Jy blaai in die argief vir 2012 Oktober.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Lekker….

Oktober 29, 2012 in gedagtes

Ek was met verlof, amptelik en als. Die eerste week het ons by Sterkfonteindam gekuier, saam met beste Mater, haar Engel en ouma van Harrismith. Hartskind moes maar by ouma kuier want hulle oefen vir die konsert en sy is Maria!!!  Mater se ma het van daai vakansiepunte en sy sou dit verloor as sy dit nie voor ‘n sekere tyd gebruik nie, toe gee sy vir ons haar punte en ons moet net die levy of so iets vir die week betaal.  Dit was heerlik, die weer was goor verby, dit was mistig, koud, reenerig en winderig sommer als in een dag, maar elke dag het die sonnetjie darem so vir ‘n uur of 3 sy gesig gewys en dan het Manlief en Mater se Engel en die kinders gaan swem en spring en speel, dan het ek en ouma en Mater gemuf, groot bekers tee gedrink en gemmerkoekies en soetkoekies geniet. Ouma het dit met baie liefde, moeite en geduld in haar popspeel stofie gebak. (Dis een van daai met die 2 plate bo en die oondjietjie onder. ) Ons het lekker gesels, gelag, so bietjie geskinder, gelees en soms so in die geselsskap ‘n uiltjie geknip. Saans het ons ou bekende en halfvergete speletjies gespeel, Monopoly, Balderdash, Pictionary en domino’s, ons het dit by die oord gehuur en die reels was nie meer daar nie, so, die eintlike spel was die opmaak van reels, maar dit was lekkerrrrr. Ons het die voels gevoer met beskuitkrummels en die ou volstruiswyfie het gereeld ‘n draai kom maak en tot Danica se plesier sommer op die stoep kom klim en haar lang harige nek by die skuifdeur ingedruk, en na sy sommer ewe tuis die tv gepik het, moes ons maar noodgedwonge die deur toehou as sy kom inloer. (Weet nie of die oord so glo dat dit hulle eie volstruis is wat die skerm gebreek het nie!) Time flies when you are having fun en heeltemal gou moes ons die nagmerrie pad aandurf Harrismith toe om ouma huis toe te vat. Goor, goor, goor om haar daar te los en weg te ry, ek en Danica het tot na die tweede ry-stop gesit en tjank.

Terug by Mater se huis was dit die 2de tranedal, maar darem nie my trane die keer nie. Mater en haar Engel het saam met ons Bloem toe gekom, sodat Engel hier werk kan kom soek en in haar 36 lewensjare is dit die eerste keer wat Mater die huis verlaat….Vriendin was volgens haar eie oorvertelling ‘n wilde loot en was nie lank na matriek in ‘n vreeslike lelike ongeluk. 3 Maande in ‘n koma, ma wat weier om masjiene af te sit, Mater wat bo alle verwagtinge wakker word, weer leer loop en praat en eet, wat na vele rekonstruktiewe, brein, heup, pelvis en oog chirurgie en tallose terapies, die lewe weer aanvat. Mater se Moekie het nie gedink sy sou ooit trou nie, of ‘n kind in pleegsorg vat nie, maar sy het. Dit was darem nie te erg nie, want Mater het nog onder die selfde dak gebly, Engel en kind ook, maar hoe beter en gesonder Mater word, hoe moeiliker raak dit vir Moekie, sy wil nie die stukkende kind laat gaan nie en die situasie raak ondraaglik vir almal. Tyd terug kom vra Mater en Engel of hulle rukkie by ons kan kom bly, Engel kry nie werk in die klein plekkie waar hulle bly nie en hulle kan nie meer in Moekie se oge kyk vir oorlewing nie. Engel is van Orania en het nie enige noemswaardige formele opleiding nie, maar hy toor met hout. Hy maak die mooiste goed uit stukkies weggooi hout en ou sleepers en dalk, net dalk is daar hier in die stad van Rose vir hulle ‘n toekoms. (Siestog die arme man het in die begin maar baie swaar gekry met my reenboognasie-kinders, maar hy het darem ook nou al agtergekom die kleur gee nie af nie en geniet veral my Prinsie se geselskap, het tot vir hom ‘n hobbelperd gemaak!)

