Jy blaai in die argief vir 2008 Julie.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Karel bring sy kant.

Julie 22, 2008 in Sonder kategorie

 Ek voel n verpligting in my hart om te skryf hoe die ding met Karel daar by die see toe geëndig het. En julle oningeligtes kan maar notas vat, hierdie is verniet.

” Hulle kom net as die gety beginne stoot, sommer hier na aan die kant. Kyk vir skuim en bruin kolle in die water. Daar waar die water maal en die seesand skommel, daar sal hulle wees”, beduie Karel ongeduldig vir my. ” As hoogwater hier so 8 of 9 uur in die aand sou wees, dis die beste tyd. Nie bedags. Staan al ses uur hier en kyk waar die seesand maal”.

Hy gaan wys my in die dorp waar ek die varste aas kan koop, sardiens wat nog half olierig voel en nie heeltemaal gevries is nie. ” Koop aas waar die skuite koop, hulle weet”, sê hy. My eie aas voer hy sommer vir die honger seemeeue wat by ons vangplek draai.

“Nee my donder man, hoe sit jy dan hoek en sinkers aan?  Wil jy babers in n pan gaan vang? Julle boere, nooit geweet julle is so onnosel nie. Gee hier dat ek die goed vir jou bind”, raas die ou  met my.

” Nee, gee n kleiner hoek, gee n ‘ three way swivel’, daai sinker is te groot, jy moet met die koffie-
grinder vang, met n pen katrol kry jy net kraaineste in die nag”.

Ons sit by my gaslampie en hy sny n repie fillet van n sardien, ryg deur die hoek met vleeskant buite en draai dit met rekgaring vas. ” Dê. gooi nou, net dertig meter, daar na die wit skuim”. Ek maak beswaar, want ek het die oggend met laagwater daar gestaan, dit kan nie eers n meter en n half diep wees daar. Daar sal geen visse wees nie , man. Miskien n krap of twee.

Ek gooi en hy luister waar die sinker plons. “Reg so, rol nou op tot jou lyn heeltemaal stywe is. Nee, man , hou jou stok se punt omhoog, jy moet moes kan voel wanneer hy byt!”

My visstok se punt begin te ruk,.” Hy is daar, laat sak jou stok se punt en katrol tot die lyn styf is, sit jou vinger op die lyn hier naby die katrol. Wat maak hy nou?”

Ek voel aan die lyn op my vinger hoe die vis daarvoor ruk en pluk aan my aas.” Kap nou, man”, skreeu Karel opgewonde. Ek kap en die vis is vas.

“Stadig, stadig, dis nie dam hierrie nie, hier is golwe man! Bring hom in met n golf, moenie trek as die water terug beweeg, die hoek sal uit sy bek uit skeur, dans hy weg”.

Ek doen alles reg en toe die water terugbeweeg lê hy daar op die sand, n kabeljou langer as my voorarm. Ons vang drie kabeljoue en een elf binne n uur se tyd. Ek kan nie glo ek vang al byna n week lank hier en kry niks uitgetrek nie.

Ons drink elkeen n plastiekglaas Old Brown Sjerrie op ons vis. Dan vat hy twee visse en ek vat twee.

” Jongmeid gaan dink ek het die goed gesteel”, lag hy vrolik as ons uitmekaar uit gaan.

As hy op n veilige afstand is skreeu hy vir my,” Julle boere is darem ook nie so kak as wat almal sê nie, hoor!” 

Eers by die huis kom ek agter my halfbottel Sjerry het ook verdwyn.  Dankie Karel en mag ons paaie weer vorentoe kruis.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Die Oestersmous.

Julie 21, 2008 in Sonder kategorie

Ek sukkel toe daar in Jeffreys om n eetbare vis te vang wat ek kan huistoe neem. Twee Blaasoppies gevang ja. Soek mens na n “local” om raad te vra kry jy nie een nie en as jy een kry lieg hy vir jou, want hy wil nie hê ons binnelanders moet al hulle visse  hier kom vang nie. Twee ander ouens ook probeer wat half profesioneel vir my gelyk het, maar dis van daai binnelanders wat hulle met ou klere en flenter tekkies graag as “locals” wil voordoen. Weet  toe minder as ek.

Op die derde dag daar sien ek n man aangestap kom oor die sand, reguit na my toe. Hy het so bondeltjie lap in sy hand.

” Soek oubaas n oestertjie vir die lyf?”, wil hy weet. Ek sê maak oop die lap dat ek sien. Ek kyk eers rond,want n ou weet nie  deesdae nie meer wat is wettig en wat is nie, hier by die see.

