Jy blaai in die argief vir 2010 April.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Genoeg

April 16, 2010 in Sonder kategorie

Wanneer is genoeg, genoeg? Ek wou nog nooit wegtrek na ‘n vreemde land nie. Ek is hier gebore, die land is in my murg en bloed. Die eerste voorvader het nie lank na van Riebeeck hier aangekom nie, hy het as soldaat in die Kasteel gewerk. My “ancestors” se bene is hier begrawe, hul bloed het geloop in die veld teen die engelse, van die graffies in die konsentrasiekampe was bloed van my bloed. Dis my land die, land van my voorvaders en moeders. Ek het soveel moed gehad vir die land, ons ou nasie kan wel oor geen een ding saamstem nie, maar dis ons almal se plek die. Ons is mengsels van al die nasies, ek is verseker naief, maar vir my strek kleur net so diep as jou vel.

Ons is anders, maar ook eenders, daar waar ek werk is ons van verskillende gelowe, rasse, velkleure, moedertale en kulture, maar ons is almal net mense, met drome, met ideale, met hoop vir die toekoms, vir ons kinders, almal streef na geluk, ‘n eie plekkie in die son. Ons werk saam, ons deel mekaar se drome, ons bid oor mekaar en vir mekaar, ons vat mekaar se hande en huil saam oor verliese, ons vier mekaar se vreugdes, ons is net gewone mense. Dis ons almal se plek die.

 

Maar vanaand, vanaand wil ek my bokse op ‘n skip laai en ver, ver wegtrek, na waar die gewone mens vry is…

 

Ek is nie ‘n krimineel nie, ek werk nie saam met kriminele nie, maar ons is agter tralies. Ons is nooit gearresteer nie, nooit aangekla nie, nooit in ‘n hof skuldig bevind nie, maar ons word toegesluit. Ons kinders kyk na buite deur hekke, veilig agter slot en grendel. Daar gaan nie ‘n dag om wat ons nie gewaarsku word oor die nuutste slenter, oor die jongste “trick” om jou kar te steel, jou te agtervolg om jou te roof, te verkrag, te moor. Dis nie net witmense wat aangeval, beroof, verkrag en vermoor word nie. Misdaad, nes Vigs, is kleurblind. Moordenaars, verkragters, rowers, jou common criminal, is nie een kleur nie, net soos die slagoffers nie net van een kleur is nie.

Drie weke gelede word ‘n kollega se hond vergiftig, twee weke gelede word daar by haar huis ingebreek, haar jong seuntjie en tiener suster word met ‘n byl gedreig, indien hulle om hulp roep sal hulle in stukke gekap word, nadat hulle gevat het wat hulle wou, is hulle weg, doodluiters by die voordeur uitgestap, straataf, weg. Die bure het onraad vermoed toe hulle die oop voorhek en deur sien oopstaan, binne in die huis was twee verskrikte mensies, hulle het albei “counselling” gekry, maar is nou te bang om weer in daardie huis in te gaan. Verlede week stap my assistent terug huis toe na klas, sy bly regoor die polisiestasie. By die polisiestasie se hek word sy van agter gegryp, haar handsak, selfoon en boeke word op die sypaadjie gegooi en haar klere word van haar lyf geskeur, helder oordag, voor die polisiestasie, oorkant die technikon, langs ‘n besige straat. Sy is die derde vrou met wie dit gebeur.

 

Vanoggend staan ons op en Boikie le onder die bome, verlam, skuim wat uit sy bek loop. Vergiftig. Gisteraand nog gou ‘n beeno by die agterhek kom bedel, sy kop teen my been gedruk, vanoggend tel ons hom op en gaan le hom in die garage neer, sodat hy darem nie in die reen le nie. More sal ons hom moet gaan begrawe, vanaand gaan laai ek die kinders op, ek moet hulle gaan uitteken, nuwe reel. Omdat hulle bang is dat kinders gesteel kan word moet ons nou die kinders inteken en uitteken. My hart is seer, dis nie reg dat ons kinders grootmaak om bang vir die lewe te wees nie, dis nie reg dat hulle die wereld deur tralies leer ken nie. Dis nie reg dat ons, gewone mense, toegesluit lewe nie.

 

My kop weet die wraak kom my nie toe nie, maar vanaand hoop my hart dat die blixem wat ‘n ontskuldige dier vergiftig het, dieselfde, stadige, pynlike, versmorende, verlammende dood sal sterf. Vergewe my vanaand my swakheid, maar wanneer, is genoeg, vir ons gewone mense, genoeg?