Facebook, Whatsapp en die tale wat ons praat

February 21, 2014 in Geen Kategorie

Dis Moedertaaldag en ek sien vandag in Die Burger Facebook het Whatsapp gekoop. Mense hou van kommunikeer, dis wat ons doen. Op LitNet skryf Wannie Carstens oor die mitiese toring van Babel en die ontstaan van tale.

Nou sien ek ook op die internet mense gesels oor waarom Facebook Whatsapp gekoop het – kyk na hierdie mening:

Dalk het ek oorvereenvoudig deur te sê “mense hou van kommunikeer”. Daar is baie meer as kommunikasie ter sprake. Dis ‘n kwessie van mag en geld ook. In ‘n blitsig-veranderende landskap soos die internet, probeer mense ‘n bietjie vastigheid vir die toekoms koop. Hulle wil sekermaak hulle is nog bietjie langer aan bewind. Hulle verstewig hul monopolie selfs nog meer deur groot geld te betaal.

Dis die praktiese realiteit van die samelewing en die ekonomie. Kommunikasie én taal kos geld. As daar nie ‘n ruimte bestaan en in stand gehou word waar jy jou taal kan praat nie, dan dryf die taal die ruimte in totdat dit buite almal se bereik is.

Vir my beteken dit dat ek met my kinders praat oor alles rondom ons en in ons ervaringswêreld. Noudat my seuntjie se klas besig is met woordanalise en leer lees en skryf, praat ons nog meer bewustelik oor woorde. Ons probeer saam uitpluis hoekom skryf met “fiets” met ‘n “f”, maar “vuurhoutjie” met ‘n “v”. Ons peins oor waarom mens praat van “olifant”, maar dan weer ‘n ander uitspraak aanwend as die “o” in die woord “bos” voorkom. Hierdie taal wat hy praat, ontsluit ook vir hom, in die toekoms, ‘n gedig van Ronelda Kamfer. Binne haar konteks, in haar taal, die gedig “‘n gewone blou Maandagoggend”:

“dit was ’n gewone blou Maandagoggend / êrens het ’n ma haar kind se lyk gaan uitken / (. . .) / by eerste pouse was daar ’n lyk in Skoolstraat / ’n miskraam in my klas / ’n uitstel op die bio-taak / en’n vrou wat gillend in die straat afhardloop / en vir die Here vra / ‘waar was Josef toe Jesus gekruisig is?’.”

Moedertaal beteken kommunikasie in die taal wat ons geleer het toe ons klein was, maar binne vandag se wêreld. Dit kos geld. Dit ontsluit ander wêrelde, dit gee vir ons toegang tot plekke waarheen ons nie gewoonlik sou beweeg as ons net ‘n paar woorde ken nie.

Ook: waarom sal ons groot reuse soos Facebook of Whatsapp vrees? Binne hulle omgewings kan ons met mekaar praat in al die tale wat ons ken. Ons kan praat met mense van ander lande, in tale wat hulle verstaan (as ons dit self ook verstaan). Ons kan ook praat met mense wat ons moedertaal praat sonder om deur die ander tale bedreig te voel. Engels is magtig, Google, Facebook en Whatsapp ook. Maar laat ons, binne hierdie ruimtes, die tale praat wat ons praat. Ons moedertaal, na die beste van ons vermoë. Maar ook soveel as wat ons kan. Laat dit ‘n lewenswyse wees.

Kyk wat kan hierdie knaap doen!

Groete oor grense, Naomi M

Ons reis

February 19, 2014 in Geen Kategorie

LitNet-bloggers

Hier is ek weer met iets wat voel soos aflewering nommer twee.

Wag, voor ek daarby kom.

Ons webontwerpers en -instandhouers is besig met grootskaalse werk aan al die blogs wat deur 24.com bedien word. Ek het vanoggend weer ‘n slag met hulle gesels oor die versoek dat die blogs se tuisblad die nuwe inskrywings moet weerspieël en nie alle webwerfwye-aktiwiteit nie. Nou net van hulle gehoor en hulle laat my weet hulle is op soek na nog ‘n inprop (dis nou ‘n plugin) wat kan help dat enige werk wat hulle doen nie tot niet gaan die oomblik as WordPress in die algemeen bygewerk word nie.

