Jy blaai in die argief vir 2008 Oktober.

by ou-top

n Seun van Engeland.

Oktober 30, 2008 in Sonder kategorie

n Seun van vyftien jaar oud was saam met ons op die visvangtrip. Hy is gebore in Engeland en praat n soort Engels wat ons sukkel om te verstaan. Hy is n vriend van my se seun, die ou het destyds as Suid Afrikaner daar in Engeland vir n paar jaar gewerk, getrou met n Engelse meisie, die seun gehad en toe die so vier jaar oud was, skei my vriend en kom terug Suid Afrika toe, sonder die seun.

Slim prokureurs daar in Engekand sorg toe dat die seun nooit na Suid Afrika kan reis nie en my vriend gaan kuier toe maar elke  jaar vir n week of twee daar in Engeland om hom te sien. Tot hy twaalf jaar oud is, toe word dit toegelaat dat hy alleeen vlieg na Suid Afrika om vir sy Pa te kom kuier. Voor die trip vra die Pa ons moet maar assblief die naweek probeer Engels praat sodat die kind ons kan verstaan. Hy verstaan byna geen Afrikaans nie.

Ek praat heelwat met hom en kom agter dat hy baie gelees het oor Afrka. Ons is sewe mense in totaal en soms probeer die ouens hom bangpraat of skrikmaak oor slange, perdebye en ander sulke goed. Hy glimlag net oor hulle mannewales. Dan vang een n kleinerige karp en vra die seun of hy lus is om n groot baber te vang. Die seun sê ja, en heel aspris sny die ou met sy vismes die lewendige karp se kop af om aan die seun stok vir aas aan te sit. Ek weet almal wag in spanning dat die knaap nou gaan opgooi of protesteer of so iets; dis mos wreed en bloederig. Maar hy knip nie n oog nie, gooi nog self met sy stok die aas diep in die dam.

Hy wag vir n baber om die aas te vat en sit daar op sy stoel langs my met n verkyker en kyk na die verskillende watervoêls op die dam en ook die wat heen en weer oor ons vlieg. Hy vra my hul name en gewoontes, wat hulle eet en so aan. Soms hoor ek hoe probeer hy hulle geluide namaak. Ek begin hou van hierdie klein Engelsman. Kort, kort wil hy by sy Pa weet of die nie koffie, koeldrank, n bier of biltong wil hê nie, Dan staan hy met n glimlag op en gaan haal dit vir die Pa.

Teen ses uur die middag loop sy katrol en hy vang n pragtige baber van 15 kilogram. Terwyl hy die vis speel om dit moeg te maak, skinder sommiges op Afrikaans dat die klein Soutie hom asvaal gaan skrik as daai baber uit die water peul. Sy Pa is in die vlakwater met n skepnet, hy wil bitter graag hê sy seun moet die baber uitttrek. Dan is die vis daar, dis te groot vir die skepnet en die Pa sukkel.

” Dont loose is Dad!!” skreeu die seun en gee sy sy visstok vir my aan terwyl hy soos n luiperd teen die skuinste afduik om sy Pa te help. Hy gryp die vis met vier vingers reg in die baber se bek en sy duim in die holte onderaan; sy ander hand se vingers het hy in een kief gedruk. Met so vee beweging van agterr deur Pa met die skepnet en die seun wat vooraan trek, land die groot baber uiteindelik op droeê grond.

Die vis is rêrig groot; as die seun hom aan die kiewe met moeite optel is die baber se kop onder sy ken terwyl die stertpunt nog op die grond sleep. Almal daar se monde is stil. Hierdie outjie is nie n softie nie.

Op die seun se gesig en aan die uitdrukking in sy oê, kan ek sien sy Afrika jagtersinstink het nou ingeskop. Hy gaan kyk kort-kort na sy vis in die net.

Terwyl sy Pa sy hand met Iodine dokter daar waar die baber se raspertande hom nerfaf geskraap het, sê die seun, ” You know Dad, those Limeys are not going to belief me, they’r going to say I manipulated the fotos.”

