Speelseisoene

Januarie 4, 2012 in Sonder kategorie

‘n Vriend hier by die werk wys my nou ‘n oulike ding. Wie onthou nog daardie ou Coca-Cola jo-jo’s? Die ene is ’n replika van die wat ek onthou van jare terug toe ons op laerskool soos wafferse sirkusartieste rondegestaan het pouses, en al wat toertjie in die boek probeer namaak het.

Omtrent elke skool is besoek deur ’n sogenaamde jo-jo arties in daardie jare. Wel soos ek nou al met mense gepraat het blyk dit die geval te wees. Hulle het dan tydens saalopening hulle toertjies kom bekendstel. Van swaaie tot karretjies en rol op die grond, in die lug, sywaarts, agtertoe en onderdeur het hulle ons toertjie vir toertjie lus gemaak, om skelm leë koeldrankbottels te gaan ingee vir genoeg geld vir net so ’n jo-jo. Daardie jare was smeek vir Pa en Ma vir geld vir so speelding uit soos koekies in die weeshuis. Bottels wat minder raak agter in die stowwerige garage was nie so pynlik nie.

Die Coca-Cola jo-jo’s het 2 wit skywe gehad met kleiner rooi bultende skywe aan die kante. Omtrent almal het van die gehad. Ek wou anders wees en het ’n wit en groen Sprite jo-jo gehad. Die jo-jo was spesiaal want dit het ’n metaal assie gehad waarom die toutjie gedraai het, wat dit uitstekend gemaak het vir lang spin sessies. Een nadeel hiervan was dat die houvas minder was as met die jo-jo’s met die hout assies. Ek moes dit bietjie meer pluk om die jo-jo weer opgerol te kry.

Klasse was meestal ’n plek waar nuwe truuks gevisualiseer is vir moontlike oorspronklike toertjies tydens pouses en na skool was gespandeer vir die inoefening van die einste toertjies. Ek het die volgende jo-jo seisoen gemis aangesien ons die volgende jaar getrek het en ek my rangorde in ’n nuwe skool moes oopbaklei. Die skool het nie ’n florerende jo-jo seisoen gehad nie, die belangstelling was ook nie wat wonders nie. Ek kon wel weer my ou geel tol blink vryf en ’n nuwe toutjie vir dit maak, vir die jaarlikse tolseisoen, maar dit is ’n heel ander storie.

My Goggatjie Deel 2

Desember 21, 2011 in Sonder kategorie

Die binnekant het na ‘Dash’ geruik en was blink skoongemaak. Die enjin het soos ’n kat gespin. Wel nou dat ek mooi terugdink, dit het meer soos ’n kat met slym in die longe en ’n bas stem geklink, maar dit was eg Volla en perfek.  Ek het Gogga gestol met die wegtrekpoging. Geen romantiese wasigheid en droomgevoelens meer nie, ons eerste argument, my eerste foutjie. Verlee het ek haar weer aangeskakel en die keer die koppelaar met groter sensitiwiteit hanteer. Drie rukke verder is ons glad aan die beweeg die grondpaadjie af oppad plaashek toe. So ’n roekelose vryheidsgevoel het van onder by my kleintoontjie begin opstoot boontoe.

My eerste ontmoeting met die remme het gedreig om groot drama na vore te bring. Eers was daar niks, donker middernag niks, en groot oë, myne. Met die tweede trap van die remme wou-wou ons stadiger neig. Die derde trap het die wiele gesluit en ons het millimeters van die plaashek se linkerregoppaal tot stilstand geskuur.

My persoonlike teorie is dat hierdie driekeer-trap-remmetode, wat aan die orde van latere dae sou wees, die rede vir my onortodokse benadering tot dans is. Ek moes my maar wend tot rockkonserte waar ek kon op en af spring, want op die dansvloer kon ek nie vorentoe of agtertoe nie. Daar is wel gevind na etlike eksperimente dat ek die ritme-blokkasie kon oorkom met die inname van ’n gevaarlike hoeveelheid grootmenskoeldrank. Dit is aan my oorvertel, ek deel nie die herinneringe met my mede-navorsingsbeamptes nie.

