Jy blaai in die argief vir 2008 November.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Baiesikkel

November 27, 2008 in Sonder kategorie

Met die dat al wat blogger in blogland fietse skenk, wil ek darem ook my fietsstorie vertel.

Ons was maar arm, 4 kinders, en pa en ma wat hulle byna doodwerk om ons almal se alies toe te hou en die wolf van die stoep af te hou. So begin pa werk as jagter by ‘n plek wat ongediertes uitroei. Hulle is later deur Natuurbewaring oorgevat en dis waar hy nog al die tyd werk, met al wat ‘n probleemdier is.

Pa huur ‘n kasarm van ‘n ou huis op Warden en jag van Maandag tot Vrydag, ma werk in die kooperasie en ouma in die apteek en oupa boer so goed as wat sy siek lyf hom toelaat, maar ons is ‘n gelukkige lotjie. Snaaks, ek het daai tyd nie eers agtergekom ons is arm nie, want ons was gelukkig. Een mooi Vrydagmiddag laai pa so saam met die jaghonde ‘n fiets af. ‘n “chopper”, vir ons 3 groot kinders, ons moet hom deel, maar dis eintlik maar Boeta wat op hom ry. Uiteindelik kry ek toe ook ‘n kans, ek het nog nooit fiets gery nie, maar ek gaan my bes probeer (Or die trying). Die garage het so ‘n lang oprit, lekker skuins na onder.Boeta gee raad, ek is op, hy stoot van agter en daar trek ek, tel spoed op, skree ma uit die huis uit, voorwiel vang klip, fiets wobbel en vat sy eie rigting, reguit op die laning blom-pruim bome af. Ons (ek en die chopper) tref daai boompies teen een helse spoed. Jy sien net blare en groen pruimpies trek, en daar hang ons, ek en die chopper. Ma het my kom uitsleep, pa en Boeta die chopper. Ek het wel weer later probeer en kon later goed ry, maar ek het nooit weer daai aanloop uit die garage gevat nie.

So boek ek die chopper, ons speel die middag netbal by die Siecker Stadion en ek wil terug ry. Klaar gespeel sit ek en mater van agter en wag vir haar ma, maar ma daag nie op nie. So besluit ons maar om aan te stryk huis toe, maar ons is moeg, en die pad is ver. Ek stap langs haar met die fiets, bo by die slagter se huis besluit ons dat ek haar op die chopper sal “lift”, hy’t mos so ‘n lekker stewige sitplek, daar trek ons, ek trap, sy stuur. Alles gaan goed tot ons die klein steil straatjie vang (dis eintlik nie ‘n straat nie, die beeste is gewoonlik daarlangs aangejaag vendusie toe, sodat hulle nie deur die dorp loop nie), skielik tel die dem fiets spoed op, ons vlieg behoorlik teen daai bult af, skree soos maer varke, ek trap nie eers meer nie, mater skree en probeer stuur, maar dis grondstraat, klipperig getrap deur al die beeste. Dis soos replay, eers vang ons die klip, die chopper wobbel, ons skree, maat ruk brieke, ons begin vlieg, trek soos vrot velle en  tref die grond met een allemintige swart wolk (die gras is die vorige week al langs die pad af gebrand), jy sien net as, roet, navy panties, en chopper. Ek le eers so bietjie stil, voel al die seerplekke, niks voel af nie, mater lyk ok maar sleg maar sy sal ook leef. Ons sit nog so en wonder of ons moet probeer opstaan of bly le. Daar kom so groot swart hand voor my gesig en vee die hare uit my oge. Dis die musiek meneer se tuinkabouter. Hy lag dat jy al vyf sy tande kan sien, “Jiss klenoi ma die baiesikkel het vi djo gagoi” Die ou siel moes ons twee daar ophelp en huis toe help, Boeta het die chopper loop haal, ma ek het nooit weer ‘n beurt gekry om te ry nie. Wonder nou wat van daai chopper geword het…..

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Selfmoord – Die reg van ‘n kind….

November 24, 2008 in Sonder kategorie

Die tiekiestorie moet eers maar wag. Ek is vandag op met die mensdom.

As daar ‘n blogger is wat idees oor selfmoord koester, stop.Gaan my
vandag wyd verby.  Ek en man het ‘n plek van veiligheid vir
kinders. Soms is ‘n kind net vir die aand hier as die polisie en
maatskaplike werkers hom/haar uit ‘n potensieel lewensbedreigende
situasie verwyder, en letterlik net ‘n veilige bed vir die aand soek.
Soms bly hulle langer.

Seuntjie is nou al 11 maande by ons, ons oorweeg dit om hom maar in
pleegsorg te vat, hy is 10, en mense soek gewoonlik jonger kinders. Die
ander opsie is die kinderhuis vir hom, en ons sien nie kans om hom
daarheen te laat gaan nie. Met elkeen van hierdie kinders stap jy ‘n
stuk grondpad en eet jy nie ‘n sakkie sout op nie, dis eerder die hele
dekselse soutpan. Soms vang dit jou en wonder jy wat op aarde jou
besiel het om jou hart so op die sypaadjie van die lewe te gaan
neersit, maar ander kere hoor jy ‘n kind vir die eerste keer spontaan
kraai van die lag, of slaap ons ‘n nag deur sonder nagmerries, of kom
gee hulle jou uit hulle eie ‘n drukkie, of noem jou mamma…. Dan weet
jy waarom jy hierdie duwweltjiepad aangepak het, en waarom jy maar weer
ja sal antwoord as hulle jou 11uur in die nag bel, om ‘n kind by die
polisiestasie te gaan oplaai.

