Jy blaai in die argief vir 2008 Oktober.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Alle Bobejaantjies..

Oktober 22, 2008 in Sonder kategorie

Ek wil maar nie leer nie. As iemand in my gesin vra, “Ousus, wat doen jy more (of Maandag, of die naweek of watter dag ook al)”? Dan moes ek nou al teen die tyd weet om eers te vra waarvoor hulle die inligting nodig het, maar nee, ou bobejaan, lank in die land, leer nie.

Sussa bel ‘n jaar of wat terug, en hulle verlang nou so en dis nou ‘n langnaweek en Kleinsus vang graad en almal gaan daar wees en wanneer laas het ons as gesin almal so saam gekuier ens, ens. Ek praat met manlief en bel terug, “Ja ons kom”. “Wonderlik, en bring sommer jou resepteboek en muffin-panne saam”. Moes toe al geweet het, maar nee, ek leer nie. Ek bak daai naweek vir die kerkbasaar, tot 11uur in die nag bak ek vir die kerkbasaar. Dis chockchip, blueberry, lemon & poppyseed, wortel & piesang, wit sjokolade, bruin sjokolade, donker sjokolade & lemoen, vanilla en bran. Hoe later hoe kwater en hoe vreemder die kombinasies (Hilda se moses). Manlief wil hom doodlag, Ma jaag my aan want sy moet nog lemoenkoeke bak en die kinders dink krismis is vroeg die jaar want hulle kan die  mengbakke uitlek. Boet en Skonie lyk soos bosdiertjies van die flenters spookasem wat aan hulle vassit en die wereld om hulle is donsig en taai. Sussa se skoonma maak terte en ouma Rose maak melkterte en Sussa prys en delegeer. Vrydagaand slaat ek neer, op, klaar, poegaai en Sussa gee drukkie en vra “Sal jy vir my nog so 2 Death-by-Chocolate koeke bak, vir die teetuin”? Daai koeke is warm teetuin toe, deurtrek van die Ganache. Nou vra ek oor die kerkbasaar voor ons gaan kuier.

So gaan dit met ouma Rose se 70ste verjaardag, 300 klein pampoempoffers met karamelsous, met die 80ste bak ek darem net die verjaardagkoek, ok vir oupa Nollie se 80ste (die tannie wat moes bak, se senuwees het ingegee, wonder hoekom) en so gaan ons aan, en die vriende val in die koor in, vriendin trou en ek moet bak en hulle soek ‘n bruin sjokoladekoek, maar dit moet wit wees. Haar kleurskema, lime en lilac, (moenie vrae vra nie) en maak maar soos jy lus het, ek weet dit sal stunning wees. Dis ‘n baie intieme troue, net so 20 mense, maar daar daag tweekeer so veel op en behalwe ‘n paar verdwaalde gevulde doppies, is die koek poeding ook. Ons deel daai dag die koek soos die broodjies en die vissies. Kleinsus bel, kollega se kind word 8 en kollega sit in Keimoes en die arme ou seuntjie, en hy hou tog so baie van spinnekoppe! Dan bak ons maar ‘n slymgroen koek vol Fear Factor goggas en ous Lieisie wil weet “Gaan hulle daai koek eet”?!

Maandag vra Kleinsus, “Ousus, wat doen jy more”? en ek,ek het nog nie geleer nie en gister maak ek beskuitjie-fudge vir die CRS M&E training. 120 mense, 6 blokkies vir elkeen, “You do the math” en vandag moet ons dit verpak. Ek leer maar net nie, en dis so warm dat die dem goed nie wil stol nie en ek hardloop uit geduld en Marie Biscuits uit en die kinders kom nie onder my voete uit nie, maar 10 uur laas nag toe sit ek die laaste pan in die yskas, en Goggie vra, “Van wanneer af bak tannie al?”

Vandat ek by die stoof kan bykom, my kind…

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Muskietejag

Oktober 20, 2008 in Sonder kategorie

Ek dag die goed het water nodig om uit te broei. Verstaan dit nie, dis so droog hier in Bloem, die lamppale hang kop-onderstebo. Weet nie of dit van droogte of hitte en of albei is nie. So, waar kom die goed vandaan?

