Stellenbosch – affer innie pad

March 15, 2014 in Geen Kategorie

“Die hospitaal daar in Cloetesdal,” beduie ons gids met die hand, “lyk altyd soos die beach op Tweede Nuwejaar.”

Almal in die taxi lag. Ek dink aan die verkeersknope waarin ek en my gesin self oor die Kerstyd rondom die strande vasgesit het. Die gids-akteur se beeld is duidelik en treffend. Maar agter die grap lê ‘n wrang waarheid: mediese dienste in Cloetesville is oorlaai. Dit lyk nie soos die soort versorging wat mens opper innie pad, in Stellenbosch se goeie buurte kan verwag nie.

‘n Ruk gelede het ek met die akteurs gesels wat die taxi-huiskonsert Stellenbosch – affer innie pad aanbied. Vandag ry ek saam in hulle taxi.

As mense die geskiedenis herskryf, lag niemand gewoonlik nie. Dis mos maar ‘n delikate saak. Die maghebber hou die pen vas en diegene wat dink hulle stories en hulle verlede is van groter belang, moet maar hulle woorde sluk. Maar die twee akteurs saam met wie ons vandag ry, vertel ‘n storie van Stellenbosch wat min mense ken. Dis ‘n ander geskiedenis as die een waarin Simon van der Stel ‘n hoofrol speel. As Simon in die storie voorkom, hang sy onderrok lelik uit. Tog hou op mens selde op om vir die verhale te lag. Dalk lag mens die heel hardste vir mensself.

Verlede Saterdag het ek saam met Nicola Hanekom bus gery met Trippie. Vandag s’n is iets gans en al anders.

Ons sit knus en knap, been teen elmboog ingeryg. Ons ry tussen die argitektuur van Kayamandi, ons beskou hul restaurante (skaapkoppe op oop vure). Als, natuurlik, bewoording by ons gids gesteel.

En het ek my verspreek deur van Cloetesdal te praat, reg aan die begin? Plaaslike inwoners weet dat Cloetesville die Dal is en Idasvallei die Vlei. En in die Dal daal ons affer en affer, Smartietown binne. Kinders speel in die riool. Later kronkel ons terug na Langstraat. Ons ry by skole verby, ook ‘n teater. En uiteindelik gaan eet ons Kabous se vetkoek en drink wyn in die huis wat die akteurs ons vertel hulle s’n is.

Foto: Kabous Meiring

Teen daardie tyd het hulle ordentlik met my kop gesmokkel en vra ek een van die mede-gehoor-saamryers of die twee akteurs dalk werklik getroud is. Vir my is dit nie meer onrealisties dat die huis dalk werklik aan hulle behoort nie. Toe lui die telefoon. Mathilda antwoord en haar gesig verander.

“Gou,” beveel sy. “Sit neer julle glase, dissie ons hysie.”

Ons is terug in die toneelstuk. Almal word teruggeboender in die taxi’s. ‘n Baie slim manier om ‘n soort produksie af te sluit wat ek vermoed nog nooit aangebied is nie.

Dalk is hierdie nie heeltemal so ver verwyderd van Trippie in een opsig nie. Ons neem deel. Ons het vrywillig ingeklim, maar as die deur agter ons toegetrek word, is daar van wegvlug van die sosiale kommentaar geen sprake nie.

As ironiese naskrif tot die rit moet ek my seuntjie met ‘n hoë koors en stywe nek noodgevalle toe neem vroegaand. Ek mis die Woordfeesproduksies van opper innie pad vanaand. Maar dis ‘n vals alarm, net ‘n lastige virus. En die Mediclinic is besig, maar dis nie die strand op Tweede Nuwejaar nie. ‘n Paar lepels Panado later by die huis is daar introspeksie, opper innie pad.

Groete, Naomi M

US Woordfees 2014: ‘n Gehoor wat nie net kyk nie, maar deelneem

March 12, 2014 in Geen Kategorie

Die US Woordfees vind net een maal per jaar plaas. Dis wild, woes en wonderlik, hoor ek iemand sê. Ek beaam.

