Jy blaai in die argief vir 2008 Augustus.

by ou-top

Wat gaan aan in Mosambiek?

Augustus 27, 2008 in Sonder kategorie

Afgelope ses maande het meer as ses mense wat ek ken of verlangs ken, besluit om op die pak en na Mosambiek te verhuis. Die jongste geval, hierdie week gaan airconditioners daar herstel, vir n besigheid wat reeds aan n Suid Afrikaner behoort. n Nader ou het gaan visvang daar en hy kom terug en vertel die vakansieoord waar hy was behoort aan n Suid Afrikaner en sy twee kinders. Het al 24 Chalkets en n paar bote. Nog n ou sê die Supermark op Valinculas behoort aan Afrikaansprekende mense. Nog iemand sê in  sekere dorpe hoor jy meer Afrikaans as Portugees.  Nelspruit die naaste groot dorp aan Mosambiek bars glo uit sy nate uit.

Vind hier n groot trek in die geheim plaas?  Is daar iemand wat weer lig kan werp?

by ou-top

Blouwildebeessindroom

Augustus 24, 2008 in Sonder kategorie

n Man skryf die naweek n brief in ons koerant daar uit Nieu Zeeland, Hy spog oor hulle hy daar nou so veilig leef, deure en vensters wawyd  oop, kar se sleutels bly oornag sommer in die kar, mense respekteer mekaar en alles loop sommer net reg: veilig, beskermd, ordentlik, perfek. Hy is kwaad vir Suid Afrika omdat dit hier nie so kan wees. Hy is ook dankbaar hy het die land verlaat het en dat hy en sy gesin nou so lekker bly. Hier by ons was hy altyd bang, bevrees, angstig en op sy senuwees. Hulle is uiteindelik veilig daar in hul paradys.

Nou praat ek netnou met my seun oor Skype daar in Perth, hy is vyf jaar daar. Hy het van kleinsaf die manier as hy oor iets sensitiefs wil praat, hy n derde persoon gebruik. Soos;” Pa, n ander ou van Suid Afrika wat hier saam met my werk, sê gister vir my dat sy lewe nou so perfek en gelukkig is. Hy het n nuwe kar, n nuwe huis, n nuwe girl, n goeie werk en vir die eerste keer in sy lewe het hy geld in die bank. Sy ouers is ook hier en hulle almal is vir niks meer bang nie. Al die bangmaak goeters het in Suid Afrika agtergebly”.

” Maar dan is die lewe moes goed, my seun’, antwoord ek.

Hy huiwer n oomblik en sê dan,” Die ou sê ook, hy kan dit nie vat dat die Australiërs so bang is nie”.

” Nou vir wat is hulle bang?”, wil ek nuuskierig weet.

” Vir alles Pa, hulle is bang vir die see Pa.Hier is byna geen golwe nie, as ons uitgaan met die boot en die deining daar binne word net n halwe meter hoog, beskeit hulle hulself en dwing ons om om te draai! As n vis se vin hom sny of steek moet ons jaag vir die hospitaal dat hy behandeling word. As jy in die see swem en skreeu daar is n haai dan seil hulle soos robbe op die sand uit. Dan is dit n verpoepte haaitjie van n halwe meter lank”.

” Wat sê die ou nog”, wil ek weet.

”  Hy sê hulle is bang vir n fight in die kroeg, as hulle fight dan stamp hulle mekaar so met die bors of met die hande, soos twee hoenders wat baklei. Hulle is bang vir kieme en siektes, vir motte en goggas wat kan byt en moet nie eers praat van n slang nie, dan pass hulle sommer uit. Hulle is bang vir n ongeluk, vir spietkops, vir doodgaan. Hulle is bang vir enige stront, Pa.”

” Pa moet sien as n ou se girl hom hier los, hy tjank sommer dae aaneen. Almal wil net mooi lyk, mooi doen en die lewe moet net perfek vir hom loop. En almal drink vitamien pille en sulke goed en al die kinders is verslaaf aan die internet”.

” My wêreld, ou seun”.

” En hy sê hulle spot jou as jy kerk toe gaan, jongmense gaan  nie kerk toe nie, net die oumense gaan, want hulle raak bang vir die dood”.

” Hoe gaan dit daar, Pa?”

