Jy blaai in die argief vir 2008 September.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Wit Afrikaners en Swartmense doen dieselfde ding.

September 21, 2008 in Sonder kategorie

Eienaardig dat net swart- en witmense lief is vir byname gee. Geen Indiër, Portugees, Griek, Jood of
Engelsman sal ooit sy kind of vriend die volgende noem nie. En hierdie name kom sommer uit gister se koerant:

Wit: Os; Windpomp; Byl; Bees; Spikkels; Windhond; Slang; Spook; Klippies; Skillie.

Swart: Ice; Spike; Beast; Killer; Sticks; Wiseman; Fats; Tiger; en onder die boksers het elke een n bynaam.

As dit by humor kom, is dit weer dieselfde ding. Val iemand van n perd af of ry iemand met sy fiets teen n kar se oop deur vas, sal die ander nasies onmiddellik simpatie betoon, jammer kry en help. Wit Afrikaners en Swartmense sal eers onbedaardelik aan die lag gaan en dan eers hulp verleen.

Kom dit by kos, stem hulle weer ooreen: potjiekos of “stew”  en pap is n voorkeur kos. Geen ander nasie eet byvoorbeeld gebakte skaapkop of afval nie.

Nou sien ek soms dat swartmense in die parlement begin hoedens dra nes ou PW se mense. Die vrouens dra hoedens nes ons ou Afrikaner tannies. Swart en wit hou van drank, gaan kyk maar in die jolplekke wie drink die meeste. Dis ons. Gaan kyk in die taverns, dis hulle. Ons en hulle slaan ook maklik aan ons vrouens om hul op die regte pad te hou.

Kyk in die koerante wie pleeg gesinsmoorde, dis ons Afrikaners en die Swartmense. Geen ander nasie doen so iets nie. Albei bewonder sterk mense wat kan baklei. As ons n geldjie vinnig en onwettig kan maak, dan doen ons dit. As ons n gewillige of soms onwillige mooi vrou n knypie aan die boud kan gee, dan doen ons dit.

Kyk nou weer in die politiek, hulle kan ook nie saamstaan nie, net soos ons ou klomp Afrikaners. Wat nou met Mbeki gebeur is presies wat met ou Generaal Smuts destyds gebeur het.

Ja, ons kleur verskil, maar ons is presies dieselfde soort mens. Roekelose kinders van Afrika.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Paniekbevange.

September 20, 2008 in Sonder kategorie

My oudste suster was altyd maar n bietjie wild en avontuurliutig. Het ryk getrou met n ewe avontuurlustige man. Daar is wildsplase waarop Amerikaners kom jag, daar is invoer en uitvoer bedrywe en n huis of twee by die see. Weens ouderdom word daar nou afgeskaal en dis later net een huis by die see en net die een wildsplaas met die skaars wildsoorte daarop wat hulle mee besig is. Op haar oudag kruip hierdie eienaardige siekte  toe na vore: paniek of angs aanvalle. Dis waaraan sy nou ly en behandeling voor ontvang.

Ek weet nie eers van so siekte, maar sy sê haar dokter noem dit Angst- aanvalle. Klink so half Duits of Gestapo-agtig vir my en ek wonder of die arme Jode destyds die eerste lyers hiervan was.

Lui my selfoon gister so vieruur die middag, dis my suster, sy sit in n vliegtuig op pad na Jan Smuts en daar is verskriklik wind. Die vliegtuig ruk en val, almal in die vliegtuig sit al en braak in daail sakkies wat die lugwaardinne vir hulle uitdeel. Sy is heilig oortuig die vliegtuig gaan val en dat sy gaan sterf. Haar einde is hier. Ek probeer troos en raad gee, maar ek kry nie  kans om n woord in te kry nie.

Ons gesprek loop amper so:

” Dis verby, Ou Top. Ek weet, ek voel dit hier binne in my. En jy moet mooi luister vandag”, praat sy en ek hoor sy is verskriklik ernstig.

” Daai leunstoel van Pa, onthou jy hom nog? Die ou leerstoel waarop net hy gesit het?”.

” Ja man, ek onthou die stoel, en bedaar nou. Sluk n pil en bedaar. n Vliegtuig val nie sommer net van n wind of n “pocket” of twee nie. Bedaar, Sus”, kry ek n woordjie in.