Hulle kyk vir mekaar en hulle lag.

by ou-top

Luister na jou hart, moenie bang wees nie.

Oktober 23, 2008 in Sonder kategorie

Vroeg vandag luister ons  OFM radio. n Ou bel in en sê sy naam is George,  en hy wil weet of die radio kan help om iemand op te spoor. Op skool was hy in die geheim verlief op n meise daar,. Haar naam was Melanie. Hy wil weet wat van haar geword het. Hy sê as hy destyds met haar getrou het, was hy nooit nou n geskeide man nie. Die omroeper wou weet of hy Melanie op skool “gecharf” het, hy sê nee, hy was te skaam en bang, het haar net op n afstand bewonder. Hy is nou nog verlief op haar.

Net drie minute later hier bel Melanie die radiostasie en sy is op die lug. Sy onthou hom duidelik, hy was so mooi lenige jong en skaam outjie, het gewonder hoekom “charf” hy haar nie, kan hy dan nie sien sy hou van hom nie. Sy is ook nou geskei.  Sy is so opgewonde die woorde borrel sommer so uit haar mond. Hier eindig die storie toe op die radio, maar nie in my kop.

Hulle ontmoet  mekaar toe weer op afspraak in n koffieplek.

Melanie: Hoekom het jy my nooit “gedate” nie, George? Ek sou dadelik ja gesê het.

George: Jy was die mooiste meisie in die skool. Ek was bang, al die ouens het om jou gedraai, ek het nie eerste span rugby gespeel nie. Jou Pa hulle was ryk, ons het daar teen die spoorlyn gebly.

Melanie: Maar dit maak nie saak nie, dit het nie saak gemaak nie. Kon jy nie sien nie… Ek het soms vir jou gesmile, dan bloos jy bloedrooi in jou gesig en raak net weg.

Dis hier waar hy haar hande vat .

George: Ons het jare gemors. Sal jy vanaand by my kom eet. Ons kan ou fotos bekyk. Daar is n paar wat ek skelm van jou geneem het. Kyk hier in my ID boek, hierdie enetjien dra ek nog altyd saam met my.

by ou-top

n " Scheme" wat dalk kan werk.

Oktober 22, 2008 in Sonder kategorie

Ek het vier groot babers huis toe geneem. By die vulstasie het ek twee vir n petroljoggie gegee. Die man bederf my daar, mense wou hom al slaan omdat hy my voorkeur gee, maar ek hou van hom , hy lag altyd, hy fluit altyd n deuntjie, of hy sing. Ek gee hom elke keer vyf rand as ek daar petrol gooi. Hy weet ek het gaan visvang, want ek het daar volgemaak met die visstokke op my bakkie se dak. Het om belowe ek bring vir hom n baber of twee. Babers het nie grate soos ander visse nie, dit maak hom n gewilde proteien.

Die ander daar sien die babers, die een koop by Izak n baber vir R40 , sal einde van die maand betaal belowe hy. Izak sê n paar dae later vir my, ek moet weer gaan en die bakkie volmaak, hy sal alles verkoop. Die mense maak hom mal.

Iewers op die internet kan jy gaan soek vir baberboerdery, n paar Universiteite het hieroor navorsing gedoen. As jy n dam of water het, bekyk die ding. Ons munisipaliteit het self teen die swart woongebied n baberboerdery begin. Verskaf glo kos en werk aan honderde behoeftige mense.

Groei glo vinnig en eet alles.

O ja, Gert en ek het ook n baber fillet gaargemaak daar by die dam, Gert maak hom dat hy soos Kingklip proe.

by ou-top

Vroegoggend by die water.

Oktober 22, 2008 in Sonder kategorie

Net een ding in die Vrystaat is mooier as n sonsondergang, en dis n sonopkoms. Bloedrooi en oranje, met kolganse wat bo verbygaan en heserig blaas, bleshoenders met hul eienaardige geluidjies wat opgewonde regmaak vir die dag, bont kiewiets wat almal waarsku dat die dag nou aanbreek. Dam se water wat blink voor jou lê met donker rantjies daar oorkant. Ons outoppe mis dit nooit, vroeg is ons uit die tente, kry die vuurtjie aan die gang vir koffie. Die jonger snare slaap nog vas.

