Jy blaai in die argief vir 2009 September.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Op/oor/klaar

September 7, 2009 in Sonder kategorie

Vrydagaand bel kleinsus, praat oor alles en nog wat. Ek skuif later die bord weg, manlief vat vir baba en gaan kyk TV, hartskind neul om ook met kleinsus te praat, maat loop maar later ook weg TV toe.

Toe die bom.

Hy’s dood ousus.

Wie?

Die man wat die ongeluk gemaak het…

Ek kry nie woorde uit nie, die kos sit dik in my keel. Ek gryp die glas water, maar daar sit ‘n stuk lood in my keel.

Kleinsus bly praat…, selfmoord gepleeg…, het al voorheen probeer…

Ek kry die water gesluk

Kleinsus vra, “Ousus, wat dink jy, ek weet nie eers hoe ek hieroor voel nie?

“Goggie het gese dat sy vir die ou jammer voel, want as hy gedink het hy gaan k*k kry hier op aarde, weet hy seker nie wat se k*k nou vir hom voorle nie.

Ma en sussa voel jammer vir sy familie,

Vir seunskind is hy lankal dood, hy het hom laat gaan,

Pa wil nie daaroor praat nie,

Ek weet nie van die ander nie”

Hoe voel jy daaroor?

My stem is hees, die lood le swaar op my stembande.

Ek voel verneuk. Ge-cheat. Hoe durf hy die reg in eie hande neem. Hoeveel maande wag ons nie al nie. Wag ons vir reg en geregtigheid om te geskied. Dis hoe ek voel.

Verneuk

 

Vandag stuur sussa vir my ‘n e-mail. Kerneels het sy foto en ‘n klomp boodskappe “In Memoriam” gestuur. Die foto laai stadig af, stuk stuk verskyn die monster se gesig. Die monster wat vir maande al in my nagmerries leef kry uiteindelik gestalte en hy lyk so verskriklik gewoon, selfs effens pateties, nie ‘s sterk gesig nie, nie ‘n gesig met karakter nie, sommer net ‘n gewone gesig.

Dan lees ek die boodskappe, word verskriklik naar, gaan haal eers groot happe lug buite, kom terug, lees weer die boodskappe, moet eers weer uitgaan. Ek kan nie eers verder werk nie, sit net so vir die skerm en kyk. Die woorde spring uit en dans voor my oe “Dit het die Here behaag om van ons weg te neem” Selfmoord behaag Hom? “Vrede in jou hart” Dit dryf jou na selfmoord?  “Goedhartigheid en vrygewigheid” Met wat, omkoopgeld, leuens, lewens wat jy met jou dronkenskap verwoes het?

Die suster kom sit langs my, “we must pray for this family” Ek kyk haar met dom oe aan.

Iemand het my lank, lank gelede gevra of ‘n mens vir domgeid kan bid. As iemand nou oor en oor die selde dom fout maak, en elke keer dan vir almal om haar vra om vir haar te bid, kan jy dan later bid vir domgeid? Ek het geantwoord dat ons juis dan vir haar moet bid, of sy nou bieg of brag, sy het gebed nodig. Al bid jy dan nou net vir haar domgeid. Vandag draai daai woorde toe om en kom hap my op my eina.

Ons moet vir die families bid, ons s’n, syne. Dat ons nou hierdie hoofstuk kan afsluit, dat hierdie nou klaar is, oor is, op is.

Vir ons was hy monster, dronklap, iemand wat lieg en bedrieg om sy eie bas te red.

Moordenaar

maar

Vir sy familie en vriende was hy dalk iemand anders. Was hy dalk seun, broer, familielid, vriend. Daar is mense wat vir hom lief was, net soos daar mense was wat vir Hitler lief was, hom bewonder het. Wat vir Mugabe lief is, hom bewonder.

Ons het die donker kant gesien, net die donker kant, maar vir ander het hy dalk sy ligkant laat ken.

Ek voel jammer vir hulle. Jammer vir die vrae en die onsekerheid. Jammer dat hulle Woensdag langs ‘n oop graf sal moet staan. Jammer vir ouers en famile en vriende wat moet afskeid neem. Ek weet waardeur hulle gaan,  en suster is reg…

“We must pray for this family.”

Almal van hulle.

Ons pad is al ‘n stuk geloop, maar hulle doringpaadjie begin nou eers.