Profile photo of ou-sus

by

These are the days of my life….

November 18, 2011 in Sonder kategorie

Is ek die enigste mens wat soms voel asof my lewe ‘n sepie is, en nie eers ‘n besonderse goeie ene nie?  Ander mense gaan sien terapeute, ek blog. Omdat dit anoniem is, wel feitlik, Kerneels weet wie ek is, maar ek hoop hy laat nie die familie lees nie. Hier kan ek se wat ek rerig voel. Nie wat die res van die samelewing van ‘n vet, vroom tannie verwag om te se nie. Nie dat ek nou juis uithak nie, maar dit help om te kan praat, sommer net af te pak as die las so bietjie na die kniegknak kant toe trek.

 

Vat nou maar die jaar. Januarie trek weg met ‘n spoed, ons word ingelig dat ons bevondsing gestaak word einde Mei. 900 mense moet oorgeplaas word na die staat toe.

Februarie begin die onderhandelinge met die Departement Gesondheid, Danica se aanneming word soort van gefinaliseer.

Maart gaan dit dol, vertroulike inligting word uitgelek en die pasiente en staf wil staak,

April is die een vergadering na die ander en die persoon wat die inligting uitgelek het, storm uit die vergadering, beskuldig my dat ek haar soos ‘n hond laat voel en dreig om te bedank.

Mei besluit die Dept dat hulle die medikasie en die bloedtoetse sal oorneem as die kerk die operasionele kostes sal bly dek.

Junie moet ek 13 mense afdank en ons begroting word met amper die helfte gesny. Geen salarisverhoging, maar dank die Heer, ons het nog werk.Intussen begin ons die medikasie van die staat ontvang…. 

Julie besluit die bestuurder om vir twee maande Ierland toe te gaan. 

Augustus begin ek soek na ‘n nuwe Geregistreerde Verpleegkundige, die aansoeke sluit in, ‘n ambulans drywer, ‘n werker in die staatslykshuis, iemand wat ‘n pre-nursing kursus gedoen het, ‘n tradisionele healer (krale en blaas op die kop en al), ‘n psigiatriese pasient wat haar eie “Hospice” begin het (I kid you not!!) en omtrent 5 stok ou, afgetrede susters. Vir die Aptekers assistent se pos kry ek net 3 aansoeke, ‘n vroulike apteker met haar eie apteek, wat ook by die Staatshospitaal locum en nou kyk na ‘n derde pos (getroud met kindertjies onder die ouderdom van 5), ‘n beginner Post Basic assistent wat nie sy kursus voltooi het nie, maar wat wel die geskenk toedraai en oorbel inskiet kursus geslaag het en een volwaardige Gerigestreerde Gekwalifiseerde Post Basic Pharmacy Assistant (Hoor hulle ook die hallelujas?).  So tussen deur is Pa se derms darem weer gelas en dinges hy nou nie meer in die sakkie nie, ma het ‘n rugoperasie ondergaan en le vir 8 weke tone boontoe. Die huis het darem nie afgebrand nie, Pa was gou genoeg op die toneel en dit het ons net 2 dae gevat om die mure, kaste, matter en gordyne te was. Die plafon is buite ons beheer beskadig. Hartkind se koppie hak uit en sy boelie groot en klein, maande se spelterapie gaan dit beter maar uiteindelik word sy met “ADHD” gediagnoseer. Sy is ook nie skoolgereed nie en nou begin ons met die terapie trein van voor af. Die eerste afspraak vir die neuroloog is eers in Februarie 2012, maar ons moet haar nou al laat asseseer! Dan was daar ook die slag, ja, letterlik en figuurlik, toe manlief by die laaste klient van die dag se trap af duiwel en sy arm seermaak. ‘n dag later oortuig ek hom uiteindelik om mediese hulp op te soek, hy kom tuis in gips. Hy het sy (*&%%^#$(*&* – beentjie gebreek. 6 weke later is die gips eers verwyder.

September begin ons met die aansoeke, en besluit om die pos weer te adverteer, behalwe die Pharmacy Assistant…

Oktober doen ons onderhoude en die nuwe Suster begin in Januarie 2012, en kry ek weer een van daai oproepe van die maatskaplik werker. Babaseuntjie op ashoop opgetel, vir dood gelaat, prem. Net vir 3 maande in plek van veiligheid. Ek en manlief gaan haal hom by die hospitaal en moet vir die Media wegkruip. Klein, klein stukkiekie menswees, skaars groter as my hand, weeg maar 2.7 kg. Snags sit ek weer en luister of hy aanhou asemhaal.

November breek aan, die geyser bars, die plafon val in, die kar breek af PE toe, ek val van die trappe af in skoonma se huis, darem net blou boude, die wind waai so dat ons die kinders die see deur die venster wys, die kar breek weer op pad terug Bloem toe. Die versekering vra ‘n maatskappy in Louis Trichardt om die skade te kom herstel. Sondag lyk ek soos ‘n koperkapel, my nek en keel is geswel en ek sit onder ‘n kombers en bewe tydens ‘n somer hittegloed in Bloem. Maandag lag die dokter vir my en boek my vir die week af met akute maksilere sinusitis, middeloor-ontsteking, boonste en onderste lugweg infeksie. ‘n Ander maatskappy bel uit Bloem, hulle kom die plafonne regmaak, verwyder asb alles uit die betrokke vertrekke. Dinsdag trek ek in my eie huis rond, Woensdag, Donderdag, Vandag bou en breek en verf hulle. Ek beplan om later vanaand bietjie rustig te raak Dokter, ek sal foto’s neem as jy evidence wil he. Vanoggend huil ek en Ma Liesbet oor ‘n ronde swart lyfie, wat nou 4.15kg weeg en oopbek vir ons lag. Januarie moet hy na sy altyd mamma en pappa toe gaan.

 

As my lewe rerig ‘n sepie is, was ek nou die beeldskone blond met die perfekte grimering wat soppas in die luukse kliniek opgeneem is, wat met ‘n veraf kyk in my blou oe by die venster uitstaar, waar ‘n sproeier diamantdruppels water oor’n smarag groen grasperk sprinkel, terwyl die asemrowende nuwe dokter met verlange na my staar.

 

Desember le nog voor……..

6 antwoorde op These are the days of my life….

  1. TS het gesê op November 18, 2011

    Sjoe dis ongelooflik… liewe mens moet jy nie iewers ekstra hulp kry nie?

    Sterkte

  2. avega het gesê op November 18, 2011

    Jinne, wat ‘n lewe. Ek bewonder mense wat so baie balle in die lug kan hou en nog blymoedig daaroor rapporteer.

  3. lora2me het gesê op November 18, 2011

    Hoor hier, jou lewe is omtrent in “overdrive” – hoe doen julle mense dit? Ek hou van die “dat ons die kinders die see deur die venster wys”, want dit laat my aan menige seevakansies toe my kinders klein was, dink.

  4. Teen November kon ek dit net nie meer hou nie, en bars uit van die lag. Ousus, ‘n vervelige lewe het jy nie!

  5. hehe! Ek wou nou net sê dat as dit ‘n sepie was MOES jy ‘n affair met die dokter hê. 🙂 Hulle sê nou die middag op die radio dat Days of our lives al 46 jaar op die kassie is En raai wat? Dis nog al die tyd Dinsdag!!! 🙂

  6. pbroere het gesê op November 20, 2011

    Dit voel mos altyd of als gelyk gebeur. Oor ‘n jaar as jy terugdink kan jy gewoonlik die humor sien.

    Waar is Kerneels, hoekom skryf hy nie meer nie?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.