Die stuurwiel, swart en glad van jare se hande op dit, het nogal speling op gehad, met die gevolg dat die eerste draaipoging amper nie gou genoeg gebeur het nie. My ou vader het partykeer die speletjie gespeel, as hy bestuur, om te maak of hy die stuurwiel draai en niks gebeur nie. In hierdie geval was dit wel so, na ’n kwart draai was daar eers reaksie van Gogga af. Ek besef nou ek moes soos een van daai cliché vragmotorbestuurders uit flieks gelyk het, wat met groot konsentrasie vorentoe staar en heeltyd die stuurwiel ronddraai al is die pad reguit.

My wittebroodsreis was stormagtig, vreesaanjaend en vol verrassings. Ongeskonde het ek by die huis ingedraai met die wete ek is nou ’n man. Met vryheid, en hare op my tande, en ’n motor wat elke kilometer dieper in my hart klim, en weldra in my ou vader se sak sou klim en later myne ook.

My Goggatjie

Desember 14, 2011 in Sonder kategorie

In my kop het ek haar net daar Gogga gedoop. Ek was skaam en verleë, sy het net daar gestaan en na my geloer met haar groot ronde oë en perfekte kurwes. Die foutjies was daar, maar in my halwe droom-wakker toestand het ek glad nie sulke kleinigheidjies opgemerk nie, haar kurwes en groot oë het my in ? strik. Terwyl ek stadig om haar loop en van alle kante betrag besef ek die wêreld om my het so sagte gevoel aangeneem, alles voel so ver weg, dis net ek en sy hier. My hard klop in my keel, al harder soos my hand nader beweeg. Ek bewe effens en kan voel hoe my lyf begin gloei. Saggies streel ek haar, dis amper onhoudbaar. Ek loer in haar groot oë en weet, ek sluk die knop in my keel weg en voel skielik verlig, ekstaties, ek loop op ’n wolk.

“Will you take her?” die werklikheid tref my soos ’n vuishou in die maag. My eerste motortjie. ’n Rooi Beetle. “Ja, uhm yes, I do…”

Jacobus van die Karoo

Desember 9, 2011 in Sonder kategorie

Halley se komeet gloei-blink spookagtig teen ‘n pikswart agtergrond. “Run, rabbit run. Dig that hole, forget the sun…” Die musiek rol effens ongemaklik by Jacobus se ore in, sy oorfone het sowat geskuif en hy sukkel om dit in posisie te kry. Nietemin verleen dit ‘n misterieuse magiese atmosfeer aan hierdie oomblik en plek. Hy dink aan die tekeninge, skilderye en foto’s van die komeet deur die eeue.’n Koue rilling hardloop teen sy lyf af as die besef deurdring dat hy, hulle paar wat nou hier staan, die eerste in die ganse geskiedenis van die mensdom is wat hierdie geskiedkundige herhalende gebeurtenis van die besonderse hoek af kan aanskou.

“And when at last the work is done, Don’t sit down it’s time to dig another one.” Jacobus skud sy kop effens na regs en die oorfone gly weer in posisie. Hy is saam met 3 ander mense buite die operasionele koepel besig met voorbereidings. Sy ruimtepak laat hom nie toe om die oorfone met sy hand reg te skuif nie. Die groot rots waarop hy nou staan is min of meer ‘n kwart die volume van die maan en amper leeg gemyn van eksotiese metale en minerale.

Die mensdom is basies die somtotaal van die skepping, dink Jacobus. Elke hoek en kant van die natuur kry uiting in die mensdom se optrede. Net soos endemiese parasiete ‘n gasheer sal leeg tap vir eie gewin en dan vir dood los, word hierdie asteroïede leeg gemyn, gestroop van alles wat die mensdom se onversadigde groeidrang kan bevredig.

As hy deur sy kamera loer op die grootste zoem-verstelling kan hy die vragskip net-net uitmaak waar die vuilgrys romp ‘n flou weerkaatsende strepie maak in die onpeilbare verte. Die skip nader die asteroïedebelt met ‘n hoek om te kompenseer vir die beweging en daarom kan hulle die agterste sonverligte deel van die skip net-net uitmaak. Die vragskip het 5 dae gelede vanaf Mars vertrek, vol fyngemaalde rommel wat in die leeggemynde ingewande van die asteroïede gepomp moet word.