Laat my nou dink aan ander vriendin se dogtertjie, met die laaste kuiertjie kom groet sy my Prins, maar in plaas van ‘n soentjie, gee sy hom so ‘n laaaaang lek hier van die ken tot by sy oog verby, toe ons hardop wonder hoekom, antwoord sy met haar 2jarige wysheid, dat hy dan soos tjoklits lyk.

Terug by Mater, so is hul karretjie gepak en ten spyte van verwyte, trane en emosionele afpersing, pak hulle die tog Bloem toe aan. Engel kry sommer die Maandag ‘n pos by ‘n plek wat ou meubels restoreer en kom saans vol stof en houtskaafsels by die huis aan, maar as die ore nie daar was nie, was die smile reg rondom, Mater kry wonder bo wonder ‘n aflospossie van iemand wat op kraamverlof is. Ek en manlief verwonder ons aan die verandering in die twee, Mater lag weer dat jy moet saamlag, Engel loop elke dag bietjie regopper en die lyne op sy gesig raak sowaar gladder, hy speel wegkruipertjie met my Prinsie en jaag hom tot in Mater se arms. Sy raak betrokke by Danica se kleuterskool en kom opgespeel saans by die huis aan. Ons gaan koop R10.00 lipstiffies by die Chinees, want sy het die fout gemaak om vir Danica by die skool lippies aan te sit en toe sy opkyk staan die hele pak Liquerice Allsorts daar, bekkies getuit, wil ook lippies he. Einde van die maand kom haar koekoekeier ook en sy is klaar by die ander skool ingeskryf en nog ‘n bed is ingedra by Hartskind se kamer. So tussendeur begin ons uitkyk vir ‘n eie nessie vir hulle, maar in alle eerlikheid is dit nog lekker om hulle daar te he. Dis lekker om iemand te he om mee te gesels terwyl ek kook, wat die kinders bad terwyl ek skottelgoed was, wat die bottels maak terwyl ek en Prinsie deur die bad sleep. Dis lekker om so 5minute ekstra vir myself te he, terwyl sy die kroos pap gee, Manlief en Engel gee saam honde kos en maak die heining reg wat die bruin hond al weer ‘n gat in gemaak het, saans doen ons almal saam bybelstudie en sing kinderliedjies tot slaaptyd. Die enigste dinges in die drinkwater is…. die toilet, die is in die badkamer en ek vermoed ons derms is aanmekaar geknoop, want sou een van ons dalk besluit om die badkamerdeur agter jouself toe te trek, het almal skielik ‘n dringende behoefte. Dan maak jy die deur oop en daar sit die res van die huismense soos meerkatte voor ‘n gat!!!

Met Mater se koms, kry ek uiteindelik tyd om so bietjie orde te skrop, ek vat ‘n ekstra week verlof en terwyl sy my Prinsie besig hou, pak ek reg en weg. Ek skrop en skuur en skuif en gooi sakke vol goeters weg. Ek staan weereens verbysterd oor hoeveel gemors ‘n mens kan opgaar, dis uitgeskeurde papiertjies, ou kwitansies, rekeninge, advertensie blaaie. In Hartskind se kas kry ek ou piesangskille, lekkergoedpapiere, chips pakkies, dennebolle, droe blare, pakke skoolprente, ‘n macaroni halsnoer en armband, saam met die skoonmaak van haar nes verstaan ek skielik ook waar die snaakse reuk vandaan kom . Die kos wat sy nie uit haar kosblik klaarmaak nie word netjies onder die skoene in die krat gebere, broodkorsies bymekaar, yoghurt bakkies in mekaar gedruk, skille in ‘n hopie, papiere eenkant, kunsgoed in ‘n ander hoekie en my hart pyn vir hierdie mooi kind met haar baie probleme. Dis die obsessesiewe-kompulsiewe- gedrag wat maak dat sy die goed opgaar en sukkel om ‘n ding weg te gooi.  Wat is my verskoning?. Ek maak skoon en sy loop dae dwalend met die donderwolk bokant haar kop, omdat ek haar goed weggegooi het. Ek beduie weer van kieme en siektes en muise en uiteindelik kalmeer sy, maar na dese onderskep ek die kosblik met die inkomslag.