“Ek het hom met n bont Nguni vel laat oortrek, hy staan in ons slaapkamer op die plaas. Gaan haal die stoel, vat na jou plek toe. Daar is $ 200,000 se note in die rugkant toegewerk. Kyk dat ons kind dit kry, maar vat eers vir jou genoeg. Is van die bokke se geld. Hoor jy my, hoor jy my?”. Sy is heeltemaal paniekbevange en haar stemmetjie is sommer so dun van die Angst.

Ek wou eers vir haar sê: my liewe sussie, al het jy dit in Alaska gefluister, sou ek dit nog steeds hier duidelik gehoor het. Dis mos n helse klomp geld. Maar ek sê toe maar ek sal sorg dat die dogter dit kry, as die vliegtuig sou val. Toe word ons afgesny.

Teen sesuur sê my vrou, ” Dink jy nie ons moet maar bel om te hoor of hulle veilig geland het nie”. Ek sê nee, ons kyk maar liewer die nuus.

Later, net toe ek soos n ryk man begin voel , toe bel Sus en sê hulle het veilig geland en dat sy sommer vir my gelieg het oor Pa se stoel.

Dat haar pille werk is verseker, vat net n bietjie lank. Maar ek wonder nog steeds oor daai Nguni vel oor Pa se stoel.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Dan is daar die Wenners.

September 14, 2008 in Sonder kategorie

My peetkind het net my name en nie my van nie, maar ek hou van die outjie. Hy lag altyd, is altyd vrolik en positief oor die lewe. Kan Xhosa en Sotho lekker praat. Trek in stad toe op 23, want die plaas is te klein om vir almal te sorg.

Bly n maand of twee by my, tot hy werk kan kry. Dit gebeur nie en ek sien sy ogies is soms hartseer. Sy vernedering  voel ek met n stok aan. Ons dink aanmekaar, dan kry ons n plan. Dit het so begin:

Hy sê,” Oom weet, die boere verkoop al hul skape, want dit word gesteel. Deesdae sommer veertig op n slag. Die wat oorbly is oorgelaat aan die genade van die rooikatte en jakkalse wat daar naby ons in die reservate skuil. My Pa ook. Hy teel nou meer blesbokke as skape. Jagters kom jag vir biltong, soms maak ons self biltong en ek versprei dit vir Pa aan winkeltjies, tot hier in Bloemfontein. Maar petrol is duur en die jagters is so vol nonsens. Drink te veel, kwes bokke en stry daaroor, dan moet jy nog vir hulle braai en die vleis bewerk. Almal stry oor pryse, n ou word moeg daarvoor. As ons net die bokke straight forward kon verkoop het soos n skaap, al moet ons hulle self slag en aanry. Dan sal n ou goed doen”.

Ek sit en dink oor n artikel wat ek gelees het van n professor daar in Port Elizabeth. n Blesbok het zero cholestrol, glad nie soos n skaap- of beesvleis wat vrot is van die cholestrol nie. Die ryk witmense wat so neerslaan van koronêre siketes, sal dit mos koop. Dan is daar die miljoene swartmense  en arm witmense wat deesdae net hoender en vis kan bekostig. Ook maar teen n helse prys. Rooivleis is verskriklik duur.

As jy n blesbok karkas vir 14 dae in n koelkamer hang dan is sy vleis net so sag soos n skaap se vleis, jy kan hom tot braai. Kookvleis sal dan ook maklik wees. Vars bokvleis moet ure gekook word voordat dit sag is.

Ons doen n proef, Peetkind gaan skiet n bok op sy Pa se plaas en ek vind n vriend met n koelkamer. Ons hang die bok. Op die vyftiende dag saag ons hom op in tjops en blokkies vleis, nes n skaap. Ons somme is gemaak, die karkas weeg 45 kg en ons betaal sy Pa R550. Dis R12 per kilo. Ons maak die vleis op in pakkies en vra R26 per kg.

Ons eerste proeflopie is daar waar mense se pensioen maandeliks uitbetaal word. Ons braai van die vleis en laat hulle proe, dis verniet, ons advertensie  mos nou. Hier teen eenuur is die vleis als verkoop.

