Jy blaai in die argief vir 2009 Oktober.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

40

Oktober 28, 2009 in Sonder kategorie

Ek word in Desember 40. Ek kan nie wag nie.

 

So gesels ek en ander mater nou die dag, en sy is in diepe rou omdat sy daardie dag 30 word. Sy is in trauma, tranerig, erg emosioneel, skoon opgewerk, oor 30 word. Ek, die minder taktvolle, mens wat ek is, sit haar so en kyk. Sou sy nou ernstig wees? Kan dit so erg wees? Dertig is mos niks nie? Ek het haar so pas die mooiste wense toegewens, die lewe le oop voor haar en sy gaan aan asof ek haar pas vertel het daar is nie rerig feetjies in die Karee Boom nie.

 

Ek wil nooit weer so jonk wees nie… Nee Dankie, vir al daardie drama sien ek wragtie nie kans nie. Ek is nie die skerpste mes in die laai nie en behalwe dat die koppie so dan en wan raas, dink ek, ek is nie te onnosel nie, maar tussen 20 en 30, dankie tog, nie weer nie. Ek is getroud op 20, helse huwelik van wittebrood tot egskeiding 5 jaar later. Ek het so baie verloor in daardie 5 jaar, myself, 2 babas, my huis, alles wat mooi en goed was hier binne my, my lag. Ek het in die huwelik ingestap met sterre in my oe, nie geweet sterre kan uitbrand nie, en uitgestap, stukkend, seer, tot die dood toe ontnugter, ‘n sielsmoeg, verbitterde stuk mens. Dit het my weer 5 jaar gevat om mens te word, heel te word, sterk in myself te word, weer in my vrouwees te glo. 10 Jaar se opdraende pad, duwweltjie pad.

 

Toe word ek 30, en ek kry weer my voete onder my boude in, en ek weet wat ek uit die lewe wil he, en waar my grense strek. Ek kyk die lewe vierkant in die oog en kies dit wat vir my goed is. Ek leef my vriendskappe uit en trek my mosmensies nader, ek lag vir die dag van more en sprei my vlerke. Ek raak vreeslik verlief en vergeet vir ‘n tyd van soetwees, ek verbreek die verhouding want dit is nie wat ek uit ‘n verhouding wil he nie, al was die seks onvergeetlik, ongelooflik, so reg uit die storieboeke uit (Nota aan mans: ‘n vrou is net so koud, of so warm, as wat jy haar maak). Ek leef in die dag en laat vrees en onsekerheid iemand anders lastig val, dis lekker om ek te wees. Op 35 trou ek sowaar weer en later kom die kroos by. Ek staan op die drumpel van 40, en ek is opgewonde. My hare het silwer strepe, die lagplooie is meer, die kuiltjie in my wang raak dieper en langer, die bene kraak soms as ek skielik opstaan, maar ek geniet die kroos, ek raas en blaas en breek hulle seerkry-huise af, ek koester kinders en vriende, pasiente en pelle. Ek weet dat ‘n soen ‘n seerplek kan wegtoor, dat ‘n drukkie trane kan laat opdroog. Ek word kwaad en vertel almal daarvan, ek word goed en vertel almal daarvan. Ek is nie bang om te praat nie, ek weet dat geheime mense se hande afkap en harte toesluit. Ek kyk met sagter oe en ‘n sagter hart na die mense om my, en knoop hulle welstand in my gebede vas. Ek sien hoe my Hemelse Vader my daagliks bederf met klein wonderwerke, hoe ongelooflik Hy vir my voorsien. Soms word ek hartseer en dan is ek sterk genoeg om te huil, te rou, te verlang, maar nie soos een sonder hoop nie. Ek is stil gelukkig, die meetsnoere val vir my op lieflike plekke. Wil ek tyd terugdraai?  Nee.

 

Ek word Desember 40.

Ek is opgewonde daaroor.

Ek gaan my mosmensies (ja jy ook Kerneels) nader trek en vir hulle al my gunsteling geregte maak, of dit pas of nie. Puri en Partha, Naan brood en Roti’s met kerries, klein samoesas, suur slaai en dhaltjies, basmati rys met lensies, ag sommer al wat lekker en spicy is, en vir die beswaardes wat dink Desember in die Vrystaat is effe warm vir al die brandgoed…..

“SO WHAT” Dis my verjaardag en ek gaat hom vier soos ek wil!!!!!!