Jy blaai in die argief vir 2009 November.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Mal perde en afgronde

November 17, 2009 in Sonder kategorie

Dis weer een van daai dae gewees. Ek het gister met ‘n lied in my hart opgestaan, piepklein babatjie het vir die 4de aand deurgeslaap en ek het fris, vars en uitgerus voor die nuwe week gestaan, maar helaas, die dag het spoed opgetel, ‘n hoogte bereik, en net toe ek dink die Maandag besit nie eers ‘n drupseltjie blou nie, toe foeter die hele boksemdaais oor die afgrond.

 

Ek het ‘n gawe om mal perde op te saal. Ons huur mos by broer, die huise net ‘n draad van mekaar af, en die kuiers net met ‘n klein hekkie geskei. Toe kom kontak ‘n man, my man oor die plot en voor ek my oge uitvee is die kontrakte geteken en nou wag ons om te hoor wanneer ons moet trek. Manlief is mos ‘n agent en ek is nie onkundig oor die mark nie, daarom begin ek sommer dadelik soek vir ‘n ander holte vir die voete onder ons dak. Ek kyk die koerante deur, ek soek op die net, ek bel vriende en familie en jaag manlief se bloeddruk op. Verlede week sien ek toe iets waarvan ek hou, en die prys is nie te sleg nie, die huis is oud en ek weet manlief is tegnologies gestrem, maar ek gaan die slag my eie huis regmaak en nie weer iemand anders se plek nie. Ek bid baie hard, knyp die oge toe en maak ‘n aanbod. Maandag oggend bel die man van die bank, die aanbod is aanvaar, nou moet ek net die lening kry. Ek begin so ‘n warm bewerige kolletjie hier in my maag kry, ‘n plekkie van my eie, met ‘n boorgat, ek sal kan tuinmaak….

 

Die selfoon skel. Dis die nuwe maatskaplike werkster. Hartskind se ma wil haar sien, so gou as moontlik. Ses maande laas iets van haar gehoor, ses maande se vrede, ses maande se rustig slaap sonder nagmerries, ses maande se kindwees, blywees, sing en rympies opse. Hoe verduidelik ek vir hartskind dat haar ma weer wil kom kuier, hoe verduidelik ek weer ‘n keer hoekom sy laat is, nie kom nie? Hoe beantwoord ons weereens die maatjies se vrae oor hoekom Hartskind Donderdae vroeg loop? Hoe hou ek dit weer uit as ek moet “please explain” oor die bloukol op haar been, daar waar sy haar teen die swaai gestamp het, oor die nerfaf knie, die een wat sy geskraap het toe sy en die maatjies mekaar gejaag het en haar voet aan die gras vasgehak het? Hulle het haar verwaarloos, geslaan, met sigarette gebrand, vieslike name toegesnou oor haar vel nie lelie wit is nie. Sy was vuil, verhongerd, vreesbevange en vol wurms en kopluise, haar beentjies oortrek met sere, die doek so nat, so nat, die urine het teen my arm afgeloop toe ek haar optel. 

 

Ons het baklei, vir hierdie flenter kind, skaars twee jaar oud, maar klaar ‘n ou siel met bang oe. Ons het ontluis, ontwurm, salf aangesmeer, sagte kossies gegee. Ons het haar in ons huis en in ons harte ingevat en haar ‘n familie gegee. Liefde en aandag het die flenters heelgemaak, die ogies laat lag, die bekkie laat babbel, maar die verwerping van ma en sussie het gebly. Tot ses maande gelede toe ek gese het, genoeg is genoeg. Ek ry nie meer die kind agter iemand aan wat haar nie wil he nie, as die ma kom en vra om haar te sien sal ek haar bring, maar nie voor dit nie. Vir ses maande was daar stilte en vrede. Nou klim ons weer op dieselfde vodde wa en ry dieselfde uitgetrapte paadjie.