LitNet se blogs word gehuisves op ‘n WordPress-platform maar, soos baie van julle wat regtig baie van blogs af weet kan sien, is hier ook ander platforms hierby geïntegreer. Name soos BuddyPress doen die rondte. 24.com is op soek na ‘n oplossing om te keer dat alles verander elke slag as algemene instandhoudingswerk gedoen word. Juis omdat LitNet se blogplatform nie generies is nie. Ek ontvang plegtige beloftes dat hulle sal laat weet wat hulle kan uitrig en so gou moontlik.

Hier is die reis-item wat ek vandag wil deel. Weer so ‘n bedrywige en besige ene, oppas vir oorstimulasie, waarsku ‘n vriendin. En eintlik, op al die reise, is daar maar net voortdurend die reis na binne, of hoe?

Groete, voorspoedige reis vandag, Naomi M

Ons geskiedenis

February 18, 2014 in Geen Kategorie

Bloggers, sommige van die ander mense by die kantoor meen hierdie is visueel oordoen. Te veel inligting ingeprop in té ‘n kort rukkie. Ander vra: wie’s die “ons geskiedenis” wie se storie die kind probeer opsom? Want dis ‘n kind wat dié gemaak het, moet ek byvoeg. Natuurlik is daar ook die tema van evolusie wat, myns insiens in elk geval, in hierdie video met kreasionisme versoen word. Wat dink julle?

Maak vandag geskiedenis, almal!

Groete, Naomi M

Rots, ballon en liriek

February 13, 2014 in Geen Kategorie

Sommige van julle het gedink ek het verdwyn, klink dit my.

Hier is ek:

Dit lyk ligsinnig om die verdwyning so letterlik te interpreteer. Jammer daaroor. Ek sien baie van julle het ook verdwyn en weer verskyn. Waarom sekere avatars die kuberruim in vertrek het sonder om te groet, weet ek nou nog nie. Mens raak geheg aan die goed. Hulle is soos portrette teen mure. Daarsonder voel ‘n plek klinies, soos ‘n teatersaal. Hang maar weer op, asseblief.

Figuurlik gesproke, waar ek was?

Ek pleit versagtende omstandighede. Hierdie was waarmee ek besig was die afgelope tyd, ‘n visuele voorstelling:

Voel elkeen van julle daar is genoeg ure in elke dag? Die jaar raak nou eers aan Valentynsdag, maar kyk hoe het die e-posse in die inboks handuit geruk, kyk wat verwag die kinders se onderwysers alles. Ek het elke versoek gehoor. Maar soms om ‘n draai. Soms hoor ek net ‘n verwyt en dan moet ek erken dat ek voel of ek net in ‘n dowwe spieël kyk. Of buite die kring staan. Soms voel ek bespreek en nie of mense met my praat nie.

Ek het wel ook baie privaat-e-posse ontvang en dit ook agter die skerms hanteer. Ek was soms moedeloos, moet ek erken, omdat hier soveel genot en vreugde en lekkerte op hierdie ruimte gebeur. Maar omdat daar mense hier is wat met mekaar baklei sonder dat ek altyd weet waar die rusie ontstaan het. Ek weet hier is rusies wat jare en jare lank al voortduur, soos in ‘n langtermyn huwelik, die slegte soort. Dis vir my jammer dat daar net een of twee individue is wat hierdie diepliggende probleme met mekaar het en dan op die blogruimte verkondig dat die ruimte hulle nie aanstaan nie, terwyl dit handel oor ander ysberge wat onder die water se oppervlak, buite almal se sig is. My boodskap is en bly dat almal welkom is op LitNet se blogruimte. As jy egter voel hier is ‘n negatiwiteit te bespeur van een of twee individue spesifiek, wil ek graag vra of julle dit asseblief privaat kan uitsorteer. Of net van mekaar se terrein wegbly.

Ek het al bloginskrywings hier gelees en gedink dat hierdie ruimte die onmoontlike kan vermag. Nog ‘n visuele voorstelling, erkenning aan Pixar en dié fliek:

Ek weet daar is dinge wat hinder. 24.com het die afgelope tyd aan al hul blogruimtes gewerk en ek het eers daarvan verneem die dag toe ons die eerste keer so gesukkel het met van-lyn-af-wees. Ek kon nie waarsku nie.

