by

Een oggend in reënboogland.

Junie 29, 2008 in Sonder kategorie

Veertien jaar lank het sy my met onvoorwaardelike liefde gedien. Altyd n glimlag op haar gesig gehad as ek tuiskom, my in die nag wakker gemaak as inbrekers oor die heing spring, nooit gekla oor haar kos of slaapplek nie. Wanneer ek die dag vol pyne was, het sy met haar warm lyf styf teen my op die bed kom lê om saam met my te steun en kreun. My getroue vriendin, Serabi die labrador, is dood.

Rumatiek en kanker het haar neergefel. Die veearts sê my skelm bederfkossies van die tafel het bygedra tot haar dood. Terwyl ons die graf hier teen die visdam grawe, lê die skuldgevoel swaar in my gemoed. Stanford grawe die graf, ek het hom vroegoggend by n straathoek opgetel terwyl talle ander met palms na bo om my motor geswerm en gepleit het vir werk. Die graf moet diep genoeg wees, want ons wil later wit varkore daarop kom plant. Ek sit op n stoel in die koelte en kyk, my kruppel been is vandag weer ekstra seer. Is ek onvoorwaardelik lief vir my gesin en my medemens? Klae ek nooit, sien ek ander se foute oor, glimlag ek altyd wanneer ek my familie sien? Of trek ek soms die gordyne op n skrefie oop as Serabi blaf en sê vir my vrou. ” Ag nee tog vrou, hier kom jou broer weer aan, wil seker weer iets kom leen!”

Stanford het nou sy hemp uitgetrek en is nat van die sweet. Die graf is gereed. Ek vat die hond se kop en voorpoot vas en hy die agterlyf. Die grond onder in die graf lyk vir my te koud. Ons sit die hond weer neer. Ek gryp my kierie en waggel na die huis. Uit my hangkas haal ek my ou jagbaadjie en twee ou visvang hemde. Daardie dae is vir my en Serabi lankal verby, ek kon egter nog nooit die moed bymekaarskraap om die verslete ou goed weg te gooi nie. Ons sprei die baadjie onder op die bodem uit en gooi die hemde oor haar lyf. Stanford vul die graf en ek plant die kruis.

” Totsiens my hond”, is al wat ek daar sê. n Man kan ook mos nie voor n wildvreemde mens gaan staan en huil oor jou hond nie. Ek vee maar skelm hier en daar n nattigheid af. Ek gaan sit in my stoel, Stanford wil weet of hy die graaf en pik vir my in die motorhuis moet bêre. Ek sê nee, want ek wil nie hê hy moet al my toerusting en goed daar sien nie, netnou kom breek hy nog hier in. Ek moet hom betaal, dis R100  en ek gee hom die geld. Ek wil hê hy moet nou loop, want ek wil n rukkie alleen hier by my hond se graf bly sit en ek moet nog die kinders daar in Australia laat weet van ons verlies. Stanford vat  die geld sonder om te tel, hy sit sy kêpsie op en stap na die hek. Halfpad daarheen draai hy om en kom staan reg voor my. Ek gryp be-angs na die selfoon in my hemp se sak en krul my gesonde been sodat ek darem na hom kan skop as hier nou moeilikheid kom.

Dan sien ek die paar note in sy hand,” Oubaas”, sê hy vir my,”Vat hom die dertig terug, ek sien hom die Oubaas sy hart is baie seer vir sy hond”.

Sprakeloos staar ek na die man. In sy oog sien ek deernis en simpatie. Na n ewigheid beduie ek maar vir hom met my hand, want uit my keel kry ek net mooi niks.

11 antwoorde op Een oggend in reënboogland.

  1. suletteb het gesê op Junie 29, 2008

    Jammer om te hoor van Serabi… Ek is oortuig mens sien hulle eendag weer.

  2. loudavisi het gesê op Junie 29, 2008

    Dis nou een van die hartroerendste stories. Dankie dat jy dit met ons gedeel het.
    Ek hoor nou nog Bulletjie se voetjies op die plankvloer.

