Profile photo of ou-sus

by

Martie du Plessis

November 9, 2012 in gedagtes

Verlede Donderdag is dit Hartskind se skoolkonsert, die Woensdag gaan hulle nie skool nie want die saal moet reggemaak word, Woendagaand gaan slaap sy vroeg, want Juffrou het gese sy moet “RUS”. Donderdagoggend jaag sy my later aan, want ons moet by die skool kom, die konsert begin 09:00 en hulle moet nog “make-up” kry. Ekself het geen grimering aan nie, want met Bloem se hitte, die menopous se gloede en dit emosies wat “rollercoaster” ry, bly geen grimering in alle geval waar dit moet wees nie.

Daar sit ons toe Donderdagoggend in die saal en wag, Manlief, Ma, Ouma en ek. Om ons is nog Mammas, Pappas, Oumas en Oupas. Hier en daar ‘n kleinboet of sus. ‘n doodgewone groepie mense, maar die sterretjies op die verhoog, nie een van hulle is gewoon nie. Hulle is ons Hemelse Vader se uitsonderlike kindertjies.

Met die bedankings begin ek al snuif, Driewieldraai se Juffrouens, die klas hulptannies en die terapie tannies, elkeen so baie spesiaal en kosbaar vir ons kinders, maar toe die eerste klassie met hulle opvoering begin, toe loop die trane. Elkeen van hierdie kindertjies is so trots om daar te wees, elkeen probeer sy bes. Party word op die verhoog gedra, sommige word in hulle klein rolstoele opgestoot, ander word deur ‘n hulptannie regop gehou, maar hulle straal, wikkel die lyfies, bekkies wat wyd oop lag en saamsing. Ek soek tissues en sluk aan die hengse knop in my keel. Die volgende klassie, steel die klein rooikop die hele show met sy dansery, niemand gee om dat die een maatjie so bietjie stadiger is nie, want sy hoor nie so goed nie en as sy harder sing as wat die ander doen, dan klap ons net nog harder hande vir hulle mannewales, teen die tyd is ek al uit tissues en gee ma al uit haar handsak aan. Dan is dit die Pikkewyne se beurt, ek soek Hartskind en besef sy speel die horlosie wat almal wys hoe om te tikke tikke tak. Daarna is dit die tannies met die rooi, die geel, die pienk, die wit en die pers rokkies. My kind met haar rooi rokkie dartel op die verhoog en elkeen kry ‘n beurt, Unathi in haar wit rokkie kan net haar koppie swaai en Lee-anne in pers kan net die rolstoel laat draai, maar hulle dans. Dieselfde met die dae van die week, my Vrydag spring wanneer dit haar beurt is en elkeen gee hul beste. Dan is dit die Kersspel, en die hele Driewieldraai trek saam op die verhoog. My meisiekind is ‘n waardige Maria met Josef aan haar sy, elkeen speel ‘n rolletjie en toe Lee-anne se rolstoel vashaak wag almal geduldig dat die Ster wat die wyse manne moet volg, losgemaak word. Ons almal lag toe baba Jesus kliphard giggel en afhaak met “I love you mommy, tickle me mommy”, maar Maria druk hom net bietjie dieper die wiegie in en hulle gaan voort. Teen die tyd loop die trane  vrylik, ek kyk verlee om my rond. Voor my sit ‘n lang, bree man in weermagklere, sy seun is die Keiser, sy trane maak donker kolle op sy kamoefleerdrag, regs van my sit die skoolhoof, sy bril is in sy hande en hy vee woes oor sy oe. Ek dink nie daar is ‘n droe oog in die gehoor nie, en toe die Juffrou die rolstoel vorentoe stoot met die ster wat helder skitter, snik sommiges hoorbaar.

Dis egter nie van hartseer oor wat kon gewees het nie, die oor suiwer trots en dankbaarheid vir wie en wat ons kinders is.

Na die konsert vra die Juffrou of ek iets vir die nuusbrief sal skryf oor die konsert en sommer so ‘n oorsig oor die jaar, ek stem in, maar tuis sukkel ek om die woorde vas te pen. Hoe skryf jy oor die pad wat hierdie uitsonderlike skool en sy personeel met elkeen van ons gestap het. Hoe vertel jy van die vreugde toe jou kind vir die eerste keer haar naam reg geskryf het, hoe ons hande geklap het vir die eerste bollemakisie, van hoe kinders gekroon word as hulle ‘n groter puzzle bemeester, van ‘n hele span mense wat met jou kind werk. Die Juffrouens, die hulpe, die Suster wat sorg dat almal hul medikasie kry, die terapeute, Spraak, Arbeids en Fisio, die Neuroloog en die Psigiater, elkeen dra jou kind se belange op die hart en saam maak ons ‘n span. Jy dra nie meer hierdie las alleen nie.

Volgende jaar gaan Hartskind grootskool toe, steeds by Martie du Plessis en ek dank die Vader vir hierdie skool, hierdie personeel, hierdie terapeute en mediese mense. Julle gee ons hoop, julle maak ons hande sterk en julle slyp en vorm ons kinders om die beste te kan wees in dit wat hulle kan doen.

Dankie is eenvoudig nie genoeg nie.

 

8 antwoorde op Martie du Plessis

  1. Sjoe, raak my ogies ook nou nat…

  2. @ou-sus – Ag genade, nou sit ek ook hier en grens. Mense (EN EK) vergeet te dikwels wat ons als het om voor dankbaar te wees….

  3. Sit ek saam met jou en tjank…

  4. MariS het gesê op November 9, 2012

    Kosbaar! Dit laat my weereens besef ek het soveel om voor dankbaar te wees en se hopeloos te min dankie Here! Dankie dat jy my laat besef ek moet verby my omstandighede kyk en die ‘mooi’ meer gereeld raaksien!

  5. @ou-sus Net gister vir Joanne gesê dat sulke dinge my dankbaarheid gee, wat ek sekerlik nie aldag het nie, oor my kinders en kleinkinders, normaal is. Mooi geskryf en sterkte!

  6. Daar het jy nou jou artikel klaar geskryf! Jy kan dit mos sommer net so gebruik, nie waar nie? Ek het al die karaktertjies op die verhoog gesien en die innige erkentlikheid teenoor die personeel raakgelees. Dis pragtig.

  7. Hierdie skrywe het aan my hartsnare geraak ! Tien hoera’s vir die personeel van hierdie skool!

  8. Ja-nee, om so ‘n oorsig te skryf kan nie maklik nie wees nie.

Los ’n antwoord vir MariS. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.