” Ag my seun, dit gaan nog maar woes, daar is nie tyd om bang te wees nie, paraat en wakker ja. Jy moet maar rondkyk en skerp kyk soos n perd kyk”.

Hy lag.

Ek vertel hom van Buchan wat Loftus volgemaak het met mense wat nader aan God wil leef. Hy is verstom.

Ek sê ook,” Ja, hier word nog 56 mense n dag in Suid Afrika vermoor en daar is nog elke drie minute n vrou wat verkrag word. Dis rof, maar gelukkig ly ons nou almal aan Blouwildebeesssindroom, dit trek ons deur”.
 
“Wat is dit, Pa?”, hy klink skoon bekommerd.

” Nee, ons is nou soos n groot trop Blouwildebeeste. Die leeus kom en vang elke dag n paar van ons om op te vreet.  As hulle ons jaag dan hol ons dat die stof so staan, as hulle klaar gevang is en beginne vreet, bedaar ons almal. Soms loop ons dan sommer so tien meter verby die grommende, vretende leeus, want ons weet hulle is nou klaar tot more. Soms kyk ons wie het hulle gevang en dan sê ons, ag wat dis ou Kruppel Sarel, sy tyd was al verby, of dis ou vet Sannie, sy kon nog nooit een kalfie teel. Of, ag dis klein Pietie van ant Siena, sy het al twaalf kalwers grootgemaak, een uit twaalf is darem nie te erg nie.”

” Jirre Pa, wil julle nie maar oorkom hiernatoe nie ?”

” Om te wat, my seun, om te wat?”

” Maak julle maar die geld, dan kom koop julle vir ons n wildsplaas hier, dan skaf ons  n paar leeus en n trop blouwildebeeste aan”.

by ou-top

Wie se land is hierdie dan?

Augustus 18, 2008 in Sonder kategorie

Jare gelede word ek genooi om in die Kalahari van Botswana te gaan jag. Ons is agt  mans en ons permitte is vir blok C, kroongrond wat aan die staat behoort. Jou petrol, kos en water ry jy saam want daar binne is niks, nie eers paaie nie. Net sand, gras en bome. Aarde so plat soos n tafel, so vêr as die oog kan sien.

Vroegoggend is ons op die Ford F250, dis my beurt om te skiet en ek vrek van die koue agterop. Elke middag drie uur as ons draai, stop ons eers om water te drink en n lemoen of twee te eet. Dan vra ou Jeff speels vir ons; “Wys met die vinger waar is ons kamp”. Ek wys elke keer soos al die ander, heeltemaal verkeerd. Hier sal ek vinnig vrek.

Ek gewaar iets bruins langs n valerige bos. Bekyk dit deur die teleskoop en skreeu” Miershoop!”.
Jeff ry nader, hy glo my nie, skielik roer die bruin hopie en n mens spring onder n gebreide bokvel uit. Dis n Boesman, klein en vreeslik geplooi. Hy glimlag van oor tot oor en hou sy hand omhoog. Ek verkyk my aan hom, sy pyl en bogie, twee volstruiseiers met water en n drasakkie van steenbokvel; dis al. Wat van die leeus wat gisteraand naby ons slaapplek gebrul het, wat van hiënas, luiperds en ander ongediertes? Iemand praat met hom en hy laai sy aardse besittings agterop die bak, hy word  deel van ons groep, as gids.

Ek bekyk hom die aand om die vuur, hy eet  heelwat meer as wat n mens verwag sy maag kan vat.  Meestal vet gebraaide vleis. Hy is mal oor vet. Het ons deur die dag gelei na n trop gemsbokke en later na n droeë pan met honderde blouwildebeeste wat daar rus. Hy lag en beduie met sy hande as hy praat. Daar is net een in ons groep wat sy snaakse taal kan verstaan. Ek kan vandag nie eers die man se naam onthou, want dit het met so n vreemde klapgeluid begin. Ons het hom sommer” Shorty” gedoop.

Die sesde dag as ons wakker word is hy net weg. Die Kalahari het hom  ingesluk. Honderde kilometer aan alle kante van ons is daar dan niks; waar sal hy  gaan, wat gaan maak hy daar? Jeff sê hulle maak maar so. Word gou moeg vir ons soort van lewe en verlang na sy vryheid en die stilte van die veld. Dis waar hy wil wees, hierdie oudste kind van Afrika. Ek kry hom verskriklik jammer, ek voel oortuig hy gaan sterf. Ek wou hom nog my flitslig, n knipmes en n waterbottel gee.