Dit wat die seerste maak, is dat al is jy hoe lief of goed vir hierdie
kinders, die verlange na pappa en mamma gaan nooit weg nie. Hulle wil
steeds weet hoe dit met hulle gaan, maak nie saak hoe seer hy/sy my
gemaak het nie, my hartjie verlang nog steeds na hulle. Hierdie ouers
her die reg om hulle kinders te sien, hulle reg, as biologiese ouer. Moenie met my praat oor
kinderregte nie, daar is dalk ‘n paar op papier erens in ‘n
staatsdepartement, maar hier waar die tyre die teer slaat, hier sien ek
nie veel van dit nie. Seuntjie se pa kom weke nie kuier nie, hy is ook
nie beskikbaar vir ‘n geselsie oor die foon nie, en seuntjie maak die
een verskoning na die ander oor hoekom pappa nie kom nie, hoekom pappa
nie foon toe kan kom nie, hy weet van al die dinge wat pappa doen, maar
hy bly lief vir pappa, en saans bid hy dat pappa en mamma tog gesond
sal word, hy bly baie lekker by ons, maar laat hulle tog gesond word.
Die slag wat hy wel opdaag is hy in ekstase en hoor ek van elke
oomblik, elke drukkie, elke geselsie, elke belofte wat nooit nagekom
gaan word nie. Hy is so pateties dankbaar bly vir die kort kuiertjie en
die bietjie aandag wat hy ontvang het.

Donderdag, Donderdag moet ek skool toe, ek en die terapeut, om vir
seuntjie te gaan vertel. Jou pappa is dood. Hy het homself opgehang, hy
wou nie meer lewe nie. Hy het nie eers gegroet of ‘n briefie gekos nie,
dit net gedoen. Seuntjie luister aandagtig na ons, knik sy kop dat hy
verstaan en hoor wat ons hom vertel, maar daar is geen emosie op die
gesiggie nie, maar die twee ogies is so vol pyn. Hy kom na my toe, druk
die gesiggie teen my skouer, ek hou hom styf-styf vas en voel die trane
warm teen my vel, die lyfie ruk, dan haal hy diep asem, staan terug en
die emosie is weg. Ons gaan haal sy skooltas. In die kar vra hy of ons
‘n milkshake kan gaan drink, ons ry Wimpy toe, hy praat nie, die
milkshake kom en hy sit met sy hande om die glas gevou, maar hy drink
nie, sit net so. Dan bars hy los “Ek het geweet” “Ekskuus seuntjie?”
“Ek het geweet pappa gaan hom hang, hy het my vertel, vir ouma ook, ‘n
paar keer al”. Hy bly weer stil, hou die glas vas. Kyk dan op en vra
“Hoekom tannie, hoekom het pappa dit gedoen?”  Dan vertel ek hom
dat grootmense soms dom dinge doen, dat om grootmens te wees nie altyd
maklik is nie, en dat grootmense ook nie altyd weet wat reg en verkeerd
is nie, dat grootmense soms dom goed doen, maar dit is nie sy skuld
nie, nooit nie sy skuld nie, en hy drink sy milkshake, maar hy kyk vir
die tafel.

More moet ek hierdie kind begrafnis toe vat, om pappa te gaan groet, om
te luister na ma en ouma en almal se stories oor hoekom dit gebeur het,
oor wie se skuld dit nou eintlik was.Ek moet belowe om te probeer om
die beeld wat hy van pappa in sy hart dra, mooi te hou. Sy pappa wat sy
lewetjie vir die res van sy lewetjie aan daai kis vasgemaak het…

Jy wat selfmoordgedagtes koester.  Skuif jou fokus. Die
Kersseisoen is op ons, baie gaan alleen en seer wees en die opsie
oorweeg, stop, asseblief, gaan uit en gaan soek hulp, soek tot jy dit
kry. Want wie se lewe gaan jy aan jou doodskis vasmaak.
Stop, seblief?

Hiermee haal ek ook my hoed af vir die maatskaplike werkers. Julle is
engele met geboeide hande, en hoe harder julle probeer om iemand se
lewe positief te beinvloed, hoe harder word daar op julle geskel en
gevloek. “I salute you” Iemand moet vir julle ‘n monument gaan bou.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Kestell se kerk…

November 20, 2008 in Sonder kategorie

Eintlik moet ek werk, maar ek lees net gou-gou ‘n paar blogs, en sien Mam Parra se foto’s. Nou sit ek hier en snuif en verlang vreeslik huis toe. Oos Vrystaat toe. Mense, as julle nog nie daar was nie, maak moeite en gaan kuier. Behalwe vir so ‘n wilde stuk kuslyn in die Oos Kaap, is dit my mooiste plek, my hartshuis. Die foto’s van die ou sandsteen geboue laat my dink aan die dag in Kestell se kerk.