Ek het nou vanuit alle oorde verneem dat die tuisblad en die webwerfwye aktiwiteit wat nou aangedui word in plaas van nuwe bloginskrywings, erg hinder. Ek het vir 24.com gevra om asseblief die tuisblad te verander soos dit was. Ek self kan dit ongelukkig nie doen nie, omdat ek net oor gedeeltelike toegangsregte agter die skerms van die blad beskik. Ek belowe ek sal julle laat wanneer ek terugvoer gekry het.

Ondertussen is dit in almal van ons se hande hoe ons bou aan wat ons het. Elke inskrywing, elke menseverhouding. Ons almal, elkeen agter elke sigbare of onsigbare avatar, is mense. Sal mens vandag iets positiefs skep? En, voor die opbeurende lied uit die tagtigs wat ek graag as vandag se temalied wil voorstel, wil ek versoek om my asseblief met direkte versoeke te nader. As ek ‘n emosie hoor (“ek is ongelukkig”) kan ek ‘n vertroostende oor aanbied. Maar ek kan nie ‘n probleem help oplos nie. Vertel my wat pla, ek sal kyk of ek kan verander aan my kant. As ek nie kan nie, vra ek 24.com. Maar ‘n verwyt bring niemand êrens nie en dit verander niks van die verlede of die toekoms nie.

Op daardie noot, en sommer in die lig van die kommersiële dag wat môre is, hef aan:

And we can build this thing together, stand this storm forever …

Groete, Naomi M

Wat Nelson Mandela agtergelaat het

December 6, 2013 in Geen Kategorie

Die tyd het toe gekom. Ons almal het geweet dit kom. Dit lê vir almal van ons wat hier lees ook voor. Stof tot stof.

Vandag, terwyl ek nog in hierdie lewe is, eer ek die nagedagtenis van Nelson Mandela. Hy is aangehaal om die volgende te gesê het (en ek gee erkenning aan hierdie Facebook-werf waar ek die foto gekry het):

Nelson Mandela het baie verskillende dinge vir baie uiteenlopende mense in hierdie land en wêreldwyd beteken. Hy het vir sekere mense ‘n stereotipe verpersoonlik, vir ander was hy ‘n messias. Vir my is sy grootste nalatenskap dit wat hy agtergelaat het terwyl hy geleef het. Bitterheid.

Vir almal van ons: mag ons bitterheid laat opstyg soos balonne in die lug vandag en sien wegdryf. Bitterheid oor kinderdae, bitterheid oor mense wat weg is, bitterheid oor alles wat ons nie het nie, bitterheid oor mense wat ons nie kan verander het nie, bitterheid oor verlies, bitterheid soos etterende swere. Laat dit wegval.

Hoe swaar dit ook al is om hom te laat gaan, laat ons vandag méér laat gaan, soveel meer. Alles waaraan ons vasklou wat ons terughou en ons in ons eie tronke laat bly.

Vaarwel, Madiba.

Het jy ‘n navraag waarvan die LitNet-bestuur moet kennisneem?

November 8, 2013 in Geen Kategorie

Hallo bloggers

Ek sien hier verskyn nuwe bloginskrywings deur ‘n paar van julle omtrent navrae wat die LitNet-blogadministrateur nie beantwoord nie. Ek sal graag enige navraag beantwoord as ek daarvan weet, so mag ek versoek dat as daar iets dringends is, julle vir my ‘n direkte e-pos stuur na naomimeyer@litnet.co.za? Ek sal graag help. Die ruimte LitNet bestaan wel uit baie kamers, so soms is ek dalk besig om aandag te gee aan ‘n kwessie elders, soos dit mos maar by mens se werk gaan.

Ek is ook besig om stelselmatig te kyk na al die versoeke oor hoe om die ruimte te verbeter en sal julle laat weet wat nog hier gedoen kan word (soos die Facebook-like-funksie, of die moontlikheid om in te teken op mekaar se blogs). Ek hou julle op hoogte.

Groete, Naomi Meyer

LitNet se blogruimte

October 31, 2013 in Geen Kategorie

Hallo bloggers

Ek het baie reaksie en privaat-e-posse ontvang weens die bloginskrywing wat ek gister geskryf het. Dis vir my duidelik dat die blogruimte vir 99.9% van mense wat hier blog, ‘n lekker plek is. Hier gebeur kreatiewe dinge. Mense se woorde laat mekaar dink of saampraat. Openlike kommunikasie is vir julle belangrik. Julle wil ook graag die funksie behou om vir mekaar privaatboodskappe te stuur. Daar was ook ander voorstelle om die blogervaring by LitNet te verbeter. Ek sal dit alles ondersoek en mettertyd terugvoer gee.