 

Die wet bepaal dat die biologiese ouer nie die reg ontneem mag word op sy/haar kind te sien nie. Die wet gee hulle regte en die wet en die regte moet beskerm word, maar wat van die kind, wat van ons wat haar liefhet asof sy ons eie is, wat se regte is daar dan vir ons?

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Mahala

November 10, 2009 in Sonder kategorie

Met die dat almal nou Kerskoors loop kry, wil ek ook my stuiwer in die armbeurs strooi. Kersfees is op hande, en ons sal maar moet daardeur, of jy dit nou wil ignoreer, die stand van sake wil betreur, of die dag wil “selebreer”. 

 

Met die in en uitloop kinders hier in ons huis het ons besef dat Kersfees nie altyd ‘n lekker dag is nie. Dit is vir party die dag waar pa en ma ekstra dronk en oproerig is, dit is die dag wat ek straat in moet vlug omdat ek van die kerktannie se kos wou eet en pa of ma wou dit eintlik verkwansel het vir drankgeld. Vir baie jare het ek nie eers ‘n kersboom opgemaak nie, want Kersfees het vir my ook maar afgewater geraak, maar vir die kinders wat nog net ‘n kersboom in die winkelvensters gesien het, was dit iets magies. Elke liggie en ornament word met sorg en baie nadenke op net die regte plek gesit en dan word die ogies groot van verwondering as die liggies veelkleurig, aan en af begin flits. Vir elke siel wat hier instap word vertel hoe die boom versier is, wie watter ding op watter plek gehang het en dan moet die besoeker sit, sodat hulle met groot opgewondenheid die liggies kan aansit. Wat se groot mahala (verniet) geskenk is die vreugde in ‘n gekneusde kind se oe nie, die vreugde van ‘n kersboom se liggies.

 

Ek is mal oor bak, maar nie mal oor kleinkoekies bak nie, dis een helse werk in bloedige hitte en dan verdwyn dit vinniger as wat jy kan se “Bakplaat”, maar so twee jaar terug het ek begin kleinkoekies bak vir Kersfees. Gemmerkoekies, Klapperkoekies, Hawermoutkoekies, Outydse Soetkoekies, koekies met kersies bo-op, koekies vol suiker en botter en allerhande speserye, ronde koekie, lang koekies, koekies met vulsels, en ek hou nie op voor ek op is nie. Nie veel bly by die huis nie, ons gaan deel dit uit. Met manlief se werk kom hy gereeld met die ellende in aanraking en net voor Kersfees, dan gaan deel ons bietjie soet uit in die bitter wereld, net ma en kleinsus weet in die familie daarvan, hulle moet help pakkies maak. Ek kan nie die wereld verander nie, ek kan nie groot en duur geskenke en gebare maak nie, maar ek kan koekies bak, self, met my tyd en hande en liefde,  en die gekneusde kinders help, dit maak die skoonmaak soveel erger, maar dit leer hulle ‘n kosbare les.” Omdat ek ontvang, kan ek gee” en “geskenke kom nie net van die winkelrakke af nie, die bestes kom uit die hart” Dis ‘n groot mahala om ‘n wyebek, uittand glimlag te sien oor die plesier wat ons koekies vir iemand anders gee.

 

Met grootword en ouer word het Kersfees vir my ook sy glans verloor, het ek ook onvergenoegd en verveeld geraak met die hele media hype en kerskataloguste wat al hier van Oktober af jou tydskrifte en posbusse verstop. Kersfees was maar net nog ‘n dag, net nog ‘n ritueel, net nog ‘n goeie verskoning om die kredietkaart te pynig, maar die kinders het die dag weer vir my kom teruggee. Hulle vreugde, afwagting, verwondering, hulle eindelose vrae, dit is wat die dag mooi en goed maak. Die nuuskierigheid oor watter pakkie myne is, die oopskeur, die vreugde, om ‘n bondel kinders tussen berge blink papier te sien, dit laat my glimlag. Ek koop nie sommer goed wat met batterye werk nie, ook nie “brand” goed nie. Ek hou van geskenke wat ‘n kind laat dink, laat verken, wat die deur na die wereld so effens wyer oopmaak. So my geskenke is nie altyd dadelik die gewildste nie, maar volgende jaar, dan geniet hulle dit nog, maar ek draai hulle in die mooiste blinkste papier toe, met linte en strikke ook, want die kyk en wonder en oopmaak is deel van die ervaring.