Jare gelede toe pa nog jakkalse gejag het vir ‘n lewe, word hy verplaas Smithfield toe, ek en ouma ry een Sondag deur om te gaan kyk vir huise, en dis droog en warm soos nou. Daar is huise, mense seker ook, maar die dorp is soos ‘n spookdorp, al beweging is die petroljoggie wat hom met sy pet sit en koudwaai. Ek en ouma soek ‘n lafenissie, die kafee is toe, uit so ‘n outydse Coke yskas haal hy sulke klein botteltjies vreeslike koue koeldrank uit. Ek is nie baie erg oor gaskoeldrank nie, maar daai middag suig ek en ouma amper ‘n duik in ‘n glasbottel, ons drink sommer so sonder strooitjies. Dis so koud,as jy so sluk dan pyn dit hier tussen jou twee oge, maar dis nat en koud en ons is warm en dors. Nie eers verder na huise gekyk nie, sommer net omgedraai en huis toe gegaan.

So trek ma-hulle in, een masiewe vyf slaapkamerhuis op ‘n nog groter stuk erf, en ma huil oor haar Nagmerries wat nou verhuur moet word en haar tuin wat iemand anders nou geniet, want hier groei bokkerol en dan groei dit hoog, met dorings en blom dit blou. Sy werk weer by die kooperasie en pa hou die boere se skape aan die lewe. Maak dierbare goeie vriende, oom Frans Bok en sy vrou ( daai tannie mag maar potbrood bak!) en hul kinders, hulle is nou jare later nog steeds soos familie. Pa en ma begin ook rolbal speel, die baan is dan net oorkant die straat. Ek en die heks-man kom terug van die honeymoon from hell, of die helse honeymoon, net soos jy dit wil plooi, dis in alle geval nie iets wat ek wil weer gaan doen nie.

Die aand gaan slaap ons, en die pret begin, dit klink asof al die gumboot dansers van al wat myn is, in daai kamer is. Dis ‘n geklap van ‘n ander wereld, en ‘n gejeuk en gekrap. Later sit ons ligte aan, en daar sit die klomste, kleinste, gitswart gifgat muskietekies. Jy kan nie glo daai klein dingetjie kan so seer knyp nie, ons lyk of ons knoppievelsiekte of pokke of iets het, so probeer ons slaap, maar dis moelik so tussen al die klappery deur. Die volgende oggend strompel ons doodmoeg en vol knoppe kombuis toe, en pa wil hom kruppel lag. Kyk, ek weet nie of dit my bloed of my aura of wat dit is nie, maar muskiete lief my, hulle sal deur ‘n plas bloed kruip om by my uit te kom. So, die heks-man is knopperig, maar ek lyk asof ek een of ander tropiese siekte onder lede het. Ma smeer net Calamine lotion en so valstand-gum-pienk gaan ek maar toe deur die dag.

Later die middag vertel sy, hulle trek in, en dis warmer as leef, die aand slaap pa bo-op die beddegoed, net so in die wit jockey’s, daai met die gaatjies, en die muskietetjies maak goed gebruik van die gaatjies, pa het blykbaar vir ‘n hele paar dae maar ongemaklik gesit. Die aand is dit weer sulke tyd, staan maar later op en gaan sit in die sitkamer, dan sien jy ten minste die vyand aankom. Pa kom sit maar saam, merk later droogweg op “Het jy gehoor wat hulle se?” Nee Pa. ” Die een vra die ander, vreet ons hom hier, of vat ons hom huistoe?”

Hoor gisteraand hulle noem hulle water muskiete… Watse water?

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Die lekkerste lekker

Oktober 17, 2008 in Sonder kategorie

‘n Onverwagse geskenk is beter as die een wat jy weet onder die boom wag. Om iemand van wie jy al amper vergeet het raak te loop en al die waar is so-en-so nou op te vang. ‘n Pel wat bel as die lewe van al die kante druk. My hartskind wat haar handjie op my wange sit en my vertel ” mammie, jy is so mooi” Dis die kleine, die onverwagte, die uit-die-bloute, sommer net dinge wat my lewe die lekkerste lekker maak.

Dankie vir die prys, dis onverwagt, ‘n lekkerste lekker.

Dankie Kerneels vir die oproep, sou sowaar nie geweet het sonder jou nie.

Dankie Kites, sal verseker vir jou rooibostee moet trek vir die seer-geleesde oge.