Prakties, vir die handvol mense wat voel dat hier ‘n blogger of twee is wat mekaar slegsê: As hier openlik op LitNet se blogforum lasterlike bloginskrywings plaasvind, sal ek dit baie waardeer as enigiemand wat dit lees, vir my ‘n boodskap sal stuur met ‘n skakel na die betrokke bloginskrywing. Jy kan ‘n boodskap stuur na naomimeyer@litnet.co.za. ‘n Blogger wat ‘n ander blogger op LitNet se blogruimte beledig of laster of wat ‘n ander blogger hier se naam swartsmeer, is nie welkom nie. Daardie blogger en sy of haar bloginskrywings sal permanent verwyder word. As daar ‘n geveg agter die skerms plaasvind wat niemand anders kan sien nie, behalwe julle twee, versoek ek julle asseblief om dit privaat te hanteer. Dink aan ‘n geveg op ‘n speelgrond by ‘n skool vs ‘n geveg buite die skoolgronde. Ons by LitNet kan slegs verantwoordelikheid aanvaar vir materiaal wat op ons blogruimte geplaas word. As daardie materiaal egter lasterlik is, sal die betrokke blogger of bloggers nooit weer by LitNet mag blog nie. Want hierdie blogruimte is soos daardie ou sitcom van jare en jare gelede, “where everybody knows your name (and they’re always glad you came)”.

Klink dit te gemoedelik? Vriende kan mekaar ook soms aanvat. Rusies is normaal. Menseverhoudinge is morsig. Maar voortslepende onaangenaamheid waarby onskuldige partye betrek word wat niks daarmee te doen het nie, gaan nie geduld word nie. Laat my weet wat ek nie raaksien nie, asseblief, sodat ek kan optree.

Dankie vir elke kreatiewe bloginskrywing, vir die uitdagings wat hier voortgaan, vir mense wat met hul woorde na mekaar uitreik en mekaar se lewens verryk.

Groete, Naomi M

Stemdag (vir LitNet-bloggers)

October 30, 2013 in Geen Kategorie

Hallo LitNet-bloggers

Wat vang mense alles op die internet aan?

‘n Ruk gelede was daar ‘n meisie wat haar werk bedank het deur vir haar werkgewer op YouTube ‘n video te maak:

Wat op aarde gaan nou gebeur? Het mense by my eie werk, wat die video gesien het, gewonder. Nou het sy haar toekoms vernietig. Haar werkgewer sal seker woedend wees. Maar kyk wat maak hy toe:

Verrassend.

Gepraat van verrassings, hier is nog ‘n video met ‘n konsertpianis wat glo verras was omdat die orkes die verkeerde stuk musiek begin speel het. Maar sy het die situasie goed hanteer.

‘n Laaste YouTube-video, oor nog ‘n situasie wat verfrissend omgedraai is, is dié een:

Dis vir my duidelik dat mense op die internet doen wat ander mense ráák. Van Facebook hoef ek nie eens te begin praat nie. Hier is ‘n magdom voorbeelde, want hier is mense se ego’s gekoppel aan elke inskrywing.

Die afgelope tyd is dit vir my sigbaar dat hier mense is wat ongelukkig is met hoe sekere bloggers teenoor hulle optree. Veral twee bloggers gesels al ‘n geruime tyd agter die skerms met my oor mekaar.

LitNet se blogs het WordPress toe geskuif sodat elke blogger groter seggenskap kan kry oor sy eie blogruimte. Geen kommentaar wat gelewer word, hoef sigbaar gemerk te word tensy jy dit self kies nie. Maar dit klink vir my daar is ongelukkigheid dat daar steeds deur middel van privaat-e-posse vir mekaar boodskappe gestuur kan word, soms van beledigende aard. Een oplossing van my kant af sou wees dat ek as blog-administrateur die moontlikheid om privaat-boodskappe onderling te stuur, toemaak. Dis moontlik om dit te doen. Dan bly slegs die funksie van kommentare oor en daardie kommentare kan elk dan kies om lewendig te merk of nie.