 

Dit bring my by my eie beste geskenke, en eienaardig genoeg was die meeste van hulle nie nuut, blink of toegedraai nie. Vriendin se koppies (ek dink aan haar elke keer as ek hulle gebruik) Skoonsus se koekbord (dit maak versier sommer ‘n plesier) Ou Abby hond wat pa vir my hier aangebring het, Tiger kat met sy een oog wat my hele hart kom volsit het, my groot vriend wat met sy lyf my die vreugde van vrouwees teruggegee het, die sak kraalmis wat hy in my tuin kom inwerk het, Hartskind wat vanself vir my mamma begin se het, babatjie se sagte warm lyfie wat teen my bors slaap, die liefde en aanvaarding van my familie en vriende vir hierdie kinders, die heelword van ‘n gekneusde kind, my mos mensies wat my aan hulle harte en in hulle gebede koester. Wat maak Kersfees lekker, nie die ontvang nie. Dis die gee, dit maak Kersfees vir my lekker.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Mamma ek soek daai man

November 5, 2009 in Sonder kategorie

Toe ma my verwag het was daar nog nie sonars en al die lekker dinge nie. Jy kon nog nie op ‘n stokkie pieps en ‘n paar minute jubel of in sak en as gaan sit nie. Die dokter moes bloed trek, dit wegstuur en dan moes jy wag vir die OPROEP….

 

Die ou dokter (hy het my ma ook in die lewe gehelp) het toe op ‘n stadium my arme jonge moeder se senuwees aan flardes gehad met die nuus dat sy dalk moontlik ‘n tweeling verwag, maar helaas, toe ek op ‘n warm Desember middag my verskyning maak, was dit maar net ek. Een, nie twee nie, maar ek kon maar net sowel twee gewees het, ek het ons albei se hare, hormone en heupe gekry. Thanx non-existent other me. Dan is ek nou ook nog ‘n boogskutter, soos goeie oorlede vriend Monts altyd gese het “Half mens, half moe….”. Gevaarlik van al die kante, pylpunte dies kant, hoewe daaikant. Vriendin in Thailand het dan altyd teruggekap met, “Ja, maar so heerlik gegrond, so veelsydig, uniek”, ek het my maar uit hulle struwelinge gehou, persoonlik dink ek dis my vreemde vriende wat my gevorm en geslyp het. Ma het by meer as een geleentheid gesug en gevra “Ai, my kind, kan jy nie so af en toe ‘n gewone mensie huis toe bring nie”? Lees my reg, ek het doodgewone, doodgoeie maters ook, nou nog, en ek lief hulle baie, baie. MAAR… Die enetjie wat net so buite die samelewing se kassie verbysteek, wat hier ‘n skewe punt het, of daar ‘n funny plooi het, met hulle kon ek my vereenselwig, miskien omdat ek ook nie so lekker in die wereld se kassie vir my pas nie, en nie eers ‘n streng dieet sal help daarvoor nie, maar terug na die onderwerp…

 

Ek is by al my gekheid eintlik ‘n baie praktiese mens, logies ook (wel soms), en eintlik heel handvaardig. Die handvaardigheid verstom gereeld veral my pa en boet. Dis nou wanneer hulle vir manlief gelukwens met een of ander spyker in die muur, duiwehok se draad wat reggemaak is, muurprop wat herstel is, gloeilamp wat vervang is, ens. en hy ruiterlik erken dat dit my handewerk is. Ek lees skelm DIY boeke, net om hulle gesigte te sien!!! Ek vra al vir jare vir gereedskap (Powertools) vir Kersfees maar die idee van my met ‘n boor of elektriese saag laat die manne in die familie flou voel, van die vroue ook vermoed ek.