Ek en beste pel gaan die Sondag saam met haar ouers kerk toe. Die oom sit in die ouderling bank en ons dames op die galery. So skuins voor ons sit ‘n vroutjie wat saam met ons op skool was, so jaar of wat ouer en al getroud ook. Langs haar sit so ‘n blondekop knapie, besig.  Dan loer hy oor die muurtjie, staan op die bank en probeer oor die muurtjie loer, ma dreig hom, hy sit so 5 sekondes stil, begin weer vroetel, so gaan dit aan. Later haal ma boekies uit, maar die man wil nie lees nie, speel later met sulke plastiese plaasdiertjies. Laat die skaap oor sy ma se skoot loop, dan kruip die varkie agter haar rug in, gee later vir my en vriendin elkeen ook ‘n diertjie. Hy is besig, maar die lawaaierig nie, regte klein charmer, loer so elke nou en dan om en smile dat jy net dimpels sien. Hy pla niemand nie, maar die ma is ge-stress en gee die mannetjie sulke kwaai kyke. Ek knipoog vir hom en hy probeer dit ook, maar kry net altwee geknip. Te cute vir woorde, ma gee later vir hom ‘n bakkie met jellybabies, hy sit doodstil en eet almal lustig, behalwe die swartetjies, die hou hy versigtig eenkant. Later is net die swartetjies oor, versigtig haal hy enetjie uit, lig hom so na sy ma se kant toe, “Se koebaai vir die miesies”! en njam byt hy die kop af, eet die res en vat die volgende ene, hier teen die derde koebaai toe vibreer daai gallery en ons almal lyk soos opgeblaaste brulpaddas, ma kry rooi gloed op rooi gloed, mannetjie lig vierde jellybaby. Ma gryp hom, Bybel, boekies en bakkies, diertjies val grond toe, boetie besef HKGK, ma trek al by die deur. Boetie gryp aan die kosyn vas en klou soos ‘n apie, ma trek, boetie klou en skree benoud, “Pa, pa, help, ma gaan my nou d*nner” en in die diakenbank, laat sak die pa sy kop en sy skouers skud, en toe skud die gallery, en die gemeente se koppies draai om en boontoe, soos honger klein voeltjies, bekkies oop en als. Ek kon nog nooit weer na ‘n jellybaby kyk sonder ‘n glimlag nie.

Die tiekie storie moet maar eers weer wag.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Nog ‘n bietjie kerk…

November 18, 2008 in Sonder kategorie

Met al die reen wat ons nou so die laaste tydjie gekry het, laat dit my mos nou dink aan Biddag vir reen,nie die gediggie nie, die rerige biddag.

Dit was ‘n groot ding in Warden, die hele Dirkie Uys Skool se kindertjies is opgekommandeer, op in Skoolstraat, draai af in Kerkstraat en stap netjies en stemmig in gelid die bult op, Kerk toe. Klas vir klas, van Sub A tot Matriek, en as ons daar aankom, vee juffou jou skoene af met ‘n tissue, word ons volgens vanne gerangskik en stap ons weer klas vir klas die kerk in. Ons het altyd so aan die regterkant van die preekstoel gesit. Dan kom die gemeente, die grand mense so groet-groet, sit in die middel, so voorlangs, die middelklas,meestal met hul werkklere aan, op hulle plek in die linkervleuel, dan die armes, die wat daar onder in die dorp bly, daar naby die dam, of dalk op die stasie,of hulle wat op ‘n stukkie grond, met ‘n paar skaap of maer beeste ‘n lewe probeer maak. Hoed in die hand, bruin van die son, pak, blink van kerkdra. Hulle het gewoonlik hier agter teen die mure gesit of as dit al vol is, so voor die skool kinders. Daar was ‘n ou oom en tannie wat altyd so skuins voor die kinders gesit het. Hulle koppe het al gebewe van die ouderdom. Die ou tannie se koppie skud nee, en die ou omie se koppie skud ja, ons het altyd geloer onder gebed waarmee hulle saamstem of verskil. Die dag is dit weer sulke tyd. Die voorste boere en bidders, lewer lang en hoogdawerende relase, af en toe begin twee saam bid en dan sit en loer ons so om te sien wie eerste gaan sit. Dit was altyd warm en droog, ons kinders warm en dors gestap kerk toe, stilsit maar moeilik en almal jeukerig van die sweet, maar bewaar jou sieletjie as jy rondskuif, en die mense bid, hier en daar knak ‘n kop, die ou omie en tannie ja en nee, dit lyk asof almal klaar is. Ds Pienaar staan op, sit sy hande op die groot ou Bybel, skielik staan die ou omie op, swaai met sy kierietjie in die lug en vra,”Here, ag Here, laat dit tog reen Here, nie tip-tip nie Here, maar sjor”. Ek dink die Here het hom gehoor, want toe die reen kom, toe sjor dit. Wilcox brug was vir amper ‘n hele week toe onder die water.