Dis lekker om weer te weet wat in my kombuiskaste aangaan, waar die bakgoed is, die versiergoed en al my speserye, dat ek sonder moeite my hand kan le op daai lekker skerp groentemessie en my gesin lag, want “as mamma happy is, dan is almal happy”, maar die lekkerste, die heel, heel lekkerste, bere ek vir laaste. Die boekrakke. Die laaste week al pak ek die boekrakke reg. Ek werk stadig, voor ek werk toe moet ry en saans as die ander gaan slaap het. Sondagmiddag toe die ander rus. Dis nie ‘n werk wat ek wil deel nie. Ek werk suinig, bietjies, bietjies, ek gaan haal een van die duiwehok se rakke en skrop dit met jik en ‘n staalborsel tot net die hout wys, en maak hom staan op die sonstoep en pak hom vol ou vriende, so een hokkie op ‘n slag. Dis soos ‘n reunie, maar ‘n lekker een. Ek haal ou vergete genot uit, lees eers weer stukkies, sit en glimlag, pik ‘n traan of raak sommer so bietjie droomverlore. Ek pak soorte bymekaar, ontdek joernale, halfpad geskryf, lees eers weer oor die miskrame se pyn, die egskeiding se verskeur, die swart seer van bitter alleen wees, van gesond word, van heel word, van weer begin, die vreugde oor Zach se koms, die voorskrif vir die Eglanol sodat ek hom sal kan borsvoed, die doodsheid in my toe die aanneming deurval, die koms van die plek-van-veiligheid-kinders. Hul weggaan, Hartskind se koms. Huil en lag en onthou en se dankie, so in die stilte van die nag, terwyl die huis om my slaap. Saterdagoggend pak ek die resepteboeke en die tuintydskrifte, ek pak en blaai en soek onthoude resepte, kry weer nuwe idees vir komende verjaarsdae. Ek dink aan ‘n agterstevoor ete vir my verjaardag, iets soos ‘n yorkshire pudding met gebakte beet en kaassous vir voorgereg en sjokolade en vanielje sop met sjokolade brioche vir nagereg. Enige Idees vir die hoofgereg???

Gistermiddag was dit die kinderboeke, ek raak opgwonde oor die stories wat ek nog vir my kroos wil lees, Prinsie geniet reeds die hardebladboekies wat Hartskind en Danica al voos “gelees” het, Danica is gek oor die lig-die-flappie boeke en Hartskind wil oor en oor die kleuter en kinderrympies hoor. Ons lees nou van Gigi, God se prinses en verlekker ons aan haar mannewales, dan is daar nog die kinderbybels, kleuterbybels, eerste bybels, gebedsboekies, lofkleuterboekie en en en. Hartskind en Danica lees Miesiemuis en Jasper en die Moeminne asof hulle al rerig self kan lees, maar hulle ken ook al die boeke uit hulle koppe, my Prinsie sny letterlik tande op Otto en Manlief kla oor nog ‘n boekwurm in die huis. Sy 5 boeke (ja 5 boeke, verjaardag geskenke van my), het ook ‘n gaatjie gekry, hy het darem, al die 1 soort van gelees.

Ek is vanoggend baie swaar werk toe, daar is nog twee rakke wat ek nie by uitgekom het nie, maar vanaand as almal slaap…..