Die massa van leeggemynde asteroïedes verskil genoeg van hul oorspronklike massa om hulle wentelbane te verander. Dit veroorsaak botsings met die gevolg dat kleiner asteroïdes op gevaarlike koerse gewerp word en botsings met die binneplanete tot gevolg kan hê. Deur van rommel gebruik te maak om die gewigsverliese te teen te werk word potensiële noodlottige rampe voorkom.

Jacobus lag effens terwyl die musiek in sy ore weerklink. “For long you live and high you fly, But only if you ride the tide. And balanced on the biggest wave, You race towards an early grave.  Rommel het amper die Aarde vernietig, regtig baie amper,  en ook die eerste terra-vorming poging op Mars in die wiele gery. Nou word dit ironies genoeg gebruik om enige verdere vernietiging te voorkom.

Sy oupa Andries, ‘n man van die natuur, ‘n boer en reguitprater in murg en been het altyd gesê “As die mensdom ophou kak waar hy eet, sal hy nie so afkak nie”. Sy ma was altyd te laat om sy kleuterore betyds toe te druk en so het Jacobus sy eerste lewenswaarheid en skelwoord geleer.

Asteroïedes word vir naastenby vyf weke lank op ‘n slag gemyn. Soos Mars aanskuif met sy wentelbaan word daar gespring van asteroïede tot asteroïede langs die pad. ‘n Vragskip sal vertrek vanaf Mars na die naaste geskeduleerde mynklippe, soos asteroïedes genoem word in die mynerstong, vol van die fyngemaalde rommel en daarby met ‘n volledige mynspan. Die mynspan sluit die mynkontrakteurs, mynbotte, operasionele en leefkoepels en die nodige toerusting en leefware in. Mynbotte is robotte wat die fisiese mynwerk verrig en net gestop word vir onderhoud en herstel. Die vragskip sal dan ‘n vars span op ‘n asteroïede ontplooi en ‘n bestaande span oppik om terug te keer na Mars. Die rommel word in die leeggemynde holtes gepomp terwyl die verskeie minerale weer op die skip gestoor word en waarna die span en alle toerusting onttrek vanaf die asteroïede. Net die permanente konstruksiefondamente en mynstrukture bly agter.

Die menslike span is verantwoordelik vir die onderhoud en bestuur van die tydelike operasie. Almal is opgelei in meer as een spesialisrigting en vervul dus verskeie take afhangende van omstandighede. Die opbreek en afbreek van die mynbasis is almal se taak. Tydens die mynoperasie het meeste afdelings twee persone om mekaar elke twaalf ure af te los. Dit sluit in die mynbotonderhoud en beheerstelsel spanne. Basisonderhoud, geologiese dienste en K&A (Kommunikasie en administrasie) het elk net een persoon om die rol te vervul. Almal is goed opgelei in noodhulp en basiese mediese dienste asook voedselvoorbereiding.

Dan is daar ook ‘n koppelingspesialis. Mars neem ongeveer twee aardse jare om om die son te wentel. Met die terugkeer na ‘n bestaande mynklip het van die masjinerie en toerusting heel moontlik verander. Die koppelingspesialis is verantwoordelik daarvoor om te sorg dat die nuwe toerusting werk op die bestaande infrastruktuur. Dit word gewoonlik vooraf beplan, maar daar is altyd probleme en iemand is nodig om dit reg te stel. Die koppelingspesialis speel ook reddingswerker en moet gereeld in die mynskagte af om gebreekte mynbotte te herwin of herstel, ‘n uiters gevaarlike werk.

Jacobus is ‘n koppelingspesialis en argeoloog, en ‘n besige man tydens klipoperasies. Die argeoloog is daarvoor verantwoordelik om die asteroïede se interne samestelling te monitor en seker te maak die mynoperasie breek nie die groot klip rampspoedig op nie. Die argeoloog is as gevolg van die aard van sy werk in hierdie situasie dan ook die persoon wat die meeste verantwoordelikheid dra en tree dus op as die spanleier. Hulle stamp ook gereeld koppe met gierige mynbase, wat meer as wat noodwendig veilig is, uit die klippe wil tap.