Nou lees ek vandag in die koerant navorsers by n grot daar tussen Danielskuil en Kuruman vind uit dat daar mense gewoon het tot 2 miljoen jaar gelede. Met vrouens en kinders. Boesmans, hulle tekeninge nog ongeskonde teen die rotswand.

So lees ek ook van grotte in die Soutpansberg naby die Limpopo rivier, in Nelspruit se berge, in die  Vrystaat, in die Drakensberge, in Mosselbaai, in Ceres naby Kaapstad, oral het die mensies hulle lewe teen n rots uitgeteken, Hulle het daar gewoon en geleef soos ek en jy.

Nou praat almal van die Koi San. Waar is hulle, wie is hulle nou? Al die bruin mense in die land ? Is hulle afstammelinge van hierdie mense? Behalwe natuurlik die Maleiers van die Kaap, hulle het maar nou die dag saam met ons kolonialiste hier geland, die Indiers ook.

Wat sê Tokyo Sekwale nou die dag,” Moenie vra wat het ons die afgelope 14 jaar reggekry nie, kom ons gaan 300 honderd jaar terug”  Wat van 2 miljoen jaar terug, Tokyo?

Nou toets die ouens hulle DNA, die een pragtige boldekop meisie van 50/50 [TV program] se uitslag is; haar mense is al 70,000 jaar hier. n Blanke verslaggewer van n Afrikaanse koerant laat syne in Amerika toets, sy voorsate is al 40,000 jaar in Afrika. Genugtig!  In n dagboek van n Engelse jagter wat in 1867 al in Rhodesië olifante gejag het, lees ek hy loop daardie tyd n jaggroep Griekwas  iewers in die bos raak, hulle van is glo Nero, en hulle kom al jare lank elke jaar olifante skiet in daardie omgewing. Die Griekwas? En hulle praat Afrikaans, sê hy.

Nee my vriend, daai dinge in die gedig van Kamakazi hier op sy blog oor die sperm en die ovum, vind al eeue lank plaas in ons land. Kyk maar na die Springbokrugbyspan, n bruin mens met n mooi gesonde vel wat Afrika se son kan vat, rats soos n steenbok in die veld, gespierd en vinnig soos n luiperd, lang hare soos n kolonialis, spierwit en sterk tande van n karnivoor. Geteel vir Afrika. Ek tel vyf of ses in die Springbokspan, volgende jaar gaan daar tien wees. So ook in ons eerste Krieketspan.

Ek verlang vandag na daai bottergeel ou Boesman wat ek in die Kalahari raakgeloop het, daar is baie wat ek hom graag sal wil vra. En ek weet nou dat dit hy was wat my daardie tyd jammer gekry het, nie ek vir hom.  Soms wanneer die verkalkte are my drie uur die nag na buite jaag en ek op die stoepie sit om vars lug te skep, dan hoor ek in die wind hoe hy vir my lag.

by ou-top

Los gedagtes van n Afrikaanssprekende ou man.

Augustus 13, 2008 in Sonder kategorie

Die gesprekke oor die Pretoria vier het my diep en alleen laat dink. My voorvaders kom uit Duitsland, die banggat Hollanders het arm jong seuns wat deur die Duitse Weermag opgelei was,opgekoop en uitgeskeep na die Kaap. Daar het hulle die voorste uitbreidngs van die Hollanders gaan beskerm teen die inheemse volk, want hulle kon skiet en was glo vreesloos. Hollandse boere het al verder van Kaapstad uitgebrei. Toe vat die Engelse oor, die Hollanders het hulle nie eers teegesit. Toe brei die boere al verder uit, tot teen die Visrivier in die Oo-Kaap , en daar kry hulle met die Xhosas te doen. Piet Retief en sy garde boer toe al van Port Elizabeth, na Uitenhage en Alexandria se kant. Die Xhosas pla hulle en die Engelse regering gaan haal wragtig n klomp softies van Engeland en kom gooi hulle tussen die boere en die Visrivier neer, so tussen Port Alfred en Grahamstad. Die arme Britse Setlaars. Hulle word uitgemoor, die meeste het nog nooit n perd gery of n geweer in sy hand vasgehou nie. Maar hulle oorleef wonder, bo wonder. Pa het akltyd gesê die beste Ingelse kry jy in die Oos-Kaap en dis waar.

