Jy blaai in die argief vir 2008 Junie.

by ou-top

Een oggend in reënboogland.

Junie 29, 2008 in Sonder kategorie

Veertien jaar lank het sy my met onvoorwaardelike liefde gedien. Altyd n glimlag op haar gesig gehad as ek tuiskom, my in die nag wakker gemaak as inbrekers oor die heing spring, nooit gekla oor haar kos of slaapplek nie. Wanneer ek die dag vol pyne was, het sy met haar warm lyf styf teen my op die bed kom lê om saam met my te steun en kreun. My getroue vriendin, Serabi die labrador, is dood.

Rumatiek en kanker het haar neergefel. Die veearts sê my skelm bederfkossies van die tafel het bygedra tot haar dood. Terwyl ons die graf hier teen die visdam grawe, lê die skuldgevoel swaar in my gemoed. Stanford grawe die graf, ek het hom vroegoggend by n straathoek opgetel terwyl talle ander met palms na bo om my motor geswerm en gepleit het vir werk. Die graf moet diep genoeg wees, want ons wil later wit varkore daarop kom plant. Ek sit op n stoel in die koelte en kyk, my kruppel been is vandag weer ekstra seer. Is ek onvoorwaardelik lief vir my gesin en my medemens? Klae ek nooit, sien ek ander se foute oor, glimlag ek altyd wanneer ek my familie sien? Of trek ek soms die gordyne op n skrefie oop as Serabi blaf en sê vir my vrou. ” Ag nee tog vrou, hier kom jou broer weer aan, wil seker weer iets kom leen!”

Stanford het nou sy hemp uitgetrek en is nat van die sweet. Die graf is gereed. Ek vat die hond se kop en voorpoot vas en hy die agterlyf. Die grond onder in die graf lyk vir my te koud. Ons sit die hond weer neer. Ek gryp my kierie en waggel na die huis. Uit my hangkas haal ek my ou jagbaadjie en twee ou visvang hemde. Daardie dae is vir my en Serabi lankal verby, ek kon egter nog nooit die moed bymekaarskraap om die verslete ou goed weg te gooi nie. Ons sprei die baadjie onder op die bodem uit en gooi die hemde oor haar lyf. Stanford vul die graf en ek plant die kruis.

” Totsiens my hond”, is al wat ek daar sê. n Man kan ook mos nie voor n wildvreemde mens gaan staan en huil oor jou hond nie. Ek vee maar skelm hier en daar n nattigheid af. Ek gaan sit in my stoel, Stanford wil weet of hy die graaf en pik vir my in die motorhuis moet bêre. Ek sê nee, want ek wil nie hê hy moet al my toerusting en goed daar sien nie, netnou kom breek hy nog hier in. Ek moet hom betaal, dis R100  en ek gee hom die geld. Ek wil hê hy moet nou loop, want ek wil n rukkie alleen hier by my hond se graf bly sit en ek moet nog die kinders daar in Australia laat weet van ons verlies. Stanford vat  die geld sonder om te tel, hy sit sy kêpsie op en stap na die hek. Halfpad daarheen draai hy om en kom staan reg voor my. Ek gryp be-angs na die selfoon in my hemp se sak en krul my gesonde been sodat ek darem na hom kan skop as hier nou moeilikheid kom.

Dan sien ek die paar note in sy hand,” Oubaas”, sê hy vir my,”Vat hom die dertig terug, ek sien hom die Oubaas sy hart is baie seer vir sy hond”.

Sprakeloos staar ek na die man. In sy oog sien ek deernis en simpatie. Na n ewigheid beduie ek maar vir hom met my hand, want uit my keel kry ek net mooi niks.