Dan dink ek aan wat Zeppie op my blog gesê het; dat hy wens hy kan eendag net  Hansie Cronje se hand  skud en vir hom sê. Hansie man ons vergewe jou. Ek noem dit vir ou Petrus, en daar loop ons gesprek sy pad.

Petrus: Ons seun van Bloemfontein, die wereld het hom te vinnig ge-oordeel. Ons kaptein, christenkind van christenmense.

Ek; Ja ons gooi graag klippe, maar wie is ons ?

Petrus: Jy kan nooit n perfekte christen wees nie. Ons kan traai, maar ons is sondig, ons kan maar net strewe om ware christene te wees. Ons kan maar net aanhou traai. Die wereld het vir Hansie te vinnig ge-oordeel. Ons moes hom in sy lewe al vergewe het, almal van ons. Al ons christene.

Ek; As ons nou na die rekordboeke kyk, het hy al die groot wedstryde gewen. Vaar ons krieketspan nou beter as toe? Watter wedstryde het Hansie dan so gegooi?

Petrus: Het jy die fliek oor sy lewe gaan kyk? Jy moet gaan. Ek sê jou, ons is almal skuldig, ons moes hom in sy lewe nog vergewe het. Ek en jy is baie slegter mense as Hansie, en hier sit ons nog. God vergewe mense, ons gooi hulle met klippe dood.

As ek die ketel van die kole haal hoor ek Petrus sê sommer so onderlangs aan homself.

Petrus;  Donderse skande, ons behoort ons te skaam, as christenmense behoort ons skaam te wees.

by ou-top

Gesprekke by die water.

Oktober 21, 2008 in Sonder kategorie

Visvang in die Vrystaat is nie n baie aktiewe sport nie, daar is baie tyd om stil in die koelte te sit en gesels. Ons lyne is in die water en ons is heel gemaklik in ons seilstoele op die wal.

Petrus:   Hierdie Lekota wat nou wegbreek van die ANC. Ek weet nie, hy kon nie eers die Army aan die gang hou nie, wat nog n land soos ons sin.

Ek:   Feite, my vriend, hy is net n raasbek, sal n paar saam met hom sleep en dan ook maar net aanhou raas en raas soos al die ander partye.

Petrus: Zuma sal president word, hulle kan hom nie meer keer nie. Hoog blêddie tyd ook dat die Zulus oorvat. Te veel Xhosas en ander soort goeters daar. Die Zulus was nog altyd die grootste en sterkste nasie in ons land. Weet nie hoekom dit so lank gevat het nie. Was dan altyd so n trotse nasie.

Ek:  Mens weet nie meer, sy jeuliga praat dan van moor en so aan. Kan dalk ons wees.

Ons skink nou eers nog Red Hart Rum, ingeval die muskiete  begin pla.

Petrus: Ek sê jou Ou Top, al wat werk in Afrika is n Diktator. Hierdie demokratiese, mensregtelike goed werk nie in Afrika nie. Ek meen,  die misdadigers het al amper meer regte as die slagoffers. man.

Ek; Ja ek lees nou die dag n vrou se brief in die koerant. Sy sê Namibia is so mooi en skoon. Lê glo nie n papier of plastieksak rond op straat. Maar sommige mense sê  hul President is n regte diktator.

Petrus: Dissie ding daai. Ek sê jou ons land kort n egte, regte diktator. Een wat sê skiet die fokken rowers en en moordenaars. Kastreer die verkragters van ons vrouens en kinders. Ja en jy wat daar op die straathoek staan en piepie, kom hier, jy is n gevaar vir die gemeenskap, ons kap hom af.

Ek kan sien ou Petrus begin die visvangery nou geniet.

Ek; Miskien is jy wragtig nog reg, Petrus. Jy het n punt daar beet.

Ons vat n paar slukke in stilte.