Ouma vertel weer, hulle was jare terug, toe sy en oupa Willem nog sommer baie jonk was, inwoners van Bothaville en hulle verlaat die NG Kerk en gaan AGS toe, groot drama in die familie, maar hulle is baie gelukkig. Toe kry hulle ‘n nuwe pastoor en ouma vertel. Daai man het ‘n stemmetjie gehad waarmee jy glas kon sny, skril, soos naels op ‘n swartbord, sy se, jy mis die hele preek, want jy kan nie na hom luister nie. So soebat sy vir oupa, hulle moet die Sondag Orkney toe ry, sy smag so daarna om weer rustig na die Woord te luister. Uiteindelik stem hy in, en die Sondagoggend vroeg trek hulle weg op die plaas. Met groot afwagting sit hulle in die kerk, en raai wie stap op na die preekstoel? Bothaville se Pastoor. Ouma se hy het so ewe hulle later kom bedank vir hulle ondersteuning, oupa wou om die dood nie weer Orkney toe ry vir kerk nie en sy het maar later gewoond geraak aan die stemmetjie.

Volgende keer vertel ek van die tiekie wat die Here teruggegee het.

Lekker dag, lekker lag………

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Van kerk en trou.

November 16, 2008 in Sonder kategorie

Hoekom is dit nou maar eenmaal so dat lag in die kerk, onmoontlik is om te stop. Jy het net weer jou asem onder beheer, jou kieste brand nie meer nie, sedig is terug op die gesig, dan borrel daar skielik weer so ‘n onbeheerste giggel uit.

So kuier ons lot vanmiddag na die snooze almal saam, Goggie gee almal so op ‘n streep ‘n pedikuur en die kinders speel soos mal goed op die gras saam met die honde. Sonder dat ek kan onthou hoe, begin ons kerkstories vertel, veral van die lag in die kerk.

Skoonsus vertel van haar broer en die proponentjie, hulle het een van daardie dominees op verlof. As dit nie studie verlof is nie, dan is dit jaarlikse verlof, maar hy het baie met verlof gegaan. Gelukkig het Bloem ‘n goeie teologie departement en is daar altyd ‘n gewillige proponentjie wat instaan. Daardie somer was die dominees weereens met verlof en kry die gemeente ‘n proponentjie met die siel van ‘n digter. Ek het een diens bygewoon en was dae daarna nog verward. Die preek was oor glas-treine wat soos branders teen die rotse verpletter word, of glas rotse wat treine verpletter. Ek het pa gevra oor die preek en hy het net ergerlik geraak, so ek vermoed hy en die ander ouderlinge het ook nie verstaan nie. Terug by Skonie se broer, daar waar stout ophou, daar begin hy, pas aangeneem en vol streke. Die somer was besonder warm en die kerk maar arm, so die deure en vensters is oopgelos om krag te spaar. Die proponentjie het die gewoonte gehad op laaaaaaank te bid, erg hoogdawerend ook, maar elke keer, voor hy begin, buig hy sy hoof, wag vir ‘n gewyde stilte, en begin met “Here” gevolg deur nog ‘n gewyde stilte, daarna volg ‘n laaaaaaaaang gebed, voor ‘n harde “Amen”. Skonie vertel dat hulle dan gesit en kyk het wie van die ouer mense eerste wakker skrik.  Dit was net voor kersfees en hulle het ‘n kersdiens in die aand gehad. Skonie, haar broer en van die ander jonges het almal saam met die koor op die galery agter die proponentjie gesit. Die koor het gesing, te pragtig, die kerse het gebrand, te pragtig, die ou kleintjies het hulle liedjies gesing, soos engeltjies, te pragtig. Alles baie plegtig en gewyd, proponentjie het ‘n kort maar dramatiese boodskap gebring, dit was tyd vir gebed en dan sou die koor weer voorsing. Soos gewoonlik was daar die stilte, toe die “Here” toe weer die stilte, en dis in hierdie tweede lomerige, gewyde stilite wat Skonie se boet met ‘n diep ‘JAAAAA” antwoord. Daar was blykbaar so chaos en die gemeente het so gelag dat die diens net daar gestop het. Sy kon nie onthou dat die man die volgende Sondag opgedaag het nie.