Vroeër die week het ek Nicola Hanekom se Trippie beleef. Ek het ‘n vertoning meegemaak waar ek as lid van die gehoor nie net passief kon sit en kyk nie, maar moes deelneem aan wat rondom my gebeur.

Dis die ideaal, dink ek toe, vir die kunstenaar in elk geval. Om mense wat kuns kom beleef uit te daag sodat hulle kan dink oor ‘n produksie. Mens kan nie afsydig staan jeens iets waaraan jy deelneem nie.

Saam met my kinders het ek ‘n verdere praktiese demonstrasie hiervan beleef. Ons het Liewe Heksie en die rolskaatse gaan kyk. Gedurende hierdie vertoning gebeur die voorspelbare, vir jou as volwassene, in elk geval. Karel Kat stap op die verhoog en steek Liewe Heksie se geskenk weg.

"Maatjies," praat hy met die gehoor. "Moet nou nie vir Liewe Heksie sê waar ek haar present gebêre het nie …"

Wat gebeur wanneer hy van die verhoog af padgee en Liewe Heksie weer haar verskyning maak? Reg geraai. Terwyl almal vir haar skree: "Heksie, kyk in die boks!", besef ek: Karel Kat het die deelname van die gehoor suksesvol geaktiveer.

Hier vertolk die slimme Margit Meyer-Rödenbeck die domme heksie op die verhoog.

Terug na die grootmense, wat nie vanjaar by die fees apaties kan staan nie.

In die produksie, Die Goëlaar, word die oë verblind. En met die kop gesmokkel. Daar word gepeins oor die lewe as illusie. Hier is ‘n onderhoud met die regisseur. En natuurlik kan enigeen uit die gehoor wat sy bereidheid verklaar, ‘n vrywilliger wees.

Hoe die man dit regkry om grootmense so ‘n rat voor die oë te draai, weet net hy alleen.

Meerfout, deur die Polony-groep, veroorsaak weer andersoortige interaksie. Jy mag op jou plek bly sit. Maar in jou kop gaan jy ver reis, wil ek amper waarborg. Onder al die strata van wie mens is, gaan daar iewers ‘n laag wees wat herontdek word terwyl die twee aktrises op die verhoog is. Die sinergie tussen die twee is fantasties, die teks vars. Dis nie gemaklik en ongekompliseerd om ‘n mens te wees nie. Soms sny die teks diep. Dikwels lag die gehoor baie hard vir die herkenbaarheid van die karakters se belewenis. Die effek: denk-deelname?

En, terug by die plek waar ons begin het. Van kinders en die plek waar die interaksie met die kuns begin, gepraat …

As jy in Stellenbosch is, maak nie saak hoe oud of jonk jy is nie, gaan besoek die uitstalling van Geliefde TV-sterre.

Die US Wooordfeesprogram beskryf wat jy hier kan verwag:

Kom ontmoet 200 marionette, staaf- en handpoppe wat oor die afgelope 39 jaar deur die Klein Marionette-geselskap en die eertydse modelbou-afdeling van die SAUK-televisiediens ontwerp en vervaardig is. Maak van naderby kennis met die geliefde eerste poppekarakters wat op Suid-Afrikaanse televisie kom praat en kykers betower het, soos ’n gerestoureerde Liewe Heksie, Karel Kraai, Sarel Seemonster, Bennie Boekwurm, Knersus en Oscar. Karakters uit teaterproduksies, soos Die Sielehandelaar, Die Reëngodin, Bang vir ’n Slang, Die Klein Prinsie, Repelsteeltjie en ’n hele paar ander wat gebruik is vir nasionale en internasionale opvoerings, word ook uitgestal.
7 – 16 Maart vanaf 09:00 | Radio Helderberg Klein Libertas Teater | Gratis

Ek en my hele gesin het gaan kyk. Hierdie slag is slegs interaksie met die oë toegelaat.

