anders” is op een of ander manier nie. “Peasants” die wereld oor het ‘n geskiedenis daarvan dat hulle onvolmaakte babas doodmaak – dit was nog algemeen in Europa in die 19e eeu. Soos mense wegbeweeg van daardie bestaan begin hulle oor sulke dinge dink en is dit nie meer aanvaarbaar nie.

    In elk geval, dis baie goed geskryf Ou Top.

  3. Ou-Top het gesê op Oktober 11, 2008

    Dankie vir julle gesprekke. Lorinda, ek kan nie meer alles onthou wat ek al gelees het nie, maar ek verbeel my dat ek gelees het daar in Holland is n hospitaal waar jy op jou eie onder doktertoesig, genadedood op jouself kan uitvoer. Waar is Aleta van die Noord Kaap, sy woon mos in Holland, het ek reg onthou Alet?

  4. Ceara het gesê op Oktober 11, 2008

    Ou Top gendadedood was nog maar altyd met ons. Dit het ‘n ruk gelede op ‘n ander blog ook opgekom. ek haal aan wat ek geskryf het: Om die waarheid te sê dit is iets wat wat maar net in die laaste paar dekades ‘n “probleem” geword het, seker met die verdwyning van die familie dokter in die sin waarin dit eens bestaan het. Destyds was dit nie ongewoon om net ‘n bietjie te veel medikasie te gee as dinge te erg was en die dokter wat gewoonlik ook na al die jare familievriend was oortuig was die wil om te leef het verdwyn nie. Niemand het ooit daaroor gepraat nie, dis al. ‘n afgetrede verpleegsuster het hier in ‘n onderhoud gesê dat tot relatief onlangs dit algemeen was as iemand oud en en baie siek was, en daar niemand tuis om na hulle om te sien nie ens ens het die dokter “the needle” voorgeskryf, wat eenvoudig ‘n yslike dosis morfien was. Genadedood is so oud soos die wereld. En is seker maar ‘n saak wat elkeen vir hom/haar self uitmaak volgens die omstandighede. My standpunt sou wees dat mens nie ‘n lewe mag neem onder enige omstandighede nie, maar ek weet nie hoe dit sal wees as iemand naby aan my my opreg sou vra om te help nie. Ek dink dan dalk heel anders.

  5. suletteb het gesê op Oktober 15, 2008

    Hi Ou Top,
    Euthanasie word hier in Nederland gepleeg, ja. Maar soos alles hier maar, onder stapels vol voorwaardes, reëls en regulasies. Die debat daaroor vlam hier ook so elke nou en dan weer op.
    Dis ‘n interessante gesprek! Ek stem nogal saam met Lorinda: verstand en gevoel verskil nogal van mekaar hier. My verstand vra “Wie weet wat ‘n mens nog alles (moet?) uitspook met homself en met God daar op sy sterfbed?”, maar my emosies praat ‘n ander taal. Aan die een kant: ten alle koste die lewe behou, aan die ander kant: is soveel lyding regtig nodig?
    Ek het my pa as kind een keer oortuig om ‘n perd, wat in die draad vasgesit en sy agterbeen se skeen van bo tot onder tot teen die been skoongesny en -geskaaf het van al die spartel, nie uit te sit nie. “Perde kan nie pyn vat nie! En buitendien sal hy nooit weer daai been behoorlik kan gebruik nie!”, het hy gesê. “Al loop hy dan nou maar net hier rond as kinderperd…”, het ek verbete baklei om hom tog gesond te laat dokter. My pa was die lokale “dieremedisyneman”, die naaste veearts was honderde kilometers grondpad verder. Ons het vir maande gedokter aan die perd. Uiteindelik meer pynmiddels gespuit as wat die perd self ooit in rand en sent werd was. En vir JARE kon hy nie op die been trap nie. Dit het nie lank gevat voor ek geleer het wat my pa bedoel het met perde kan nie pyn vat nie. Hulle word totaal wild van die angs! Nooit, nooit weer sal ek ‘n perd so laat ly nie! Selfs al galop Robbert vandag daar saam met die ander deur die veld met sy verdikte agterbeen.
    En ek glo nie ek sal veroordeel word vir enige van die twee besluite nie (ten alle koste veg vir sy lewe soos toe, of uitsit, as ek nou oor moes besluit). Albei besluite sou in ewe veel opregtheid geneem word, met die kennis tot my beskikking op daardie bepaalde oomblik en die medelyding in my hart.

  6. Ou-Top het gesê op Oktober 17, 2008

    Aletta, bly jy het die ding oor die perd genoem, ek het dit ook so beleef. Mense raak ontsteld as n perd op die resiesbaan of op n skou deur die veearts uitgesit word, maar dis beter so.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.