Lekker, lekker, lekker.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

So maak die mense

Oktober 26, 2012 in gedagtes

Ek kan my verwonder aan mense en hul dinge. Die goed wat ons aanvang laat my baie keer wonder of daar nog iets soos gesonde verstand en logika bestaan. Kyk, ek het in my 42 jaar ook al n paar goed aangevang wat my tot agter my ore laat bloos en wat ek sal verkies dat my ma nooit ooit van moet uitvind nie, maar as ek die wereld so bekyk dan lyk my streke na spookasem. Iemand het my eendag vertel dat die appel wat Eva vir Adam mee verlei het, seks was, nie ‘n regte vrug nie, Hoe waar dit is gaan ek nie nou oor bespiegel nie, maar dat ons ou mensdom steeds ‘n klomp vrugtevreters is, is nie te betwyfel nie.

Netnou stuur ander pleegmamma ‘n sms, soek dringend klere vir ‘n baba, word so Maart se kant gebore. Die seuntjie van so 15 maande wat al vanaf geboorte by haar is, se ma is weer swanger!!!!  en as die een baba by jou is dan raak die res van die familie sommer so outomaties ook jou probleem. Sy weet ook soort van,nie wie die enetjie se pa is nie en dink daaraan om die kleintjie die keer maar af te teken. Dis hier waar ek met my kop in my hande gaan sit. Rerig sussa, rerig, selfs die dorpie waar julle bly, gee GRATIS, VRY EN VERNIET gesinsbeplanning weg, al wat jy moet doen is om op te daag by die kliniek!!! Sou jy die spuit vat hoef jy net elke 3 maande daar te gaan sit, en as jy nie lus is vir sit vir voorbehoedmiddels nie kan jy na enige staatsinstansie gaan, daar staan bokse vol GRATIS kondome rond. Of beter idee, as die enetjie nou kom, dan vra jy die oom Dokter om die fabriek te sluit.

Dit laat my nou dink aan jare gelede, voor die hele Vigs debakel, ons het net elke keer goed hande gewas tussen die pasiente en Hibitane en alkohol aangesmeer, handskoene is net gebruik om wonde te doen en in die teaters en kraamsaal. Ons werk die dag in die kliniek, nog dom verby, maar ons leer manmoedig, die pop kom in want dit jeuk, daar onder waar die son nie skyn nie en as ons neuse reg is, vermoedelik, lanklaas seep en water gekom het. So gaan ons nou onder die dosent se wakende oog deur die vraelys met “Die Pasient” voor ons haar ondersoek. Een van die vrae is “Is u seksueel aktief”, (want as sy nou nog so onskuldig is soos toe haar ma haar gebaar het, dan kan ons nie ‘n papsmeer neem nie) sy antwoord toe ja. Die volgende vraag is, “Hoe lank gelede was u aktief en het u reeds toe ongemak ervaar” (dis nou sodat ons kan weet of haar partner in crime ook met die groot kanonne behandel moet word of is dit net ‘n onskuldige gisinfeksie, wat almal maar een of ander tyd kry) So bietjie gedink, antwoord Pop toe so ewe dat sy nie weet hoe laat dit nou is nie, maar dit was netnou hier agter die kliniek toe ons op lunch was. Dis toe wat ons, onsselwers verskoon om buite die deur ‘n geldjie die lug in te skiet om te bepaal wie die papsmeer moet doen. Gril-le-rig. Nog ‘n gril is toe ek nou die dag in die koerant die artikel lees van die Chinese man wat amper dood is, die dokters het ‘n onbekende voorwerp uit sy ingewande verwyder, na die operasie is die voorwerp ge-identifiseer, ‘n 23cm lange dildo.