Kleinsus por, vertel van ouma se troue. Oupa is oorlede toe ouma maar so 54 was, en al was sy ‘n mooi, deeglike en deugdelike vrou kon geen van die vlerksleepers hond-haar-afmaak nie. Toe op 67 kom ander oupa oor haar pad en vat nie nee vir ‘n antwoord nie en ons hou troue. Ma is in Smithfield, Tannie Ina in Warden, Tannie Hanna in Sasol, Tannie Blom in Bloem en ek in Slabberts, maar ons reel so oor die telefoon ‘n troue wat skrik vir niks. Ouma weet van geen sout of water want as daar ‘n paartie gehou gaan word, dan gaan sy nie, sy en oupa is oumense, en hulle gaan hulle nie belaglik hou nie, net haar kinders en kleinkinders en oupa s’n kan kom. MAAR, die twee bly al jare der jare in die omgewing en al wat vriend en bure laat weet hulle kom, en ons kan mos nie die mense honger en dors wegstuur nie!!?  So kuier ouma en kleinsus by my voor die troue, op die nipper kan swaer nie saamgaan nie en net daar word besluit dat  sus, goggie en  die seuntjie ook saam sal ry. Ons is dus nie net ses wesens in die kar nie, so groot blou Ford, maar ook almal se bagasie, die troue se goed en al die los goed wat ouma nog nie Warden toe gestuur is nie. Ouma stop die kar neus op teen die opdraende, ons laai alles, die kar is gepak tot teen die dak, ek moet bestuur, en daar wil die kar nie vat nie. Ek free hom bult af, ouma bid en baklei, maar ek kry die ding aan die gang en daar gaat ons. Gaan groet vir swaer en kry die boodskap dat pa vra ons moet by Graan en Saad in Bethlehem stop en Rooi Raapsaad vir die kanaries kry (Wat ons waar pak?) Tot op Bethlehem gaan dit goed, ouma maak my stop vir die saad, pak dit by haar voete, stop by Clicks vir ‘n kam, ek is die enigste wat nie vasgepak is nie en moet uit. By die garage check ons die water en olie, pomp die bande en maak vol vir die stuk wat voorle. Alles gaan goed, die kinders slaap en behalwe dat ons nie meer ons voete kan voel nie, ry ons veilig. So 30 km van Warden af begin die neukery, eers ruik ek rook, maar die ander ruik niks, so ons ry maar, toe ruik almal rook, toe borrel die rook hier onder die stuurwiel uit. Ek wil stop, maar ouma se, “RY” toe ry ek maar, ons draai vensters af en later is die rook en die reuk ook weg, alles gaan weer goed. Voor Warden is daar so ‘n lang afdraende, dis daar waar ek agterkom hiers groot moeilikheid. Ek trap rem en daar is nie remme nie!! Ek wissel ratte soos pa geleer het, ek trek versigtig aan die handrem en hy vat-vat so effens, ouma raak gestress, die kleintjies skree, ek skree terug en bid sommer ok. My senuwees wil-wil ingee Dis ‘n 90 grade draai die dorp in, genadiglik is daar geen verkeer nie, ek vat die draai wyd, gaan so skuif-skuif op twee wiele die dorp in. Nou skree almal, ouma bid hardop, die kleintjies skree blou moord, ek kruip is 1ste verder, ons blyplek is aan die einde van nog ‘n vreeslike afdraende, ek vat dit kruipend, maar die bult is styl en die kar swaar gelaai. Warden het vreeslike diep gutters en elke huis ‘n bruggie daaroor, ek vlieg weer so op twee wiele die erf in, sien ek moet kies, die sandsteen garage of die groentetuin. Ons vlieg bo-oor die groentetuin en stop met ‘n gejuig onder die tannie se wasgoeddraad, my senuwees hang aan ‘n rafeltjie. Oom Thys van die garage het daai blou kar daar kom uitstoot en weggesleep. Die joggie in Bhm het nie die olie se prop goed teruggesit nie, toe stoot die olie uit, die enjin raak warm, die remvloeistof se pypie brand af en die res is soos hulle se “History” Daai blou kar het ook nooit weer huis toe gekom nie.
Maar,
Dis nog einde niet.
Die troue le nog voor.
Ouma weet steeds niks van die onthaal nie en ons maak beurte om die saal te gaan regmaak. Die aand voor die troue praat ouma diep, ek en oupa was erg lief vir mekaar en sy is bang dat ek ongelukkig is oor sy weer trou (???). Ek sukkel, dis net die senuwees, maar oortuig haar later dat ek rerig bly is dat sy en oupa gaan trou. Die groot dag breek aan. Ons, Pa, Ma, ek, Sus en haar kroos en kleinsus stap saam die kerk in. Kleinsus heel voor, dan ek, ma met goggie, sus met die seuntjie, dan pa. Kleinsus kies koers die banke deur, dis ‘n plankvloer, glad van die polish, haldpad die ry in gly my hakke onder my uit en ek slaat soos ‘n os neer. Die slag weergalm deur die groot ou kerk en ma gaan sit sommer ook, net daar. Die kerk raak voller en die ander familie sit almal bymekaar, maar ons sit waar ek geval het. Die troumars speel, ouma en oupa kom in, ouma kyk die klomp mense, steek vas, maar oupa het haar in ‘n goeie greep en hulle gaan vorentoe. Die dominee praat pragtig, alles is stemmig en beleef, soos dit oumense se troue betaam. Oupa se agterkleindogter moet die ringe aangee, sy is drie, haar oupa is die fotograaf. Die dominee laat hulle mekaar die regterhand gee, die ou kleintjie se ma stuur haar na oupa toe met die ringe, dis hier waar die sports begin. Kleintjie gee die ring vir die fotograaf, hy stoot haar in ander oupa se rigting. Hy probeer die kussing vat, sy “Nee” en hol terug ma toe, die proses begin weer, dieselfde resultate, derde keer vat die fotograaf maar die ringe vir oupa en kleintjie skree blou moord. Toe moet hulle die register gaan teken, en die einde is nie in sig. Die dominee laat hulle teken, hy sprei sy arms uit en spreek die seen uit, maar ouma se oge is oop. Sy tel die mense. Toe sing haar vriendin hulle toe, te pragtig, een of ander gebed, goggie trek weg “Heidi, Heidi van die berge”, die senuwee breek, ek sit my hand oor my gesig en lag, kleinsus lag, die bank skud. Ma dag alles het vir my te veel geword (Ek is mos teen die troue gekant????), sy druk my hand, ek lag harder, goggie “Heidi, Heidi” steeds, ma gee tissues aan, ek lag sonder genade, ma sien dat ek lag en nie huil nie en gee my een allemintige donkiebyt van ‘n knyp. Die res van die troue verloop darem glad en ouma is sowaar verlig om die saal en al die kos te sien, ons kuier heerlik en eind goed, als goed.