 

Saterdag word onse piepklein babadogtertjie 1 jaar oud en ek het vir die kindertjies ballonne gekoop. Van daai langes wat so gebuig en gedraai kan word, kul jou hier, kul jou daar en siedaar, die ballon is ‘n poedel, ‘n blom, ‘n swaard!!!!! Gisteraand besluit ek en manlief ons sal seker so bietjie moet oefen, daar is tog baie duidelike instruksies, en hoe moeilik kan dit dan tog wees??? Vrek moeilik. Dis hoe. Ons pomp ballone op met die ingeslote pompie, maar die goed wil nie saamwerk nie, dit lyk soos ‘n slang wat eiers gevreet het, vol knoppe. Ons kry dit nie vasgemaak nie, die lug bly ontsnap. Ons vind later per ongeluk uit dat jy die ballon eers so moet rek en strek, dan werk dit beter. Manlief se arm is later al lam gepomp (hy is ok darem nou nie meer ‘n tiener nie) aan die ballonne. Uiteindelik het ons drie redelike lang ballone. Manlief draai en knoop (nie net die ballon nie !!**#(*^$%@&, van daai knope ook). Twee gebarste ballonne verder gee hy moed op, maar ek byt vas, en met  meer as voldoende gesukkel kry ek dit reg. Een standaard blou poedel, ek is so trots op myself ek kan bars. Manlief bars ook, uit van die lag, “Wat se ding is dit?” Nou raai hy kamstig, ‘n kameel met haasore, ‘n kameel met water op die enkels, ‘n worshond wat wolke kan jaag, met daai stert kan hierdie gedierte vir ET laat huis toe bel, en so aan, en so aan. Nodeloos om te se, my bubble is nou ook gebars.

 

Nou soek ek daai man. Daai ene wat altyd langs die hysbak in die Mall staan. Hy blaas die ballonne so sjoep, sjoep op en kierts karts draai hy honde wat soos honde lyk, daisies en swaarde, voeltjies wat in harte sit, als sommer so terwyl hy een van die kroos oortuig dat hulle nie sonder een van sy skeppings deur hier die shopping gaan kom nie. Waar is jy? Ek het die kiddies ballonne belowe en myne is gebreklik. Waar is jy?

HELP!!!!

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Toffie

November 4, 2009 in Sonder kategorie

Met al die matrieks wat nou eindeksamen skryf en waarvoor die meeste nou eers skielik hulle dood wil begin leer, dink ek aan gesegdes.

 

Ek is mal oor gesegdes, wel ek is soms sommer net mal ook, maar dit is nou nie waaroor ek wil skrywe nie.

 

Met die dat ek nou so tussen die engelse werk, haak ek soms lelik vas as ek ‘n afrikaanse gesegde letterlik in die rooi taal wil oorvertaal.  Met die oorvertaal verloor die woorde dan ook heel dikwels hul trefkrag. Ek is nou nie juis 7de laan se grootse kyker nie (ek bedoel dit figuurlik vir die wat my ken), maar die slag wat ek wel in die laan gaan kuier, verstreer oubaas se slagting onder ons afrikaanse gesegdes die wit waks uit my uit.  Ek glo dat ‘n taal moet leef, en geen taal of vir wat dit werd is, enigiets anders, groei as dit stagneer nie, maar wat darem uit daardie mond kom, laat my hare rys.

 

So sit ek en manlief nou die aand oor die nuutste van boeke en gesels. Manlief  is nie ‘n boekwurm nie, ek is, en trots daarop, dis boeke wat elke maand die budget uit sy nate laat bars, en dit lyk asof ek die kroos aangesteek het!!!!  ‘n Tydjie terug het ek vir manlief Os Durant se biografie gekoop, en na maande se lees het hy dit uiteindelik klaargekry. Hy het in die 5 jaar van getroude lewe seker 3 boeke gelees waarvan ek weet, en dit was maar met lang tande gedoen.

