Jy blaai in die argief vir 2009 Februarie.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Lekker verjaar Bekkie

Februarie 3, 2009 in Sonder kategorie

30/01/2009
 
Vrydagmore 5 uur vat ons die pad Vereeniging toe. Ek, kleinsus, ma, goggie en hartskind. Dis Wilmirie se verjaardag. Sy sou vandag 11 jaar oud gewees het. Ons ry sodat Sus en Swaer nie alleen deur hierdie dag gaan nie en ons ook nie. Dis maar stil in die kar, ons praat nie veel nie, almal kyk ver oor die velde heen, maak so af en toe ‘n aanmerking oor die nat lande. Ek soek na my selfoon in die handsak en vat die pakkie ballonne vas. Pienk en Pers ballonne wat ek al laas jaar vir jou verjaardag gekoop het. So sit ek met my hand styf om die pakkie gevou en onthou al die verjaarsdagkoeke wat ek al vir die kinders moes bak.Die vroegoggend oproep en dan sing ek en manlief “Happy Birthday to you, you belong to the zoo, you look like a little monkey and you act like one too” Jy’t altyd so ‘n slaperige giggeltjie gegee en dan vertel van jou persent en wat jy die dag gaan doen. Dan is die foon vir sussa of swaer gegee sodat ons hulle ook geluk kan wens met hul meisiekind se verjaardag.Dit is dit ritueel vir elkeen se verjaardag waar ons nie self by is nie. Die eerste kuier na ‘n verjaardag was gewoonlik soos ‘n tweede verjaardag, met koek en al die geskenke wat sorgvuldig weggesit was vir die kuier.

Sussa kry ons langs die pad, want kleinsus moet vir werk nog eers deurry Johannesburg toe, ons sal mekaar eers weer by die begrafplaas sien. Ons groet en hou mekaar stywer vas, hou net vas, praat nie, die kele is te dik, hou net vas. Ons gaan laai eers Ta Hanna se geskenk in Sasol af en ek wys vir hartskind waar die duiwel bly, by daai pyp waar die vlamme so uitskiet. Dan gaan laai ons die bagasie af en ry dadelik weer om vir Seuna by die skool op te laai. Gou vir Swaer gaan groet, bietjie kruideniers gaan koop, terug huis toe. Daar hang ons rond, dwaal soos skape, gaan staan stil by een van die foto’s, dwaal weer verder. Ek gee vir Sussa die ballonne, maar ons praat nie, sit net so langs mekaar. Dan kom swaer, hy en goggie ry om die ballonne te gaan opblaas by een of ander gasplek, en dan skielik is daar nie meer draaityd nie. Dis tyd om te gaan groet.

Ons ry by die kwekery langs en ons koop groot bosse pienk en wit en pers blomme en die mooiste diep pienk rose. Swaer en goggie wag al by die graffie, sit net so in die bakkie, klim nie uit nie. Swaer se ma kom ook aan ons groet nie, begin net die grass langs die graf uittrek, goggie bind die ballonne aan die kruis wat pa gemaak het vas. Ons kyk nie vir mekaar nie, kleinsus is nou ook hier, ons maak die bosse blomme los en maak groot deurmekaar bosse blomme staan op die graffie. Dan is daar niks meer om te doen nie, en ons kyk vir mekaar oor die graffie heen, en ons sit ons arms om mekaar en maak ‘n sirkel om die graffie. Ons hou mekaar vas en die trane loop, ons buig ons hoofde en swaer bid, en bid, en die trane loop. Ek maak my oe oop en sien hoe die trane soos reen op die graf val, hoe die ons traandruppels soos diamante op die blomme blink. Swaer se stem raak weg en sy ma gaan aan met die gebed ” Here ons verstaan nie, maar ons glo dat U die beste weet en dat ons eendag weer ons blommetjie sal sien, maar in alles dank ons U vir U genade, dankie vir 10 jaar, dra ons asseblief” ‘n sagte amen, maar ons bly so staan. Dan kom nog ‘n kar in die paadjie af, dis Nellie met ‘n drukkie vir almal en ‘n blommetjie vir sussa. Ons draai, ek vra na Kerneels, hoor van die moeilikheid met die kar, ons draai, groet half verdwaas en ry huis toe.

Saterdag ry ons Bloemfontein toe en stop daar waar sy weg is, die rosie is dood, dis net die stuk modderskerm en die lint aan die draad wat stille getuienis is van wat daar gebeur het…