Dit help ook nie dat ek in prentjies dink nie, Kerneels het nou die dag ‘n inskrywing gemaak oor hoe hy bang is om te pieps as die weer swaar is en wat die gevolge van so ‘n toilet tragedie kanwees, dis nie ‘n mooi gesig nie! Ek dink ek het al oor die ou pedofiel buurman iets genoem, maar ter verduideliking las ek die by. Jare gelede, toe die wereld nog mak was en niemand oor sulke goed gepraat het nie, het ons oorkant die straat ‘n buuromie gehad. Ma was baie erg oor hom en sy vrou, omdat pa so baie weg van die huis af gewerk het, het die omie altyd kom help met klein krisesse, soos ‘n venster wat breek, of die grassnyer wat nie wil werk nie, of die haardroer se plug wat uitbrand. Ma het hom gesien as ‘n soort vaderfiguur. Toe ons wegtrek het hy vir ma ‘n houtstoel en ‘n skinkbord wat hy eiehandig in sy “little shop of horrors” gemaak het, gegee. Dis daar waar hy ons meisiekinders altyd probeer inlok het met een of ander storietjie, ek sien in my geestesoog sy vrou op die agterstoep staan met haar hande verstrengel in haar voorskoot. Aan die begin kon ek nie verstaan wat ek altyd moet gaan kyk in die oom se werswinkel nie, nie dat ek ooit iets gesien het nie, die tannie was altyd amper dadelik ook daar om ons te kom haal vir koekies en koeldrank, tot die dag wat ma my gestuur het om my tas se handvatsel te laat regmaak en die tannie op die foon was. Ek het nie ‘n veg of vlug reaksie as ek skrik nie, ek het ‘n veg of flou reaksie as ek skrik en ek het baie groot geskrik en baie hard geskop. Ek was by die deur uit nog voor die tannie van die foon af is, maar ek kon vir maande daarna nog sy skurwe hande op my lyf voel en sy twakspoeg agter in my keel proe. Ek het niks vir ma gese nie, net gesorg dat my sussie nooit, ooit alleen saam met hom is nie, en toe ma hom later die dag vra oor die lelike merk aan sy been het hy haar vertel daar het ‘n stuk hout van die werksbank af geval. Ek het al baie gewonder oor sy kleindogters, of hy dit met hulle ook probeer het en wat sou gebeur het as ek nie stilgebly het nie.

Nou die dag sit ek en ma en beskuit pak en ons praat van mense wat ons lanklaas gesien het, ek vra “Wanneer laas het ma van so en so gehoor?” Skud ma haar kop, nee sy het net nou die dag gebel en sy was so ontsteld, haar man is impotent en agv sy bloeddruk en sy drinkery, is hy nie ‘n kandidaat vir Viagra nie, maar dis nie waaroor sy ontsteld is nie. Hy het iewers van die pille in die hande gekry en toe sy nou die aand in die tv kamer kom met sy koffie, toe sit hy poedelkaal en wydsbeen op die bank, handrem opgepluk. Ek sukkel nog om die beeld uit my kop te kry toe sug ma hier langs my oor die ou mans wat tog soms so verspot kan wees, onthou ek oom buurman vra sy, ek ja versigtig, nee vertel ma my, sy het die arme ou tannie altyd so jammer gekry, die ou oom was glo baie hups vir sy jare en die tannie het verseg om hoendernekkies gaar te maak, sy het dit altyd vir die kat gevoer, want sy het gese die oom het haar te veel hoendernekkie laat eet. Ek dink my reaksie was iets soos “Ag nee hel, sies”. Ek het vir dae daarna  so ‘n narigheid gehad, daar is sekere dinge wat ma’s en dogters oor moet praat, maar vergange dae se bure se sekslewe? Dis nie een van daai praat-dinge nie.

Met ouma se trek moet ma plek maak in die kaste en sy dink dit toe goed om vir my die houtskinkbord te gee, Ma Liesbet is baie bly oor haar geskenk…..