Toe word n dronk jong boertjie in die hof in Kaapstad skuldig bevind dat hy die vorige aand n seeman in n tavern dik gedonder het. Die hof wil hom deporteer, hy spring regop in die hof en skreeu” Julle kan nie, ek is n Afrikander”.

So begin ons Afrikaners toe; oud Franse, oud Duitsers, oud Hollanders, oud Portugese en so aan. Toe kom Malan en Verwoerd met die Afrikaner Nasionalisme ding en hulle dryf dit te ver. So vêr dat die Wit Wolf verlede week in die Hooggeregshof van Pretoria, vir die regter sê n swart mens reken hy nie as n mens nie.  Al is hy uit die tronk gelaat nadat hy hoeveel swart mense op straat doodgeskiet het. En  daar naby Marico moet nog n jong seun sy straf nog kry omdat hy met n Lemettford geweer in n plakkerskamp ingestap en begin skiet het. Wie het hierdie kinders grootgemaak?

Ek is n Afrikaner vandat daai bakleierige boertjie eeue gelede in die Kaap vir die hof geskreeu het, julle kan my nie deporteer nie, want ek is hier gebore en ek is n Afrikaner van Afrika.

Almal wat wou en kon het geëmigreer; die wat bly moet nou besef, ons moet aanpas en die beste maak. Maar die ou politici werk nog sterk aan  die  ou Afrikaner Nasionalisme, hulle kaap nog steeds elke Afrikaner byeenkoms, fees of kultuurorganisasie.

Vir hulle wil ek sê:  Moet nie agter ons kinders wegkruip nie. Los ons kinders uit, julle bliksems!

Gelukig sien ek deesdae, die meerderheid van die Afrikanerjeug het klaar geleer om vir homself te dink; julle sal hom nooit meer aan sy neus kan lei met  bog- en slimstories nie. En hy dink anders as julle ou klomp siek Afrikaner fosiele.  Daar is ander Afrikaners ook in hierdie land, die stil en swoegende meerderheid.  Ek sien elke dag hoe hulle woeker. Hou maar dop.

by ou-top

Die "carwatch" wat ek ken.

Augustus 10, 2008 in Sonder kategorie

Hy weet nie ek ken vir hom; hy het op die grens seergekry, aan sy lyf en diep in sy kop. Ek weet hy was n jaar of twee daar in die sielkundige afdeling van die Militêre hospitaal. Ek weet van die medaljes wat hy ontvang het en n paar van ons weet dat hulle die klompie soldate met valskerms op die verkeerde plek neergelaat het. n Logistiese fout. Fout of nie, die paar wat oorgebly het, het hul taak wel afgehandel.

Hy pas my kar al jare op, hier by die winkel waar ek koop. Vroegoggend is hy is altyd eerste daar, gesig verskroei en soveel keer afgedop, dis al pers en pienk. Hy praat nooit, hy vra nooit, as jy hom ietsie gee, knik hy net so effens met sy kop.

Toe tel hy die beursie op in die winkel se manstoilette. Hy gee dit in by die kantoor. Onder toesig word die geld getel en n lysie gemaak van alles wat binne die beurse is. Daar is R14,000 se note in. Die bestuurder sê hy moet wag, die eienaar is reeds gebel, hy is op pad. Die eienaar bekyk sy goed en gee hom n tien rand noot vir sy eerlikheid. Hy vat dit gedwee en stap daar weg.

Die storie loop en almal weet. n Paar dae later is ek weer daar, stil soos gewoonlik help hy my die pakkies laai.

Maar in sy oog sien ek die pyn.

by ou-top

Dans oom en die tante nog, wil Borreltjie Blogger weet.

Augustus 6, 2008 in Sonder kategorie

Ek kry nog daai drang wanneer ek lekker musiek hoor, maar my kinders sê ek lyk soos n groot ou beer wat regop staan en waggel. My kleinkinders kan niks sê nie, want hulle rol dan gewoonlik op die vloer rond soos hulle lag. So het ek dan algaande verander van n danser na n vermaaklikheidster. Vroulief gee nie om nie, as ek wil dans dan dans sy met my. Hou ook min of meer van dieselfde musiek as ek.

