Jy blaai in die argief vir 2008 Desember.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Op die hond se stert…

Desember 31, 2008 in Sonder kategorie

Die jaar is op die einde.

Daar is nie veel van 2008 oor nie. Dit was ‘n jaar van groot vreugdes en verskriklike hartseer. Ons was of op die berge of in die dale, maar maak nie saak waar ons was nie, God was met ons.

Ek is dankbaar oor soveel dinge, die kinders, dat ek en manlief nader aan mekaar is, dat die verhouding tussen kleinsus en boet soveel beter is, my werk en my kollega’s en al die pasiente, ek en pa praat vir die eerste keer in baie lank en hoor mekaar, vriende wat deur dik en dun by ons gestaan het en ek is ook dankbaar teenoor ons Hemelse Vader, dat Hy ons genadig was en ons deur alles gedra het. Sonder Hom sou ons nie die jaar gemaak het nie

maar die bitter was ook daar,

Vriende wat stil geraak het omdat ons almal te besig was om tyd vir mekaar te bere, ek mis julle. Ons vlinderkind wat weg is, ek mis haar. My familie in rou, ek wens ek kon meer doen. Die ouma’s wat na 39 jaar nog nie vrede kan maak nie, die lewe is te kort. JJS wat iets so kosbaars gesteel het en geen verantwoording daarvan aanvaar nie, die Here slaap nie en al kom jy hier weg met moord, eendag gaan jy voor die Regterstoel moet staan.

Aan al die nuwe vriende in blogland, julle is vir my kosbaar.

My wens vir al my hartsmense; “Mag die beste van 2008, die slegste van 2009 wees”. Op ‘n ligter noot; “Mag julle die hele 2009 kaalpoot loop, nie omdat julle nie geld het vir skoene nie, maar omdat God julle uit julle sokkies ge-bless het”.

Net die mooiste en beste vir die nuwe jaar, praat weer volgende jaar.

Ousus

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Merry, nie meerie

Desember 29, 2008 in Sonder kategorie

Soos meer as een mens seker al gesug het, “Dankie tog Kersfees is verby.”

Nie een van ons was hierdie jaar vreeslik lus vir die Dag nie. My kersboom is gewoonlik al die 1ste Desemer op, maar hier teen die 16de het ek eers die moed bymekaar gehark. Ander jare is my geskenke al kant en klaar wanneer die boom staan, maar hierdie jaar vang die 24ste my dat ek soos ‘n spook ronddwaal tussen die winkelrakke. Ons deel gewoonlik oukersaand gsekenke uit en eet as familie saam, Kersdag gaan ons kerk toe en spandeer die dag as familie saam. Nie die jaar nie. Die jaar loop ons met sulke stokkerige glimlaggies rond, stywe hand om die hart en bitter pomelo in die keel, sukkel, sukkel om reg asem te haal, en kort kort raak een weg en kom met nat oge terug.

Alles was so doods, ons almal dwalend, die geskenke het ons Kersdag sonder seromonie en net met ‘n gebed deur pa uitgedeel. Die enigste ligpunt was dat ons die middelste dogtertjie vir Kersdag kon gaan haal. Sy en die ander 2 het die geskenke so vinnig oopgeskeur dat ek nie seker is wie wat gegee het nie. Ons moes Woensdag die ander twee vir ‘n blitsbesoek vat en hul familie het sakke vol goed saam gestuur. Alles wat krismisdeuntjies speel en met batterye werk. en ‘n dag later le alles aan stukke. Middelkind is terug kinderhuis toe met ‘n appelboks vol geskenke , en die ander 9 kon nie wag om te sien wat sy saamgebring het nie. Ek, ma en die susters het ‘n klomp kleinkoekies gebak en dit is ook saam, so ook die armbande wat ons gemaak het. Plegtig deel ek die bandjies uit, die ogies bly soek. Ek deel die koekies uit, die ogies bly soek. Manlief staan in die deur en help bandjies omsit. Dan vra die enetjie vir die huismoeder, “Wanneer kry ons ook persente soos *Middelkind?”, “Hulle het gese, miskien Maandag.” antwoord huismoeder. Ek en Manlief ry huis toe, ek is naar op die maag en die pomelo is terug in my keel en die hand om die hart. Ek besluit die volgende, vanaf Januarie spaar ek elke maand R200.00 en as ek die lewe en gesondheid hou, koop ek volgende jaar vir elkeen van daar die 12 dogtertjies ‘n geskenk en in plaas van ‘n kersete by die huis, wat van ‘n kersete vir daardie huis.

Ek weet dit gaan nie net oor geskenke nie, maar ‘n kind bly ‘n kind en ek is so verdamp moeg daarvoor dat die kinders moet betaal vir die *a* wat die grootmense aanvang.

Ek dank die Vader vir Sy Seun, en Kersoggend het ek alleen, terwyl die huis stil was en al die ander nog geslaap het, op my eie dankie gese.

Maar, merry, merry Xmas is dit nie meer, ons is almal nog te broos en seer.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Kiekies….

Desember 16, 2008 in Sonder kategorie

Iemand sing “my kiekies is bewyse, dat ek ook eenmaal daar was” of iets dergliks.