Weer eens, hoe voorspelbaar. As mens vir jou driejarige dogtertjie sê: "Nee, moenie vat nie …", kan iemand raai wat gebeur …?

Daar mag nie foto’s by die uitstalling geneem word nie. Clifford Roberts het toestemming gekry en hy wys vir ons drie van sy foto’s.

Groete! Naomi M

Nasionale Melktertdag: 27 Februarie 2014

February 26, 2014 in Geen Kategorie

Daar’s nou al ‘n gedenkdag vir elke geleentheid. Hoe klink Asemhaaldag as volgende voorstel? Grappies op ‘n stokkie. Nasionale Melktertdag klink eintlik vir my nogal lekker.

Wie het al die Portugese handtertjies raakgeloop, pastéis de nata? 2010 in Portugal het dit my baie sterk aan melktert herinner. Ek het die res van my gesin se vakansieplanne van tyd tot tyd ontwrig deur aan te dring daarop dat ons by obskure kafees aandoen om hulle weergawe van die lekkerny te proe. Elke slag was ek verlig dat, ongeag hoe bedenklik die opset of selfs die tertjie gelyk het, hulle vorentoe gesmaak het. So lyk die pastéis de nata op Wikipedia:

Hier’s iemand wat wys hoe dit gemaak word.

Vir diegene wat nie die Portugees verstaan het nie (um, ek het ook nie), wil julle nie laat wat is jul beste melktertresep nie?

Groete, Naomi M

Facebook, Whatsapp en die tale wat ons praat

February 21, 2014 in Geen Kategorie

Dis Moedertaaldag en ek sien vandag in Die Burger Facebook het Whatsapp gekoop. Mense hou van kommunikeer, dis wat ons doen. Op LitNet skryf Wannie Carstens oor die mitiese toring van Babel en die ontstaan van tale.

Nou sien ek ook op die internet mense gesels oor waarom Facebook Whatsapp gekoop het – kyk na hierdie mening:

Dalk het ek oorvereenvoudig deur te sê “mense hou van kommunikeer”. Daar is baie meer as kommunikasie ter sprake. Dis ‘n kwessie van mag en geld ook. In ‘n blitsig-veranderende landskap soos die internet, probeer mense ‘n bietjie vastigheid vir die toekoms koop. Hulle wil sekermaak hulle is nog bietjie langer aan bewind. Hulle verstewig hul monopolie selfs nog meer deur groot geld te betaal.

Dis die praktiese realiteit van die samelewing en die ekonomie. Kommunikasie én taal kos geld. As daar nie ‘n ruimte bestaan en in stand gehou word waar jy jou taal kan praat nie, dan dryf die taal die ruimte in totdat dit buite almal se bereik is.

Vir my beteken dit dat ek met my kinders praat oor alles rondom ons en in ons ervaringswêreld. Noudat my seuntjie se klas besig is met woordanalise en leer lees en skryf, praat ons nog meer bewustelik oor woorde. Ons probeer saam uitpluis hoekom skryf met “fiets” met ‘n “f”, maar “vuurhoutjie” met ‘n “v”. Ons peins oor waarom mens praat van “olifant”, maar dan weer ‘n ander uitspraak aanwend as die “o” in die woord “bos” voorkom. Hierdie taal wat hy praat, ontsluit ook vir hom, in die toekoms, ‘n gedig van Ronelda Kamfer. Binne haar konteks, in haar taal, die gedig “‘n gewone blou Maandagoggend”:

“dit was ’n gewone blou Maandagoggend / êrens het ’n ma haar kind se lyk gaan uitken / (. . .) / by eerste pouse was daar ’n lyk in Skoolstraat / ’n miskraam in my klas / ’n uitstel op die bio-taak / en’n vrou wat gillend in die straat afhardloop / en vir die Here vra / ‘waar was Josef toe Jesus gekruisig is?’.”

Moedertaal beteken kommunikasie in die taal wat ons geleer het toe ons klein was, maar binne vandag se wêreld. Dit kos geld. Dit ontsluit ander wêrelde, dit gee vir ons toegang tot plekke waarheen ons nie gewoonlik sou beweeg as ons net ‘n paar woorde ken nie.

