Jy blaai in die argief vir 2009 April.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

SOS

April 23, 2009 in Sonder kategorie

Gee asb raad, al die slim mense en biologiese moeders. Ek is vanoggend moeg en raadop.

Ek kla nie oor ek moeg is nie, maar ek is moedeloos verby. Baba sukkel vanaf dag een met haar magie, in die 2 maande wat sy by my is het dit nog net 2 keer vanself die ding gedoen. Ek was al by die dokter, die klinieksuster weet klaarblyklik nie veel van babas nie en my ma en ouma wil net Lennons ingee!!!

Baba se ma, die een wat geboorte gegee het, was fisies dronk en op ‘n Crack trip toe die ambulans haar daar by die hospitaal aangebring het. Baba is op 32 weke gebore, 8 weke vroeg en was 12 dae in die hospitaal voordat sy uiteindelik na ‘n plek van veiligheid gegaan het, en daar het ons haar loop haal. Sy is op ‘n soya melk vir moonlike allergie en sal daarop moet bly totdat sy 6 maande oud is (m.a.w) haar 8 maande. Ons mag niks vir haar gee wat enigsins enige alkohol bevat nie, en bykans alle babamedikasie, behalwe Panado bevat alkohol as preserveermiddel, selfs al is dit net in in miniskule hoeveelhede.

Sy drink ook glad nie, en ek bedoel, glad nie as sy wakker is nie. Ons moet wag tot sy slaap en dan drink sy pragtig, maar ai die ou magie. Sy bal haar vuisies, trek agteroor of krimp ineen, druk geweldig en huil verdrietig, dit breek my hart. Op die oomblik is al wat bietjie help Telament druppels. Volgens die suster moet ons haar voginhoud verhoog, maar hoe maak jy ‘n kleintjie meer drink as wat sy wil drink.

Moenie my verkeerd verstaan nie, sy groei heeltemal binne perke, en sy tel gewig op soos sy moet, maar elke dag is ‘n stryd om kos in en weer uit die lyfie te kry. Ons het ‘n mate van sukses gehad met gliserien setpilletjies maar dit kan jy nie aanhoudend gebruik nie.

Ek is nie dom met babas nie, die enetjie le dalk net nader aan die hart as al die ander, maar as sy so seer kry wil ek saamhuil. As iemand raad het sal dit opreg waardeer word. 

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Wie onthou…Nino de Angelo

April 20, 2009 in Sonder kategorie

 So sit ek laas week by die ouditeur se kantoor en wag, ek blaai so hier deur ‘n tydskrif, verstaan nie veel van die finansiele tale nie en raak nie vreeslik opgewonde oor enigiets wat daar te lese is nie. Tyd is deesdae my kosbaarste kommoditeit en as jy my nou witwarm van furstrasie wil he, dan moet jy nou kom staan tyd mors.

Hier in die agtergrond speel die musiek saggies, moet ‘n cd wees want daar is nie ‘n sinnelose gebrabbel of advertensies tussenin nie, mettertyd pas my ore aan by die volume en daar hoor ek dit duidelik “Samurai, it’s too late for goodbye” Haai jinne mense, raak ek skoon bewoe van die heimwee. Ek vergeet skoon van die ouditeur, my gedagtes gaan kuier op baie ver paaie terug…

Van daardie oogkontak, wat skielik net anders is. Van so ‘n snaakse hitte wat hier in jou kom blom as hy die vertrek inkom. Julle was nog altyd maats wat alles saamdoen, maar nou verlaat jou woorde jou en bloos jy as hy net in jou rigting kyk. Van nie geweet dat een mens se hande vir jou so mooi kan wees nie, van sagte soene, sag, sag, warm, wat jou asem steel, jou kop dom maak, jou laat vergeet van plek en tyd en alles wat ma jou geleer het…

Kyk, ek was maar stadig met die seuns as dit by daai dinge kom. Sus het elke twee weke ‘n nuwe kerel gehad, dit was ons gesin se ding om te raai wie is die week die begunstigde van haar aandag. Ek het vreeslik baie seunsmaats gehad, maar hulle was maats, speelmaats, pannekoek eet en kleilat gooi maats, bel vir huiswerk maats. Die arme goed het dan ook net een maal vir my kom kuier, die volgende keer was dit vir sus, en het ek my mater met sy gebroke hart eers weer twee weke later teruggekry. In die begin was dit snaaks om te sien hoe hulle, hul name ottie maak oor haar, later het dit my begin irriteer, want met so ‘n verliefde tienerseun kry jy nie veel gedoen nie en dan is daar nog die herstel periode waar ek alewig moes keer as hy sy opvolger wil opdons, en sus het maar net skaam geglimlag en nog ‘n hart verower.