Ons gaan skiet nou vier bokke. Die Pa gee skuld, want die eerste bok het ons klaar betaal. Weer koelkamer toe vir veertien dae. Toe weer betaalpunt toe. Teen eenuur toe die vleis begin min raak, wil ons kliente mekaar te lyf gaan om die laaste pakkies te koop.

My vrou wil die horries kry omdat ons in die “Lokasie” verkoop. Ons stel twee bodyguards aan, sommer local snare wat die mense ken.  Die besigheid loop soos die wind. Staan nou op twaalf bokke per week, nadat die”bodyguards” ons ander staanplekke uitgewys het. Afrika se mense is rooivleis eters. Laatlam het vir ons n mooi kleur plakaat gemaak wat wys hoe n blesbok klyk.

Hier sit ons nou ons wins en uitwerk. Ongeveer R 300 per bok, na uitgawes. Dis R3,600 per week en
R14,000 per maand. Die besigheid groei nog steeds.

Peetkind is op koers, ek tree uit en hy vat n swart vennoot, een van die “bodyguards”. Hulle gaan nou groter gaan. Kan nou n winkeltjie daar te huur kry.

Die blanke mark? Nee wat, ons het probeer, hulle stry te veel oor pryse en sê wildsvleis ruik te aardig as dit kook.

Skiet maar liewer n koronêr.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Slagoffers

September 13, 2008 in Sonder kategorie

Afgelope maand n paar slagoffers raakgeloop van ons land se huidige ekonomie. Die prys van kos, petrol, huislenings, kredietkaarte en baie ander dinge, het ons mense ingehaal.

Pietman sit onder n boom op die middelmannetjie van n straat in ons dorp, hy is twee en twintig jaar oud en studeer om n projekbestuurder in die boubedryf te word. n Taxi het voor hom ingeswaai terwyl hy op sy motorfiets gery het. Die fiets is opgeneuk en Pietman het wonder bo wonder net velle af en n seer knieg. Hy het sy ou Opel Kadet n paar maande gelede verkoop omdat hy nie meer die duurder petrol kon bekostig  nie. Die motorfietsie is ten minste baie ligter op petrol. Hy lag en gesels terwyl hy vir sy Ma wag, bly omdat hy leef. Ek ken vir hom, dis hoekom ek daar stil gehou het al was daar al ander mense by hom. Ken ook sy Ma; sy is n enkel ouer, man is jare gelede al weg en betaal geen onderhoud, sommer net verdwyn.

Die visserman kry ek op n stuk grondpad uit na die hoewe van n vriend  by wie ek gaan kuier. Daar is geen rivier of dam in daardie rigting nie, maar hier stap die middeljarige man met n visstok oor sy skouer, weg van die stad. Ek stop en hy klim in my bakkie. Hy wil nie die stok agter op die bak sit nie, hy klou daaraan, klem dit tussen sy bene vas met die langkant by die bakkie se venster uit. Hy is omtrent dieselfde oudrdom as ek, maar hy noem my”Oom”.

“Hel Oom, het vandag n luck gestrike!”, vertel hy opgewonde. Ook dat hy nou na twee jaar se werkloosheid n permanente werk as sweiser op n hoewe hier by n ou wat ystermeubels maak, gekry het. Hy woon ook daar.

“Sommer in n ou stroois , Oom. Ek het dit  self reggemaak. Kry elke week pay. Het n jaar gelede hierdie stok gepawn vir geld om kos te koop. Kry hom nou na n jaar by n ander pawnshop waar iemand hom weer gaan verkoop het. Het n secondhand parafienstofie daar gaan soek.”

Hy bly n oomblik stil en ek sien hy klou al stywer aan die visstok.

” My Pa het hom nog vir my gekoop, op my vyftiende verjaardag. Kyk hier onder, hier staan my naam nog uitgekrap.” Die man is so aangedaan sy stem wil breek.

En Saterdag oggend kry ek vir ou Blink Stefaans by die boeremark. Hy sê hy soek goedkoop vleis. Sy  aanvallige jong vroutjie, twintig jaar jonger as hy, trippel tussen die stalletjies rond. Hy moet haar hier by die koffieplek kry, waar daar n paar draadstoele is om op die sit. Die rumatiek vreet hom op, loop is n straf, sê die ou. Hy bly ook nie meer daar bo in die rykmanswoonbuurt nie. Moes drie jaar gelede verkoop en n kleiner, goedkoper huis in die laagtes koop. Het sy werk verloor en sy paket se geld loop vinnig uit.