Die week is verby en more gaan ek en hartskind meisiemensgoete doen. Sy vra my vanaand “Mammie, wat se goed is hiellie?” Dis moesies my liefie. “Mammie, hoepin het jy so baie van hulle?” Jesus was so lief vir mamma dat hy hulle almal vir my gegee het my liefie. Na ‘n rukkie se stilte… “Mammie, ek like hulle nie, lat Jesus hulle eeldel tlugvat.”

Mag julle vannag los en vas slaap. Los van alle stres, bekommernisse en vrese en vas in die wete dat daar Iemand is wat ons nie uit Sy Hande sal laat val nie.

Ousus

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Woorde

Oktober 16, 2008 in Sonder kategorie

Dank die Vader vir woorde, ek is dof gehuil en moeg vir lelik. Toe lees ek die woorde raak.

Musiek

Aan hierdie hart se tenger kelk
het U getik en fyn
uitdeinend sing die glas
sy melodie van pyn.

U le ‘n vinger op die rand
wat skrynend, weerloos tril
en skielik word my hart
se fyne smartsang stil

Ernst van Heerden.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Stadiums van….

Oktober 16, 2008 in Sonder kategorie

Ek weet daar is stadiums van rou. Lank terug toe ons in die kanker saal gewerk het, het jy dit gesien, gehoor en saam met die kanker geruik. Jy het dit by die pasiente gesien, by hulle familie en ook by die personeel. Ek het die teorie gedoen, die prakties, mense bygestaan en berading gegee.

Ek weet daar is stadiums van rou. Kan nie meer die presiese volgorde onthou nie, maar ek weet woede is een van hulle, en ek, wat nie sommer kwaad word nie, het gaan vasslaan op kwaad, woede, skuins bedonnerdgeit.

As ek een van daai x-men goeters was, was die hele wereld vandag om my vol gate, ek sou sulke rooi bolle vuur uit my hande laat skiet, ek sou karre en mure en geboue omgeskop het en hulle gaan uithaal het. Die parasiete, hulle wat soos dodder om iemand anders draai en alles wat mooi en goed is uit hulle slagoffers suig. Daai mans wat kleine kindertjies so erg verkrag dat hulle ingewande onder uithang. Ma’s en pa’s wat hulle drank en dwelms liewer het as hulle kinders, die selfde kinders wat hulle nie ‘n beter lewe gun nie, want fok mevrou, dis mos my kind, jy gee nie jou kinders soos klein hondjies weg nie mevrou, nee, nee, jy los hulle net. Jy laat hulle in asblikke grou vir kos, jy laat hulle met sigarette gebrand word, jy laat jou customers en jou supplier jou dogtertjie verkrag, want ons moet eet mevrou (en waar sal die geld vandaan kom vir die volgende fix mevrou). Die Here weet mevrou, ek het so mooi na die kind gekyk mevrou, maar jou kind is so vol wurms dat sy sere oor haar hele lyfie het daarvan, sy het so luise dat dit in haar wenkbroue is, sy is vol blou kolle en sigaretmerke, sy is net 2, mevrou.

Ek rou vir Wilmirie, ek rou vir my sus en swaer en die 2 was agtergebly het, ek rou vir Kerneelsie en ander vriende, haar maatjies wat vir dartelkind mis, ek rou vir ‘n ouma wat haar hele blywees om hierdie kind gedraai het, ek rou vir ou Boela wat nooit weer met sy Vlekkie sal kan speel nie (Oupa huil nog elke dag oor jou Varkie), ek huil vir my ma wat besig is met die memory kwilt en haar nog aan haar kleertjies kan ruik, ek huil vir ouma Rose en Boeta wat elke aan haar foto nagse, ek huil vir almal wat moet aangaan maar nie rerig weet hoe nie, vir my man wat nie weet wat om met hierdie tranerige ou vrou te maak nie.