Vir Jacobus het alles begin op ‘n plaas in die karoo, 10 Junie 2103, as eerste en enigste kind. Op Driekoppen het sy Pa Wilhelmus met elektrisiteit geboer. Sonkragopwekking was ideaal in die karoo met die min bewolkte dae en relatief skoon lug. Baie plase is 50 jaar terug geruïneer met die groot brekingsramp. Hulle plaas ook. Sy oupa Andries was in sak en as, niks wou meer daar groei nie. Min dinge wou wêreldwyd groei na die ramp. Sy pa Wilhelmus het sy florerende loopbaan as energie-ingenieur opgegee, alles verkoop en die plaas van ondergang gered met sy idee van kragopwekking as boerdery. In daardie dae was die staat desperaat om chaos en anargie te voorkom en het met alles wat hulle het saamgespeel met die idee. Dit was uiters suksesvol en is met die tyd wêreldwyd toegepas.

Hidro-breking vir die myn van skaliegas het baie boere baie ryk gemaak in die karoo. Die land het gefloreer en almal het die naderende globale ramp geïgnoreer vir die hier en nou en lekker lewe. As gevolg van ongebalanseerde poolys samepakking het aardkorsverskuiwing plaasgevind, iets wat Einstein eeue terug voorspel het. Alhoewel dit rampspoedig was vir baie lande en mense is die skade relatief gou herstel. Die werklike ramp was die besoedelde water wat wêreldwyd as gevolg van ou myne en hidro-breking, die oppervlakte bereik het na die verskuiwing. Groot dele natuur en landbougrond is ‘n minder as 5 jaar onvrugbaar gelaat. Die hongersnood was globaal en die menslike populasie het basies halveer. Infrastruktuur is erg beskadig en energielewering hopeloos ontwrig. Baie dinge het noodgedwonge drasties verander, met die gevolg dat die mensdom uiteindelik besluit het om die aarde te begin respekteer en op te pas. Daar is na die buitenste ruim gekyk vir oplossings, minerale en besoedelingbekamping. Nooit weer sal die aarde so mishandel word nie.

Jacobus se liefde vir argeologie is gevorm uit sy kleintyd met stories van sy Oupa Andries oor die aardkorsverskuiwing. Sy ander dieper liefde vir boer, met skape , soos van ouds in die karoo moet nog realiseer. Jacobus se ongelooflike praktiese aanleg is geslyp saam met sy pa tydens die onderhoud van die masjinerie en strukture op die plaas waarmee kosbare elektrisiteit opgewek en verkoop is. Die skaarste van onderdele as gevolg van gebrekkige infrastruktuur het hulle genoodsaak, en soms met groot moeite, om amper wonderwerke te verrig sodat die kragvoorsiening op standaard bly. Hy moes leer om buite die norm te dink. Om te dink so wyd soos die karoo.

Die Feniks uit die as van die globale ramp was dat die ganse mensdom saamgespan het. Vir die eerste keer in die opgetekende geskiedenis, is werklik saamgewerk om die aarde van totale ondergang te red. Die vooruitgang was ongelooflik. Mynoperasies op die maan het gevolg, fabrieke is buite die atmosfeer gebou om besoedeling te bekamp, Mars is gekoloniseer, met rukke en stote, en die myn van asteroïedes het kort daarna gevolg. Dit is die wêreld waarin Jacobus grootgeword het. Net soos hy mens geword het op die randjie van die beskawing in die amper dooie karoo, werk hy nou as mynkontrakteur op die randjie van die menslike beskawing.

Mynkontrakteurs se lewens bestaan uit lang skofte, kort skofte en Marstyd. Gekeurde kontrakteurs teken vir ‘n tydperk van 6 jaar, maar die kontrak kan elke 2 jaar hersien word afhangende van prestasie en gesondheid. Die buitenste ruimte is nie vir almal nie, die vlees laat die gees somtyds in die steek, partykeer andersom. Mars en die aarde kom elke 2 jaar naby aan mekaar en dit is dan die tyd waar skepe heen en weer gestuur word. Dit word ‘n langskof genoem. Die Vyf weke op ‘n asteroïede word ‘n kortskof genoem. Tussen kortskofte word Marstyd genoem, en die mynkontrakteurs kry dan opleiding en kans vir ontspanning. Jacobus is op sy laaste kortskof.

