Profile photo of ou-sus

by

Vat jou goed en trek

Oktober 22, 2012 in gedagtes

Ouma het alzheimers, en die pille wat al die ander mense drink, werk nie vir haar nie, dit akkodeer nie met die ander medikasie vir Osteo Perose en Osteo Artritis wat sy moet gebruik nie. Sy kies toe minder pyn bo meer onthou. Tot vandag toe het sy nog alleen in haar woonstelletjie gebly, maar die einde van die week trek sy nou na ‘n enkelkamer in die outehuis naby ma-hulle. Tog dink ek die  siekte is erger vir die mense om die persoon met Alzheimers as vir die pasient self. Ouma was ‘n raakvat vrou, jare lank haar eie mans haarsalon bedryf, kinders alleen grootgemaak, geskilder en graag getoer. Nou is daar ‘n spookbeeld van Groot Geluk se boervrou oor, haar gedagtes slaan op jare gelede terug vas, sy praat van mense en plekke wat al lankal weg is, dan skielik is sy helder en ten volle bewus wat om haar aangaan.

Gister kuier ons soos gewoonlik by ma-hulle, ouma is ook daar, nadat sy my 3 keer gegroet het en die kinders gesoen het, weer vertel het hoe vinnig hulle nou grootword, besluit sy ons moet nou dadelik koffie maak, ek stap saam, maar word vinnig vertel dat sy nie n kind of invalide is nie en dat sy darem nog koffie kan maak, ek word gestuur om te kyk waar die kinders is en ek stuur vriendin om te gaan help, maar ouma is klaar. So drink manlief kasaterwater, lou van al die melk met net so effense soet smakie, ek kry ‘n beker gifsterk, pikswart koffie met seker 6 lepes suiker, my oe kyk eintlik oormekaar. Vriendin wat haar koffie wit en bitter drink, sweet met dieselfde brousel as ek, haar man kry ook flou, melk koffie maar met genoeg suiker om die lepel te laat regopstaan, maar ons almal het die met ‘n glimlag gedrink en haar hartlik bedank vir die heerlike koffie en sy het gestraal.  Ma kom in en vra waar is haar drinkgoed, vlieg ouma verergd op, want ma wou dan niks he nie. Ma het toe maar self gaan maak. Dis vir haar bitter swaar om haar ma so te sien agteruitgaan, sy gee goedjies weg en bel dan hoogs ontsteld oor haar goed wat gesteel is. Ouma se oudste suster het dit ook en dis so moeilik om haar so te sien wegraak, sy glo sy is n kind, speel pop en sing kinderkrans liedjies.

Is die ding geneties? Dit maak my bang, dis soos ‘n geliefde gesinswoning, waarvan al die inwoners weg is, en die wind waai stofdwarrels deur lee kamers, waar eens kinderlaggies opgeklink het, waar mense bly was, kwaad was, hartseer was, waar nuwe babas verwelkom is, waar mense vir die laaste maal gegroet is, waar daar saam om ‘n tafel gesit is, vir feesmaaltye, vir bybel lees, vir bid. Nou is die struktuur nog daar, dak, vloere vensters en deure, maar dit wat ‘n huis ‘n familie tuiste gemaak het, is vir altyd weg…

5 antwoorde op Vat jou goed en trek

  1. Ai toggie dis maar swaar. Sterkte
    Ons gaan dalk almal daar uitkom
    Dis lekker om jou te sien.

  2. lora2me het gesê op Oktober 22, 2012

    Ons is almal bang vir hierdie monster van ‘n siekte. Ek maak al my hele lewe lank lysies en, ek dink, as ek sou ophou om dit te doen, sal my kinders en man weet …. Iemand het eenkeer gesê dat dit nie die lyer pla nie, want hulle kom dit meestal nie agter nie. Al wanneer dit gevaarlik of kommerwekkend is, is as daar elektriese toestelle en oop vlamme of baddens met proppe en lopende krane betrokke is, want hulle vergeet. Sjoe, dis moeilik.

    • ou-sus het gesê op Oktober 24, 2012

      Dis waarom ouma nou na die enkelkamer in die outehuis trek, eers was dit net die krane wat oop vergeet is, toe later is die warm kombers aangelos, toe nog later het sy die kombers aangesit en ‘n warmwatersak in die selfde bed gebruik. Dis moeilik om hulle verwarring te sien, maar dit is moeiliker vir die mense wat hulle ken om hulle so stuk stuk te sien wegraak

  3. dis ‘n “hartseer” siekte…00×00

  4. Ken van, die ergste is dat die liggaam nog vir jare bly leef,dis vir my wreed vir die wat moet toekyk……

Los ’n antwoord vir ou-sus. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.