Jy blaai in die argief vir 2009 Januarie.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Eerste lyk

Januarie 20, 2009 in Sonder kategorie

A.S.Kramer se storie oor sy broer vat my nou weer op ‘n ver pad terug. Hier in 1988 is ek op Kovsies en leer en werk ek as studentverpleegkundige. My heel eerste saal in ONK m.a.w Oor Neus en Keel, hier leer ek meer van mangels en sinusse as wat enige mens hoef te weet, hier kry jy ook die jong army ouens wat Sondagmiddag inkom vir hul mangeloperasietjie, ene Rambo, en Maandagmiddag kry jy dieselfde lat wat sidderend huil oor sy seer keeltjie, die ene Rampiempie. Daarna werk ek in Saal 21, kanker, hier leer ek van hoop, van aanvaarding, van sterf met God en van sterf sonder God. Hier leer ek ook dat as dit klokkie lui en jou pasient is naar, dan bring jy nie die nierbakkie nie, jy gryp ‘n skottel, en vinnig. Hier leer ek ook van konstipasie en seep-en-water-klismas (maar dis anderdag se storie), maar elke keer spring ek die lyke vry.

Toe gaan ek Universitas toe, Saal 5A, Medies. Ek stap die heel eerste oggend daar in, vroeg, want ek wil darem die saaluitleg bekyk. In die gang loop ‘n omie op my af, kry my aan die arm beet en vertel my dat hy snaaks voel. Ek antwoord  dat ek nog nie in die saal werk nie maar dat ek dadelik iemand na hom toe sal stuur. Ek stap saam met hom kamer toe, help hom op die bed en gaan roep die suster. Later terwyl ons verslag oorgee is die omie se gordyne toegetrek en hoor ons hom praat met die suster. Die ander suster deel ons diensbeurte uit en roep my en een van die Stafverpleegsters nader. Daar is ‘n lyk wat ons moet uitle, die staf belowe om my mooi te leer. Dis die omie, ek voel aardig, hy was dan nou net ok. Die staf verduidelik van die geen resussetasie bevel op die oom se versoek (m.a.w. indien hy sou sterf, sal daar nie probeer word om hom weer terug te bring nie, of kunsmatig aan die lewe te hou nie).

My eerste lyk. Dit is die eienaardigste gevoel, minder as ‘n uur gelede het hy nog met my gepraat, nou is net die liggaam oor. Die staf is ‘n ster en baie geduldig, maar ek is senuweeagtig verby. Sy wys my van die vorms en hoe om dit in te vul, sy wys my hoe om die lykshuis te bel, dan wys sy my al die voorbereidings, sy wys my hoe om met deernis en met eerbied met die liggaam te werk, maar, sy vergeet om my te vertel van die lug in die longe, dat jou laaste asem nie altyd jou heel laaste asem is nie, dat daar soms nog ‘n bietjie lug in die longe oorbly. Ek en sy was die omie, sy was en ek help en gee aan wat sy nodig het, dan vra sy my om die omie na my toe te rol sodat sy die rug kan was. Ek sit my hande op die skouer en heup, leun nader en rol die omie na my toe, en hy sug. Die dooie mens, wat ons besig is om voor te berei vir die lykshuis, sug. Ek versteen, los die omie stadig, kyk die staf in die oe, prewel iets van hy leef dan nog en vat die pad. Die saalsuster het my by die hysbak se deur kom haal, sy was baie geduldig en het mooi verduidelik, maar dis nie ‘n skrik wat ek sommer vergeet het nie.

Daar was daarna nog baie lyke, maar die staf se lesse het my bygebly. Vandag nog wanneer iemand naby my vooruitgaan, hoop ek dat iemand soos daardie staf die mense wat met my geliefde werk geleer het, werk met deernis en met eerbied, want iemand is lief vir hierdie mens.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Sewe Bergies

Januarie 19, 2009 in Sonder kategorie

Ek lees vanoggend op my yskasmagnete die volgende, “Of
all the things I have lost, I miss my mind the most” en die ander ene ”
I don’t suffer from insanity, I enjoy every minute of it”


‘n Vriendin stuur vir my die e-mail oor die “7 Dwarfs of Menopause”, ek
vertaal dit losweg in afrikaans as die  7 Bergies van 
Menopause.

Dit is as volg:
1.     Jeukerig 
2.     Beneukerig
3.     Sweeterig
4.     Vergeeterig
5.     Dofferig
6.     Pofferig
en
7.     Pscyho

Ja ek weet die spelling is nie 100% reg nie, maar dis nou my vertaling.

