Profile photo of ou-sus

by

10 Minute

Maart 17, 2011 in Sonder kategorie

 

Ek het my voorgeneem om nie te blog voor die aanneming nie afgehandel is nie, nou is dit. So te se afgehandel anyway….

 

Die dertig dae was toe negentig dae, en met elk dag wat verbysleep is my senuwees nog so ‘n bietjie verder gerafel. November moet ons hof toe, maar…

 

Die derde maatskaplike werkster wil nog eers weer ‘n tuisbesoek doen (sy moes dalk eerder teologie geswot het, maar dan doen die meeste predikante ook mos nie meer tuisbesoeke nie), 3 afsprake later neem ek toe maar verlof en sit en wag vir die vrou om op te daag. Laat maar darem daag sy toe vir die 4de afspraak op, sy het die huis deurgekyk, in die kaste geloer, gekyk waar ons slaap, eet , bad, koeldrank gedrink en is met bottel of so van my ingelegde produkte hier weg. November se datum het gekom, en November se datum het gegaan.

 

Desember, die verslag na die tuisbesoek moet geskryf word, gaan geskryf word, sal nog geskryf word. Intussen trek ons in die Hospitaal in want Pa wil by die Poorte in (maar dis anderdag se storie). Vriendin Jackie en haar gevolg kom trek by my in sodat die kinders nie so ontwrig moet word nie, maar tussen deur bel ek oor die verslag wat sekerlik nou al geskryf kan gewees is??? Januarie breek aan, Pa leef nog (ok maar net, maar darem). Die verslag gaan binnekort geskryf word. Uiteindelik gebeur dit, die verslag is geskryf en weggestuur, ‘n nuwe hofdatum word gekry vir Februarie. Die datum het gekom en gegaan. Intussen moes Piepklein Baba wat nou al Wilde Peuter is, eers op een of ander register van “Abandoned Children” kom, ons moes uitgecheck word om te sien of ons nie ook op een of ander register is nie, soos die een waar hulle pedofiele en pedofaras se name op sit.

 

Teen die tyd het ek nie meer ‘n senuwees nie, dis net rafels, ek en manlief kweek sakke onder die oe en die selgroep en familie het al eelte op die kniee van bid.

 

Donderdagmiddag 24/02/2011, laat,  lui my foon. Dis die maatskaplike werkster, die toestemmingsbrief het gekom. Sal ons more in die Hof kan wees? So 9 uur?.

Sal ons daar kan wees? Na al die maande van wag, van bid, van spanning, van nog wag en nog bid en nog spanning? Sal ons daar kan wees??? YOU BET YOUR BLOODY BOOTY ons sal daar wees.!!!!

 

Ek bel die werk, vriende, familie, Manlief kanselleer afsprake, almal juig en jubel. Ons slaap niks, wonder die hele nag oor die dag van more? Wat gaan gebeur? Ek pak ‘n tassie vir lank wag. Doeke en boeke, vrugte en sappies, ‘n speelding, haar gunsteling kombersie (net ingeval sy dalk moeg raak van die lang wag), die dik swart leer met al die belangrike dokumente.

08:45 sit ons op die harde houtbankie.

09:00 maatskaplike werkster kom uit die Klerk se kantoor, bly om te sien ons is daar.

09:15 Klerk kom uit en vra ons om haar te volg. Ons gryp kind, sak, boeke, leer met al die belangrike dokumente en sit haar agterna.

09:20 word ons aan die vroulike regter voorgstel, Peuter wil nerens anders wees as bo-op haar lesenaar nie. Sy glimlag, “Los haar, sy is pragtig, hoe lank is sy al by julle”? “Twee jaar” kwaak ek. Die knop in my keel is groter as my keel, my oe brand en my hart is nog net binne in my omdat die knop in my keel te groot is om by verby te kom. Manlief is doodsbleek en hou die armleuning so styf vas dat ek bang is hy breek die ding af.

09:25 die regter het al die dokumente voor haar deurgegaan, sy kyk op oor haar bril. “Het u regsverteenwoordiging nodig” (Huh, ons kyk vir mekaar, kyk vir haar, kyk vir die maatskaplike werkster, sy skud haar kop, nee) Ons kwaak “Nee”. Die regter vra “Verklaar julle dat julle bereid is om hierdie kind as julle eie aan te neem”?  Ons kwaak “Ja”. Sy glimlag, teken iets, gee die dokument vir die Klerk, steek haar hand uit, skud blad. “Baie geluk Pappa  en Mamma”.

09:30 Ons staan in die gang, dis verby, sy is amptelik ons dogter. Die Klerk sal ons laat weet wanneer ons die dokumente kan kom kry om haar te herregistreer. Dis verby.

 

Welkom in die familie ons kleinste meisiekindjie. Jy sal genoem word Danica (more ster, begin van ‘n nuwe dag), Anuli (die dogter wat vreugde bring).

 

Welkom Danica Anuli, ons het jare lank net vir jou gebid.

 

8 antwoorde op 10 Minute

  1. elizac het gesê op Maart 17, 2011

    Ag, maar sy is pragtig! En kyk hoe sit en huil ek nou hier voor die rekenaar!

  2. Baie baie geluk Pappa en Mamma en klein Danica.
    Ek hoop dat julle n baie gelukkig gesin sal wees.
    Ai ek het nou lekker n traan gestort.

  3. Maankind2 het gesê op Maart 17, 2011

    Ek kon vboel hoe julle albei oorstelp raak en huil toe dit verby is… Ek is bly vir julle.

  4. kerneelsie het gesê op Maart 17, 2011

    Sy het SO groot geword. Voel soos nou die dag wat sy in my arms geslaap het op Ouma se verjaardag. Sy was TOE al deel van julle.

  5. LiquidIce het gesê op Maart 17, 2011

    Kry ekke nou hoendervleis!!

    Baie geluk en hoop dat daar wonderlike jare vir julle voorlê! Sy lyk na ‘n pragtige vriendelike dogterjie, pas haar mooi op teen die wolwe daarbuite!

  6. ou-sus het gesê op Maart 17, 2011

    Sy was van die eerste oomblik deel van ons, maar nou is dit amptelik, Oom Kerneels. Wat gaan aan, het jy my geblok, ek kon nie in op jou blog nie?

  7. dis alweer November!!!

  8. ou-sus het gesê op November 18, 2011

    I-like-it-silly.

    Ja dis weer November, en nog steeds wag ons vir die brief van Binnelandse sake wat ons toestemming gee om haar as ons eie te registreer. In Februarie het hulle ons vertel dit sal tussen 3-6 maande vat. Ek het opgehou om op my vingers te tel.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.