Dan sê Petrus met so n lang sug:  Ja, maar nou is goeie diktators so blêrrie skaars hier in Afrika.

by ou-top

Ek skud blad met n ou Rusiese Tsaar.

Oktober 21, 2008 in Sonder kategorie

Matriekafskeid is verby en toe kom meriete aand. Laatlam kry bo verwagting onderskeiding in kuns, kompertegnologie en engels. As daar een vir Mixt was het sy hom ook loshande gekry. Sy lyk so klein en alleen daar op die verhoog, maar ons is trots op haar. Ons kyk eintlik rond om te sien of die mense darem weet dis ons kind daai, maar almal klap hande, niemand is gepla oor ons nie.

Voor my sit n baie ou oom wat skuifellend en baie stadig aan die arm van n vrou daar ingekom het.  Hy lyk kwaai en streng, n forse ou man. Ek ken die vrou, haar dogter is al van sub A saam met ons kind. Kry haar deur die jare so by die balletklasse, konsert oefeninge en so aan. Weet sy is n hooggeleerde geleerde dokter by n hospitaal. Sy is Russies van afkoms, praat Engels met n swaar aksent. Die ou oom is haar Pa, hy woon ook al jare in Suid Afrika. Hy praat net Russies. Die Oupa se kleindogter kom aan die beurt, dis n ellelange lys van toekennings, alles in wiskunde, sommige toekennings is van oorsee. Jy kan sien die skoolhoof is uitermatig trots op hierdie leerling van sy skool. Die mense klap ekstra hard, sommige staan op asof in saluut.

Die Oupa probeer ook opstaan, hy sukkel egter en gaan sit dan liewer, berustend. Ek kan sien sy groot ou benerige kop bewe effens. Hy klap stadig hande terwyl hy na sy kleinkind staar. Op die ingewing van die oomblik tik ek hom van agter op die skouer, hy draai swaar om na my, fronsend. Ek steek my hand uit en sê baie geluk met sy kind se prestasies. Hy verstaan nie n woord nie, maar hy druk my hand stewig vas, hy praat in Russies, beduie met sy ander hand na sy mond, dat hy nie my taal kan praat nie. Dis nie nodig nie man, wou ek vir hom sê. Almal gaan sit nou weer en sy dogter is af van die verhoog, haar hande vol bekers en geskrifte.

Dan sien ek die ou man haal n sakdoek uit, hy sit en huil hier voor my. Sy dogter het haar hand om sy skouer en praat in Russies saggies met hom. Dan draai sy om na ons.

” Thank for for shaking his hand, he says that I must tell you, recognition is a sweet creation of God. For him and for his grandchild.”

Sy huiwer n oomblik en sê dan, ” In Russia, my father was for many years, a professor in Mathematics.”

by ou-top

Laatlam word groot.

Oktober 17, 2008 in Sonder kategorie

Vyf seuns se matriekafskeid was niks in vergelyking met een dogter s’n nie. Maande voor die tyd is sy al op n streng dieet. Oefen in die gym, hardloop, pas die rok drie keer n dag aan, stry oor hoe die ding aan haar lyfie sit; my senuwees is naderhand gedaan. Toe die laaste twee dae,  dis haarkapster toe,  dan moet sy n facial kry in n ander salon, dan moet sy weer naels  by n ander salon laat doen. Gelukkig het my vrou self die rok gemaak anders was ek bankrot. Mqar sy het pragtig gelyk.

Ag en toe die groot aand, die skool hou n tuinparty waar die ouers en hul kinders eers vir n uur of so kan meng en fotos neem. Dan stap sy met haar boyfriend op die rooi tapyt na die saal, uit ons lewens uit…….Ons weet dit, want die seuns was ook so. Dis hartseer, maar n man hou, wil nie wys jy is n sissie nie.