Die doktertjie vertel my die jaar voor laas dat ek tekens van vroeë
menopause toon, so asof sy vir my goeie nuus gee. Nou het die vroeê die
pad gevat en sukkel ek en ma saam met die 7 Bergies. Al verskil is dat
ma 56 is en ek maar 39.
Moet sê, van al die Bergies geniet ek nommer 7 die meeste.  Ek kan
soos ‘n wilde vrou op die malle Molly skree, haar nuutste uitsleepdinge
is skoene. Nie net een skoen nie, o, nee. Sy sleep hulle in pare uit,
wat bymekaar pas. Sy kou ook nie aan hulle nie, sy dra dit net uit en
dan los sy hulle so ‘n entjie van mekaar af op die gras.
Ek kan huil sommer net oor ek kan, en skielik is dit nie vir my meer so
moeilik om my sê te sê nie. Takt knyp al vir jare my mond toe, maar
menopause het die sleutel gekry.
Skielik sukkel en nie om vir my vriendin te vertel dat ek nog steeds
vir haar lief is, maar onder geen omstandighede met haar bed-hopping
saamstem nie. Ek huiwer ook nie om vir haar te vertel dat Vigs nie die
enigste Vreeslike Infeksie daar buite is nie.
Ek kruip nie meer weg vir my swanger vriendin nie, ek vertel vir haar
dat ek so vreeslik, vreeslik bly is vir die baba wat op pad is, maar
dat ek net so bietjie spasie nodig het, want seuntjie gaan weg en ons
mis hom al klaar, maar ons weet dat ons die pad saam met hom na die
beste van ons vermoë gestap het en dat ons hom nie verder kan vat nie.
Ek kyk my pel in die oë en vertel hom dat ek mal is oor beide hom en sy
vrou wanneer hulle nugter is, maar dat hulle baie ver van my af moet
wegbly as hulle hulself so gedrink het dat hulle seun hulle moet huis
toe vat.
 Ek vertel vir my maatjie se sleepsel dat net lafaards hulle
vuiste vir ‘n vrou lig, ware mans het nie nodig om hul gesag so af te
dwing nie en “by the way” as hy nou weer sy elmboog skoonmaak en sy
vuis gaan so per ongeluk af, dan gaan hierdie vaal vrou ‘n piksteel
koop en gaan jag, op hom.
Ek is nie ‘n nare mens nie, rerig nie, maar as die 7 Bergies jou in
hierdie Vrystaatse hittegolf beethet, dan moet jy maar nommer 7 geniet,
die ander 6 is die pits.
                   

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Blinde Sambok…

Januarie 6, 2009 in Sonder kategorie

 My man is nie meganies nie. Hy het in ‘n slaghuis grootgeword en van vleis werk kan jy hom min leer, maar ai, die voorkant en agterkant van ‘n hamer wis hy nie. As ek ‘n spyker in die muur wil he moet ek hom maar self daar loop inkap, maar tipies man, sal hy eers self probeer, en nadat ek die vingers moes verbind, die gat in die muur moes toemaak en die spyker moes inslaan, sal hy nog steeds bly staan en lopend kommetaar lewer. Skoenmaker, hou jou by jou lees! (of vlees, in sy geval).

So ‘n tydjie terug het ek probleme met my motor die oggend, nadat hy die vorige dag met hom gery het. Vriend Des kom help, die motortjie is deur diepe water en alles is nat. Drade, filters, de lot. Blessings moet maar eers droogword. Ek is siedend!!!! Ek het al hoevele kere net-net die motorhawe gehaal, letterlik op die petroldampe daar ingery nadat Ta my wiele misbruik het. Ek waarsku hom, “Eendag, is eendag dan gaan ek sonder petrol staan agv jou en dan moet jy maar iemand anders stuur, of die polisie saambring as jy myself kom help”, maar ore is min. Wat weet ek tog nou ook?

Vanoggen is hy weer met ‘n vaart hier uit en daar wil die Rooi Duiwel nie vat nie. Jumpers help nie, niks wat hy aan ruk of pluk wil help nie en die man raak warm onder die kraag en praat in vreemde tale en als. Die man wat die teels in die woonstel sit staan later nader, “Dis die petrol my Lanie, dis op”. Ek loop lag in die kombuis. Blinde Sambok my man, blinde sambok.