” Nee, hulle is ‘ size'”, beduie hy en wys my so n ringetjie waarmee hy hulle meet.

 Ek het in die ou dae daar by Struisbaai en Port Alfred van die goed geëet en hou nogal van die smaak: met suurlemoensap, swart peper en tabasco. Dis tien baie mooi oesters. Hy begin by R140 en ons eindig by R50

” Nie als gelyk eet nie oubaas, gee n man moerse koerasie!”, praat hy laggend met sy skor stem en stap dorp se kant toe. Ek probeer nog vra van die visvangery, maar hy beduie net.” Hiers fokkel meer vis.”

Ek kyk as hy kaalvoet wegstap. Sy voetsole is wit en silwerskoon. Seewater en sand, dink ek by myself. Hy was net mooi uit sig toe ek agterkom my vismes is weg. “So ou bliksem”,  sê ek vir die seemeeu wat ook al hoeka hier naby staan en my sardynaas met n skewekop beloer. Gaan koop die middag maar weer n mes, maar hy lyk nie soos my oue nie. Daai mes het ek al twintig jaar by my.

Volgende oggend sien ek die oesterman glad nie, die dag daarna ook nie. Die Vrydag hier kom hy verby en maak of hy my nie ken nie. Ek roep hom, want ek soek nog oesters om te koop Vis uit die see trek het ek toe nog nie reggekry nie. Hy vou sy bondeltjie lap oop op die sand, daar is meer as dertig groot oesters. Hy soek n fortuin daarvoor en ek sê,” Gee dan maar weer net tien”. Ek sien hoe hy na die nuwe mes in my trommeltjie loer.

“Kyk, ou ram, my naam is Outop van die Vrystaat, wat is joune?” wil ek weet en steek my hand uit na hom. Hy lyk effens oorbluf en sê, ” Karel, is ek”. Ons skud hande.

” Het vandag vir my n ander mes gaan koop,” sug ek swaar,”my ou mes iewers verloor, maar ek hou glad nie van die nuwe ding. Dê vat hom maar vir jou, ek dink ek is klaar visgevang ook. Glad nie lekker vir my hier by die see nie.”

Hy vat die mes en die R50 gedweë en stap verder aan op die strand. Later by die huis sien ek hy het my twaalf gegee.

Vroegoggend ry ek maar na die kafee en koop die plaaslike koerant om te sien wat  n mens nog hier kan doen. Met my terugkoms sê my vrou. ” Daai skelm oestersmous is hier, wil glo met jou praat. Moet net nie nog oesters by hom koop nie”.

Ons staan op die stoepie en hy gee my ou mes terug vir my.” Kry hom vimore op die sand, laasnag se wind het hom skoon oopgewaai”, sê hy.

” Vrydag my Lanie, naweek lê voor. Hier is dertig van hulle, tien vir vandag, tien vir more en tien vir Sondag. Ek werk nie weekends nie.”

Ek koop al dertig, maar my vrou het ons deur die venster hoor praat.”  Jy doen dit nie, jy staaf hom nog in sy kwaad, hy gaan vir al daai geld tog net wyn en vodka koop!”.

Ek stap vinnig saam met hom van die stoepie af, die geld is reeds in sy hand. Onder sy kraag deur sê hy vir my, ” Ja, oestervreet maak vrouens altyd verskriklik kwaad of verskriklik bly, hy verdra geen middelpad. Sien weer Maandag oppie strand, dan wys ek ouwaas waar die visse byt”.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Op die water staan n man,

Julie 20, 2008 in Sonder kategorie

Op vakansie by Jeffreysbaai is ek vroegoggend al op die strand. My lyn is in die water en ek sit gemaklik in my stoel en tuur oor die see. Die branders is klein en so kan ek lekker ver oor die water sien.

Skielik gewaar ek n man wat op die water staan, so twee honderd meter in. Ek skrik myself skoon penorent uit die stoel  en sit my hande voor my oë om beter teen die son te kyk. Daar staan verseker n man bo-op die water, regop soos n paal. Ek kyk verward rond om iemand te vertel, iemand wie se oë dalk beter as myne kan sien, maar ek is vinger alleen op die sand.