Maar…

Ek huil ook vir my plek-van-veiligheid-kinders, my pleeg-dogtertjie, die enetjie in die terapeutiese sentrum, die wat deur die samelewing se hande gly, want ons is te besig om betrokke te raak by hierdie kinders, ons wil nie seerkry nie (maar wat van die kinders?).Ek huil vir my pasiente op Antiretrovale Medikasie, ek huil vir die Orphans and Vulnerable Children, ek huil vir die klompie gestremde kinders wat altyd so bly is om my wit gesig te sien, ek huil so dat ek al skoon siek voel. Ek detox deur trane

Maar…

Ons is sterk, ons sal opstaan en aangaan, ons sal mekaar dra en bemoedig, vandag jaag ek jou swart hond en more jaag ek hom weer vir jou, want, God is groot en genadig en ons het mekaar en daar is vlerklose engele oral om ons (jy noem hulle vriende)en ek het hierdie plek gekry waar ek kan vent. Ouma Soes het ons geleer: “Gedeelde leed is halwe leed en gedeelde vreugde is dubblele vreugde.”
Wilmirie en Boeta (of David en Johanna, soos ek hulle genoem het)

My gunsteling foto van Wilmirie, dansend en dartelend, vlinderkind.

Kerneels, ek dink ek ploeg nou met van jou kallers, indien jy die foto’s geneem het, vergewe maar.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Trane oor die inkleurboek

Oktober 15, 2008 in Sonder kategorie

Ek is nie een van daai vroumense wat mooi kan huil nie. Eendag wil ek nog leer om soos ‘n meisie op die TV saggies te huil, met so ‘n enkel traantjie om haar smart en leed uit te bring, maar nie nou nie. Nou wil ek ween soos ‘n wolf. Ek wil dat mense onrustig moet opstaan en hulle deure en vensters moet gaan check. Want die wolf is daar buite, en sy howl, met lang tande en spoeg wat spat.

Ja, Kerneelsie, jy ken my, skerp man jy, en jy sal verstaan….

Maar vir die wat nie weet nie. My middelsus was die 22ste Augustus op pad om te kom kuier hier in Bloem. 10 km anderkant die Verkeerdevlei Tolpad ry een dronk donner met sy groot Ford agter in haar karretjie vas. Nie net dronk nie, het ook nog met ‘n vieslike spoed gery. Hulle het nie ‘n kans gehad nie. Sus is fisies ok, seunskind is deur die agterste ruit, 150 m ver gerol en gehop oor die teerpad, die veld in, amper nie ‘n draad klere of velle aan sy lyf oor nie. Vlinderkind op die agterste sitplek is daar langs die pad dood. Sy was net 10 jaar oud. Die klein lyfie vir wie ons dae en nagte deur hospitaal stoele blink gesit het met elke nieropersasie, die klein lyfie vir wie familie en vriende hulle kniee eelte gebid het, die klein lyfie wat altyd gedartel en gedans het, is stil. Vir ewig.

Goggie bel, histeries, “Lielie, waar is my ma, wat gaan aan met my ma?” en ek weet nie, dan sny die foon af, Ma bel, sy kry nie vir Boet in die hande nie, hardloop oor na sy huis, Sussa was in ongeluk, iemand het in haar vasgery van agter af en hulle kry nie die polisie in die hande nie. Ek hardloop en loop haal Boet uit die bad uit, bel ma, bel polisie. Skonie en ouma kry komberse en koffie reg, boeta gryp toue en noodhulptas, (ons dag ons sal moet help om die kar te tou of so iets) en ek en Boet jaag uit. Op pad bel swaer, “ousus, wat gaan aan, ek kry nie die mense in die hande nie, en die man se dat sussie sleg lyk?” Ek weet nie, ons ry nog, ma bel, hulle is op pad, gooi nog petrol in, sy praat van ambulanse en skielik kom sit ‘n klip op my bors en ek weet. Dis erg, dis verskriklik erg en ek vertel vir Boet en hy jaag, en ek bel Kleinsus en vra “Bid” en ek bel vriende en vra “Bid” en terwyl ons in die nag in jaag probeer ek bid, maar al wat uitkom is “Jesus, Saviour, Son of God, Please have mercy upon our souls” en later keer trane en die klip selfs dit, al wat uitkom is “Mercy, Mercy” oor en oor, en almal bel en ons weet steeds niks.