Maar dit laat my nou dink aan my ou swaer…

Almal wat vir swaer ken, weet dat hy nie ‘n kar kan uitlos nie. Hy kan hom splinternuut uit die boks gaan haal, maar so gou as hy kan, krap hy in die enjin rond. Baie jare gelede, nog voor hy en sus getroud is, trek sy ouers weg van Warden af, ver, ander provinsie en als. Hy was daardie tyd nog in die Polisie Kollege, so kry hy ‘n tydjie af en hy en sus smeek pa, ma, ouma, enigeen met wiele, om die wiele te leen, want hy moet darem ook vir sy pa en ma gaan kuier, en sus wil saam, dis darem vakansie en so. Pa leen vir NIEMAND sy wiele nie, ma se kar is slegs vir huishoudelike gebruik (was nog so ‘n wit ou-ou peugot). Pa stem darem in dat sus mag saamgaan indien hulle nou wel betroubare wiele kan bekom, sy boeties sal ook saamgaan indien hulle nou vervoer kan bekom, so sus is veilig. Ouma kry later jammer en stem in, sy maak tot die petroltenk vir hulle vol. Ouma se kar het Turbo en swaer laaik die spoed.
Hulle is daar weg met vermanings en doodsdreigemente oor vinnig ry en hoe die kar opgepas moes word en op elke dorp moet hulle stop en bel en vertel waar hulle nou is (voor die tyd van selfone en tracker). Ouma bly maar vir die paar dae op die dorp by ma-hulle en stap sommer apteek toe.
Toe breek die dag van terugkeer aan en al wat uitkom is hulle, ma is rasend, pa is dwalend en ouma bel kort-kort van die apteek af om te hoor van haar kar.
Uiteindelik sleep hulle die erf binne. Minus die voorste modderskerm. Pa is woedend, ek dag ons begrawe swaer net daar vandag, sussie keer, ma keer, pa praat vreemde tale, swaer verduidelik, sus verduidelik, boeties verduidelik, maar pa is boos.
Dit het blykbaar vreeslik gereen by sy ma-hulle en met die uitry by hulle motorhek, het ouma se wiele gegly en het die pilaar en die modderskerm mekaar innig gesoen, so innig dit nie veel van modderskerm saam huis toe gekom het nie.
Redelik verduideliking, maar pa is by redelikheid kwaad verby.
Hy laai swaer in, hulle gaan nou scrapyard toe vir ‘n ander modderskerm, oom Thys het nie ene nie, so nou moet oom Niek by die scrapyard probeer help.
Hy bestuur want hy kan mos nou sien hoe swaer bestuur. Hy sit die kar in trurat, vergeet van die Turbo en jaag met een helse slag in die hoek van die sleepwa vas. Hele agterste ruit in sy poerdesmerdes. Swaer is lakenwit, pa is pruimpers, ma is histeries, niemand praat nie en ouma is op pad.
Pa kon ‘n ander modderskerm kry wat amper reg was en kon dit koerkar om te pas, moes dit net verf om die ou skaafmerke van die vorige eienaar toe te kry, maar die ruit moes hulle bestel.
Ouma kom ingestap, bly die kinders is veilig, steek vas, bekyk die geverfde modderskerm, vererg haar vreeslik, roep na swaer, loop verder en sien die agterste ruit, of altans die ruit wat nie daar is waar ‘n ruit moet wees nie.

Mense, dit was vir jou ‘n lelike ding. Ek dag ons begrawe vir swaer net daar. Swaer verduidelik, pa verduidelik, ma keer, sus keer, maar ouma is boos. Amper is dit ‘n dubbele begrafnis. 
Ouma is met daai kar net so plaas toe, want nie een van hulle vat weer aan haar kar nie, maar hulle moes betaal vir die regmaak…

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Spoodle ?

Januarie 4, 2009 in Sonder kategorie

 

Hier is ‘n foto van die Malle Molly in haar dierbare klein brak kamoeflering (so 3mde oud). Sy is ‘n kruising tussen ‘n Maltese Poedel en ‘n Cocker Spaniel. Weet nie wie is pa en wie is ma, maar op die x breeds website word hulle Cocopooh’s genoem (of so iets), maar vir my lyk sy meer soos ‘n Spoodle.

Sy is die soetste ou dingetjie terwyl sy slaap, maar o wee, laat sy haar ogies oopmaak, dan is daar drama. Sy is nou so 7mde oud.

More begin ek weer werk en ek het nog nie eens vakansie gehou nie, die 7 dae wat ek wel verlof ingesit het, het ek kaste reggepak en ge- springclean want skoonma sou kom kuier, vir die eerste keer vandat ek en manlief 4 jaar gelede getroud is. Sy sou vandag gearriveer het, maar het toe besluit om eerder later in die jaar te kom…

Nou kort ek ‘n vakansie om van die vakansie te herstel.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Mal Molly

Januarie 3, 2009 in Sonder kategorie

My eks skoonsus se pa het altyd vertel dat jy kan sien waar rerige arm mense bly. Daar is altyd baie vuil kindertjies en daar is meer maer, brandsiek brakke as kindertjies.