Ek draai om en staar in ons woonstel se rigting met die hoop dat iemand al op die stoep sou sit en my sien, of dalk ook die man op die see sien staan. Almal slaap nog. Ek begin voel dit kan dalk n voorbode wees en staar weer na die man. Dit lyk of hy met sy hande waai. Dan sien ek die skool dolfyne wat langs en agter hom verbytrek. Dit voel al meer vir my of ek  hier met iets heiligs te doene het. Ek kan ook al hoor hoe my vrou gaan lag as ek haar hiervan sou vertel. Maar ek dink meer aan die Bybel en wat daarin geskrywe staan oor die liggelowiges. Sien is tog glo, vertel ek my aanmekaar.

Die man gaan sit nou op die see, ek kan nog sy bors , kop en skouers sien. Maar waar is almal dan, is ek al mens wat so vroeg wil gaan visse vang? Kan hier nie asseblief net een mens verbykom wat hierdie verskynsel vir my kan bevestig nie?

Hy kom nou nader, ja, hy kom nou al vinniger na die strand se kant. Ek stap tot by die water, hierdie mens wil ek welkom heet. Op n golfie kom hy netjies uitgespoel, sit plat op sy outydse, lang glasvesel surfbord. Hy sleep die gevaarte uit en staan soos n hond die water uit sy hare en bolyf skud.

Dis n seningrige bruingebrande seun van so 20 jaar oud. Ek groet en vra wat maak hy daar buite as hy so staan, ek kon  van hier af glad nie die surfbord sien. Hy het n kort visstokkie in sy hand en so klein sakkie aan n belt op sy maag. Hy glimlag breed.

” Net gou n paar shad vir ek en my Ma gaan haal, Oom. Vang hulle met die spinnertjie daar”, sê hy.

So het ek my eerste “local” raakgeloop en vir niemand daarvan vertel nie. n Paar dae later toe ek hom weer gewaar, het ek hom spesiaal vir my vrou gaan wys.  Nie sommer so nie, nee, ons het so geloop en skulpies optel toe ek haar vra  of ek my verbeel of is daar iets doer op die water. Toe sy versteen en met sulke groot oë vir my sê dis n mens wat daar op die water loop, toe sê ek vir haar sy lieg vir my, ek sien dan nou glad niks daar op die see nie.

Ja, vriend, toe ek uiteindelik vir haar bevestig ek sien ook  n man op die water staan, het sy  nogal heelwat meer Bybels geraak as ek daardie eerste keer.

Toe hy later uit die water stap met sy twee visse , is sy sommer vies vir my en die seun.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Twee giftige blonds kruis my pad.

Julie 17, 2008 in Sonder kategorie

My vrou klae. Sê ek skryf morbiede stories. Nou vertel ek julle maar van my ander hond. Hy het sy vrou Serabi oorleef en is n pragtige spierwit Labrador met die naam van Gambles.

Ses dertig word ek wakker van geluide buite. Dis nog effens donker en ek weet dis te vroeg vir die outjie wat die koerant in my posbus gooi. Ek stap uit en sien Gambles teen die  ysterhek. Aan die  buitekant staan n  regop figuur wat lyk soos n blonde meisiekind. Dis n Afghan teef wat  haar tietjies vir my hond deur die tralies wys. Gambles het skoon vergeet van die rumatiek in sy heup, hy staan en pronk soos n resiesperd, kop omhoog.

Ek weet mos dat my hond lank laas n girlfriend beetgehad het en daarom maak ek toe maar of ek buite gaan kyk of die koerant wel in my posbus is. Die skuifhek laat ek op n skrefie oop, want ek ken my hond. Ek hoor toe hy hier agter my die hek met sy poot oopskuif en hoe die Afghan gretig na binne spring. Ek sien  egter niks en stap maar weer terug na my huis om die ketel aan te sit.

Skielik hoor ek iemand gil daarbuite en vir n oomblik dog ek: O moer, miskien was daai Afghan tog n mens. Ek spring by die voordeur uit en daar staan nog n  seksie blond aan die buitekant van die hek. Ligblou sweetpak aan, rooi lippies, donkerbrille op die kop en sy het n ” choke-chain” in haar hand. Ek dog sy word aangeval soos sy skreeu en ek pluk die hek haastig oop dat sy kan binnekom.

Sy swaai met die”choke-chain” na my kop terwyl sy skreeu.” Jou vieslike ou perverte man, my hond word voor jou oë verkrag en jy staan net daar!!”

Ek gryp die ketting uit haar hand en dit maak haar net meer verwoed.” My hond kos vyf duisend rand en jou basterbrak verkrag haar, man! Skiet hom dood!”