Dan sien ons die ligte, ambulanse, polisie, rooi ligte, so baie  ligte en pa is agter ons en Boet spring uit en hardloop, maar pa is voor hom daar, en ek sien hoe my pa inmekaar sak en ek hoor sy krete “Ag Here Nee!!!” en ek weet, ek sien hom opstaan, skielik oud, inmekaargetrek, ma wat vra “Waar’s my kind” en dan haar huil oor die ou kleintjie en haar geroep na sus. Dan bring hulle Goggie na my toe, ek druk haar lyf teen my vas en luister na haar rou krete “My sussie is dood, my sussie is dood” en ek sluit die trane weg. Daar is nou ander wat belangriker is.  Boet bly by die ou lyfie, hy het haar gehelp grootmaak, hy sluit ook die emosie weg, ons moet nou eers ander hierdeur help. Veel later kom staan hy by Goggie en ek gaan staan by die lyfie, maak haar toe as die trokke se wind die kombersie opwaai, luister hoe die polisie stry oor wie beheer oor die toneel moet neem, luister hoe die polisie met die ambulansmanne stry oor wie se plig dit is om die lyk te  verwyder. Almal bel, swaer ook en ons lieg, want hy ry nou ook Bloem toe, “Ons weet nie, hulle word nou gestabiliseer, die ambulanse ry nou, ons weet nie” Skies swaer. Ek bel manlief, vat die kinders, gaan langsaan, na Skonie, sy en ouma gaan jou nou nodig kry, ek is ok. Ouma, ouma groot bel en hoor Goggie so vreeslik, vreeslik huil, rou krete, “Om hemelsnaam, wat gaan aan, vertel my, om hemelsnaam” en ek moet vir hierdie ouma, oumagrootjie van 81 vertel dat een van haar kindertjies weg is. Ek hoor net die foon val en haar gille en Skonie wat benoud na my man roep en dan niks. En ons wag, die ambulans man ry en die polisie sit en radio luister in hulle bakkie en ek en Dineo (die swart engel van Qwa Qwa wat die heeltyd gebly, gehelp en ondersteun het) sit en wag by die lyfie. Later bel ek vriendin in die polisie en vra vir hulp, wat gemaak, hoe gemaak om die lykswa te laat kom, en sy praat met die polisiemannetjie en hy “ja inspekteur, nee inspekteur” en klim op die radio, 10 minute later bel iemand van Parkweg Polisiestasie om te rapporteer dat die lykswa op pad is. Boet en Goggie ry terug na die ongeluks toneel om klere en so te probeer red en kom terug met ‘n kar vol stukke bagasie, deurtrek van die petrol. Boet ken die lyfie uit sodat die polisie fotograaf sy werk kan doen, Goggie is rustiger maar ons hou haar weg van die lyfie af. Ma laat weet hulle is by die hospitaal en die ander 2 gaan ok wees. Skonie laat weet ouma is in ‘n toestand, maar sy en manlief sal kyk, die kinders slaap almal en sy en manlief sal mooi oppas. Kleinsus bel kort-kort, net vir moed inpraat, sy kry nie ‘n vlug nie en ry terug van Durban af, sy is darem nie alleen nie, ‘n kollega is daar en sal saam met haar ry. Dankie Liewe Heer vir jou vlerklose engel Hennie. Uiteindelik kom die lykswa, met net die drywer, Boet draai sy kop weg ” Ousus ek kan nie” en ek en Dineo help om die kleine lyfie oor te tel, om die plastiek om haar te vou, om die mandjie in te stoot, en dis verby…

Ons jaag hospitaal toe om swaer te gaan inwag, hy weet nog nie, pa is dwalend, die dominee kom ondersteun, vriende bring koffie en erens daar buite gaan die lewe aan. Boet vertel swaer en Kerneelsie, ek loop sommer weg. Ons vat swaer na sus toe en sy vra ” Ousus, bid vir ons?” “Ag Here, my woorde is so weg, wat vra ek, wat sal hierdie ding beter maak?”  Kerneelsie bly en ondersteun, nog ‘n vlerklose engel. Later ry ons, ek en Boet huis toe, stukkend, snikkend oor ons mense wat so seer is, en ons wat so magteloos is.

Die begrafnis is verby, goedjies is opgepak en vir die kindertjies in Kestell gestuur, Kleinsus help om alles uit te sorteer, daar beland ‘n boks goedjies ook by my, maar ek kan nog nie kyk nie, maak hom toe en bere hom hoog. Dan vra Sus, “Ons soek ‘n prentjie, in ‘n inkleurboek, dink dis by jou” Vanoggend pak ek hom uit, die boks, en ek huil.