Voor hierdie kortskof het Jacobus goeie nuus gekry. Proewe was suksesvol gewees en die plaas se grond is herwinbaar. Nuwe metodes is ontwikkel om die besoedeling baie gouer te bekamp maar dit kos geweldig baie. Die staat kan nie help nie, en huidige goedkoper herwinningstegnieke kan jare neem. Jacobus het die mynwerkkontrak aanvaar om die plaas te red en te kan boer, met skape te kan boer. Hy was ‘n uitstekende student en is met die voltooiing van sy meestersgraad in argeologie onmiddellik genader. Vir 6 jaar verkoop jy jou siel aan die mynmaatskappy, daar word vir alles gesorg terwyl jy tuis ‘n VET bankrekening opbou. Genoeg om die plaas te rehabiliteer en van voor af te ontwikkel en toe te rus vir skaapboerdery. Vleis is nog uiters skaars en die boerdery sal gou vir homself kan sorg.

Jacobus kyk weer op na die komeet. Die gaan voor hom die aarde bereik. ‘n Boodskapper vir sy terugkeer. Dis jammer hy sal nie vanaf die plaas deur die mooi skoon lug van ‘n karoonag na die komeet kan kyk nie, maar dink hy, van hier af is dit net so betowerend, en wat ‘n storie om te bewaar vir die nageslagte.

Oor 8 ure vertrek hulle saam met die vragskip terug. Jacobus gaan dan van daar direk op die reis terug aarde toe. Die laaste week van die reis bring hy in rehabilitasie deur by die mynhuis se hoofkwartiere. Nog net vyf weke dan is hy terug op die plaas, sy asem sy klanke en sy mense. Andries, Wilhelmus en Jacobus, drie geslagte op Driekoppen, en ‘n nuwe begin.

Terwyl hy regmaak vir die dok van die vragskip speel die musiek in sy oorfone rustig voort.

Home, home again. 
I like to be here when I can. 
When I come home cold and tired 
It’s good to warm my bones beside the fire. 
Far away across the field 
The tolling of the iron bell 
Calls the faithful to their knees 
To hear the softly spoken magic spells.

* Lirieke: Pink Floyd – Dark side of the moon – Breathe

Een Vrydagmiddag, lank lank gelede.

November 29, 2011 in Sonder kategorie

“Words don’t come easy to me…” speel oor die breëband langafstandradio ingestel op Radio Oranje. Ons herlei dit na die luidsprekers in die Ratel vir die ander om saam te luister. Natuurlik nie met permissie nie, maar weermag radio’s is wonderlike goed. So nou en dan vergeet ek daarvan as ek bevele aan die ander ratels in die peloton sein. Mense van Postmasburg en Danielskuil bel dan gewoonlik in om te kla oor die weermag wat die FM band gebruik. Vandag sing ons almal in die ratel uit volle bors saam, nie Drakensberg se seunskoor kwaliteit nie, maar die genot is op almal se gesigte Die wind waai deur ons vuil hare waar ons almal skrefiesoog by die luike bo die ratel uitstaan. Vuil strepe en merke op almal se gesigte van die bos en loopgraaflewe, net tande en hande is skoon, meestal, maar blink oë en breë glimlagte, want ons is oppad terug basis toe in Lohatla. Dis naweek, tyd vir vleisbraai, vrot in ons tente, en natuurlik kans om te bel, huis toe, meisie toe, pelle toe. Wel eers moet ons stalparade oorleef,  maar daai gedagtes is vir eers weggebêre want nog ‘n week is verby, nog ‘n week nader aan ons klaarmaak hier op hierdie grou koue stowwerige plek.

Die lang nag

November 25, 2011 in Sonder kategorie

Die hondsdol hiënas lag soos besete demoonagtige weerwolwe agter hom. Hy trek sy lyf plat agter op die hings se rug. Twee van hulle reeds kapoet gery, sy derde dag in die saal. Die boodskap moet getelegrafeer word. Alles hang daarvan af. Alles! Dit wat reeds gesien en deurgemaak is kan nie herhaal word nie, die mensdom moet hierdie nagmerrie gespaar bly.
Die hiënas, getoor om hom te stop, getoor om die waansin te laat seëvier, raak agter. Die hings gaan egter moeg raak en hulle gaan weer inhaal. Hierdie is die finale skof, hy kan dit maak tot op Graaf-Reinet. Die kommando daar is wakker en sal hom inwag met hulle roers, dekking lewer, die hiënas weghou, lank genoeg.