  3. Welkom

  4. anskrige het gesê op Junie 29, 2008

    Ek merk jou, ou Top, want ek kom weer.
    Ek hoop hierdie is ‘n ou storie….
    Jy laat my aan my vriend Stefaan dink, wat jou skryfstyl gehad het en ‘n storie oor ‘n klip kon skryf wat my in trane kon laat uitbars.
    welkom in blogland.

  5. Ek hou weer van Chows, maar dit sal ‘n sonde wees om ‘n hond in China aan te hou…

  6. Ou-Top het gesê op Junie 30, 2008

    Hallo Francois, sien op jou blog jy sit daar in China. Jy gaan die sapraais van jou lewe kry as jy terugkom. Al die duisende Chinese hier het oornag pikswart geword. En dis wettig hoor, die Parlement hier het so n wet gemaak. Nou hoof geen Chinees hier meer n swart vennoot 50% aandele in sy besigheid te gee om BEE gekwalifiseerd te raak nie.Nou reken ek so, as jy dalk mettertyd burgerskap kan kry daar in China, sal jy my swart vennoot hier word in n projek om varswaterkrewe te kweek in die Modderrivier hier buite Bloem.Ons voer alles uit na Asië,hulle is mal oor die goed en betaal helse pryse.Intussen kry ons al die subsidies en byvoordele van die staat. Baie beter as skoolhou, man. En jy mag vir jou n Chow saambring, pikswart soos n Labrador.

  7. Windnimf het gesê op Julie 2, 2008

    Welkom Ou Top. Ek lees nog so lekker en hier by die laaste sin, toe raak alles sommer wasig… Hoop jy gaan ons nog baie bederf met jou skryf!

  8. hellokietie het gesê op Julie 3, 2008

    hello 🙂
    Hierdie storie is so hartroerend!
    Dankie vir die inloer op my blog
    Mooi dag
    xxx

  9. Ou-Top het gesê op Julie 3, 2008

    Ek weet nie eers of dit volgens reëls is nie, maar ek wil graag vir Lou antwoord.Ek is net n gewone ou top wat een blog geskryf het uit haastigheid, toe gaan lees ek alles oor litnet en wie blog. Ek is half skaam oor my ongeletterdheid tussen al die geleerde mense hier. Maar as ek net een mens se siel kan tref is ek gelukkig hier. Jy blog nie Lou, maar soos die Amerikaners dag en nag seine uitstuur na die heelal” Ons is vredeliewende wesens van die planeet aarde. Praat met ons”, het jy uit die vreemde ge-antwoord omdat ons mekaar dadelik verstaan het. As gewone leser van Afrikaanse boeke kom ek toe agter ek het meeste van die bloggers se goed al gelees. Vir julle slimmes wat op die regte terreine beweeg, kan iemand nie namens die middelklas Afrikaner vir Breyten en Brink sê hulle moet nou asseblief ophou kerm oor outydse dinge nie.Daar is onder die jong mense nuwe bloed en nuwe denke wat beter kanse en aandag moet kry.

  10. ezile het gesê op Julie 4, 2008

    Hello Ou Top, en so baie dankie dat jy by my blog gaan inloer het, anders het ek nie joune ontdek nie. Ek is nie ‘n geleerde slimme nie en skryf maar net wat uit my hart kom. Moet asb. nie terugstaan vir enigeiemand wat slimmer klink nie – jou stem spreek diep en met eenvoud. Ek is so jammer oor jou Serabi. Het self ‘n Labrador – ‘n blonde een. Sy is nou drie jaar oud. Ek gaan haar nou dadelik ‘n druk gee. Ek hoop my drie lief-honde wat ook al weg is loop Serabi in hondehemel raak en gee haar ‘n groot lek. Skryf asb. nog.

  11. borrels het gesê op Julie 4, 2008

    Hi Ou Top … nou is my hart sommer seer … vir jou, vir Serabi, vir die dogtertjie langs die straat wat ‘n aanval gekry het, sommer vir als wat altyd weggebêre word in die kluise van die hart.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.