Maar ek sal jou n geheim vertel Borreltjie. As ons dit net binneshuis kan hou.

My vrou woon onlangs n kursus van ons kerk by en Saterdagaand slaap hulle oor in die oord. Almal kry my jammer, want die laatlam dogter is ook weg vir die naweek. Ek is alleen by die huis. Ek moet net keer, want almal wil reëlings tref vir my. Ek staan vas, ek wil alleen by my huis wees, want ek het n plan.

Kom Saterdagaand en ek trek my gasbraaier tot teen die skuifdeur van my TV kamer. So kan ek braai, luister en TV kyk, alles tegelyk. Ek het heel onnutsig n T-bone met uitermatige dik vet aan gekoop, ook n hoendersosatie en n stuk wors. Ek drink rooiwyn wat my verskriklik “gaut” gaan gee, maar ek gee nie om nie. Vanaand gaan ek DVD’s kyk van my beste musikante van toentertyd. Al daai sangers en plate wat niemand hier veel van hou nie. Vanaand speel ek en die hond hulle oor en oor so hard as wat ons kan, en ek sing saam en ek dans en ek braai en ek drink my rooiwyn; sonder dat iemand pla of sê.” Sit n bietjie sagter, die kinders klae.” of  “Ag Pa, hoe kan Pa na daai ou  simpel goed luister”.

Ek begin by Credence Clearwater Survival, daai John Foggerty kan vir jou sing hoor. Ek speel “Proud Mary” drie keer, ek speel “Bad Moon Rising”, vier keer. Ag man, dis te lekker. Dan is dit ” Peggy Sue” van Buddy Holly, dan Elvis, dan Queen, ou Freddy Mercury. Ja man, ek het n sagte kant ook aan my. Dan John Denver se “Sunshine on my shoulder”. Dis hier waar ek toe effens huilerig raak oor dinge wat verby is. Toe Simon en Garfunkel se , ” Bridge over Troubled water” en “Sounds of Silence”. Dan Foster and Allen se ” Maggi”. Teen hierdie tyd verlang ek al reeds na mense wat ek nie eers meer mooi kan onthou nie.

Toe bel my ou hardegat buurman en vra wat gaan hier aan. Ek is al vol wyn en sê vir hom my dogter en haar vriendinne hou paartie en dan gaan hulle in die middel van die winter kaalgat swem soos daai ysbeer klub in Welkom dit elke winter in die Sandrivier doen. Hy is doodstil aan die ander kant, hy weet nie ek weet hy verander soms in n boomklimmer as my dogter en haar vriendinne in die somer in hul bikinis hier om die swembad kattermaai nie.

Ek speel toe spesiaal vir my katoolse ou buurman Tina Turner se “Nut Bush City Limits”, en ” You have lost that loving feeling”, van die Rightious Brothers.

Na aan die einde van my paartie speel ek ” Stand by Me” van  Benny E. King en ” Blueberry Hill ” van Fats Domino. Die beste los ek vir laaste, dis Joe Cocker met “Up where we belong” en “With n little help of my friends”. Ek staan regop en sing kliphard saam dat die trane so rol. Ek doen dit sommer twee keer agtermekaar.

Buite hoor ek die hond blaf, seker die boomklimmer daar bo in die takke gewaar. Hoop hy verstuit sy ou stert daar in die koue; die man het ook geen kultuur nie.

Ek moet nog deure sluit en sorg dat ek die slaapkamer haal, maar ek voel  goed, so goed as wat n ou man wel kan voel.

by ou-top

n Baie persoonlike saak.

Augustus 6, 2008 in Sonder kategorie

Bartie en ek het op buurplase grootgeword. Hy en sy swart maatjies, Ramatau en Mosalla het gereeld by ons dis nou ek , Sjadrak en Libamang kom speel en kompeteer. Dan was dit perderesies, swem, kleilatgooi, kettieskiet of springhaasjag. Dit was lekker tye daardie en ons was almal sulke goeie vriende gewees, wonder wat het van almal geword.