Ek is so kwaad, so magteloos hartseer, oor ek niks kan doen om dit beter vir Sus en Swaer te maak nie, nie vir Goggie en Driaan kan troos nie, nie die ouma’s en oupa’s se las kan ligter maak nie, oor my Boet wat in sy hart huil, rou en ek kan niks daaraan doen nie. Ek is die oudste, ek is my broeder se hoeder, ek is verantwoordelik vir hulle en ek is magteloos, hande deur hierdie seer gebind.

Ek wil my hande op daardie man sit. Nie om hom seer te maak nie, ek wil hom in my kop laat inklim, ek wil hom sy handewerk wys. Ek wil hom daardie klein lyfie wys, stukkend op die teerpad, ek wil hom daardie lyfie wys, dartelend oor die grasperk, spelend, laggend, ek wil dat sy vir hom die stories vertel wat sy self opgemaak het. Ek wil hom ‘n gesin wys wat lag en speel en liefhet, ek wil hom my Swaer sy trane wys, Sus se verslaentheid, Driaan se selfverwyt. Ek wil dat hy luister na pa se rou krete, Goggie se gesmeek, ma se geroep. Ek wil hom ‘n ou vrou wys wat inmekaarsak omdat haar seer te swaar is,Ek wil dat hy moet weet wat hy gedoen het. Dat hy vir die res van sy lewe haar gesiggie voor hom moet sien, dat hy net moet erken, hy is skuldig, net moet vergifnis vra, maar dit gebeur nie. En al wat ek kan doen is om die inkleur boek vas te hou, die onvervangbare bondel papier, met prentjies wat sy laas nog ingekleur het.

Dankie vir Dineo, Sandria, kerneelsie en Hennie.

“Jesus, Saviour, Son of God, please have mercy upon our souls”

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Die arme omie spietkop

Oktober 15, 2008 in Sonder kategorie

Ek werk mos so 60km van my huis af in Botshabelo, so elke more pak ek die groot trek aan en smiddae dodge ek Interstate. Met die Kersseisoen op hande (ja, die winkels raak al op ‘n streep blink), staan die dienaars deesdae agter elke tweede bos, party met kameras, ander sonder kameras, party steek die kamera onder sulke properse army kamoefleernette weg en dan is daar nog die kameras op pale. Blykbaar waarsku Moana van die GPS jou as daar so ‘n outjie oor jou pad gaan kom en blykbaar is dit die rede waarom al wat Gautenger is, so skielik briek trap voor die ding. Maar nou ja, daar is gerugte dat die arme siele ‘n kwota het om te skryf, anders is daar nou nie ‘n krismisbonussie nie, maar dit laat my nou dink aan Sunshine.

Ma het ‘n kombie gehad, van daai wat soos die broodblik lyk. ‘n giggelgeel kombie, en sy was lief vir daai ding. Ons kan haar 3 strate verder al hoor aankom en het dan vervaard tasse en sakke gegryp en teen die tyd wat sy en Sunshine voor die koshuis stop staan ons al almal in gelid en wag. Ek het daai stuk blik gehaat. Ek is nie van die langste nie en ek is die langste van ons meisiekinders en elke Saterdag moet die stuk blik gewas en gepolish word, jy rek vir jou op plekke… Dis in die era waar elke tweede kar ‘n bumpersticker gehad het, sus koop toe een vir ma, “Mom’s Taxi” en ek laat nie op my wag nie en plak my sticker ook, “Welcome to the ZOO”. Ma het vir twee weke met sulk dun lippe met my gepraat. Ek is die oudste, moet meer verantwoordelik wees en WAT SAL DIE MENSE DINK!!!