Die laaste ruk was ek en Kleinsus besig om vir Sus en Swaer ‘n album op te stel (moet asb  nie vir een van hulle vertel nie, dis veronderstel om ‘n verrasing te wees). Dit was Kleinsus se idee, eers het ons almal, al die foto’s wat ons van Wilmirie gehad het bymekaar gesit en toe het sy dit gaan scan en dit uitgedruk. Toe het ons begin met die scrapbooking. Nie een van ons het al ooit vantevore so iets gedoen nie, maar as jy ‘n mal perd wil opsaal en kaap se kant toe ry, vra vir Kleinsus. Sy het die inspirasie gehad en ons moes haar idees op papier kry.

Dit was verskriklik moeilik. Verskriklik moeilik, maar ook wonderlik. Ons het vir ure saam gesit en werk, gesukkel, met geen kennis of ondervinding die ding aangepak. Ons het gesels oor die foto’s ,oor wat gebeur het in die foto, waar dit geneem is, wie almal daar was, ons het gelag oor sommiges, stil geraak oor ander, maar ons het nie gehuil nie. Ons het letterlik duisende rande spandeer, veral Kleinsus. Scrapbooking is NIE ‘n goedkoop sportsoort nie, en die bladsye het bly groei. Ons het dingetjies begin onthou, klein dingetjies, belaglike dingetjies, wat nou soveel beteken. 

Jy sien, ons het gedink dat ons tyd het. Dat ons oud gaan word, die kind gaan sien grootword. Die groot dae in haar lewe gaan meemaak.  Tiener word, die eerste liefde, matriekafskeid, werk, trou, babas, goeie dinge, slegte dinge, die alledaagse doodgewone dinge, maar dit gaan nie gebeur nie. Al wat ons het is die paar kiekies, 10 jaar se herinneringe in ‘n paar foto’s vasgevat. Sussa en swaer gaan ‘n boek kry met foto’s, ‘n boek waarin ons probeer het om 10 jaar se leef vas te vat, en daar stop dit vir ons. Daar sal nooit weer nog ‘n foto wees nie. Dis oor, dis klaar, dis op.

Ek loop deesdae met die kamera in my handsak rond, en ek probeer die lewe digitaal vasmaak. Ek neem foto’s van almal en alles. Lag, huil, kwaad word, goed word, ek neem foto’s van drukkies en speel, en alles wat almal om my doen, van familie en vriende. 

Want

Ons het besef dat ons nie genoeg foto’s het van ons kinders in die familie het nie. Die stywe skoolfoto’s beteken niks nie. Dis die foto van ‘n familie wat saam kleilat speel, die foto van sussies wat saam inkleur, ‘n pa en seun wat saam aan ‘n enjin karring, dit is die foto’s wat saak maak, wat sin maak.

Ons werk aan die album vir ure, en ons onthou, en dit is goed, en dan kom ons by die laaste bladsy. Daar waar ons nie meer kan aangaan nie, want daar is nie nog iets nie, en sussie plak die laaste dingetjie, en ons maak die boek toe, en die trane loop.


 

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Duiwel op die dak…

Desember 11, 2008 in Sonder kategorie

Ek is nie weg nie, ek is nie ontvoer of met geweld van my laptop geskei nie. Die duiwel was op my case.

Ek moes dalk vir die priester ‘n bottel holy water gaan vra het, maar dit sou nie genoeg gewees het nie. Die duiwel was op my case.

Ek is een van die versigtigste mense wat ek ken, ek doen nie veel impusiewe dinge nie. Ek kyk eers die kat uit die boom, wik en weeg, maar die duiwel was op my case.

So sit ek verlede Maandagoggend vroeg al en werk. Dit raak deesdae so helwarm hier in Bloem dat ek soggens vroeg al voor die rekenaar sit en werk. Ek eet of drink nooit, ooit, iets naby die laptop nie, nooit,ooit nie. MAAR. Maandagoggend sit ek en werk, en manlief staan op en doen iets wat hy nog selde, indien ooit, gedoen het. Hy maak vir my koffie, en dra dit agter my aan, na waar ek sit en werk, en sit dit langs my neer, en ek, ek, wat bang is vir mors, skuif die beker weg, en die beker hak aan die kant van die tafelloper,en die hele beker, swart, soet, koffie, stort oor die laptop…

Hulle kon die hardeskyf red.

Die parkhome word afgelewer, te vroeg, niks is in plek.
Die munisipaliteit het nog nie die staanplek kom skraap nie.
Die munisipaliteit daag minute voor die parkhome op.
Die parkhome se trok ry die kragdrade af en ons sit vir ure kragteloos.
Die bure se hond is op hitte, die ander honde grou gate onderdeur my heining om by bure se hond uit te kom.
Die nuwe monster hond van boet skeur my ou Abbie se hele keel oop (op my eie werf).
Die mensie van hoofkantoor is hier vir 3 dae en die werk word net al meer.
Die dae is te kort vir die album wat ons vir sus-hulle maak oor Wilmirie se 10 jaar.
Swaer verjaar en ons wens hom ‘n mooi jaar toe, sit die foon neer en huil.
Die boardmeeting hou aan tot 21:oo.
Die eerste Kersfees is op hande, sonder ons vlinderkind.
Die duiwel dans op my dak.

Vanoggend sing Hartskind in haar bedjie “Ons God is so groot, so groot en so magtig, daar’s niks wat ons God nie kan doen. O nee”!

en die duiwel verdwyn.

Ek is terug op die lug