Dis nie dat ek ‘n rabbedoe was nie, ek het net altyd meer van seunsmaats gehou as van meisies, seuns vat jou vir wat jy is, meisies het altyd een of ander verskuilde agenda gehad en laat ek jou nou vertel, daar is min dinge so wreed soos ‘n groep meisies. Hulle is soos ‘n trop wilde honde wat ‘n gewonde dier omsirkel, bloeddorstig verby. Ek het net nooit in die groepsdinamika ingepas nie, steur my nou nog nie veel aan al die politiekerasies nie. Ek aanvaar mense soos hulle is, as ek vriendskap en liefde gee, dan is dit onvoorwaardelik. As jy my beste maat is as ons net twee is, dan is jy my beste maat as daar nog twee of meer bykom. Ek verpes mense wat mense gebruik en net ken as hulle jou nodig het en die res van die tyd maak asof hulle jou nie ken as hulle by ander mense is nie. Seker daarom dat ek vreeslik baie kennisse het maar ek my ware vriende op een hand kan tel. Hulle is vir my nader as familie en vir hulle sal ek deur die vuur stap, want ek weet ook as my popo die fan tref is hulle daar met die lappe en Handy Andy. Maar terug na Nino.

Ek was nog altyd lief vir musiek, en as daar nie erens in die huis musiek speel nie, dan loop en neurie of sing ek sommer so vir myself. Daar is herinneringe aan musiek gekoppel.

Sonja Heroldt laat my aan my oupa dink, hy was so lief vir haar musiek, sy gunsteling was “Ek verlang na jou. Laurika is my en kleinsus se luisterdinge. Martie-mens en Bonnie Tyler se “bitter blue is sinoniem. Ma is “Red sails in the sunset” Ouma Soes was Ge Korsten, uitgespreek Gie Kursten. Ouma Rose is Jim Reeves, oupa was net so lief vir sy “Goodnight Irene”. My groot liefde het afgespeel met Vaya Condios en Leonard Cohen op die agtergrond en Coenie de Villiers se Kaneelverkopertjie is vir my nog steeds die sexieste song op die planeet, ons het sterrenagte deurgeluister na Mixed Emotions en Meatloaf, met die vuur voor my en jou lyf agter my.

Skoolsokkies was “Lost in France, Ti Amor, Words, en I just called. Snaaks dat ek nie rerig musiek en die heksman saam onthou nie, die tokkelok en ek het vir Koos Doep van kant na wal deurgeluister en dan het hy sy eie gedigte vir my probeer laat sin maak. Verstaan dit nou nog nie, seker te diep en donker vir my. Hierdie musiek-onthou sit ek soos ‘n pienk swiet in my kies en suig stadig aan die lekker daarvan. Die enigste musiek wat ek weier om na te luister is Bles, Jurie, enige van die blaas my bal en kielie my mielie variteit en rot in die pottekas. 

Maar, Nino, hy is spesiaal. Hy is eerste liefde, verlang na ‘n troep op die grens, hy het saamgery as ons jou by die lughawe gaan haal, as ons naweke gaan piekniek hou, as ‘n naweekpas so verskriklik kort is, as jy groet en nie weet of ek jou weer gaan sien nie. Jy het my leer vry met Nino wat net vir ons sing.

Nou, baie, baie jare later sit ek en luister, met meer as ‘n bietjie heimwee, ons is albei getroud, met ander mense, julle het ook nie kinders nie, jy wat so lief was vir kinders, omdat die een vir wie jy my gelos het prontuit gese het dat jy moet kies tussen haar en kinders, en jy het haar gekies. Luister jy nog soms na Nino, dink jy soms aan iemand wat vreeslik lief was vir jou, wonder jy soms oor wat as…. Ek doen. Ek wonder soms oor wat sou wees as ek jou oproepe beantwoord het, as heksman nie op die verkeerde weerlose seer tyd oor my lewe gekom het nie. As ek nie weer liefgekry het en laat gaan het omdat ek nie kon glo dat soveel geluk my beskore is nie. As ek nie so bang was vir weer seerkry, dat ek my hele lewe op hold gesit het vir baie jare nie.