Die hings blaas stoom soos ‘n lokomotief en waar hulle in die droë klip drif deur galop klink dit ook soos een. Hy weet hy gaan hierna vir ‘n week nie kan loop nie, maar die hotel is gasvry, die brandewyn ook, hy het die vergeet nodig. In die verte skyn die eerste liggies, die volmaan kom links van hom op. Binnekort gaan jakkalse en ander nagdiere by de hiënas aansluit, maar hier naby aan die dorp is hulle uitgedun, sy ammunisie ook. Skiet help ook net tydelik, die diere verander in doodlewende ongediertes. Slegs die dorpsgronde en plaasopstalle geseën deur ‘n heilige is veilig.

Met die dorpsliggies wat stadig naderskuif en die hings wat geleidelik krag verloor dwaal sy gedagtes terug na die begin. ‘n Storie vir ‘n ander tyd, dink hy, konsentreer op die taak op hande. ‘n Myl voor die dorp slaan die hings neer, mors dood. Half te pletter geval strompel hy orent en kyk terug, hy verbeel hom hy kan in die verte die rooi oë van die hiënas sien. Hy begin hardloop, dit gaan nie goed nie, nie na drie dae in die saal nie, maar hy kan nie anders nie. Met gille van pyn en vrees hardloop hy die laaste end dorp toe.

Klein Willem het hom die volgende oggend gekry, net voor die wawiel wat die dorpsingang aandui. Hy het ‘n baie flou pols gehad en was amper bewusteloos, en het gestink. Drie dae in die saal doen niemand goed nie. In sy hand was ‘n geseëlde koevert met ‘n adres op. Die seel en adres het Willimpie se pa wit laat skrik. Met bewende hande, amper histeries is hy daar weg telegraafkantoor toe. Die telegrafis self moes suikerwater inkry voor hy die boodskap met bewerige vingers kon stuur:
  ….  .  -.–  +  ….  .  -.–  +  -.  —  –.  +  -.  +  .–  .  .  -.-  +  ..  …  +  …-  .  .-.  -…  -.– 

NS: Om die Morse-kode boodskap te lees:http://www.csgnetwork.com/morsecodedeconv.html (lekker speel)

Met die muilbandwet wat om die hoek vir ons loer gaan Morse-kode  moontlik weer gewild raak.

Slagnagmerrie

November 22, 2011 in Sonder kategorie

DWHA!

Arno skiet penregop op in sy bed. Hygend en papnat van die sweet, kyk hy verward rond. Die gezoem in sy ore bedaar en die naggeluide begin deursyfer na sy slaapbenewelde gedagtes. Die gerusstellende drup van water buite die kamervenster laat hom weet dit reën saggies. Die gewone huisgeluide speel voor hom af en sy hart begin geleidelik bedaar in sy borskas. Hy begin weer asem haal en leun terug teen die muur en kussings agter hom. Wat hom ook al wakkergemaak het blyk onskadelik.

Arno bly alleen, nog maar altyd, verhoudings en vrouens wou tot nou net nie suksesvol aan sy deur kom klop het nie. Hy moes in die verkeerde ry gestaan het toe Venus-wysheid uitgedeel is, of so spot hy maar gereeld met homself. Suksesvol met sy loopbaan is hy wel, en bang vir die donker en die monster van die nuwe Suid-Afrika, daar in voorstedelike Bloemfontein se sekuriteitskomplekse, glad nie. In kort, gebalanseerd, man, net alleen, en op die oomblik berus hy daarby. Hy dra sy ouderdom goed en min mense skat hom deel van die boetman-geslag, gewoonlik verbaas as hy ‘n staaltjie oor diensplig deel.

DWHA DWHA DWHA! skeur drie skote deur die nag, gevolg met gille, manlik, vroulik, kinders. Arno spring verward uit sy bed, stamp sy kop teen ‘n muurrak en voel verlore om hom rond. Hy ruik sweet en stof, en swael, en bloed. Die groengranaat-rook brand sy oë. Langs hom lê Visagie en brul/huil, sy linkerbeen is weg. Die “medic” skreeu bevele op dowe ore geval. Verderaan lê nog van sy seksie, Du Toit se regterwang is weg, Nel het maagwonde. Niemand het die hinderlaag verwag nie, nie so naby die basis nie.

