Profile photo of ou-sus

by

Eerstes

Julie 18, 2012 in Sonder kategorie

Daar is mos vir alles ‘n eerste keer, sommige dinge onthou jy beter as ander, party gaan verby sonder dat dit rerig opgelet word, ander word gevier, sommiges wil jy liewer nie onthou nie en dan is daar die wat jy wens liewer nooit oor jou pad gekom het nie. 

Na my eerste huwelik en die daaropvolgende egskeiding, het ek myself belowe om nooit, ooit weer vir myself te lieg nie en om nooit, ooit weer my gevoelens weg te steek of te ignoreer nie. So, as ek bly is, dan wys ek dit, so ook as ek hartseer, kwaad of teleurgesteld is. Blykbaar praat my oë harder as my mond, so, ek het die gawe om “in touch” te wees met my gevoelens, maar die Liewe Vader alleen weet, hierdie laaste paar dae was ek omtrent op ‘n emosionele “roller coaster”.

Verlede Augustus, midde al die drama van die “retrenchments” en die vergadering op vergadering met die staat se mense, die poste wat gevul moet word en die nuwe baba, staan ek een helder Woensdagoggend op met so ‘n vae hoofpyn, later is dit nie meer so erg vaag nie, teen Donderdag klop hy hier agter my linkeroog en is my nek styf, die nag lê ek wakker van die pyn wat geen pil wil wegkry nie en teen Vrydagoggend soek ek vrekplek, maar ek is mos ‘n stoere boere dogter, ek kners op my tande en gaan aan met al die werk wat wag, ek moet die pasiente se medikasie gaan oplaai en die nuwe voorskrifte gaan afgee. Op pad na die apteek oorval die vreeslikste naarheid my, die sweet stroom teen my gesig af en tussen deur die ligflitse deur sien ek twee van alles. Dis dan dit, dink ek, moet beroerte wees, ek huil sommer kliphard, want wat van die kinders, daai kleine babaseuntjie, manlief, Ouma Rose wat al langs soveel geliefdes se oop grafte moes staan. Wonder bo wonder maak ek nie ‘n ongeluk nie en kom ek doodsbleek en natgesweet by die Apteek uit. Daar gee hulle my een kyk en vra nommers van die familie. Ek beduie dat ma se huis nie ver is nie en een van hulle bestuur tot daar en die ander een ry agterna om die bestuurder weer werk toe te vat. Teen die tyd pyn alles van die skouers af boontoe, een kloppende, polsende siedende massa pyn, tot die vibrasie van die kar maak seer en naar. Die dokter het nie veel simpatie nie, maak darem die blindings toe sodat ek my oë op skrefies kan oopmaak. Migraine. Na ‘n lang preek van “ek het jou gewaarsku, minder stres ens ens” ‘n inspuiting en ‘n dag se slaap voel ek amper weer mens. Nou ken ek sy wegtrekke, en sodra hy hier agter die linkeroog kom klop dan drink ek maar meer water, vermy die soetgoed, die koffie, die bacon, enigiets wat ryk en lekker is en maak soos Ds Wollie preek “bid maar drink jou pille”.

Terug na die “roller coaster”. Vrydagmore stel die maatskaplike werker my in kennis dat ons dadelik met die aanneming van Tshepo kan begin. Gelukkig is al heelwat van die vorms ingevul en kry ons net nog addisionele dokument by. Met ‘n lied in my hart gaan ek deur die dag. Vrydagaand bel Danica haar Ouma Jous om te hoor wanneer kom sy huis toe, Ouma wil met my praat. Die nuus is nie goed nie, Ouma het besluit om weg te gaan uit Bloemfontein, sy het ‘n woonstel in Harrismith gehuur en trek die 1ste Augustus in. My hart is op die vloer, sy is 85 en nog baie op en gesond, maar sy word nie jonger nie en dis ver weg. Wat as sy siek word, of val, of wat ook al met haar gebeur en sy het iemand nodig. Ons is ure weg van haar af. Ek is kwaad en hartseer en woedend vir die persoon met haar passiewe agressiewe gedrag, wat veroorsaak dat hierdie ou mens voel ons het haar nie meer nodig nie. Ek raas en redeneer, en soebat haar om by ons te kom bly, soos ons haar al male sonder tal gevra het, maar Ouma het klaar besluit, sy wil nie vir nog iemand ‘n las wees nie. Ek huil so dat die kinders stil word en Danica vir my ‘n pleister uit die kas gaan haal, maar niks wil hierdie huil keer nie. Ek drink later ‘n “voel f*kk*l” pilletjie en een van die slaappille wat die dr vir Manlief met sy broer se dood gegee het en gaan trek die komberse oor my kop. Vanaand “cope” manlief alleen want die duiwel begin klop hier agter my linkeroog.

Saterdag hou ek die kinders in die huis, gepantser teen die bittere koue, ons kyk Lollos, Barney en Barbie en ek muf onder die komberse saam met hulle, die duiwel klop sagter.

Sondag maak ek kos by ma se huis, dis Butter Chicken, Basmati Rys en aanvaarding vir middagete gevolg deur Monkey Bread en hoop vir die beste vir nagereg. Ek sluk nog ‘n paar “voel f*kk*l” pilletjies en die duiwel blaas die aftog.

Maandag vroeg gaan ek poskantoor toe om afskrifte van al wat ‘n dokument is te maak en om dit sommer daar te laat sertifiseer ook. Dan tussen al die ander pos en advertensies is daar ‘n gewone wit koevert, geadresseer aan ons altwee.

Dis Danica se finale aannemingsdokumente, 17 maande na ons 10 minute in die hof, staan daar op swart en wit, dat hierdie kind wetiglik ons eie is, “as if born to you”. Ek staan voor die toonbank en tjank so dat ek nie met die posmannetjie kan praat nie. Die deur van die poskantoor gaan oop en twee inspekteur van die Poskantoor kom in, knypborde, lyste en penne gereed. Posmannetjie staan met groot oge, die inspekteurs frons,  Grootoom inspekteur wil weet “Madam, what is wrong, why are you crying, what has this man done”? Ek tjank, gee die brief vir Groottannie inspekteur en snik “I’m so happy”, sy lees die brief, pluk tissues uit die boesem en huil sommer saam, posmannetjie sug verlig. Ek huppel omtrent uit die Poskantoor, bel Manlief, ma en haas my na binnelandse sake.

Maandagaand sluk ek vaal pilletjies en sit koue waslappies op my voorkop. Die duiwel klopdans in my kop, maar ek trek vir Danica stywer teen my vas en glimlag vir die eerste Migraine agv van verligting en blydskap…

Dit sal ook weer verbygaan.


6 antwoorde op Eerstes

  1. avega het gesê op Julie 18, 2012

    Jy klink vir my soos ‘n balletjie stres. Jy gaan ‘n strategie moet uitwerk om ontslae te raak daarvan, of jy gaan nie veel beteken vir daai kindertjies nie. Sterkte in the mean time.

  2. TS het gesê op Julie 18, 2012

    Eish… jy vertel so werklik dat my kop ook amper seer raak!

    Sterkte Vasbyt!

  3. skop die duiwel onder sy stert en baie geluk met die papierwerk!!!

    00×00

  4. CBL1979 het gesê op Julie 18, 2012

    Ai, baie sterkte met al julle dinge! *drukkie*

  5. Migraine!Letterlik die duiwel se oorkussing!

  6. loudavisi het gesê op Julie 18, 2012

    Lekker gelees, dankie!
    Baie geluk met die papiere – hoop dat die kleintjie vir julle nog baie liefde en plesier sal bring,

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.