Om die liedjie te hoor, bring heimwee, maar gelukkig word ons groot, die lewe gaan aan, prioriteite verander. Ek is gelukkig, daar is manlief, hartskind, baba, my familie, my vriende, my werk, so baie goeie dinge, dat daar nie vreeslik baie plek is vir heimwee nie, en dan is daar die ouditeur wat vir my in die deur staan en wag en sekerlik wonder waarom ek so ‘n simpel glimlag op my bakkies het..

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

MOEG…..

April 14, 2009 in Sonder kategorie

Kyk, ek het in my lewe al hard gewerk. Ons het op ‘n plaas grootgeword en ons moes almal ons kant bring, ek was 12 toe ek in die apteek se stoor begin help het, nie vir betaling nie, maar ouma het geglo ledigheid is die duiwel se oorkussing. Ek het nog altyd gewerk en daarvan gehou. Daar is min dinge se bevredigend as “a job well done”. Ek en kleinsus spot altyd dat dit die vervlakste Calvyn se skuld is dat ons met hierdie oordrewe verantwoordelikheidsin sit. Ek is nie maklik om saam mee te werk nie, want ek steek nie lyf weg nie, en ek verwag dieselfde van my medewerkers. Ek is nou nie so erg perfeksionisties soos ma en kleinsus nie maar daar slaat ‘n sterk tipe A uit.

So het ek jare gelede hierdie tuinkabouter, na so maand kom die siel nie weer werk nie. Ek stuur boodskappe en ry en gaan vind later self uit. Nee het hy te vertelle, ek maak hom skaam, hy kan nie saam met my werk nie, die ander vroue spit nie soos ek nie.

Met verpleging leer jy van moegwees, van soms 12 ure op jou voete staan, van swaar lywe draai, en optel en skuif van een trollie na die ander. Jy leer van nagskof en 5 minute se vas slaap, jy leer van fisiese en psigiese uitputting, van die wanhopig moegwees as ‘n geliefde pasient die stryd verloor het, maar niks het my voorberei vir hierdie moeg nie…

Kleinding drink 80minute aan 125ml melk, elk 4 ure en omdat sy ‘n premmie was akkodeer net die sojamelk met haar en die goed stink erg aan albei kante. So, nou stel ek die wekker vir elke 3 ure, slinger op, sit alarm af, maak vars bottel, was gesig, maak baba droog en sit die stryd aan om die bottel leeg te kry, elke 25ml word die winde gevryf, soms raak ek aan die slaap, so al sittende en skrik ek met ‘n skrik wakker as die bottel uit my hand gly. As die melkies op is word baba neergele is, gaan spoel ek die bottel uit, anders stink dit te veel, aktiveer ek die alarm en klim in die bed. Tussendeur vlieg ek vir elke geluidjie op, agv van die ma se rokery, drinkery en dwelmmisbruik sukkel baba soms met haar asemhaling. Ek het hierdie doodse vrees dat ek by haar gaan kom en sy haal nie asem nie. Ek is redelik seker dat sy wens ek wil kalmeer sodat sy ook meer kan slaap, soms skrik ek met ‘n skrik wakker en dink dat ek alles gedroom het en dat baba nie meer daar is nie, of nooit was nie. Dan staan ek op en gaan maak eers seker. My kleinsus het nou die dag opgemerk dat baba eendag sal vertel “My ma het eers op ‘n jaar deurgeslaap”.

Maar…
Dis die lekkerste lekker om daardie lyfie vas te hou, dis die lekkerste lekker om die eerste glimlaggie en nou ook laggies te ervaar. Dis die lekkerste lekker om twee uur in die more haar klein slaapgeluidjies te sit en luister, om haar uitbundige geskop en spat in die bad te sien, elke nuwe dag is vol nuwe dinge. Tussen baba en Hartskind sien ek die wereld weer deur nuwe oe. Hartskind is skielik ‘n ousus en sy geniet die rol vreeslik. Sy is skielik groot meisie, bad self, trek self aan, wil nie meer die potjie gebruik nie, help met baba, vertel vir haar die stories wat ons vir haar vertel en is erg beskermend oor hierdie nuwe lewetjie. Ons is nie net meer man en vrou nie, ons is familie, ons is gesin. Ek mag nou wel lyk soos die ekstra spook en ek sal dadelik gehuur word vir ‘n Dracula fliek, maar ons was lanklaas so gelukkig, hier diep binnekant waar dit saak maak.

Elke kind is ‘n geskenk van God, maak nie saak die omstandighede nie, ek het nou die ander dag iewers gelees dat “Babies are God’s way of telling the world, I am giving you another chance”. 