Hy het twee jong kinders by die nuwe vrou, sy eie kinders is al lankal groot en getroud. Hy loer so skelm rond of sy naby is, toe fluister hy half vir my.

” Moes nooit nog kinders gemaak het nie, man. Dis duur en ongemaklik in die huis. Hansgat en ek mag nie slaan nie. Sy glo aan die nuwe manier van kinders grootmaak. My geld gaan dit nie maak nie, lewe is net te duur.”

Hy sug en staar na sy skoene.

” Party dae wonder ek of ek die regte ding gedoen het, Ou Top.” mymer hy.

Toe kom sy vrou en twee kinders aan, hande vol gekoop. As hy wegstap met sy mooi wulpse vrou, en hy raak so agter weens die rumatiekstappies wat hy neem, wonder ek ook of hy die regte ding destyds gedoen het, toe hy sy eerste vrou gelos het vir hierdie jong blaar. Daai tyd was heelwat van ons mans so effens jaloers op hom. Nou is hy sestig en sy is veertig, in hierdie donker tye.

Soos iemand gister sê :  Ons kinders is al groot en weg, niemand sien of spot met ons wanneeer daar toast en bake beans in ons huis ge-eet word tot die volgende geldjies weer verdien is nie. Oud en alleen kan n mens baie vat.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Op n dwaalspoor.

September 9, 2008 in Sonder kategorie

Op n yskoue wintersnag word ek wakker van n geluid soos vlermuisvlerke wat in die donker klap. Bokant ons bed is die waaier dan nou aan. Dis een van daai met twee toutjies, een vir die lig en die ander vir die waaier. Die gloeilamp of n draadjie is besig om te gaan, want kort, kort gaan die lig vir so half sekonde aan. Soos n vuurtoring by die see.

In die kortstondige flits sien ek hier langs my lê my vrou poedelnakend op die naat van haar rug; hande agter die kop ingevou. Ek bly doodstil lê en verwonder my aan haar seksie lyf. Haar lyfie is nog glad soos porselein met borsies wat steeds parmantig regop staan soos klipkoppies in die veld. Ek wens myself sommer geluk met so n pragtige vrou. Ek is darem n man wat weet van vroumense; het destyds goed geweet watter vrou om te kies. Kyk, meeste van haar maatjies is al effens dik en kwaai geplooi. Nee, ek is n man met visie.

Maar dit lyk dan nou vir my asof sy effens sweet. Met toegeknypte oë, lippe effens oop, voer sy sulke rustelose bewegings met haar bene uit. Omdat ek nou half rammetjie uitnek beginne raak, verbeel ek my sy droom dalk van ons honeymoon destyds daar in Mosselbaai. Wat n gelukkige man is ek tog nie. Wonder of sy dan nie koudkry nie, ek bewe dan hier onder die verekombers. Ek sien dan sweet op haar bo-lip vorm.

Versigtig en liefderik strek ek my hande uit om oor een van daai pieke te streel. Fladder haar oë nou vinnig oop en draai sy haar gesig na my.

Genade tog, daar word ek uitgeskel as n gevoellose rampokker wat n vrou wat besig is om te sterf van intense gloede, sekueel aan te rand.

Skaam en opgekrul soos n krimpvarkie lê ek doer op die kant van ons bed by myself en dink.

Dwaalspoor, ou top. Heeltemaal op n dwaalspoor geraak, katoolse ou man.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Jong mans in Afrika.

September 7, 2008 in Sonder kategorie

 Wat is dit hierdie week met karre in my lewe. Vrydagnag hier so halfdrie, word ek wakker van n helse slag hier buite. My honde blaf verwoed en ek storm uit om waar te neem. Teen die dik ysterpaal van die straatlig staan n klein motortjie met sy neus netjies  om die paal gevou. Binne sit n jong man uit sy neus en bloei.. Ek sien rook trek en help hom vinnig uit.

Hy sê aanhoudend:” Ek is oraait, ek is oraait”.  Hy het n knop soos n tennisbal aan sy voorkop, sy neus bloei en hy bewe erg. Nog n motortjie stop en twee poepdronk joutjies spring daar uit en help my om die jong man in my huis te kry.