Dis al vir eers, ander dag lag ons weer in die kerk…

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Happy Birthday Mnr Moordenaar

November 14, 2008 in Sonder kategorie

Vandag is die dag,
die dag,
waarop ‘n moordenaar,
verjaar.
Vanaand word hy weer dronk,
al hoort hy in ‘n tronk,
vanaand is hy vry,
om nog ‘n kind dood te ry.
Vandag, is die dag,
die dag,
waarop ‘n moordenaar,
verjaar.

Om 21:21 pm is dit presies 12 weke terug

Vandag, is die dag,
die dag,
waarop ‘n moordenaar,
verjaar.
Skink nog ‘n dop,
niks gaan jou stop,
verdrink ons pyn,
in nog ‘n brandewyn.
Vandag is die dag,
die dag,
waarop                                                                                                  
‘n                                                                             
moordenaar,                                           
verjaar….           


Profile photo of ou-sus

by ou-sus

In plaas van….

November 13, 2008 in Sonder kategorie

Vandag is ek lui, ek het hope werk wat wag, maar i.p.v werk sit ek vir die kwikstertjies en kyk. Lees ek blogs en lewer kommetaar. Ek het darem die koek gebak vir vanaand, maar moet dit nog versier. Soek iets en ontdek ‘n stokou boekie vol gedigte.

Daar sit ek toe, kyk vir kwikkie, lees ‘n gedig, dink oor die koek, die werk, alles wat nog gedoen moet word, kyk weer vir kwikkie en lees hierdie stukkie raak.

Everyday things

Seek out the beauty
in everyday things,
look at the patterns
on butterfly wings.
Birds, trees and flowers,
the moon way up high,
millions of diamonds,
strung out in the sky.
Seashells and sunbeams,
a bird that sings.
Don’t miss the beauty
in commonplace things.

Kathleen Gillum

Dit is vir my so pragtig, die mooie in alledaagse dingetjies. Hoop dit kan vir iemand ook ‘n kleine vreugde bring, maar nou ja, van sit en staan kom niks gedaan, en die vergalste koek gaan nie homself versier nie.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Dankie Swaer….

November 12, 2008 in Sonder kategorie

My sus se skoonfamilie is musieklik,myne nogal ook, bekenderig ook. Sus s’n verkoop net nie cd’s nie, hulle luister, hulle speel en sing, vir die kerk, vir mekaar, sommer net, hulle is partymaal nogal goed.

Goggie het ‘n engelstem, net verdeksels suinig met die singery. Ek moet male sonder tal op vrek harde skoolsaalstoele my bobbejaanboude sit om die kind te hoor sing. Ek is rerig lief vir musiek, het self op my dae voor in die koor gesing, skool, na-skool, kerk en ek wou nog altyd leer kitaar speel.

So gaan kuier ons vir Goggie se verjaardag en swaer slaan die kitaar en seuntjie hang aan sy lippe, hy moet maar half versigtig speel anders slaan hy seuntjie se neus hier tussen die snare vas. Lang storie kort, agter ‘n bank haal hy ‘n ou kitaar uit, meer snare af as vas, en gee dit vir seuntjie. Praat van ekstaties. Die kar is tot teen die dak gepak maar kitaar moes saam. Dankie swaer.

Hy slaat daai snare, gee tot lesse vir hartskind en sing saam, sy eie komposisies. Vals soos kan kom, geen ritme, geen melodie, maar hope energie en baie luidrugtig. Rot in die pottekas styl en hartskind dans Zoid-styl saam. Behoede my!!

Dankie swaer, ek gaan daai snare nog een nag stil-stil afsny, die hele lot, of, ek sal moet iemand kry wat kitaarlesse gee, en gou ook. Dankie swaer .

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Kerneels se fliek…

November 12, 2008 in Sonder kategorie

Ek lees nou net Kerneels se storie oor die fliek, dit laat sommer my gal kook. Ek is so oorgatvol vir drank en dwelms, en ja, almal se slapgatgeit daaroor.

Waarom, vra ek jou, waarom beskerm ons hierdie vrotplek in ons samelewing? Ons is almal sondaars, ek, verseker van die voorstes, maar dis asof ons dink dat as ons dit lank genoeg kan ignoreer, dan sal dit weggaan.

Ons is te goed grootgemaak, het dit al vir ma-hulle vertel ook. Ons is so beskerm, my pa is nie die beste pa op aarde nie, maar nooit een keer was hy dronk by die huis of enige ander plek nie. Die bollie wat hy aangevang het, het hy doodnugter gedoen.