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

bietjie weg

April 7, 2009 in Sonder kategorie

Ek was net so bietjie weg. Nie na ‘n plek toe nie, net in myself, ‘n breek gevat. Daar het soveel dinge gebeur, ek moes net my fokus skuif na dit wat om my gebeur het.

Laat ek so bietjie teruggaan, ek is 39, op 18 word ek gediagnoseer met  Polisistiese Ovariele Sindroom, nie eers die ginekoloog besef destyds wat dit alles behels nie, later kom die diagnose van endimetriose by. Met PSO is jy baie gelukkig as jy swanger raak, met endimetriose, so erg as ek het, is jy baie gelukkig as jy swanger raak. Die twee saam is soos ‘n doodsvonnis vir babadrome. Oor ‘n tydperk van ongeveer 17 jaar is ons op fertiliteitsbehandeling, twee miskrame, rerige aaklige toetse, medikasie met nare newe effekte, inspuitings en vernederende prosedures later gee ek moed op. Oktober 2007 lui my selfoon, dis ‘n vriendin, iemand wat saam met haar werk se sus is swanger en sy wil die baba laat aanneem. Na vele gesprekke kry ek die sms, “geluk mamma, jou seunskind is op pad” ons het minder as 2 maande om alles reg te kry, ons is in die wolke, begin Desember begin mamma praat oor onkostes. Die maatskaplike werker het ons gewaarsku oor geld aan die mamma gee, dis verbode, dit grens aan die baba koop. Ek bied aan om die rekeninge te betaal, maar aan die persoon aan wie die geld geskuld word, nie aan mamma nie. Twee weke voor baba kom, sms sy weer, sy gaan baba self hou. My wereld is plat. Die maatskaplike werker praat oor plek van veiligheid en ons bid daaroor en besluit om dit te doen, so kom daar kinders in ons huis en lewe, maar hulle gaan weer weg, word uitgeplaas, net hartskind bly, want hartskind se mamma is wit, maar pappa is nie, en sy is te wit vir die donkeres en te donker vir die wittes, maar sy pas perfek in die gat in my hart.

Desember 2008 hoor ek terloops ‘n gesprek oor nog so ‘n kind, ‘n baba, die wit paartjie wat belangstel om haar te neem wil eers seker maak haar hare kroes nie te veel nie. Net so terloops vertel ek aan die maatskaplike werker, dat ons haar sal vat, kleur maak nie aan ons saak nie. “Hartskind het 3 poppe, ‘n wit pop, ‘n bruin pop, en ‘n pikswart pop. Ons wil haar leer, dat al lyk elke pop anders, hulle ook eenders is, hulle is maar almal poppe.” Januarie vra sy of ek ernstig was oor die baba, ek antwoord JA. So hoor ek niks verder nie, in Februarie vra sy of ons al vir baba gaan kuier het, ek weet van niks. Die ontvangsdame het die inligting na die verkeerde nommer toe deurgestuur. Ek en manlief ry dieselfde middag na die plek waar sy en 11 ander babas bly. Dis liefde met die eerste oogopslag, ons wil haar nie daar los nie. Ons bel die maatskaplike werker, seblief kan ons haar kry? Dit gaan lank vat waarsku sy, maar die volgende middag maak die regter in die kinderhof ‘n plekkie vir ons en gaan ons huis toe met ons bondeltjie vreugde. Op 3 maande maar 3 kg want sy was 2 mnde prematuur, en ons pajamadril met vreugde. Nou 2 maande later is ons moeg, vaak, maar nog steeds so baie bly. Ek staan 3,4 keer ‘n nag op, net om  seker te maak sy is rerig daar en ok. Ons beleef ‘n tydperk van ongekende vreugde en vrees, vreugde oor ‘n ander vrou se weggooikind wat al klaar ons harte gevat het, vrees dat daardie selfde vrou van besluit gaan verander en die baba wil terugvat. Elke dag is soos Kersfees, maar elke keer as die foon lui, dan draai my maag om. Hoe lank ons nog moet wag voor ons weet of baba gaan bly weet ek nie, so ons vat dit een dag op ‘n slag, maar die lekker dae, sy glimlag al, lag soms kliphard, het vanoggend haar tone ontdek en saam met hartskind reel hulle deesdae ons lewe. Dis so lekker, ons wil niks anders doen nie, niemand ander sien nie, en wil haar suinig net vir ons hou, maar die oumas en die tannies bederf, kom steel haar en speel haar moeg. 

Na al die hartseer en rou, brand die vreugde vure hoog. My beker loop oor…