Hy was seker bang hy kry weer ‘n boek in sy kerskous, die dat ons toe skielik oor boeke praat, daai ene oor die man in die spieel. Hy kry die man tog so jammer, die media gaan hom seker nou weer kruisig, maar hy stem nie saam met wat ta gedoen het nie, en hy wil veral nie daaroor lees nie, word ek so met ‘n ompad vertel (asof ek my swaarverdiende geld op ‘n bieg en brag boek sal uitgee!!!), en net daar is die vet in die vuur.

Ek voel nie vir hom jammer nie, ook nie vir die vrou/vroue nie. Hulle is grootmense, wat gekies het om te doen wat hulle gedoen het. “You do the crime, you do the time”, maar my hart gaan uit na die kinders, hulle is werklik ondskuldig, en hulle gaan saam betaal aan pappie se plesiere.

 

Wanneer gaan ons grootmense, en veral die beroemdes (hulle is rolmodelle, goed of sleg, of hulle nou wil of nie) verantwoordelikheid begin vat vir wat ons pleeg? Hoekom nie soms net die mensdom verras met die waarheid nie? Ek het soveel respek vir iemand wat kan opstaan en se” Ek het aangejaag, dit was verkeerd, ek is opreg  jammer daaroor, ek sal nie weer nie”. maar ongelukkig is die norm vandag om eers oor alles te lieg, dan jou vuil wasgoed in die openbaar te was, met jou in die rol van verontregte, dan die wasgoed eers weer goed deur die modder te gaan sleep, dit dan oor ‘n ander draad te hang en wanneer die waarheid jou dan hier aan die kort hare beetkry, ‘n boek daaroor te skryf. “O, en moet tog nie vergeet om die artikels in die Sondag koerante en die Tydskrifte te lees nie, daarin sal jy al ses variasies van die waarheid kry, uit die perd se bek uit nogal”.

 

Kindertjies leer nie veel uit woorde nie (behalwe vloekwoorde, die leer hulle teen die spoed van wit lig aan), hulle leer uit dade, ons grootmense se dade, en dit maak my benoud. Wat leer ons kinders vandag oor morele waardes, oor respek, oor liefde? Hoekom is ons vriendelik en beleefd teenoor mense van ander rasse, seksuele voorkere, mense wat anders is as die norm,  in die publiek, maar tuis, daar word ‘n ander deuntjie gesing? Wat leer ons kinders? Dis ok om ‘n tweegesig te wees.  Dis ok om te lieg,te steel, egbreuk te pleeg, te diskrimineer, te verkleineer, moet net nie uitgevang word nie.

 

Ek is nie volmaak nie, ek is allermins heilig, maar ek is verantwoordelik. Soms dink ek te veel, maar eendag, as my krosie die grootmense is, hoop en bid ek dat hulle die regte lesse by my geleer het. Lesse oor liefde, respek, aanvaarding, begrip. Lesse oor wat reg en verkeerd is, oor om sag te werk met die aarde en al sy inwoners. Om die om jou in die oe te kyk, as gelyke, nie as meerdere of as mindere nie. Om te onthou dat ‘n leuen ‘n kort been het, en dat die waarheid altyd seevier.

 

Hierdie is feite, ons kan nie daarby verbykom nie.

 

So, jy, held, met voet van klei, wees verantwoordelik. Jy het jou uitgegee vir ‘n toffie, moet nou nie huil as jy gekou raak nie, vat jou pak soos ‘n man, bou daai brug en kom daaroor.

 

En vir ons met die geraamtes in die kaste, ons wat daar agter die deur staan, onthou mense wat in glashuise bly, kan nie klippe gooi nie en trek om hemelsnaam tog jou gordyne toe as jy wil vuil wasgoed was. “EK WIL DIT NIE SIEN NIE!!!