Jy blaai in die argief vir 2010 Maart.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Die geblaf uit die bome

Maart 19, 2010 in Sonder kategorie

Ek sit al van hier net na 6 af en werk. Die voorskrifte moet klaar en ge-email word, gister aand het ek later gestop want die oge wou nie meer nie, min geslaap ook tussen piepkleinbaba wat knies vir ‘n bottel en hartskind wat toilet toe wil gaan, ok nog nie koffie gehad nie.  So ek is vanoggend effe moerig.

 

Daar is by my kantoor ingebreek Maandagnag. Die etters het die hele rekenaar, printer en fotostaat masjien gesteel, so ook die tv stel, die dvd speler en die video masjien (steel een dvd speler en kry die dvd’s gratis by). Die agterhek is oopgebreek, die twee slotte op die container se deur is oopgebreek, my kantoor deur is afgeskop, die drade wat nie uitgeruk is nie is afgesny.Niemand het iets gesien of gehoor nie. Ek is woedend, maar dit help net mooi niks, ek moet maar verklarings afgee, sake oopmaak, wag vir speurders en persone om vingerafdrukke te kom neem en vir wat???? Om ‘n saak nommer te kry, om te hoop die versekering betaal uit!!

Honger was hulle nie, die bak met appels is netjies eenkant toe geskuif. Die hele week is deurmekaar. Dankie tog vir laptops, vir memory stick en 3G kaarte, die werk kan darem aangaan, maar ons sal die sekuriteit moet opskerp. Die hek is reggemaak en het ‘n bykomende ketting en slot bygekry, die slotte op die containerdeur is vervang, die kantoordeur is reggemaak en het nou ook ‘n veiligheidsdeur. Wat nog? Waghonde, Alarms, Gewapende reaksie?

 

Vanoggend sit ek en werk, dis nog half skemer buite, die volgende oomblik breek die 3de wereldoorlog hier buite die deur uit. Dis ‘n geskuif van kosbakke, ‘n gegrom en ‘n gehap, ‘n swaar lyf val met ‘n slag teen die deur. Ek vlieg op, slaapdeprevasie, kaffiene tekort en menopous is ‘n plofbare kombinasie, veg en vlug skop in en veg wen. Ek klap die stoeplig aan, ruk die gordyn dat die ringetjies spat, sukkel met die sleutel, gil op die honde, kry uiteindelik die deur en hek oop, niks, net die bak wat nog in die rondte tol en’n spreeu wat my skeefkop sit en uitkyk. Die honde staan ‘n versigtige enjie weg.

Waaroor het die hele geveg gegaan? Die hondepille. Elke dag kry die honde hulle pille in hulle aparte bakke, anders baklei hulle, een by die voordeur en een by die agterdeur, en elke dag kom help die hele veervolk hulself aan die leftovers. Vanoggend was hulle baie vroeg en die hond wou keer vir haar brekfis.

 

As ek nou net die veervolk kan leer blaf. Sou die etters wil inbreek sal daar ‘n magtige geblaf uit die bome losbreek, sover as etter hardloop sal die veervolk volg, al blaffend agterna. As ek hulle nou net kan leer mik ook, dan kan hulle nog die etter so in die vlieg merk ook en dan kan ek dalk die polisie op die spoor uitstuur, soos Hansie en Grietjie en die krummels gevolg het. Ek dink ‘n goedgemikte hondepil kan dalk so effens skade aanrig of hoe?

 

En die polisie sal net met sambrele bewapen hoef te word……

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Vir Joanna

Maart 6, 2010 in Sonder kategorie

Ek het lekker ge-maaglag oor Joanna se buurman dilemma, die ene wat homself so mildelik aan hul arbeidsvreugd help. Tuinwerk is heerlik, vervullend, maar ook deksels harde werk. Daar is peste en plae (nie die buurman nie), swamme en siektes, droogtes en te veel water, bossies ens,ens,ens. Dis soos ‘n oorlog, maar, aan die einde van die stryd tree jy darem meestal met ‘n groentetjie of twee uit. Nie in Joanna se geval nie. Ek lees die nuutse organiese sprei is ‘n mengsel van knoffel en ander nie-so-welriekende plante nie. Knoffel is glo ook heel effektief om vampier se kind van jou lyf af te hou, so, dalk moet Joanna van daai reuse knoffel oral om en in die tuin plant, maar as daai orige buurman nou ‘n knoffel liefhebber ook is, dan moet sy maar by Natuurbewaring ‘n paar wolf slagysters gaan leen.

 

Die storie dra ek vandag aan Joanna en alle ander beleerde tuiniers op.