Kyk, ek is nie preuts nie, en wat twee volwasse mense in die privaatheid van hulle plek doen pla my nie en solank dit wedersyds is en niemand seer kry nie, is jou sekslewe jou saak, maar wat leer ek my kinders? As enigiemand vat of vroetel daar waar jou kostuum toemaak, dan skop en skree en byt jy so hard as wat jy kan en dan vertel jy dadelik vir juffrou en vir pappa en vir mamma. Want hulle mag nie en dis nie jou skuld nie en jy gaan nie in die moeilikheid kom nie. Wanneer hulle ouer is en meer verstaan sal hierdie mamma hulle vertel van die mooi van die saamwees van twee mense wat vir mekaar lief is, dat daar somtyds meer lus as liefde is, en dat dit ook goed is, en dat as jy dink jy is groot genoeg om seksueel aktief te wees, dan is jy ook groot genoeg om die verantwoordelikheid van pappa of mamma wees aan te vat. Ek sal hulle ook leer om katvoet te loop, want swanger raak is deesdae een van die geringer euwels en Vigs is nie die enigste nare aansteeklike siekte daar buite nie…..

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Vat jou goed en trek

Oktober 22, 2012 in gedagtes

Ouma het alzheimers, en die pille wat al die ander mense drink, werk nie vir haar nie, dit akkodeer nie met die ander medikasie vir Osteo Perose en Osteo Artritis wat sy moet gebruik nie. Sy kies toe minder pyn bo meer onthou. Tot vandag toe het sy nog alleen in haar woonstelletjie gebly, maar die einde van die week trek sy nou na ‘n enkelkamer in die outehuis naby ma-hulle. Tog dink ek die  siekte is erger vir die mense om die persoon met Alzheimers as vir die pasient self. Ouma was ‘n raakvat vrou, jare lank haar eie mans haarsalon bedryf, kinders alleen grootgemaak, geskilder en graag getoer. Nou is daar ‘n spookbeeld van Groot Geluk se boervrou oor, haar gedagtes slaan op jare gelede terug vas, sy praat van mense en plekke wat al lankal weg is, dan skielik is sy helder en ten volle bewus wat om haar aangaan.

Gister kuier ons soos gewoonlik by ma-hulle, ouma is ook daar, nadat sy my 3 keer gegroet het en die kinders gesoen het, weer vertel het hoe vinnig hulle nou grootword, besluit sy ons moet nou dadelik koffie maak, ek stap saam, maar word vinnig vertel dat sy nie n kind of invalide is nie en dat sy darem nog koffie kan maak, ek word gestuur om te kyk waar die kinders is en ek stuur vriendin om te gaan help, maar ouma is klaar. So drink manlief kasaterwater, lou van al die melk met net so effense soet smakie, ek kry ‘n beker gifsterk, pikswart koffie met seker 6 lepes suiker, my oe kyk eintlik oormekaar. Vriendin wat haar koffie wit en bitter drink, sweet met dieselfde brousel as ek, haar man kry ook flou, melk koffie maar met genoeg suiker om die lepel te laat regopstaan, maar ons almal het die met ‘n glimlag gedrink en haar hartlik bedank vir die heerlike koffie en sy het gestraal.  Ma kom in en vra waar is haar drinkgoed, vlieg ouma verergd op, want ma wou dan niks he nie. Ma het toe maar self gaan maak. Dis vir haar bitter swaar om haar ma so te sien agteruitgaan, sy gee goedjies weg en bel dan hoogs ontsteld oor haar goed wat gesteel is. Ouma se oudste suster het dit ook en dis so moeilik om haar so te sien wegraak, sy glo sy is n kind, speel pop en sing kinderkrans liedjies.

Is die ding geneties? Dit maak my bang, dis soos ‘n geliefde gesinswoning, waarvan al die inwoners weg is, en die wind waai stofdwarrels deur lee kamers, waar eens kinderlaggies opgeklink het, waar mense bly was, kwaad was, hartseer was, waar nuwe babas verwelkom is, waar mense vir die laaste maal gegroet is, waar daar saam om ‘n tafel gesit is, vir feesmaaltye, vir bybel lees, vir bid. Nou is die struktuur nog daar, dak, vloere vensters en deure, maar dit wat ‘n huis ‘n familie tuiste gemaak het, is vir altyd weg…