Jy blaai in die argief vir 2010 Januarie.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Stilte

Januarie 29, 2010 in Sonder kategorie

Vanoggend aan die ontbyttafel noem ek dit aan Manlief dat Wilimirie more sou verjaar, 12 jaar oud. Op die drumpel van tiener wees. Hartskind wil weet, “Mamma, sal sy lekker speel daar in die hemel, sal hulle vir haar koek bak ook”?

 

Bokkie,

Tannie wil net se, ons mis jou vreeslik. Ons harte is nog seer oor jou, maar ons kan al lag oor onthou, ons kan al weer gesels sonder om te veel te huil.

Vlinderkind,

Jy het ons geleer dat daar ‘n Groter Plan is as wat ons hier van weet, jy het ons gewys dat ons elke dag, elke kind, moet koester, want julle kom nie met ‘n “ons” Lifetime Guarantee uit nie.

Oupa se Vakie,

Ons weet nou, dat elke foto, elke prentjie, elke briefie, elke haarlokkie en wisseltand kosbaarhede is. Ons weet nou dat daar nie altyd antwoorde is vir al die vrae nie, dat ons soms net maar moet stil word en aanvaar.

 

Jou lyfie leef nie meer nie, maar jy, dit wat jy was, leef nog hier in ons harte. Jy is by elke verjaardag, elke feesdag, elke keer as ons mal klomp bymekaar kom, jy kuier in gesprekke saam.

 

 Jy is nie hier nie, maar jy is nie weg nie.

 

Dis al beter, maar ons mis jou steeds, lief jou steeds, onthou jou steeds…

 

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Vreugde

Januarie 26, 2010 in Sonder kategorie

Vrydagaand staan babatjie teen Manlief se been, sy draai om na my toe, lag oopbek, en loop. Vier waggelende treetjies, na my toe. Gooi armpies wyd en val hier teen my vas. Hoe gee ek woorde aan die vreugde wat hierdie weggooikind in ons lewens bring? Wie verstaan die brandende trots in my hart oor daai eerste waggelende treetjies?

 

Ek is in trane, maar dis bly trane, ons piepklein babatjie is skielik, met daardie een tree, nie meer ‘n babatjie nie, sy is oppad na kleuter. Groot Ouma wat heeljaar, laasjaar na haar gekyk het kom in die nag oorgestap om die prestasie te aanskou. Ons lag en klap hande, hartskind spring op en af en vat baba se handjies, baba spring so op haar manier saam, hulle val op die mat in ‘n deurmekaar hoop van giggel en verspot wees. Manlief lag en tel sy meisiekinders op. Ek gryp die sel en stuur die boodskap die ruimte in.

 

Wees bly saam met ons, babatjie loop!!!! 

 

Hierdie kindjie, wat so apaties was, wat net vir die dak gele en staar het, wat ons gedink doof is, wat kort kort agteroor getrek het, oor wie dokters en pediaters gewonder het (Wat gaan mamma se drank en dwelmmisbruik aan hierdie baba doen?). Hierdie baba watnet so in die hospitaal gelos is. Hierdie baba is pragtig, sy lag en babbel. Sy roep vir Mamma en Pappa en Titta (Sussa) en Boeta, sy roep haar Oema, sy tuit haar lippies en roep die hond, Buddy, Buddy. Sy gee goedjies aan en se dankie, sy druk die speelfoon teen haar oor en se hajo. Sy maak malkoppie en druk die handjie teen die mond en maak wa-wa-wa soos ouma haar geleer het. Sy ondersoek haar wereld en klim en klouter oor al wat voorkom. Sy klim in die karstoeltjie en Brrimmm, Brrimmm, Sy tel die fynste, kleinste dingetjie van die vloer af op en bring dit vir jou. Sy vul ons harte tot bartstens toe vol met vreugde.