By die huis slaap ons nie, ons wag dat sy terugkom om ander klere aan te trek vir die after paartie. O. dis n peslike ding, die afterpaarties van die kinders. Elke jaar gaan daar kinders dood nadat hulle van die after paartie af op op pad huistoe was. Die seuns drink te veel daar, te bly om klaar met skool te wees. Hier teen elfuur se kant is hulle darem terug, sy trek gou ander klere aan en daar gaan hulle weer. Ek kry darem n kans om vir die seun my kaartjie te gee met my selfoonnommer daarop.” Bel my as jy nie lekker voel nie, ons sal julle liewers kom haal. En moenie worry nie, ek het al n dronk seun gesien. Ek wil net my dogter lewend by die huis kry vanaand. As jy dronk bestuur, al maak jy nie n ongeluk nie, donder ek jou dood. Ek versuip jou in die swembad. Verstaan ons twee mekaar?”

Hy lag net,” Oom weet mos ek drink net een bier n aand, sy is veilig Oom, ek belowe”.

Drie uur die nag kom hulle veilig terug, die mannetjie is so nugter soos n vink, maar my dogter is nogal heel jollie en verspot. Ons het nog nie n oog toegemaak nie. Ek is net bly dis verby, nee ek is dankbaar dis verby.

Want hier teen n palmboom op die middelmannetjie van n straat nie ver van my huis, is daar n houtkruis ingeplant, en daar is hopies vars blomme daarom gestrooi. Dit was iemand se kind wat verlede week al matriekafskeid gehou het.

Elke dag teen sononder sien ek mense daar staan.

by ou-top

Oor lepels en Zioniste

Oktober 11, 2008 in Sonder kategorie

My ou visvang vriend het toe gebel en ek kom nou net terug nadat ek hom gou gaan besoek het waar hy in sy klein Fast Food and Take Aways in die middestad werk. Dis meestal swart kliente daar en ek wag geduldig by n tafeltjie dat hy klaarmaak en hier by my kom sit sodat ons finale reelings kan tref oor ons visvang trip.

Ek drink n koppie koffie en sien die drie swart mans by die tafeltjie langs my het n bord tamatie beesrib bredie bestel. Dis in n die papbord opgeskep bo- oor stampmielies, daar is n paar stukkies vleis met bene en nogal baie sous. Daar is net een bord en een metaal lepel. Ek dog net een is honger. Hulle het elke een daai groen lappie en kenteken van die Zion Church op hul hemde vasgespeld. Christie mense wat elke jaar in hul duisende opruk na n plek daar naby Pietersburg, rook of drink glad nie.

Toe begin die een wat die meeste grys in sy hare het, te eet. Net een lepel vol, dan hy hap vir n tweede keer na die lepel om dit met sy lippe mooi skoon te vee. Dan gee hy die lepel vir die tweede oudste aan, hy vat ook n hap, en maak ook die lepel skoon. Die derde een vat dieselfde lepel en neem sy hap. So gaan dit aan tot die bord kos klaar is. Die bene suig die oudste alleen af.

Hulle betaal en loop waardig by my verby, oudste voor en jongste agter.

Ek soek na die regte woord, maar kry dit nie, naaste is skaamtelose samelewendheid in hul armoede.

Ek sal dit met my vrou doen, as ek swaar genoeg kry miskien met my seuns, of my suster.

Ons het nog nie swaar genoeg gekry, maar dit kom, ek kan sien dit kom.

by ou-top

Genadedood.

Oktober 10, 2008 in Sonder kategorie

My vrou en dogter klae ek skryf en lieg so al om die waarheid omtrent myself; ek moet n slag die feitelike waarheid skryf sodat die mense kan sien hoe leilk ek soms kan wees. Het laasweek probeer met die stormwind storie, maar dis nie maklik om jouself sleg te sê nie.

As dertienjarige seun sonder n Ma op n plaas aan die Vaalrivier, was die lewe rof en lekker. Ek het volkome vryheid gehad, Pa was nie veel gepla of ek onderbroek dra , tandeborsel en of my hare gekam is nie. Ek het honde gehad, ek het perde gehad, ek het my twee swart vriende Ramatau en Mosalla gehad. Op die plaaskooltjie daar naby het die onderwysers my verdra, want om een of ander rede was my punte altyd die hoogste in die klas.