Die tweede Saterdag na die “Plak-van-sticker” episode moet ons die aand in ‘n massakoor gaan sing, in Frankfort, en ek het my skoolbaadjie by die koshuis gelos. Al genade is dat ons as ma van die werk af kom, deurjaag Bethlehem toe om die baadjie te gaan haal, so gemaak dan. Ma het by die Vrystaat Kooperasie gewerk en Pa het ‘n tydjie terug vir haar een enorme hond gebring, vir al die alleenslaap, want pa werk weg van die huis af en die kinders is in die koshuis, hond moet haar oppas. Om uit die dun lippe uit te kom en om op te maak vir die skending van Sunshine se dignity, het ek gewas en gepoets, tot die sitplekke met Mr Min bygekom, Sunshine shine. Ma kom bietjie laat van die werk af en ek en maat wat kuier vir die naweek moet spring om nie agter te bly toe Sunshine wegtrek nie. Dit het so gly-gly gegaan, nooit geweet Mr Min laat kunsleer seepglad word nie, en Ma se lippe raak alweer dun, want ek het al weer nie gedink wat ek doen nie. My oog vang die pakkie tussen die sitplekke, dis ‘n nuwe halsband vir Duiwel (die hond), so ‘n dik drielaag deurgstikte band, met sulke skerp silwer studs op, vicious verby. Om ma se lippe weer sag te kry, en sommer van simpelgeit ook, sit ek toe die halsband aan, want ek is mos die ou hond in die familie. Ons het almal lekker gelag, verder geklets en die band vergeet.
Net na Kransfontein spring daar so ‘n lang, maer, gryskop spietkop omie agter die brug se reling uit. Dis doodstil in die kar, ma wys ID en lisensie, die oom loop om so om die kar. Linker flikker , regter flikker, remme, as hy kon het hy seker die water en olie ook na gegaan, maar hy kyk nie vir Sunshine nie. Hy kyk vir my, stip, kan sy oge nie van my afhaal nie. Ma raak rooi en prewel iets van orige ou mans, maar sy bly stil want jy stry nie met ‘n spietkop nie . Ek is naderhand bloedrooi in die gesig, ma is bloedrooi in die gesig en die ou man kyk! Ek trek skoolrok af, hand op die bors, bloos vir ‘n plek in die span,voel of iets my wurg, maar die ou man kyk!
Ek sien ma word wit en haar lippe raak weg en ek hou asem op, want HKGK, maar sy vra net met sulke stywe lippe haar ID en of ons maar kan ry. Oom spietkop druk amper die ID in haar oog, want hy kyk nog steeds vir my. Ma trek so woes weg dat hy moet wegspring om nie ‘n toon te verloor nie, want hy kyk steeds vir my.
 
Daar is stilte, doodse stilte, ma praat nie, ek praat nie, maat vir die naweek praat nie.
 
Skielik begin maat wat die naweek, kuier histeries lag, die trane loop, sy giggel en snork en raak sonder asem, ma kyk haar met ‘n houtoog, ek kyk haar met ‘n houtoog, sy snak en stotter, probeer ons iets vertel, maar sy lag te hard, beduie later so na my boesems, ek voel vir los knope en vat iets raak. ‘n Dik, drielaag deurgestikte band, met sulke skerp silwer studs op, vicious verby….

Die arme omie Spietkop.

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

As jy simpel is…..

Oktober 14, 2008 in Sonder kategorie

“As jy jou uitgee vir ‘n toffie, moet jy nie skrik as iemand aan jou kou nie”. Tersia het nie veel wysheid gehad nie, maar met hierdie juweeltjie moet ek saamstem.
Lank lank gelede, toe die wereld nog jonk was, het ek een jaar, dink dit was so standerd 7 rond, ‘n kamermaat gehad. Verstand slim, maar simpel verby. So bly die twee van ons in ‘n vier-bed kamer, en sy regeer oor die koninkryk en dra malvas in koffieblikke aan en plak posters van Bruce Springsteen die hele plek vol. Swaar opgestaan sy, nie dat sy nou lywig was of so iets nie, net sleg wakker geword en as die klok lui vir bybelstudie dan pluk sy vervaard haar duvet reg, spring in haar klere in en kam hare onder gebed. Dit het my grensloos ge-irriteer. Oggend vir oggend.

Sy was bysiende of versiende, die een waar jy nie so lekker kan sien hoe naby of ver jy van iets is nie, en sy was histeries bang vir die donker. Aand vir aand het sy versoek om laat te leer, ons ooreenkoms was dat die een wat laaste nog leer die ligte moet afsit, die lig by die deur, ver van die beddens af.
Aand vir aand is dit die selfde ding, sy lees Ena Murray, Tryna du Toit en sug lang sugte as een of ander held die weerlose heldin in sy sterk arms neem en haar asem wegsoen, die brille wasem behoorlik, en ek, ek leer biologie, of verslind ‘n digbundel, en net sodra ek my boeke begin wegsit, gooi sy haar boek en bril op die bedkassie, skree nag, en dan moet ek die lig afsit. Aand vir aand.