 

Hartskind is ‘n regte ousus, dra aan, pas op, gee drukkies en soentjies, gaan kyk kort kort wat in die babakamer aangaan, rapportteer elke middag oor wat sussie vandag by die skool ge-eet, gespeel, gedoen het. Twee weggooi kinders, twee kinderlose mense, een familie.

 

Ek wil ‘n bord by die hek opsit, “Vreugde bly hier”.

 

en vir die ou tannies met die stywe hare (die ene of twees wat suurlemoene suig vir ‘n lewe) die wat so kamma sag wonder oor die kinders wat so effens donker is, of oor babatjie se hare wat te veel na hul sin krul, en veral die ene wat so in Fruit en Veg gewonder het of my dogtertjie dan soos haar pa lyk. Vir julle wil ek net se, “Die Here het hierdie kinders vir ons gegee, hulle is nie uit my lyf gebore nie, hulle is uit my hart gebore, hulle is nie uit ons liggame verwek nie, hulle is uit ons gebede verwek”. So, bou vir jou ‘n brug, en kom daaroor…..

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Happy/Happie

Januarie 19, 2010 in Sonder kategorie

Mag een groot blixem straal my tref as ek weer so ‘n mal idee kry. Ek word toe mos 40, 99% van die mense kom, ek was later verlig as iemand laat weet hulle sal nie daar kan wees nie. (Maar nie jy Kerneels nie, jy was gemis) Woensdag begin ons Samoosas maak, 3 verskillende soorte, 11 uur daai aand is ek opgesamoosa. Donderdag doen ek salarisse en Vrydag begin ons saal regmaak, koop bestanddele, want ek kook net met vars goed, die middag begin die gaste arriveer en word summier in die werk gesteek, die Yalebi’s kom nie te bad uit nie en ek moet streng dog regverdig optree teenoor die testers.

Saterdag oggend het die mossies nog nie eers gehoes nie, toe begin ek brou.

Die Breyani se hoender word gemarinieer, die lensies en rys gekook, die naanbrood en roti’s gemaak, ons jaag heen en weer vir vars vrugte, sap, ys. Dis later all hands on deck, sus en seunskind se sleepsel versier die glase, seunskind irriteer die wit waks uit almal maar doen nie veel meer nie. Swaer speel stuurjong, kleinsus kap en rasper, beste mater en haar man bak poppadums. Ek kook Breyani, Butter Chicken en bak samoosas, als op een slag, ma maak dit Patra gaar en stres oor alles nie gaan klaarkom nie, maar, toe 4 uur kom, toe is ons klaar, gedress en gepress in ons regte egte indiese klere. Dit was ‘n heerlike, heerlike kuier, ons het gelag en gekuier en die arme vriende en familie het goed ge-eet wat hulle nie kan uitspreek nie, maar dit was lekker,

lekker, maar ek was op, klaar, poegaai, planke toe. Dit doen ek wraggies waar nie weer aan myself nie. Die wat wou weet wanneer ek weer so kos maak het huistoe gegaan met die resepte. Die ander moet maar Mr Delivery bel.

 

Die 2010 is glo die jaar waarin dinge gaan gebeur en soos ons ou mensdom maar is, het almal seker ook weer ‘m nuwejaarsvoorneme of ses gehad ( al was dit net om nie ‘n nuwejaarsvoorneme te he nie). Myne is eenvoudig

“Don’t sweat the small stuff” Carin (beste maat in Thailand) het altyd gevra “Gaan dit oor 10 jaar nog saak maak?” en dit is my gunsteling vraag deesdae, aan myself, aan my familie, aan my kollegas en snaaks genoeg, Dit “Freak” mense uit!!! Nou wonder ek net hoekom, en gaan dit hulle oor 10 jaar ook nog pla?

 

 

Aan almal in Blogland. Mag die voorspoed julle verveel in hierdie nuwe jaar. Mag julle almal heeljaar kaalvoet loop, nie oor armoede nie, maar oorlat julle uit julle sokkies gebless is. Mag ons nog lank en lekker mekaar se lief, se leed, se las, se vreugd deel. Be Blessed.