Ouma, (by wie ek grootgeraak het) vertel altyd die ware verhaal van haar swaer. Ons noem hom sommer Oom Koos, hy was getroud met ouma se oudste suster, ons ken haar almal as tannie Lief. Sy het nooit ‘n eie kind gehad nie, en net soos ek het sy haar maar getroos met die familie en bure se kinders, en later selfs die kleinkinders, sy is al diep in die negentig en baie kosbaar vir ons almal, maar terug na die storie. Baie, baie jare gelede was sy getroud met oom Koos, hy was ‘n harde man, meesterbouer, hande soos piesangtrosse, vel bruin en soos leer gebrand, harde werker, ‘n perfeksionis met bouwerk, goeie mens, soekend na God, (ek dink hy het in sy leeftyd aan elke soort geloof en kerk behoort van Apostels en Jehova’s tot die ander alternatiewe soorte, die wie hy se taal kon verstaan in alle geval), maar, so suinig soos die duiwel van self. Tannie moes alles self doen op die plasie, want hy betaal nie sy swaarverdiende geldjie aan arbeiders nie. Hy was nie baie tuis nie, was te besig met stadsale en kerktorings bou, hande so skurf dat dit verf van die mure kon afskraap. Die een jaar is dit ‘n mieliejaar, die mielies staan groen en geil op die lande, die koppe so swaar dit trek die mielies skoon skeef, maar niemand mag soveel as ‘n kop mielies pluk nie. Dis oom Koos se mielies. Kom hy by ouma-hulle of die ander bure eet hy homself boepens dik aan die groenmielies, maar uit sy eie land mag daar nie soveel as ‘n pit gepluk word nie. Tannie Lief verjaar en al wat leef en beef in die omtrek kom kuier soos net plaasmense kan kuier. Tannie Lief het gebak en gebrou, en sy mag maar bak en brou, dis koeke en handtertjies, melktert en koeksister, fyngestmpte biltong en vir die dorstiges, lemoenstroop en gemmerbier. Na die aand se kant toe word daar ‘n vleisie op die vuur gegooi, lekker stywe pap en tamatiesmoor is ook op die spyskaart. Laatmiddag keer Tannie Lief vir Pa en oom Ronnie voor. Stop hulle ‘n goingsak in die hand en jaag hulle die land in. Veel later kom hulle sukkel sukkel terug met die sak tot barstens toe vol met die heerlikste vars groenmielies. Hulle pluk dat die blare trek en kort voor lank ruik jy net mielie op die werf. Oom Koos wil weet waar al die mielies vandaan kom, waarop die konkelaars hom ewe onskuldig antwoord dat die twee jong latte dit by die buurman gaan steel het. Daardie aand eet oom Koos hom aan sy eie mielies dat die botter by sy elmboe afloop. Tussenin kry Pa en oom Ronnie so ‘n gemoedelike botter klappie op die skouer vir hulle vernuftigheid, die buurman se mielies is die jaar besonder lekker. Pa se hulle het vir baie lank agterna nog gelag oor oom Koos wat hom so ooreet het aan sy eie mielies.

 

Ek het ook jare gelede ‘n vriendin gehad met die langvinger siekte, ek het maar so af en toe gaan kuier en dan maar terug gesteel wat sy weggedra het. Dalk moet Joanna maar met ‘n mandjie in buurman se spens en vrieskas gaan kuier….

 

 

 

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Deep System Scan

Maart 4, 2010 in Sonder kategorie

So tyd terug is daar goggas op die skoot kompertjie, en elke keer wat ek die onthou stokkie by die werk so komper gebruik dan skree die anti virus, maar die skoot kompertjie se anti virus scan vir ‘n vale maar als wys skoon. Die mannetjie wat die IT goete doen kom laai ‘n nuwe gogga vanger, en skielik is my lewe baaaaaaaaaie skoon, maar baaaaaaaaaaaaie staaaaaadig. Dit verstreur die wit waks uit my uit, maar dit beter as die alternatief.

Begin van die week is ek besig met die maandeinde en jaareinde dinge en alles is so stadig want die anti virus is besig met ‘n “Deep System Scan”, gaan haal al wat pre-historiese werk is uit en ondersoek dit noukeurig, stof dit af, vryf dit blink en bere dit weer diep.

 

Vandag luister ek ‘n ou liedjie raak, hoor ek iemand praat soos jy, ek probeer werk, maar dis skielik asof alles om my stadiger is, dieper is. Vir ‘n baie, baie lang tyd het ek nie aan jou gedink nie, was jy ver, afwesig, maar die hele dag hoor ek weer jou lag… Sien ek jou wegstap in ‘n ander man se tree… Ruik ek jou, voel ek jou… My foon lui en ek wil jou hoor…

 

Ek is getroud, ek is lief vir my man, ons het ‘n goeie huwelik. Manlief is soos ‘n stil, diep, stroom. Elke dag is ek daar vir my man, die kinders, die mense om my. Dien ek, troos ek, dra en bemoedig ek, en dit maak my gelukkig. Ek is gelukkig, stil tevrede, rustig oor wie en waar ek is.

 Jy is ook intussen getroud.

Dit alles weet ek,

maar toe ons saam was, dis al 14 jaar terug,

was dit net ons alleen (Was hulle vir ons nog nie eers ‘n gedagte nie).

Dit was net ek en jy, dit was verskriklik, dit was wonderlik, dit was soos ‘n bergbrand en toe was dit verby en dit was reg, ek weet dit, ek het so gekies en ons het altwee so vreeslik seergekry en met die tyd saam het ons heel geword en met ons lewens aangegaan, en dit is soos dit moet wees.

Ek weet dit, ek weet dit, ek weet dit, maar hierdie dag ,hierdie uur, met alles stil om my, hier waar ek alleen sit en luister vir die stilte van die nag.

Mis ek jou verskriklik.

Haal ek ou onthou uit, stof ek dit af, vryf ek dit blink en bere ek dit diep.

My eie “Deep System Scan”.

Mis ek jou vanaand verkriklik.