Tyd stap aan en Bartie word later Bartel die Broeder en hy maak groot vooruitgang daar in die stad. Ek moes eers weermag toe , want ek was geloot, Bartel nie. Die Broeders het n manier gehad om na mekaar te kyk. Ek meen my arme ou Sap van n Pa kon nooit n Landbank lening kry om nog plase by te koop nie terwyl Bartel se Broederbond pa die een plaas na die ander met Landbank lenings gekoop het.

Maar ek en Bartel bly vriende daar in die stad waar ons werk, nou nie so openlik nie, want ek is nie lid van die binnekring van die Broeders nie en ek stem links. As ons alleen is, dan is ons nog dieselfde ou vriende van die plaas.

So gaan veertig jaar verby, Bartel is skatryk en ek ploeter maar nog so middelmatig voort. Toe lui die foon een Sondag oggend vroeg. Dis Bartel.

” Toppiejani, is dit jy?”, noem hy my op my plaasseun naampie.

” Dis ek, Bartiepollie,” antwoord ek hom.

” Ek is alleen by die huis, en ek het jou nodig my, vriend”, ek kan hoor die ou is emosioneel.

Ek maak verskoning by die huis, vroutjie sal met haar broer kerk toe gaan, ek moet gaan kyk wat is fout daar by my ou vriend.

Dis Desember en warm. Hy sit op die kant van die swembad met sy voete op die eerste trappie  in die water met n glas Jack Daniels in sy hand. Die bottel, die soda en die ys staan daar gerieflik na aan hom.

” Ek het drie seuns en een dogter”, sê hy met saamgepersde lippe, ” Die jongste seun was bederf grootgemaak. n Laatlam. n Rebelse klein bliksem”.

Ek gooi vir my ook n stewige dop, ek kan sien hier is groot fout vandag.

” Al die kinders is reeds getroud en het goeie werke. Ek het pragtige skoondogters en n knap skoonseun, ek het rede tot dankbaarheid”, gaan hy aan.

Ons staar vir n oomblik na die marmer dolfyn wat n straal water hier voor ons spuit. Ek sien die pragtige grasdak lapa hier langsaan, die groot dubbelverdieping huis en die tuin. Bartel is voorwaar n baie ryk sakeman. Hier is prag en praal.

” Die jongste seun het  n meisie en wil aanstaande maand sy verlowingsparty hier kom hou”, praat ou Bartel met sy oë stip op die water. ”  Sy is… , sy is….”. Hy kry nie die regte woorde uit sy mond nie.

Ons sit weer vir n wyle stil en klou aan ons glase.

” Sy is swart”, kom dit vinnig en onverwags soos n pynkreet uit sy bors.

Ek probeer troos deur te vertel dat ons nou n reënboognasie is en dat n mens die kinders n kans moet gee, sy is tog immers net so geleerd soos sy seun. Het mekaar dan op universiteit raakgeloop.

” Moenie kak praat nie man, hy is nie so grootgenmaak nie! My kerk is daarteen, die Bond is daarteen,
my vriende, my sakevennote. Hoe kan die klein bliksem dit aan my doen? Hy kan nie man, ek sal hom onterf, ek sal hom verbied om voort te gaan”, bulder hy met are wat bult op sy nek.

Ek bly liewer stil, ons drink in stilte voort. Later gaan hy weer aan,verbitterd, ontsteld en vol wraaksugtige gedagtes. Ek stuur hom mettertyd na ons kinderdae. Ons praat later land en sand oor ons sorgvrye lewens as kinders daar op die plaas. Ek kan sien hoe die stoom uit ou Bartel blaas. Hy lag selfs later oor ons stoutighede met ons swart bendelede.

Ek praat voordat ek mooi kon dink, seker die Jack Daniels.” Jy weet Bartel, gelukkig kan ek nog n bietjie Sotho praat, so ek kan jou darem help as die lobola onderhandellings begin”.

Hy verstar en kyk stip na my.” Ou Top, jy is n siek wetter…. Jy is n fokken siek, siek mens, man !”

Na n ruk vat hy my hand in n greep,” Jy staan by my? Jy sal by my wees met die verlowing en met die troue?”

Ek sien hoe n spiertjie aan die kant van sy wang beginne ruk. Hy druk my hand verskriklik seer.

” Sal jy seremoniemeester wees, Toppiejani?”

” Ek sal Bartepollie, ek sal namens jou praat, ou vriend”.