Sy skop na my hond se pens, maar ek keer. Jy sien vriend, as n reunhond sy job behoorlik gedoen het met n bronstige teef, dan sit hulle vas aan mekaar. Dis maar hul natuur. My boerebloed begin egter nou te kook vir hierdie vloekerige  en skopperige rykmansvrou. My hond is mos nou magteloos.

” Jy skop of slaan nie weer aan my hond nie, mevrou, jy sal laat hy sy peester knak! My hond het pampiere, hoor.”

My vrou kom red my uit die situasie, die blondevrou moet maar binne gaan koffie drink tot die natuur sy”grip” op die twee honde verslap het. Vir veiligheid bly ek maar buite, ek hou maar die honde dop.

Toe klok Thomas my tuinjong in vir werk. Hy lag dat jy net tande sien. “My jirre ouwaas, hier kry onse hond sy krismisboksie sommer in die middel van die jaar.”

Profile photo of ou-top

by ou-top

n Ou vriend van my.

Julie 11, 2008 in Sonder kategorie

By die kunstefees stap ek ydel rond en loer na stalletjies en al die mooi dinge daar. Op n kolletjie gras sien ek n man staan met sy hande so oor sy oë asof hy vêr wil kyk. Dadelik herken ek hom. Dis my ou vriend Bessie van die Karoo wat daar staan. Ek haas my daarheen, want ek het hom so vier jaar gelede laas gesien. Hy was saam op skool en ook saam op universiteit. Ons het baie dinge vir die eerste keer in ons lewe saam gedoen.

Vat hom aan sy mou en sê: Bessie jou ou blikslaer wat maak jy hier!

Hy kyk my half verskrik aan en vra: “Wies jy, wat wil jy hê?”   So half asof ek n tsotsi is wat aan sy kardeur klop.

“Dis ek, man, die Ou Top” sê ek vir hom maar ek sien iets in sy oë wat my onrustig maak.

Die man herken my glad nie meer. Sy vrou kom vinnig aangestap en groet my vriendelik.

” O hier is jy,” sê sy en gee vir hom n sosatie aan.

Hy moes uitgehonger gewees het, want hy val dadelik weg terwyl sy skuins tussen ons twee draai en vir my sê; ” Ou Top, Bessie het vergeet nou dinge, het so goed gegaan verlede week, maar ek dink al die mense en die gewoel hier, put hom uit”.

Het so rukkie by hulle gestaan en met haar gesels. Toe loop ek weg.

Profile photo of ou-top

by ou-top

Kunstefees in Bloem

Julie 10, 2008 in Sonder kategorie

Groet die grotvrou is n belewenis, die verskillende emosies wat so vinnig verander en oor jou spoel is lekker man. Kry ook n duidelike kykie oor hoe n vrou se kop nou werk as sy honderd persent eerlik is met haarself. Wyk 14 laat mens dink en lag, dis daai ou wat in Orkney Snorkney op TV gespeel het.

Die beste vir my, en dit was verskriklik vir enige iemand wat n verbintenis met n plaas het, was Saad. So n onheilspellende naam, het te doen met grond en n plaas. Mense het daar uitgekom met verstarde, wilde oë; wil met niemand praat, wil net wegkom na sy kar waar hy alleen kan wees. Dis n toneelstuk wat ruk aan die siel van n Suid Afrikaner; erg man. En weet jy wat, daai outjie van Australia wat op Sewende Laan vir Helena, Jan Hendrik se girl wil vry, hy speel daarin. Daai man kan toneelspeel, hoor.

Dan was daar die verskriklike storie, Dis Ek Anna, wat as ek nie verkeerd is nie, die ware verhaal is van die skryfster van die boek met dieselfde naam. Gaan oor molestering van n dogter in gesinsverband. Mens voel soms jy wil op die verhoog klim en skreeu.” Dis genoeg, stop dit nou, geen meer pyn vir hierdie kind. Ek maak jou dood!” n Mens is daarna skaam om te dink jy is ook n man.Genade tog, mag die Groot Trooster hierdie vrou bystaan en bewaar.

Breinbliksem het ek nie voor kans gesien, my dogter wel. Sy sal ook nie meer dieselfde wees nie, sê sy. Sy en haar vriend bewe nou nog as hulle daaroor praat. Nogal geskryf deur n jong Blomfonteinsie skrywer, ene Viljoen. Gaan oor n waansinnige wat n musiekfees bywoon. Jong mense stroom daarheen.