Toe trou ek met iemand met ‘n drankprobleem, met ‘n hele skoonfamilie met drankprobleme, en onnosel, naief wat ek is, glo ek hom toe hy my vertel dat sy drinkery my skuld is. Ek tel gewig op, verloor gewig, sny my hare, groei my hare, dra baie grimering, dra geen grimering, breek myself af tot niks meer van my oor is nie, glo dat my onvrugbaarheid en onskuld die rede is vir sy kilheid. Ek was ‘n maagd en hy het my skuldig daaroor laat voel, toe het hy my vertel ek is ‘n koue vrou en ek het hom geglo. Toe hy op my urineer en my vertel dat dit al is waarvoor ek goed is, het ek iets in my voel doodgaan. Daar het ‘n dag gekom wat ek met die .38 gesit het en net ‘n einde aan alles wou maak, maar ek het net nie die guts gehad nie, toe staan daar iets in my op en ek draai om. Daardie aand het ek vir hom gewag, en toe hy uiteindelik inkom het ek hom laat sit en hom vertel dat ons gaan soek vir hulp, dat die pad hier stop, die siklus hier ophou. Nooit, ooit, maak ek weer vir hom verskonings nie, lieg ek om hom te beskerm nie, maak ek weer skoon agter hom nie. Ek vertel hom dat as hy my wil he, dan sal hy hulp moet kry, en gister was al reeds te laat daarvoor. Die bal is nou in sy hande, hy kan kies wat hy daarmee gaan maak. Ek het ‘n belofte gemaak dat ek hom nog ‘n kans sal gee, maar ek gaan myself nie meer op Bacchus se altaar offer nie. Indien hy nie kans sien nie, sal ek uittrek, en aangaan met my lewe, sonder hom. Ek aanvaar nie meer die verantwoordelikheid vir alles wat goor en sleg in sy lewe nie. Drank het gewen, en vir baie jare was ek baie kwaad en bitter vir drank. Totdat ek een mooi more besef het dit is nie die drank nie, dis die mens wat drink wat die probleem is.

Deur die jare het ek male sonder tal gesien wat een mens se slegte gewoonte aan die mense om hulle se lewens kan doen, die seer, die vernietiging. Hier gaan nie een kind deur ons huis, hande of harte nie, wat nie deur drank en dwelms geraak is nie. Dit brand ‘n gat in jou hart as ‘n dogtertjie van 5 vir jou vertel dis maar ok as haar ma en pa mekaar slaan, haar man sal haar ook maar eendag slaan, dis wat mans doen. Dit druk jou keel toe as dieselfde kind huilend na ‘n nagmerrie vir jou vertel wat haar ma se supplier aan haar gedoen het, hoe seer dit is, dit breek jou aan stukke as jy haar en alles om haar moet skoonmaak as sy van vrees haarself bevuil, net omdat iemand ‘n man se naam genoem het. Jy kry ‘n kleine kindjie wat sit en slaap, want sy is te bang om plat te gaan le, ‘n seuntjie van 10 wat met sy onderbroek bad, want as almal om jou dronk en hoog is, kan jy baie seer kry. Jy kry ‘n kind vol sigaretbrandmerke, ‘n kind wat jy moet leer om nie in die asdrom te krap vir kos nie. Jy sien ‘n familie in rou, jy staan langs ‘n kind se graf, omdat daar ‘n dronk donner agter ‘n stuurwiel ingeskuif het, en die laaste een se verskoning is “Ek is soooooo jammmer, ek weet nie wat my besiel het nie, ek kan nie onthou wat gebeur het nie, ek was dronk, dit sal nooit weer gebeur nie.” Blah, blah, blah tot volgende keer….

Maar dis niks, die ergste is dat ons ook skuldig is, want ons laat hulle toe om hierdie dinge te doen, ons “enable” hulle, al is dit net deur niks te doen nie, deur net die kop weg te draai. Ons maak dit vir hulle makliker, ons steek hulle probleme weg, want wat gaan die mense se. “Surprise” die mense weet en praat anyway. Ons maak asof dit ons skande is, ons laat kinders glo dat dit hulle skuld is, dat hulle somehow verantwoordelik is.

Die eerste week van die kursus kom praat iemand met ons oor alkoholisme (HIV pasiente drink soms erg, en dan beteken die behandeling bokkerol). Ek sit terug om te luister oor nog ‘n gedweep oor hoe die siekte benader moet word en hoe ons hierdie arme mense moet help en bystaan en weer met ope arms ‘n helde ontvangs moet gee. Ek moes Kleinsus belowe dat ek geen opmerking sal maak en dat ek geen kommetaar sal lewer nie. Toe staan hierdie vrou op en vir die eerste keer maak iets sin. Sy beweer dat alkoholisme en dwelmmisbruik nie ‘n siekte is nie, dis ook nie geneties oordraagbaar nie. DIS “N SLEGTE, AANGELEERDE GEWOONTE!!!!! Die feit dat dit verslawend is, maak dit ‘n gevaarlike, slegte gewoonte. Die feit dat alkoholistiese ouers se kinders makliker drink is omdat kinders gewoontes en maniere en aanvaarbare gedrag in die ouerhuis aanleer, daarom sal ‘n vroueslaner se seun heel moontlik ook sy vrou slaan, en sy dogter aanvaar dit is maar hoe mans teenoor hulle vroue optree.
Dank die Heer vir die uitsonderings, vir die kinders wat uit die as opstaan en besluit, “Dit is nie wat ek in my lewe wil he nie” Ek haal my hoed vir julle af, julle is my helde.
Sy vertel ook dat indien iemand hulle nader vir hulp, hulle almal sal probeer akkomodeer, maar dat indien die persoon wat behandeling benodig, nie self erken dat hy ‘n probleem het nie, hulle hom deur die proses kan laat gaan, maar dat die kans vir sukses bitter skraal is. Hulle werk ook daadwerklik met die familie, die fokus is dus nie net op die pasient nie. Hulle glo ook dat die persoon verantwoordelikheid moet vat. Ek was lus en skree “Halleluja”. Ek is vet omdat ek te veel eet, dis my slegte gewoonte, ons almal het slegte gewoontes, maar as jou slegte gewoonte iemand anders se lewe vernietig, dan is dit dalk tyd om na jou gewoonte te kyk. Dit is ook ‘n feit dat kinders nie leer uit wat jy hulle vertel nie, maar uit dit wat jy hulle in jou lewe ervaar. Dit is ook ‘n feit dat indien daar ‘n behoefte is en dit nie vervul word nie, jy gaan soek na iets anders om hierdie behoefte te vervul.

