Skip to content

Uncategorized

Fragmentasie

ʼn Oorlogsgenerasie, ʼn Geslag, Avant-Garde.
ʼn Lewe omvorm tot ʼn kloon van normale lewe,
Tot ʼn sikloon van herskepping daarna;
En daarna.
Twee jaar – die spilpunt van ʼn leeftyd.

**

Julle vat my
In een soliede stuk;
Julle fragmenteer my
Stuk vir stuk.

Julle gooi my brokstukke op ʼn hoop.
Julle maal my
Met verloop
In pottebakkersklei.

Julle giet my
In ʼn nuwe vorm.
Julle bak my
In oorlogstorm.

Vir ʼn doel het julle my omskep
Met ʼn vervaldatum wat dit dra.
Uitgeklaar – en ek was weer ek
Met wanbegrip en vele vrae.

**

Ek vat my,
ʼn Gevormde soliede stuk.
Ek fragmenteer my
Stuk vir stuk.

Ek gooi my brokstukke op ʼn hoop.
Ek maal my
Met verloop
In pottebakkersklei.

Ek hergiet my
In ʼn nuwe vorm.
En herbak my
In lewens storm

Vir ʼn nuwe doel het ek my omskep
Tot hul my na die graf sal dra,
En ek begryp ek was al die tyd net ek
Met metamorfoses in vele vrae.

Hop oor na die nutsbalk