Ook: waarom sal ons groot reuse soos Facebook of Whatsapp vrees? Binne hulle omgewings kan ons met mekaar praat in al die tale wat ons ken. Ons kan praat met mense van ander lande, in tale wat hulle verstaan (as ons dit self ook verstaan). Ons kan ook praat met mense wat ons moedertaal praat sonder om deur die ander tale bedreig te voel. Engels is magtig, Google, Facebook en Whatsapp ook. Maar laat ons, binne hierdie ruimtes, die tale praat wat ons praat. Ons moedertaal, na die beste van ons vermoë. Maar ook soveel as wat ons kan. Laat dit ‘n lewenswyse wees.

Kyk wat kan hierdie knaap doen!

Groete oor grense, Naomi M

Ons reis

February 19, 2014 in Geen Kategorie

LitNet-bloggers

Hier is ek weer met iets wat voel soos aflewering nommer twee.

Wag, voor ek daarby kom.

Ons webontwerpers en -instandhouers is besig met grootskaalse werk aan al die blogs wat deur 24.com bedien word. Ek het vanoggend weer ‘n slag met hulle gesels oor die versoek dat die blogs se tuisblad die nuwe inskrywings moet weerspieël en nie alle webwerfwye-aktiwiteit nie. Nou net van hulle gehoor en hulle laat my weet hulle is op soek na nog ‘n inprop (dis nou ‘n plugin) wat kan help dat enige werk wat hulle doen nie tot niet gaan die oomblik as WordPress in die algemeen bygewerk word nie.

LitNet se blogs word gehuisves op ‘n WordPress-platform maar, soos baie van julle wat regtig baie van blogs af weet kan sien, is hier ook ander platforms hierby geïntegreer. Name soos BuddyPress doen die rondte. 24.com is op soek na ‘n oplossing om te keer dat alles verander elke slag as algemene instandhoudingswerk gedoen word. Juis omdat LitNet se blogplatform nie generies is nie. Ek ontvang plegtige beloftes dat hulle sal laat weet wat hulle kan uitrig en so gou moontlik.

Hier is die reis-item wat ek vandag wil deel. Weer so ‘n bedrywige en besige ene, oppas vir oorstimulasie, waarsku ‘n vriendin. En eintlik, op al die reise, is daar maar net voortdurend die reis na binne, of hoe?

Groete, voorspoedige reis vandag, Naomi M

Ons geskiedenis

February 18, 2014 in Geen Kategorie

Bloggers, sommige van die ander mense by die kantoor meen hierdie is visueel oordoen. Te veel inligting ingeprop in té ‘n kort rukkie. Ander vra: wie’s die “ons geskiedenis” wie se storie die kind probeer opsom? Want dis ‘n kind wat dié gemaak het, moet ek byvoeg. Natuurlik is daar ook die tema van evolusie wat, myns insiens in elk geval, in hierdie video met kreasionisme versoen word. Wat dink julle?

Maak vandag geskiedenis, almal!

Groete, Naomi M

Rots, ballon en liriek

February 13, 2014 in Geen Kategorie

Sommige van julle het gedink ek het verdwyn, klink dit my.

Hier is ek:

Dit lyk ligsinnig om die verdwyning so letterlik te interpreteer. Jammer daaroor. Ek sien baie van julle het ook verdwyn en weer verskyn. Waarom sekere avatars die kuberruim in vertrek het sonder om te groet, weet ek nou nog nie. Mens raak geheg aan die goed. Hulle is soos portrette teen mure. Daarsonder voel ‘n plek klinies, soos ‘n teatersaal. Hang maar weer op, asseblief.

Figuurlik gesproke, waar ek was?