Hy sit in n stoel en ons dokter hom. Vra hom of ons die polisie of n vriend kan bel. Hy sê, net die polisie en sy vrou. Hy gee haar nommer eers twee keer verkeerd, die derde slag kry ek haar. Hy sê vir haar hy is oraait sy moet nie worry nie. Sy moet net sy broer bel om te kom help. Sy moet solank sy ID boek en sy bestuurslisensie  in die hande kry.

Die twee dronk snare het ek gevra om buite te wag en die kar dop te hou. Ek gesels met die oulike jong man daar in my huis, wil weet of ek hom nie maar self hospitaal toe kan neem nie. Hy wil nie, sê hy het nie n  mediese fonds nie, hulle gaan hom Pelonomi toe stuur. Ons gesels terwyl hy aan n groot glas suikerwater suig. Hy is in die aande glo n klankingeneur vir orkeste en bedags het hy n ander werk. Hy doen dit vir ekstra geld, kom nie meer uit met wat hy kry nie. Sê ook hy het n vrou en n klein dogtertjie by sy meenthuis. Ek kan ruik die man het geen drank gebruik nie. Hy sê hy het aan die slaap geraak, was al amper by die huis. Was glo al die derde job hierdie week.

Hy vra dat ek sy selfoon in die kassie van sy kar gaan haal, hy wil sy broer self bel maar kan die die nommer mooi onthou, dis op sy selfoon. As ek buite kom is die twee dronk javels al weg, die selfoon ook. My buurman staan daar en sê hy sal die kar bewaak. Ek is terug by die jong man, hy klae oor pyn in sy voorarms en elmboë. Ek sê sy broer vat te lank, ek sal hom self huistoe neem en hier kom wag vir die polisie. By sy huuis  het ek skaars gestop of n mooi meisiekind met n dogtertjie in haar arms kom uitgestorm, almal huil, die jong man ook.

“Ek is oraait, Engel, Pappa is oraait”, hoor ek hom met sy dogtertjie praat.

My buurman wag nog by die motor as ek daar aankom. Ek vertel hom van die selfoon, hy sê hy ken die een dronk outjie se Pa. Bly glo net hier agter ons.

Die volgende oggend agtuur is ek daar, praat met die Pa, hy pluk sy seun uit die bed, sy seun bel op sy Pa se selfoon die ander javel. Binne tien minute is die selfoon daar. Ek vat die foon en loop, agter my hoor ek,” Julle donders moet begin werk, hierdie dronknes paartjies gaan nou einde kry. Wat sal jou Pa hiervan sê? Wil jy hê ek moet hom bel?”  Die mannetjie smeek sy alie af.

Ek laat weet die man se vrou ek het die foon, hy is nie daar nie sê sy,  is al weer by die werk.

Hoop tog so die jong man het versekering op sy motor, op n manier voel ek te skaam om hom te vra.

Profile photo of ou-top

by ou-top

n Vingerwysing.

September 2, 2008 in Sonder kategorie

Ek is stil want ek dink en ek wonder oor hierdie ding wat my verlede week oorgekom het.

Met my ouerige karretjie ry ek in die middelste baan van n besige driebaan straat. Moet seker te stadig gery het of iets, want n duur motor met getinte vensters wil dan die kant verby en dan daai kant verby en aanmekaar druk hy toeter vir my. Die ander karre gee hom nie n kans om verby te kom nie en ek kan ook nie links of regs nie weens die druk verkeer. Hy kom rakelings by n motor verby en ry langsaan my. Sy venster sak en hy skreeu iets op my en eindig toe sy gesprek met n regop middelvinger wat hy vir my wys. Ek dag ek is redeklik veilig tussen so baie mense en gooi toe ook maar n zap sign in sy algemene rigting. Genade, toe word hy heeltemaal beserk.

Hy wring verby en trek reg voor my in terwyl hy aanmekaar toeter druk en  woes vir my beduie . Daar slaan die robot toe rooi. Ja, dis nie my dag vandag nie. Ek besef onmiddellik ek is nou kniediep in die moeilikheid.  Die  man spring uit sy motor en ek sien aan sy bultende bobene en arms, dat hy  nou net uit die gym moes  gekom het. Hy lyk baie groter as  The Beast wat vir die Springbokke speel. Ek besluit dat die veiligste gaan wees om uit die kar te kom en te hardloop. As hy my daar in die kar vaskeer, is ek verseker dood.