In my wildheid het ek soms daar dinge gedoen wat hier op my oudag by my kom spook.

Soos die draaijakkalsies. Ons stel vir Pa n slagyster by die karkas van n halfgevrete lam, daar teen die kant van die vlei. Vroegoggend is ons drie maters met ons perde by die slagyster om te sien of ons n witrugjakkals gevang het, hulle is skaapvreters. Nee, daar sit n arme draaijakkals tefie met haar voorpoot in die kake van die slagyster. Hulle is skadeloos, ek meen n honger dorperskaap sal haar dalk kan vreet.

Ramatau gee haar n allemintige hou met sy kierie, want sy moet maar dood, sy sal nie oorleef met daai vergruisde voorbeen nie. Sy skreeu van pyn en ruk en pluk om los te kom. Skielik storm haar mannetjie uit die lang gras van die vlei, sy bek wyd oopgesper. Ons hol weg, want enige plaaskind weet as n dier wat gewoonlik bang is vir n mens, nou ewe skielik storm, dan het hy hondsdolheid en daarvan vrek jy verseker.

Atletiese ekke is los voor en hoop maar die mal jakkals woed homself uit op een van die ander. Dan skreeu Ramatau iets en ons gaan staan om terug te kyk. Daar is die mannetjie besig om sy hulpelose wyfie aan flarde te byt. Hy byt haar morsdood. Dan gee hy ons een kyk en verdwyn dan weer terug in die lang gras. Ons staan verslae vir mekaar en kyk.

” Maar hoekom doen hy dit?” wil ek van die ander weet. Hulle skud net hul koppe heen en weer.

 In dieselfde jaar kom die kransduiwe in hul duisende van stede, dorpe en brugge om  Pa se ryp sonneblomme op die land te kom vreet. Hulle rig groot skade aan en ek is daar met Pa se dubbelloop haelgeweer. Ek skiet vir n vale en so nou en dan val daar een, want jy moet hom op vlug in die lug skiet. As hy eers tussen die sonneblomme gaan sit het kan jy maar vergeet, jy sien hom skaars.  Een duif word gekwes, net sy een vlerk se been is af. Hy probeer vlieg, maar dis net n gefladder van so halwe meter hoog. Die ander sien hom spartel en verloor onmiddellik alle vrees vir my. Hulle sak af en begin die gekweste een pik en slaan met hul vlerke. Binne minute is hy dood.

Ramatau kom met nog n gekweste een uit die land genaël. Hy sit hom op die oop grond van die wenakker neer. Daar waar al die vliegende duiwe hom mooi kan sien.

” Skiet nou as hulle kom, Toppie”, skreeu hy vir my.

Ek skiet so kwaai dat ek skoon vergeet om skuldig te voel; n hele streepsak vol. By die huis gekom is Pa baie trots op my, skud my hand asof ek nou n grootmens is.

” So skiet n boer, my seun”, sê Pa vir my.

Ek en Ramatau het nooit vir iemand vertel van ons onwettige jagmetode nie. Onder die ander vleisetende siele op die plaas was ek en hy daardie jaar op die hande gedra; ons is manne wat sorg dat die kospotte vol bly.

Ja, ek is maar net n aaklige ou man uit Afrika. Kyk hier sit ek al klaar en wonder of die mens eendag net soos die duiwe en die jakkalse gaan word.

Pik en byt die swakkes dood. Of is hulle klaar al so?

by ou-top

Die regte kosse vir die regte liggame.

Oktober 8, 2008 in Sonder kategorie

Tronkie skryf vanaand op haar blog van die regte kosse vir jou liggaam. Sekere bloedgroepe moet sekere kosse kry. Lees haar blog gou. Hierdie goed werk jong. Gaan dan na Ruby Tuesday se blog, sy het vanaand n pragtige gediggie geskryf, maar dis net leesbaar vir mense van die bloedgroep B positief, die ander kan dit glad nie lees nie. Ek kan, my vrou kan nie. Sy dink ek’s mal, en ek dink sy’s blind. Sorsie kan dit ook nie lees nie. Verstommend.