Profile photo of ou-sus

by

Stand van sake

Julie 22, 2012 in Sonder kategorie

Daar is ‘n liedjie wat gaan iets soos “My nooi is in ‘n nartjie, my ouma in kaneel, daar is iemand in anys, daar’s ‘n vrou in elke geur” Behalwe dat die Ouma nou vir haar ‘n ander plek moet gaan soek. Kaneel word glo van die rakke verwyder en sal voortaan by apteke gekoop moet word, so “sorry” ouma, kry vir jou ‘n ander plek.

Die ander dag is ek weereens by een van die nimmereindigende Dept van Dit en Dat se vergaderings en die persoon van belang staan daar voor en vertel dat die “Stand van sake in ‘n land gemeet kan word aan hoe dit met sy kinders en sy oumense gaan” so in my stilligheid raak ek benoud, want my kinders word deur die polisie by my aangebring, hulle is ge-abandoned in hospitale, op ashope agtergelaat vir dood en ons oumense….

Ek is seker dat ek al in ‘n vorige blog genoem het dat ek by oupa en ouma grootgeword het, pa en ma was te jonk en ons eerste  drie is net so ‘n jaar uitmekaar. My oupa en ouma was meer as dit, hulle was pa en ma en op ‘n stadium was dit net ons drie toe die res van die familie weggetrek het en op Vredefort gaan boer het. Hulle was my alles, en toe, na ‘n lang siekbed is oupa weg. Die aand voor sy dood was ons almal by die hospitaal, ek onthou sy groot hande was koud. Ons het gegroet en kar toe gegaan, net voor ons ry kom roep die verpleegster my, oupa wou vir my weer sien. Hy het my gesig gestreel, sy vingers deur my hare getrek, my vertel hoe lief hy vir my en ouma is en my gevra om hom te belowe om altyd na ouma te kyk. Ek is huis toe saam met die ander, en die volgende oggend vroeg het ons die nuus gekry dat oupa weg is. Dertien jaar later trou ouma weer en word ek ‘n oupa Nollie ryker, na my egskeiding kuier ek naweek na naweek op die plaas en word stadig weer heel. Vasgevou in oupa en ouma se liefde. Die naweek voor oupa se dood sit ons die Saterdagaand by die tafel en terg ouma oor ons net brood kry om te eet, terwyl die kommers-en-ganers die vetgemaakte kalwers kry. Oupa draai na my en se sommer so terloops “As oupa iets moet oorkom weet ek darem, jy is daar vir ouma” ek spot nog en vra waar hy dan van plan is om te gaan. Later daardie week kry ek die tyding, oupa is weg.  

Lang storie kort, trek ek Bloem toe, Boeta en skoonsus vra ouma om met hulle kroos te kom help en so sien ons mekaar darem ten minste elke naweek en soms sommer deur die week ook. Ouma wil niks weet van by my bly nie, want Boeta se seun is die naamgenoot wat die stamnaam voort sal dra. Ouma het gehelp  kinders grootmaak, huiswerk gedoen, in die huis gehelp met wasgoed,skoonmaak ens ens. Nou na al hierdie tyd is haar tyd ook uitgewerk en maak skoonsus die wereld vir haar so sleg dat sy weggaan. Sy trek Harrismith toe en niks en niemand kan haar  oortuig om te bly nie. Sy wil nie vir nog kinders ‘n oorlas wees  nie. Sy wil eerder op haar eie wees. Sy is 85 en sy trek na ‘n plek waar sy niemand ken nie, oor die 400 km weg, en niks wat ek pleit en soebat wil haar van plan verander nie. Ek is so kwaad, dat ek nie woorde het om dit te beskryf nie. Ons hele lewe lank was sy daar as ons haar nodig gehad het,  nou laat een mens haar so oorbodig voel dat sy van ons almal wil weggaan. Sy wat haar alles vir haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders opgeoffer het, voel agv een mens, dat ons haar nie meer nodig het nie, dat sy vir ons ‘n oorlas is. Dat sy ‘n gevaar vir haarself en die kinders is….

Ek weet sy is nie ‘n maklike mens nie, sy is ‘n sterk vrou, sy was al die jare die steunpilaar waarop ons as familie gerus het, nou is sy skielik oorbodig….

Ek kan die persoon vertel wat die stand van sake in ons land is, as ek na my kinders kyk, waar hulle vandaan kom en ek kyk na my oumensie, waar sy heen gaan, is die antwoord eenvoudig. Ons is in ons moer in…..


9 antwoorde op Stand van sake

  1. lora2me het gesê op Julie 22, 2012

    Ag, dis nou aaklig. Miskien moet jy maar nog ‘n laaste poging aanwend om haar te laat bly. Miskien moet jy haar NOU van jou belofte aan jou oupa vertel.

  2. sirpsa het gesê op Julie 22, 2012

    As sy glad nie van plan wil verander nie is al wat vir jou oorbly om haar gereeld te kontak en te gaan kuier.

  3. loudavisi het gesê op Julie 22, 2012

    Ag nee, Ousus!
    Iewers gaan dinge nog reg verloop…ek is seker.
    Sterkte daar.
    xxx

  4. TS het gesê op Julie 22, 2012

    Ai tog… Ek verstaan hoe sy voel. Hoop sy gaan daren in ‘n aftreeoord woon.

  5. HeavyHenry het gesê op Julie 22, 2012

    Ag hel.

  6. Die tipe ding maak my maar net hartseer…

  7. ou-sus het gesê op Julie 24, 2012

    Nee, ouma gaan in ‘n woonstel bly, en al is dit ‘n given dat ons gereeld sal gaan kuier en baie sal bel, maar my benoudheid is oor die elke dag se dingetjies. Wie gaan haar help kruideniers die trappe op dra, wie gaan help met swaar wasgoedmandjies, wat as haar kar breek, en die grootse vrees, wat as sy siek is en daar is niemand om haar te help nie, sy is so doof dat sy nie altyd die foon hoor nie, sy vergeet soms die pin kode. Sy is andersins nog baie sterk en gesond, maar sy is 85 en daar is dinge wat sy nie meer alleen kan doen nie, al glo sy anders. My hart krimp ineen as ek aan haar alleen dink daar ver, maar niks wat ek doen of se, maak ‘n verskil nie. Sy het klaar die plek gehuur, deposito en eerste maand se huur betaal, w&e aangesluit en pak die kant vir ‘n vale. Sy het ‘n besluit geneem en sy bly daarby, my stiefoom boer op die familieplaas tussen Warden en Harrismith, en hulle bly in haar ou plaashuis. Sy wil ook nie by hom en sy vrou gaan bly nie, al het die huis 5 slaapkamers. Hy sal maar net op standby moet wees vir enige krisis. Dit en gebed is al wat oor is vir my, ek is al op gehuil.

  8. Baie hartseer!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.