Die volgende oggend skrik Arno in sy klerekas wakker, bang, skaam, met ‘n gevoel van weerloosheid wat hy lank terug in die bosse in ‘n ander land die eerste en enigste keer tot nog toe gevoel het, en diep weg gebêre het.

Twee huise van hom af in sy kompleks is twee kinders in die nag wees gelaat.

Selfone, beursies, lewens is gesteel.

Boeretoordery

November 19, 2011 in Sonder kategorie

My mond begin effens te water, ek verloor alle sin in spaarsamigheid en matigheid. Ek wil ook sommer indruk, mense wegskuif. Dis asof my bloedsuiker effens val en ek begin bewerig raak.  Waar kom hierdie irrasionele obsessie in my vandaan?

Biltong, wat kan ek se…..

Droëwors, en biltong, enige soort, ek kan myself nie help nie. Dis is ‘n snaakse obsessie, want as ek dit nie sien nie pla dit my nie, maar sodra iemand daarmee inloop of ek in die winkel by dit verby loop, verander my persoonlikheid, en morele en weerstand. Deur die jare het ek nou al my gunstelinge opgebou, ek is nie ‘n man met veel fiemies nie, maar vegewe my asseblief die een, dun gekerfde beesbiltong wat nog effens rooi is in die middel. Verskoon my ek vat net gou ‘n paar happe.

Daarsy, terug en gefokus.

Biltong is seker nie die smaaklikste mees presenteerbare stuk vleis in omgang nie, maar iewers in my kop, toor dit beelde van die paradys en ewige geluk op. Ek skryf die hele ongesonde obsessie toe aan my grootword jare en natuurlik die magiese, wat net in biltong voorkom. My pa was/is ook ‘n groot biltong man. So nou en dan het hy met so bruinpapiersakkie daar by die huis opgedaag. Kinders is mos nes honde, permanent ingestel op hulle ouers se gemoedstoestand. Dis ter wille van oorlewing, jy moet betyds weet of jy moet vlug of naderstaan. Ek kon altyd onmiddellik aanvoel daar is iets diabolies en magies in daai sakkie in my Pa se hand. Hy was vriendelik en als maar ook dieselfde tyd baie meer besitlik en half eenkant. Ten spyte daarvan, kon ek nog steeds nie myself in toom hou nie en moes altyd om hom koek, asof die sakkie ‘n lig is en ek ‘n mot.

Bruinpapiersakkies vol biltong klink en voel anders as ander bruinpapiersakkies, dit het ook sulke vetterige skynsels  gewoonlik aan die onderkant, en kommunikeer telepaties met mense in die omtrek. Nie woorde nie, maar gedagtes en emosies word in jou opgetower. My Pa het gewoonlik vir ons elkeen so handjievol gegee en vir homself en my Moeder groter handjies vol geneem. Daarna het die pakkie verdwyn. Glo my ek kon dit nêrens kry nie, maar so twee dae later sal dit weer in my Pa se hande verskyn vanuit die niet. Ek het net genoeg gekry om die biltongmonster binne my teen die mure uit te jaag. Maar snaaks genoeg, as daai pakkie weg is, is die lus ook weg en die herinneringe is maar net weer gewoon, maar daar sal altyd ‘n liggie in jou gedagtes bly flits, jy vergeet nooit weer van biltong nie, nooit weer nie.

Ek is vas oortuig J.R.R Tolkien het sy idee vir die ring, in sy bekende stories, gekry uitsy kleintyd in Bloemfontein, waar hy definitief biltong geëet het.

My precious……

Dagsê, dagsê

November 19, 2011 in Sonder kategorie

Op enige gegewe oomblik hardloop ‘n warboel gedagtes, drade, idees, emosies, blikke en herhinneringe in my kop rond. Van tyd tot tyd, probeer al hierdie goed op dieselfde plek op dieselfde tyd wees, iets wat ons almal weet in ons gewone bestaan half onmoontlik is. As gevolg hiervan onstaan daar dan ‘n enkele ding (nog geen naam daarvoor nie). Die ding kan beskryf word as ‘n idee-gedagte-draad. Ek moet iets met die ding maak, want dit maak my somtyds mal of wel maller. Ek gaan probeer om die ding om te skakel in woorde en hier weer te gee. Hierdie is dus my poging om sin te maak van dinge.