My suster is n halwe suur en enrstige soort mens, verdra nie ligsinnigheid en grappies nie. Haar dogter het haar saamgesleep na die fees en hulle het As jy moeg is, stop en rus gaan kyk. Sy het vanoggend hier ingebars en lag so, sy kan my nie mooi vertel wat sy alles gesien en beleef het nie. Wys jou net die krag van lewendige teater. Soos n ou hier agter my op die kritiekste oomblik van Dis Ek Anna, te hard vir sy vrou gefluister het: Agge nee, ek hoop nie hy gaan die arme meisiekind nou rêrig hier spyker nie!

Maar Saad…. my siel  fladder en voel omgedop. binnekant buite toe. Maar dit was alles klekker, ons land het soveel talent, ons kan net wen. Aleta, Lou en Michelle, as ek nou so vinnig dink, julle moet hierdie stuk gaan sien.

Profile photo of ou-top

by ou-top

My vriende in Afrika

Julie 8, 2008 in Sonder kategorie

Dis yskoud hier in Bloem en dit word nou laat vir n ou top soos ek, maar ek wou eers soveel as moontlik blogs belees en hier en daar n antwoord gee. Hier is so n mengelmoes van hartseer, pyn, geluk, vreugde asook angst en onsekerheid. Mag Mam Parra se pyn verdwyn, Borreltjie berusting en geluk weer vind, Aleta se verlange gangbaar raak, Kietie ongeskonde bly, en al die ander deur die Engele beskerm word om aanhoudend hier te skryf. Dis vir my soos een groot konsert van die lewe, drama, liefde, humor, komedie,  en dan sorg ou Neil nog hier en daar vir n bietjie rugby en sexy lywe. Solank ons met mekaar kan praat en vir mekaar stories kan vertel, dan weet en verstaan ons hoe dit hier in Afrika met ons almal syn. Ek gaan hierdie week na ons kunstefees in Bloem, wil Groet die Grotvrou kaan kyk. Maar ek sien Casper de Vries is nie hier, daars nou n snaar wat ons Afrikaners ken. Soms wil ek hom net moer, en soms lag ek my krom. Konsert, of teater soos julle dit noem, is vir my soos poeding, kan nie genoeg daarvan kry. Ons sal almal hier oorleef, soos iemand vanaand hier op n blog gesê het, dink dit was Skitter, hier is baie meer goeie as slegte mense in hierdie land, ons gaan survive en dinge sal regkom. As julle nie vir ons dig en stories vertel nie, as julle nie met al daai interessante inligting en fotos kom nie, as julle nie meer klae, juig of net sug oor die lewe nie, gaan ons almal ten gronde gaan. Ons sal stom raak en aan ons eie slym verstik.

Lekker slaap julle unieke klomp mense van Afrika, selfs julle daar oorsee, ons weet julle harte is nog hier.

Profile photo of ou-top

by ou-top

n Dolk in sy hart.

Julie 4, 2008 in Sonder kategorie

n Tannie van my verjaar in die ouetehuis. Nege uur die oggend vat ons vir haar n bak soetigheid, want sy en haar klomp vriendinne gaan partytjie hou. Op n wit plastiekstoel na aan die hek onder n boom sit n netjies geklede ou oom. Swart hoed, ligblou hemp en n rooi das, kerkpak en blink gepoetse skoene. Hy groet skaars, want hy hou die hek angstig dop. Tien uur ry ons en die ou man sit nog daar. Binne het my tannie gesê hy wag vir sy kinders of kleinkinders, hulle kom hom haal vir die dag. Teen drie uur bel my tannie en sê ek kan die bak kom haal. Die ou oom sit nog op dieselfde plek. Sy hoed het effens teruggeskuif en ek sien sy silwerhare llê plat teen sy kop. Die rooi das is al effens losgewoel. As ek verbystap hoor ek hoe hy met sy skor oumensstem sit en praat.” Sal kom, is seker besig met iets belangriks daar. Sal verseker kom. Sal  nou-nou kom”.

Iemand van die tehuis het hom n bottel water gegee, ek sien hoe hy met sy benerige ou hande die prop afskroef en n paar slukke neem.

Tannie sê hulle het al met hom gaan praat maar hy wou nie eenuur gaan eet het nie. Sê nou net hulle kom en hy is nie by die hek nie.

As ek julle eendag raak kan loop, my seekoeisambok stilletjies uit my kar kan haal, sal ek vir julle stukkend slaan. Verskriklik en aanhoudend tot hulle my agter in die vangwa gooi.  Bliksems!