Terug na die meisie in die fliek, hoe sal ons weet waarom sy dwelms gebruik, sy het dalk dierbare goeie ouers, sy was dalk maar net nuuskierig die eerste keer? Dalk is dit waaraan sy gewoond is by die huis? Dalk is daar niks en niemand anders in haar lewe wat haar goed oor haarself laat voel nie? Dalk het sy net ‘n dom keuse gemaak? Dalk wou sy ook maar net cool wees? Dalk, dalk, dalk…..

Die hartseer waarheid is dat iemand ‘n prys hiervoor sal moet betaal, en die onskuldiges is gewoonlik die wat die seerste gemaak gaan word. Ek kan nie klippe gooi nie, en voor iemand nou weer vertel hoe wonderlik ons is om hierdie kinders te help. Dis nie oor ons so oulik of goed is nie, ons het net by ‘n plek in ons lewens gekom waar ons moes besluit, of ons is deel van die probleem (die beste stuurmanne staan mos aan wal) of ons is deel van die oplossing. Ons het besluit om ‘n positiewe verskil te probeer maak, en die beloning is groot. Daar is geen groter skat as ‘n kind se vertroue, daar is geen kosbaarder skat as ‘n kind se spontane vreugde nie, daar is geen mooier musiek as ‘n kind se lag nie. Ons is klaar ge-Bless.
Hulle is ons almal se kinders, ons almal se verantwoordelikheid. Waar staan jy? Is jy deel van die oplossing, of is jy deel van die probleem?

Daar is ‘n gesegde “It takes a village to raise a child”. Wat leer jy die kinders in jou “Village”?

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Dankbaar

November 11, 2008 in Sonder kategorie

Kyk,

ek wil dans vandag,

nie statige wals of fyne tone-punt ballet nie.

Ek wil ruk en ek wil rol, ek wil jubel en ek wil jol!!!

Ek wil boude swaai en arms waai,

ek wikkel en ek wil waggel!!!


Kom dans saam!!!

Die dans van die reen.

Ek ken nie meer die gedig van dans van die reen nie, het dit lank terug geleer en lankal vergeet, maak ook nie meer saak nie.

Ek is so dankbaar.

Bloemfontein is nat,sopnat,waternat, nat. Dit het gesous, die weer was swaar en donker, die weerlig het gepraat.

Hartskind wou weet wie speel so met die ligte,

die krag is dan af.

Dankie Vader vir die genade,

die droogte se wurggreep is weg en om my jubel die natuur.

Alles is skoon en oop en blink, die voels is skoon verspot en bad hier in die plasse op die grasperk, die Hadida’s loop en pik hier in die water en die ou wit bosluisvoel sit hier soos ‘n ou met babelas.

Ek het gisteraand in die reen geloop om die garage se deur vir manlief te gaan opmaak, ek was sopnat, klere deurtrek van die reen, die water was om my enkels en die druppels op my gesig. Ek het aspris stadig geloop,

want dit was lekker.

My swart naam is hoeka Puleng,

Pula beteken reen en is die manlike vorm van Puleng.

Ek is kind van die reen, ek roep die reen het die mense op die plaas geglo en ek verbly my in die strome van seen uit die hemel.

Ja,ek weet daar is ‘n donker kant ook, van vloede en oorstromings en mense wat verdrink in riviere wat oor die walle klim, en huise wat oorstroom ens. ens.

maar VANDAG, NOU, is ek bly, bly, bly,

want om my was die wereld winter, was mens, dier en natuur, vaal en stowwerig, verslete, moeg, verlep.

MAAR,

vandag is alles skoon, nuut, lig die gesiggies boontoe, laat die son blink weerkaatsings op die poeletjies, bad die mossies en duiwe op die gras, hang druppel-diamante aan grassade en grensdrade. Is ek Dankbaar.

Vandag leer ek hartskind hoe om met twee voete gelyk in die plasse te spring (Ons sal maar die klere Vanish),

vandag leer ek haar van gril as die modder koel deur jou tone krul.

Vandag vergeet ek van sukkel met wit teels en moddervoete in die huis.

Vandag eet ons pannekoek met botter en kaneelsuiker, pannekoek met appels en rosyne, pannekoek met piesangs en gekookte kondensmelk, pannekoek met kaas, vandag eet ons pannekoek en drink ons lang glase melk.

Vandag vier ons fees,

‘n dankie-fees,

vir die reen,

vir genade,

vir lewe.

Amen.