Jy blaai in die argief vir 2009 Augustus.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Mugabe Goodbye

Augustus 31, 2009 in Sonder kategorie

Daar is ‘n lied, ek dink Audrey Landers het dit gesing, daar is een lyn wat al van gister af in my kop vassteek. Iets soos “Manuel, goodbye, it’s time for you to go.” Ek weet nie wat die res van die song is nie en ek gee ook nie regtig om nie, want vir my is die nie Manuel nie, dis Mugabe wat moet koebaai.

My dak het gesak. Ek het lanklaas geblog, ek het nog gefunksioneer maar die woorde wou nie kom nie, altans nie die wat ek hier kon skryf nie. Ek was so moeg, vir sommer alles, vir misdaad, vir dronk mense, vir almal wat deur die lewe cruise sonder om aan die res van die spesie te dink, vir almal wat maak en breek sonder om ooit enige verantwoordelikheid vir enige van hulle dade te aanvaar, vir slegte ma’s en pa’s. Verstaan my mooi, ek was nie depressief nie. Ek was sommer net op, moeg, gedaan. 

Ek is een van daardie onnoselike wesens wat altyd in beheer moet wees, terwyl Jericho se mure ineenstort sal ek help mense ontruim, noodhulp toepas, ‘n posterboard organiseer sodat geliefdes mekaar kan vind, bloed en snot en trane afvee, hande vashou, lyke uitle en troos, terwyl chaos heers sal ek die kalmte vanself wees, maar……

As alles verby is, en al die ander oor alles is en weer cope, dan sal ek iewers eenkant in myself ineenstort, maar nie so dat ander dit sien nie, miskien kleinsus, want sy is ook van die tipe. Ek sal aangaan met die lewe, maar nie rerig deelneem nie, soos iemand wat op die sypaadjie staan en kyk vir die parade wat verbygaan, daar, maar nie deel nie.

My dak het gesak en uiteindelik het gehuil oor Wilmirie, soos ek daardie eerste dae moes al gehuil het, oor my sus en haar familie,en die feit dat ek magteloos is om dinge vir hulle beter te maak. Dit was nie lekker nie, maar dit was helend. Ek het gehuil oor al die kinders wat hier was en wat weg is, ek het gehuil vir die babas wat se ma’s hulle in asblikke, toilette, stegies en systraatjies los. Ek het gehuil oor die 15 kinders wat ek verlede week help toets het vir HIV, vir die 13 wat positief is. Ek het werk toe gery en soms so gehuil dat ek eers moes stilhou langs die pad. As trane jou siel skoon was, is myne nou redelik wit, daar is nog hier en daar ‘n dowwe kol. Hartskind se ma is een, JJ Smit ‘n ander en van Sondagmore vroeg, Mugabe.

Oupa se een suster bly in Zimbabwe, sy was ‘n onderwyseres, vir baie jare, Tannie Sofie Hart. Haar man, oom Jan is gebore in Zimbabwe, hulle het twee seuns daar grootgekry. Hulle het die bloedige moorde oorleef toe Mugabe aan bewind gekom het. Hulle het sendingwerk onder die mense gedoen, ‘n kerk gebou, brood uit hulle monde gevat om vir die mense om hulle te gee, hulle wou nie terugkom nie, hulle hele lewe, hulle mensies was in Zimbabwe. Hulle het geglo dat alles nog sal regkom, dat daar hoop is vir die land en sy mense, hulle mense. Telkens het die veterane gekom, telkens is hulle met gebede weggestuur, maar die duiwel en sy trawante is listig. Saterdag het oom Jan by vriende gaan rugby kyk.

Hier is wat ek glo heel waarskynlik gebeur het. Tant Sofie is in die kombuis besig, daar is ‘n klop aan die deur, dis iemand wat kos of hulp vra, tant Sofie maak vir hulle die deur oop… Oom Jan kom tuis, die huis is stil, Souf!, Souf!, sy roep weergalm, hoekom le haar bril op die kombuisvloer? Souf!, Souf, roep hy harder die keer, hoekom le haar een skoen dan hier in die gang?, Souf!,Souf!!!!. In die kamer kry hy haar, sy is al koud, haar liggaam broos in die dood, vol bloukolle soos hulle haar geslaan en geskop het, die merke van die hande wat die laaste asem uit haar gepers het, nog om haar keel. Het hulle iets uit die huis gesteel? Ek weet nie, dis irrelevant. ‘n Skraal brose vroutjie van diep in die sewentig is dood.

Soos ek haar geken het, het sy hulle met haar laaste asem vergewe, het sy dalk nog vir hulle gebid. Sy was so maer toe ek haar die laaste keer gesien het, dat sy anoreksies gelyk het, haar suster het met haar geraas omdat sy nie beter na haarself kyk nie. Haar verweer, ai, sus, hoe eet ek as die mense om my nie ook ‘n stukkie brood het nie.

Oom Jan, ek weet dat jy troos in jou geloof en in die familie sal vind, daar is ‘n groot leemte gelaat. Tant Souf, rus sag, jy was ‘n lewende bybel vir ons gewees.

Vergifnis het altyd so maklik vir my gekom, onvoorwaardelike vergifnis, en daar is vir ons almal vergifnis, daar was selfs vir die moordenaar aan die kruis langs Jesus vergifnis, maar wat deesdae onder my gesakte dak woel is die volgende vraag.  Die moordenaar aan die kruis het opregte berou getoon, ons word geleer dat as ons ons sonde bely en opregte berou toon, ons vergifnis ontvang.

MAAR, wat as daar geen berou is nie?

Nie opregte berou, of selfs geveinsde berou nie, wat as daardie persoon nooit verandwoordelikheid vat vir sy/haar/hulle dade nie ??

Daar was mense wat my te na gekom het, maar wat agterna gekom het en om verskoning gevra het en ek het hulle vergewe en ons het aangegaan met ons lewens, sonder daardie rots van seerkry tussen ons. Ek het al dinge aan dierbare mense gedoen het, dinge waarvoor ek hoed in die hand moes gaan vergifnis vra het, en ek het dit ontvang en ons het aangegaan sonder daardie rots van seerkry tussen ons. Ek weet ook dat vergifnis vir jouself is, dat dit jou en die ander persoon vryspreek. Dis die wonderlike ding oor vergifnis, dit spreek jou vry.

Ek het ook al gesien dat haat en onvergewensgesindheid, mense fisies en psigies siek gemaak het, daardie rots van seerkry vergruis later alles wat mooi en goed is in iemand se lewe. Juis daarom wil ek vergifnis uitspreek, rerig ek wil, nie net omdat ek as kind van God daaraan glo nie, maar ook omdat ek nie wil dat daardie rots  van seerkry meer dinge in ons gesin en familie moet vergruis nie, maar my vraag is steeds.

Vir albei die partye, die een wat vergifnis moet gee, en die een wat vergifnis moet vra. Wat beteken vergifnis, sonder opregte berou?

Ek het al vir iemand gese, ” Ek vergewe jou” en dan het daardie persoon gelag en gese, “Hoekom wil jy my vergewe, ek dink nie ek het iets gedoen waarvoor ek vergewe moet word nie”

Wat beteken vergifnis, sonder opregte berou?