Vandag kyk ek so oor die werf, die kinders speel plaas, plaas hier onder die Kareebome. Bou paaie en kampe en plant blare. Vaal van die stof, van kroon tot toon. Dis omtrent net die tande en die oge wat wit uitsteek, maar hulle speel so lekker ek kan dit nie oor my hart kry om hulle in te roep nie. Sal maar vanaand tweemaal bad. Die vier honde le almal soos lui lakke om hulle rond, almal op die grond, behalwe Mal Molly. Die lady le op my badkamermatjie, die nuwe ene.

Ek glo dat kinders met troeteldiere moet grootword, daar is wonderlike lesse te leer in die grootword saam met ander wesens. Veral as hulle afhanklik is van jou vir hulle daaglikse spys en drank, en die poopscoop leer jou dat die lewe nie altyd lekker is nie en dat jy soms slegte goed sal moet doen, net omdat dit jou verantwoordelikheid is. Ons het met diertjies om ons grootgeword en dit het ons net goed gedoen. So, met die kindertjies hier, wat sonder enige stabiliteit, sekuriteit, grense en verantwoordelikheid grootgeword het, besluit ek om vir hulle ‘n hondjie te kry. Abby is al op haar laaste bene, en alhoewel sy vreeslik lief is vir kinders, kan sy nie meer aldag met besige beentjies byhou nie. Skat is nog jonk en speel nog bietjie wild saam en Buddy, my liefie woef is geduldig, gedienstig en gedwee. Hulle dra hom rond, stoot hom in die popwaentjie, voer hom met die pop se lepel pap, en as dinge te veel raak gaan kruip hy maar in die badkamer weg. Wat die kidos dus nodig het, is ‘n eie hondjie. Ene wat hulle moet versorg en leer house-train, wat hulle eie, eie is. Iets wat niemand sal wegvat of verkwansel vir drank of dwelm-geld nie.

Ek het lank gesoek na presies nie regte hondjie en een middag, net toe ek nou wil,wil moed opgee, sien ek die pragtigste klein wolle-bol op die internet. Met een vreeslike gesukkel daag die ou dingetjie toe hier op en die kinders doop haar Molly. Sy is vriendelik, dierbaar en die domste dem hond wat al hierdie aarde bewandel het. Ek het al male sonder tal honde geleer om die dinge buite die huis te doen, maar niks wat ek doen, werk vir Molly nie. Ons staan vir ‘n ewigheid buite sodat sy haar dinge kan doen, spuit scent-off die hele plek vol, probeer koerantpapier, noem dit en ek probeer dit, maar sonder enige sukses. Sy draf trots uit, ruik die werf van ‘n kant af deur, hardloop terug huis toe asof die duiwel en sy trawante agter haar is, knak haar kniegies, kry so ‘n salige uitdrukking om die ogies en los ‘n yslike plas op die moddermatjie in die kombuis. Ek kan maak wat ek wil, soos ek wil, maar ek kry haar nie geleer om buite haar dinge te doen nie. So, Molly word verban, sy slaap nie meer in die huis nie, sy het nou haar eie huis buite, en Molly is heeltemal happy daaroor, maar sy soek ‘n mat vir haar vloer, nie die komberse of die matjie wat ek haar gee nie. O, nee, sy wil self kies, en elke dag is dit ‘n ander matjie, van hulle is nogal groot, (daar is baie los matte in my huis, want die ou wat gebou het, het wit teels ingesit!!!), hoe een klein hondjie hulle deur die veiligheidshekke gesleep kry, weet ek nie, ek sukkel met sommige van hulle, maar as ek my alie draai dan sleep sy ‘n ander mat uit. Almal, behalwe die kombuis matjie, dit bly haar toilet, ek het hom al uitgegooi, dan sleep sy hom terug, tot op sy plek. Die bure kan my dan hoor skree, “Die mal bloemen hond sleep al weer die matte rond!!!” Vandaar die naam, “Mal Molly”.

Volgens die oom is ons dus arm, mense, maar die kinders is vuil van speel en die honde het nie een eers ‘n bietjie brandsiek nie. Hulle is almal spekvet en gesond en ek, my oompie, ek is skatryk aan die liefde. Mal Molly en al…