Sal julle dus vir my kan laat weet wat julle verkies? As julle wil hê alles moet bly soos dit is, hoef ek niks te hoor nie. As julle verkies dat iets moet verander en julle het selfs voorstelle van wat julle verander wil hê om die blogruimte beter te laat verloop vir almal wat hier doenig is, stuur asseblief vir my ‘n privaatboodskap. Na hierdie adres: naomimeyer@litnet.co.za.

Laat ons mekaar se lewens verryk, mag ons ook situasies verrassend omkeer as dit nodig is, net soos wat sommige van die mense hierbo deur middel van hul YouTube-video’s gedoen het.

Groete, Naomi M

Adam Small: Jou land is my land

September 16, 2013 in Geen Kategorie

Dis naweek in Wellington; daar’s dronk bedelaars in die strate. Maar dis geen gewone Saterdagmiddag nie. As mens parkeerplek naby die Breytenbachsentrum nodig het, moet mens kreatief wees en sypaadjies ondersoek. Iemand staan nader met ‘n polistereenkoppie terwyl ek uit my motor klim. Weet hy dan nie? Sy profeet is hier.

Die markiestent is stampvol. Ek kry plek aan die buitekant en kan die gehoor sien van daar af. Gróót name is hier bymekaar. Toe die grootste man van die geleentheid op die verhoog stap, is hy wel opmerklik klein na liggaam.

Adam Small was lank stil gewees. Tussen 1957 en 1986 verskyn etlike digbundels uit sy pen. En sedertdien swyg hy. Dis nou sewe-en-twintig jaar later en hier is hy by die Breytenbachsentrum se Tuin van die Digters. Die skare in die tent lyk seker vir hom totaal anders as mense wat gewoonlik openlik met hom geassosieer is.

Die “seun van Wellington” word op die verhoog verwelkom deur Michael le Cordeur, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad. Riana Barnard, uitgewer by NB-Uitgewers, is saam met hulle op die verhoog, bedank vir Small dat hy sy jongste bundel Klawerjas by Tafelberg uitgee en stel hom aan die woord.

Hy skryf soos iemand wat terugkyk op die lewe. ‘n Gedig oor die verlies van sy goeie vriend Vernon February. Hy skryf oor landskappe, gebruik beelde oor "woedende wolke" en "stormende wind".

Hy is in opstand teen sterflikheid, dink ek. Vroeër was hy in opstand teen ‘n sisteem, het hy stemme gegee vir mense na wie niemand wou luister nie.

In LitNet se Spens van dramatekste, ‘n gedeelte uit die Monoloog uit Kanna hy kô hystoe:

Ek dink aan ‘n aanhaling wat ek voor die geleentheid raakgelees het – uit sy ATKV-Skrywersalbum op LitNet. “Selfs nou word my geloof soms nog verflard – Ag, God! Daar is maar altyd vrae in ’n mens se hart.”

Opvallend baie van die gedigte wat hy uit Klawerjas voorlees, inderdaad geestelik van aard is. En, tydens ‘n bewoë oomblik verwys hy na sy ma se Islamitiese agtergrond en hoe sy gekies het om sy pa se Christelike geloof aan te hang.

Die woorde van hierdie gedig kom plek-plek amper net so uit die Rut 1

16 Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; 17 waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ‘n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.

Terwyl die gehoor aan die einde van sy voorlesing opstaan om hom met ‘n staande ovasie toe te juig, kyk ek opnuut na die skare. Akademici, skrywers, digters, kritici, joernaliste. ‘n Gans ander land teenoor wie Adam Small die stilte verbreek het. Bruin en wit, skouer aan skouer, langs mekaar.

Of hoe?

Toe ek terugstap na my motor, is daar nog steeds bedelaars dwalend tussen die motors.

Net die volgende aand luister ek na Stef Bos. Hy vertel van sy Suid-Afrikaanse vrou by wie hy gekies het om te bly en nie terug te keer na Europa nie. Hierdie lied was vir háár. Adam Small, dis ook bedoel vir almal wat in die tent aan jou voete kom sit het. En dis ook vir almal in die strate van Wellington, al gaan hulle dit nooit hoor nie.