Ek los my deur oop om sy spoed te breek en merk op dat al die ander mense in hul karre maak asof hulle glad nie sien hoe hierdie ou wit man nou op sy bliksem gaan kry nie. Ek maak vir my kar se boot, want ek wil die wheelspanner in die hande kry om myself mee te verdedig. Het so groot geskrik dat ek skoon vergeet het van my ou knieg. Die man sal my maklik vang. Ek kry die boot net halfpad oop, toe het hy my.

Hy stamp my net so met die oop hand teen my skouer, toe trek ek tot teenaan die Jetta langsaan waar n wit vrou histeries  skreeu dat ek moet “fokof”.

Die hele tyd skreeu die man op my hoe dom en oud ek is en dat ek nie meer op die pad hoort nie. Nogal in engels, weet jy. Hy sê ander dinge ook, dinge wat dalk by die Menseregtekomissie kan kwalifiseer as onwettige haatspraak. Hy pluk my regop asof ek geen gewig het nie. Ek begin wonder oor my testament en my begrafnispolis. Toe sien ek n man uit sy motor spring se twee karre agter my. Hy het n blou oorpak aan en al is dit n size XXXL, kom die moue net tot by sy elmboë. Sy hare en sy baard is alles aaneen, een woeste boskasie. Sy liggaam is verskriklik groot en effens geboë, so asof hy gedurig moet buk om by duere in te gaan. Hy lyk nes n reusagtige blou Ninja Turtle. Agter hom is n jong outjie van so twintig, rietskraal met n denimbroek en net n rooi T- shirt aan in hierdie koue.

Die Ninja monster skreeu iets op my aanvaller, dit klink soos donderweer. My aanvaller draai om en ek sien op sy gesig hy besef onmiddellik hy kan hier dalk self nou n besering of twee opdoen. Hy probeer padgee, maar die Monstermens het hom aan sy gewrig beet met hand so groot soos n skaapboud.

” Jy wil n ou man moer? Moer hom nou laat ek sien!” bulder hy.

” Ja, slaan die ou top. Jy wil mos. Moer hom nou, lat Krisjan jou kan sien”, hits die geitjie seun vir Ninja monster aan terwyl hy sy dun vingertjie  amper in die verskrikte man se neusgat opdruk.

” Krisjan, dankie man, maar los die ou dat hy padgee, ons gaan net almal in die moeilikheid beland”, probeer ek die Ninja monster kalmeer. My aanvaller probeer op hierdie stadium half agter my wegkruip. Hy gebruik my as n skild.

Die geitjie seun trap vas en skop my aanvaller n helse se hou  op die maermerrie met sy stokou army boots.  Ek hoor hoe my aanvaller skree van die pyn.

” Ja, moenie nou n slapgat wees nie, jou bliksem. Moer die oom nou. Jy wil mos slaan!”, skreeu Geitjie nou skoon histeries van sy lus vir bloed.

” Tata”, sê ek vir my aanvaller wat nou die houding aangeneem het van n jong hondjie wat wil gaan lê en piepie voor die groot reunhond,” vat jou kar en kry koers. Kan jy nie sien Krisjan is besig om kwaad te word nie. Op daardie oomblik het Krisjan die aanvaller se gewrig gelos en het hy sy twee enorme hande so voor hom oopgesprei om sulke krampagtige klem bewegings uit te voer asof hy oefen oor hoe hy my aanvalleer aan die keel gaan gryp en verwurg tot hy dood is.

“Los hom nou vir my Geitjie”, kom dit uit sy mond, maar dis te laat, my aanvaller is sommer bo-oor my kar binne in sy kar en soos n Ferrari uit die kuipe, spring hy daar met skreeuende bande weg.

Ek skud hande met my reddingspan en merk dat heelwat mense nou nadergekom het om die moontlike fight te beskou. Netnou het hulle dan gemaak asof hulle glad nie sien ek word aangeval nie.
Ek bedank nog vir Krisjan en wil weet by watter garage hy werk, toe druk sommige mense al weer toeter vir ons.

Ek groet maar vinnig en spring in my ou karretjie, ek wil nie vandag nog n slag gebliksem word nie.