Profile photo of ou-sus

by

Alweer …

Julie 12, 2012 in Sonder kategorie

Ek is alweer hier, en nee, Danica se aanneming is nog nie finaal nie. Ek het die 14de Junie ‘n oproep gekry van een of ander amptenaar wat ons adres wou bevestig, net sodat hulle die finale aannemings dokumente kan pos. Toe ek navraag doen oor hoekom ons dan nou nog steeds niks ontvang het nie, hoor ek dis omdat die poskantoorwerkers “strike” . Gisteraand hoor ek oor die nuus dat die staatsamptenare ook dreig om te “strike” vir salarisverhogings, die onderwysers in Limpopo wil meer geld he omdat hulle nou agterstand moet inhaal oor die boeke wat laat is en as dit nie gebeur nie sal dit ook uitloop op ‘n “strike”. Nou die ander dag slaap ek amper in Botshabelo want die smouse “strike” omdat die munisipaliteit hulle neste gaan wegvat het. Toe is dit sommer weer die “foreigners” se skuld, en dit regverdig hulle brand en plunder van besighede en met my wit gesig is ek ook ‘n foreigner. Gelukkig ken ek darem al n paar agterpaadjies en die res van die week werk ek maar van die huis af, gelukkig verskuif die “strikers” toe die week daarop na Thaba Nchu, en kan ons aangaan met ons werk.

Manlief werk so rukkie terug die dag buite die stad, die aand bring hy vir my 2 persente saam, ‘n lekker slap plastiek sjambok en n bottel heuning. Ek dag eers die man het nou neigings, toe verduidelik hy die sjambok is vir die honde en die heuning sal darem baie lekker saam met toast wees as sy ma-hulle kom kuier. Skoonfamilie het heerlik aan die heuning gesmul, die bottel mooi blink uitge-eet en die sjambok vergaar stof op die spaarkamer se hangkas. Nou het ek gewonder wat sal gebeur as ek ook “strike”, elke keer as iemand my swaarbetaalde belastinggeldjies vermors deur te spring soos ‘n kat op n warm plaat, dan gaan stof ek daai sjambokkie af en gaan “strike” saam. Daar sal minder vergaderings wees want hulle gaan nie so lekker sit nie, ons kry dalk dan ons pos, water en ligte rekeninge, aannemings papiere ens betyds, maar alle grappies op die stokkies en al daai dinge. Ons doen dit alweer.

Die afgelope 9 maande is ons die gesin van ‘n kleine babaseuntjie. Iemand anders se “rubbish” is ons “treasure. Hy was ‘n skrale 10 daggies oud, met armpies en beentjies so dun soos hoendernekkies. Prematuur en klein smokkel ons hom onder die media se neuse uit die hospitaal. Sy naam kan ons nie noem nie want dan weet die hele plek van watter baba ons praat. Ma Liesbet huil oor saam met ons oor die kleine mensie, ons vat hande en maak ‘n belofte om ons beste vir hom te doen. Dis net vir 90 dae se die maatskaplike werker, daarna sal hy aangeneem word. Ons pantser ons harte en vou hom toe in die familie en in ons liefde. Ma Liesbet gee hom ‘n ander naam, ons noem hom Tshepo, wat hoop beteken. Die 90 dae kom en gaan en die een na die ander paartjie word afgekeur en met elke dag wat verbygaan kruip hy dieper in ons lewens in.

Ons kom op ‘n punt waar ons nie meer die gedagte van afgee kan aan dink nie. Ons praat met die familie, vriende, die dominee, almal wat vir hierdie klein mensie gebid en lief geword het. Ons kyk hoe hy groei, hoe hy oopbek begin lag as hy ons sien, ons sien hoe die maer ou lyfie vol word, ons koester sy laggie en moedig hom luidkeels aan om self te sit. Manlief leer op die harde manier dat seuntjie se doek vinnig geruil moet word anders word jy natgespuit. Die sussies sit hand by met bad en doeke aandra, dummie soek en bottels aanmaak. Ons pajamadril weer van voor af en glo my, in die Vrystaatse winter is geen grap nie, maar ons geniet dit. Die eerste 3 maande gaan hy saam werk toe en dra ek hom in ‘n kangaroo-sak teen my bors, nou maande later slaap hy net as hy gesus word. Ek het nie meer ‘n plek in die bed nie en dreig al om in die spaarkamer te gaan slaap, want as ek vroeg soggens opstaan om die 2 worse uit te laat gaan, tel Manlief die kleine man by hom in die bed en teen die tyd dat ek klappertand terugkom in die kamer, het die sussies ook ingekruip en le hulle soos sardientjies ingeryg op my plek. Danica begin praat van haar Boeta en die storie dat hy net vir ‘n rukkie by ons kuier en een van die dae na sy altyd Pappa en Mamma toe gaan, word met al hoe minder oortuiging vertel. Ons kan hom nie meer laat gaan nie…

More, op hierdie 13de dag van Julie, op hierdie Vrydag, begin ons weereens met die proses. Die vorms is ingevul, die dokter se deel, die dominee se deel, die finansies is gerapporteer en al die vrae oor elke aspek van ons lewe is beantwoord. Ons is nie op die lys vir seksoortreders nie en ons is meer as bereid en gewillig. More spreek ons die maatskaplike werker en dan begin die wag, die stres en die hoop en bid vir die beste.

Hier gaan ons alweer…

7 antwoorde op Alweer …

  1. TS het gesê op Julie 12, 2012

    Ek is bly vir julle… klink sooooo lekker

  2. HeavyHenry het gesê op Julie 12, 2012

    Hoop dit werk!

  3. CBL1979 het gesê op Julie 12, 2012

    Hoop als werk uit vir julle x

  4. loudavisi het gesê op Julie 12, 2012

    Ek hoop en bid saam, Ousus!
    xxx

  5. avega het gesê op Julie 12, 2012

    Ek ken die proses, maar in ons dae moes die ma toestemming gee. Sy het NEE gesê alhoewel sy glad nie in staat was om na enige van haar 5 kinders te kyk nie en ons moes tevrede wees met permanente pleegsorg wat op die einde erg probleme veroorsaak het. Ek wens julle alles van die beste toe en dat die proses gou sal verloop.

  6. ou-sus het gesê op Julie 14, 2012

    Dis hoekom die oudste enetjie nog net in pleegsorg is, daar is ook ‘n ma wat nie die kind wil afteken nie, maar haar ook nie wil he nie. Die halfsussie is in die kinderhuis en dit is haar grootste wens dat Hartkind ook soontoe moet gaan, daar is ook nog ‘n kleinboetie maar hy is nog by haar. Ek soek altyd na die kinder regte in die kinderwet….

  7. Sterkte,ek haal my hoed af vir julle!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.