Die perfekte sprong

August 22, 2013 in Geen Kategorie

Dis laatmiddag op ‘n Maandag in vroeg-Augustus. Die stoom slaan op uit die water as die yl sonskyn van buite die tent af daarop skyn. My seuntjie staan bedremmeld langs die swembad en drup. Ek bedwing my om in te gryp en herinner my daaraan dat hy juis deur die winter met swemlesse voortgaan sodat hy uiteindelik veilig in die omgewing van water kan wees.

“Jy gaan nou inspring,” sê die swemafrigter. Hy wil nie. Sy skouers protesteer. Sy lyftaal is bang.

“Come on, we are going to jump together,” slaan sy oor na haar eie taal, waarmee sy emosioneel en met gesag kan praat. Sy vat sy hand en hy spring tog maar saam, hoewel teësinnig.

In die breukdeel van ‘n sekonde wat hulle bo die water hang, onthou ek die dag wat ek hom ook so sien hang het, bo die water. Hy was drie. Hy kon nie swem nie. Toe hy te ver oorgeleun het met die botteltjie waarmee hy water uit die swembad geskep het, het hy ingeval. Sy tannie wat die naaste aan die water was, moes met klere en al inspring om hom van die bodem af uit te lig na suurstof toe.

Vandag se Google doodle hoef nie vertaal te word nie, dit vertel eintlik baie stories gelyk. Die musiek vertel ‘n storie sonder om na die prentjies te kyk, maar ek hou nogal baie van die Google-mense se interpretasie, die ligte wat op strategiese oomblikke aangaan of die melancholie van die reën.

Einste Google vertel my van ander belangrike vertalings en interessant genoeg is die meeste hiervan geestelike tekste.

Ons almal weet wat dit beteken om elke dag vertaal te word. Toe ons in Istanbul was, het die mense buite die restaurante geskree: “Americans! We serve alcohol!” Voordat ek ‘n woord gesê het. Ek is geïnterpreteer op grond van hoe ek lyk en toe is daar verdere aannames ook gemaak, op grond van wat dalk tradisioneel in Turkeye verbode is. Wat praat ek van ander lande? Hier buite my werk noem ‘n daklose bedelaar my anderdag “nooi”, hoewel ek nie met hom in ‘n verhouding is nie. En beslis weier ek ook om sy nooi te word, veral nie op die manier hoe hy dit werklik bedoel nie. Hy is nie my mindere nie. Maar ek het ongelukkig ook nie die geld wat hy dink ek vir hom in die polistereenkoppie kan gooi nie, want daardie vertaling wat hy van my omstandighede maak, is ook verkeerd.

‘n Frase uit Eben Venter se bygewerkte ATKV-Skrywersalbum op LitNet wat my getref het, is waar hy skryf oor die perfekte woord op die regte plek, dat dit is soos ‘n “kort, wellustige soen”.

En dis net soos dit is met vertaling, ‘n goeie een, bedoel ek. Sekere vertalings is nie vir my so effektief nie, soos byvoorbeeld die titel “Die Götter müssen verrückt sein” as Duits vir “The gods must be crazy”. Miskien het dit bloot nie vir my dieselfde gevoelswaarde nie, want streng gesproke beteken dit presies dieselfde ding.

Maar hier is twee onlangse boekvertalings wat vir my net reg werk, in alle opsigte. Mike Nicol se boek “Of cops & robbers” is deur Jaco Botha vertaal as “Dieners & donners”. Gisteraand was ek by die bekendstelling van Etienne van Heerden se “In stede van die liefde”. Dis deur Leon de Kock vertaal. Die Engelse titel? “In Love’s place”.

Om oor te glip in ‘n ander taal, met die skuif wat so plaasvind dat jy die leser saam met jou na die plek toe vat waar die skrywer jou heen wou vat.

My seuntjie is nie meer in die lug nie. Hulle is nou in die water. Na hy die water saam met die swemafrigter getref het, is my kind ‘n oomblik lank heeltemal onder die water gedompel. My hart mis ‘n slag. Toe hy opkom en die kant beetkry, weet ek nie of die water wat oor sy gesig stroom die swembad s’n of sy trane is nie. Maar toe breek ‘n glimlag deur. Hy vang my oog en ek dink hy verstaan: volgende keer red hy homself. Dit was die perfekte sprong.

Naomi M.