Toe een mooi middag kom ek moeg en natgesweet na atletiek die kamer in en my bed is weg. Madam het die kamer geskuif en ek slaap nou in die een hoek en haar bed staan nou in die middel van die vloer (want die spasie is dan so groot), ek het maar tande gekners, gaan stort en dankbaar gevoel my bed staan nie in die gang nie. Die aand is dit weer die selle ou storie, maar ek sit stil,stil die boek onder die kussing en voor sy weet wat, het ek haar ‘n rustige nag toegewens en maak ek of ek al lankal slaap. Sy het eers gehoes, toe ‘n niesbui oorleef, toe keelskraap probeer, maar ek slaap. Toe sy uiteindelik tot die gevolgtrekking kom dat ek nie vanaand die lig ding gaan doen nie, het sy al sugtend opgestaan, die lig afgesit, ‘n pikante gilletjie gelos, gehardloop en op haar bed gespring… Tog so jammer sy het vergeet dat sy haar bed geskuif het. Daar was ‘n dowwe slag,’n lang doodse stilte en toe ‘n kreun. Ek moes maar opstaan, die lig aansit, haar ophelp, haar in die bed sit, haar bril afhaal, haar toemaak en die vervlakste lig loop afsit.

Die ellende eindig egter nie hier nie. Die volgende oggend vlieg sy soos gewoonlik laat op, pluk die duvet, val oor die bed wat nie op sy plek staan nie, verloor tyd, (ons kon ou Van Pad se spykerhakke neffens die deur hoor), duik vir die kas, duik teen die kas vas en slaat neer, soos ‘n os, uit soos ‘n kers.  Ons moes haar lawe en als. Die middag kom ek al singend van kooroefening af en my bed is terug……

Profile photo of ou-sus

by ou-sus

Ironie op sy beste

Oktober 13, 2008 in Sonder kategorie

My familie vertel altyd dat ek by Genesis begin om van Openbaring te rapporteer, maar, as jy nie by die begin, begin nie, waar begin jy dan?

So…. Ek is gebore. Wat?! Ons almal is, tensy jy onder die koolblare ge”hatch” het of die ooievaar jou jou erens neergeplak het. 

Jammer!!! ‘n Vriend het eenmaal opgemerk dat ek nie ‘n sin vir humor het nie, dit kan eerder ‘n kranksinnige humor genoem word. Ja, hy was ‘n vriend. Ek het net vergeet om vir hom te vertel dat aspersies jou pieps vreeslik eienaardig laat ruik. Hy het hom eers die Vrydagaand aan die aspersies met suurlemoenbtter en daarna die aspersiepoffers met tamatie en chillie chutney vergryp, homself heeltemal vark gehou met die aspersieroomsop met kruie kluitjies, sy mond afgevee en my met al die skottelgoed gelos!!! Huis toe gegaan en hom verder gaan vergryp met die nuwe klerk wat by die kooperasie begin werk het. 

Ek het op ‘n plaas duskant nerens gewerk. Aspersies is uitgevoer en toe kry die baas se vrou dit in haar kop dat ons ‘n resepteboekie moet uitgee met die plaaslike landbouskou, want, as jy ‘n groen aspersie kook soos die witte, dan sit jy met ‘n bord vol gras…

Terug na vriend. So bel hy my baie benoud die Saterdagmiddag. Hy dink daar is groot fout, en aangsien ek ‘n halwe honderd jaar terug verpleeg het, moet ek (wat al die skottelgoed alleen moes was), hom nou in sy uur van ellende bystaan. Hy en (kom ons noem hom sommer Kosie), Kosie het gekattemaai tot ligdag. Kosie was skaars betyds vir die eerste boer wat diesel soek, vriend het wakker geword na ‘n nag van vraatsigheid met ‘n grote nood. Daar begin die moeilikheid toe…. Die pieps pong, en die nood bly druk, en meneer wie se ma nie weet hy’s in die kas nie en wat tennispelle met Mev Dominee en Mev Dokter is, het vrae oor siektes. Ek het hom laat sweet, en ja, dit laat die sweet ook verdag ruik, en laat sweet en toe ek nou als gevra het wat die suster by die kliniek sou gevra het, en alles weet wat ek nie eintlik wou weet nie (die man was erg benoud en het gesing soos pa se skou kanaries), toe sal ek hom in kennis stel, dis die aspersies, pel.

Nie geweet hy ken soveel woorde in volsvreemde tale nie….