Jy blaai in die argief vir 2010 Augustus.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Hart

Augustus 25, 2010 in Sonder kategorie

My hart is vandag in die koerant geadverteer onder “Female Child, Born 07/11/2008, Left at Pelonomi Hospital after birth.”

Ek moes die maatskaplike werker voorsien met ‘n foto van jou, my hart. Ek moes een soek waarop jou gesiggie duidelik gesien kan word.  Nou begin die wag.

Oor dertig dae sal ons weer kan asemhaal, of nie. Oor dertig dae sal ons weet of daar ‘n swaard oor ons koppe hang, of nie. Oor dertig dae sal ons weet of ons jou kan probeer aanneem, of nie.

Mamma huil al heeldag, my hart. Ons weet van kinders verloor. Vir ons is dit nie iets waarvan ons hoor of iets wat met iemand anders gebeur nie, my hart. Vir ons is dit werklikheid, realiteit, rerig. Mamma huil ook vir die sewe ander babas saam met jou in die advertensie, found in Namibia Square, Batho Location, Caleb Motshabi Square, Khotsong….

Hoe los jy die lewe wat jy in jou gedra het….

Hoe los jy ‘n lewende wesentjie, soos vuilgoed, sommer so…..

Hoe maak jy jou los, en loop net weg…….

Hoe, hoe, hoe….

Hoe hou ek dertig dae, my hart….

Hoe hou ek jou vir die volgende dertig dae vas sonder om elke dag te huil. Mamma probeer bid, maar daar kom net trane.

My hart is vandag in die koerant geadverteer onder “Female Child, Born 07/11/2008, Left at Pelonomi Hospital after Birth.”