Jy blaai in die argief vir 2009 Mei.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Sleg ma

Mei 4, 2009 in Sonder kategorie

Ek weet ek is nie baie objektief oor slegte ma’s nie.  Met al die kindertjies wat hier deur my hart en huis gaan, het my hart hard geword vir al hulle selfsug en nimmereindegende verskonings, maar dis nie daardie tipe slegte ma wat ek vandag oor gal braak nie.

My man vlieg mos duiwe, ek het gesoek tot ek ‘n man kry wat nie die voor en agterkant van ‘n duif uitmekaar ken nie, maar helaas. Pa het hom ge-convert, en ek wat altyd vir ma gepreek het oor hoe sy dankbaar moet wees dat pa nie in kroee rondkuier nie, moet nou my eie woorde sluk. Duiwevlieg is nie vir sissies nie, en dis duur. Die bloemin duiwe word gepil en gepoeier en ge-ent en gedip en gebad ens, ens, ens. Die vliegseisoen beteken zero sosiale lewe, Donderdae, Vrydae, Saterdae en Sondae word die duiwe of ge-mandjie, of gelos, of geoefen of ingeklok en die selfone raak warm van “het jy al ‘n duif?”, maar daar is lekker ook, die mense is ‘n soort van hul eie, dierbaar, die sout van die aarde. So leer ons die oom en tannie ken, die oom stil en rustig met die heerlikste droe sin vir humor en die tannie so kwaai soos die duiwel vanself, maar met ‘n hart van goud en ‘n oop hand vir ander. Na die Pastoor se bedwelmde kleinseun en sy gomtjomme ons soveelste hondjie gesteel het, gee die tannie vir manlief ‘n hond, so regte teefhond, ek en sy hou van dag een af nie veel van mekaar nie, maar manlief is in die sewende hondehemel oor sy “Skat”. Sy vreet my skoene op, vang sy duiwe, spring die kinders om en maak ‘n oorlas van haarself, maar manlief is horende doof en siende blind vir die “Skat” se foute. 

Toe raak sy vryerig, en ‘n vryerige teef is ‘n vieslike ding. Toe byt sy en die blessit bokser van boet my ou Abby hond so erg dat ek haar moes laat uitsit. Het ek dit genoem dat ek net mooi niks van die hond hou nie, dat manlief geen foute in haar sien nie en dat as ek praat van regmaak hy met ‘n groot stem verkondig “DIS MY HOND!!!” Wel sy “Skat” en die bokser het op Vryheidsdag 13 mongrels ryker geword, een het sy of bokser opgevreet, nog vier is doodgetrap en nou wil sy nie die ander 8 melk gee nie, hulle tjank van vroeg al af en as ek haar kas toe jaag, hol sy net so ‘n draai en gaan blaf dan vir die bure se honde by die draad. Slegte ma, en nou wil manlief weet wat gaan “ONS” doen, “ONS” moet nou iets aan die babas se lot doen, maar vrylik vertaal beteken sy “ONS” eintlik “JY” en ek het my eie weggooi babatjie om na te kyk.  Ek gee alreeds warm melk met eier in geklits, lewer en petmince vir die ma, my hele huis budget  uit gegee vir die dem hond. Ek het al babahonde met die bottel grootgesukkel en dan was ek lief vir die honde, maar die gebroedsel, ek sluk swaar aan die plig, maar ek weet, en hy ook, dat ek nie nie babas sal laat swaarkry nie, so “ONS” sal seker maar iets prakseer.

Terug by mensbaba, baie dankie aan almal wat met raad bygestaan het, ek het die bruinsuiker in die melk probeer, die massering (Lieflike olietjies by Woolies gekry), die fietstrap met die beentjies en einde ten laaste “Rissiepit” se enima. Baba vroetel en voes nou die aand en nie lank daarna ruik ek dooie rot in die doek, haal af, so klein ronde, klipharde bolletjie, maak skoon en sit skoon doek aan. Na ‘n wyletjie vroetel en voes sy weer en ek verbeel my ek ruik weer iets, trek doek se beentjie oop en druk 2 vingers in die bollie. Manlief hardloop vir lappies en doek, hartskind vir die plastieksak en ek maak die doek oop, en daar is nog twee harde bolle, met sagte bollie rondom, en bo-op die pakkie, ‘n volmaak gevormde enima…