Ek pleit versagtende omstandighede. Hierdie was waarmee ek besig was die afgelope tyd, ‘n visuele voorstelling:

Voel elkeen van julle daar is genoeg ure in elke dag? Die jaar raak nou eers aan Valentynsdag, maar kyk hoe het die e-posse in die inboks handuit geruk, kyk wat verwag die kinders se onderwysers alles. Ek het elke versoek gehoor. Maar soms om ‘n draai. Soms hoor ek net ‘n verwyt en dan moet ek erken dat ek voel of ek net in ‘n dowwe spieël kyk. Of buite die kring staan. Soms voel ek bespreek en nie of mense met my praat nie.

Ek het wel ook baie privaat-e-posse ontvang en dit ook agter die skerms hanteer. Ek was soms moedeloos, moet ek erken, omdat hier soveel genot en vreugde en lekkerte op hierdie ruimte gebeur. Maar omdat daar mense hier is wat met mekaar baklei sonder dat ek altyd weet waar die rusie ontstaan het. Ek weet hier is rusies wat jare en jare lank al voortduur, soos in ‘n langtermyn huwelik, die slegte soort. Dis vir my jammer dat daar net een of twee individue is wat hierdie diepliggende probleme met mekaar het en dan op die blogruimte verkondig dat die ruimte hulle nie aanstaan nie, terwyl dit handel oor ander ysberge wat onder die water se oppervlak, buite almal se sig is. My boodskap is en bly dat almal welkom is op LitNet se blogruimte. As jy egter voel hier is ‘n negatiwiteit te bespeur van een of twee individue spesifiek, wil ek graag vra of julle dit asseblief privaat kan uitsorteer. Of net van mekaar se terrein wegbly.

Ek het al bloginskrywings hier gelees en gedink dat hierdie ruimte die onmoontlike kan vermag. Nog ‘n visuele voorstelling, erkenning aan Pixar en dié fliek:

Ek weet daar is dinge wat hinder. 24.com het die afgelope tyd aan al hul blogruimtes gewerk en ek het eers daarvan verneem die dag toe ons die eerste keer so gesukkel het met van-lyn-af-wees. Ek kon nie waarsku nie.

Ek het nou vanuit alle oorde verneem dat die tuisblad en die webwerfwye aktiwiteit wat nou aangedui word in plaas van nuwe bloginskrywings, erg hinder. Ek het vir 24.com gevra om asseblief die tuisblad te verander soos dit was. Ek self kan dit ongelukkig nie doen nie, omdat ek net oor gedeeltelike toegangsregte agter die skerms van die blad beskik. Ek belowe ek sal julle laat wanneer ek terugvoer gekry het.

Ondertussen is dit in almal van ons se hande hoe ons bou aan wat ons het. Elke inskrywing, elke menseverhouding. Ons almal, elkeen agter elke sigbare of onsigbare avatar, is mense. Sal mens vandag iets positiefs skep? En, voor die opbeurende lied uit die tagtigs wat ek graag as vandag se temalied wil voorstel, wil ek versoek om my asseblief met direkte versoeke te nader. As ek ‘n emosie hoor (“ek is ongelukkig”) kan ek ‘n vertroostende oor aanbied. Maar ek kan nie ‘n probleem help oplos nie. Vertel my wat pla, ek sal kyk of ek kan verander aan my kant. As ek nie kan nie, vra ek 24.com. Maar ‘n verwyt bring niemand êrens nie en dit verander niks van die verlede of die toekoms nie.

Op daardie noot, en sommer in die lig van die kommersiële dag wat môre is, hef aan:

And we can build this thing together, stand this storm forever …

Groete, Naomi M

Wat Nelson Mandela agtergelaat het

December 6, 2013 in Geen Kategorie

Die tyd het toe gekom. Ons almal het geweet dit kom. Dit lê vir almal van ons wat hier lees ook voor. Stof tot stof.

Vandag, terwyl ek nog in hierdie lewe is, eer ek die nagedagtenis van Nelson Mandela. Hy is aangehaal om die volgende te gesê het (en ek gee erkenning aan hierdie Facebook-werf waar ek die foto gekry het):

Nelson Mandela het baie verskillende dinge vir baie uiteenlopende mense in hierdie land en wêreldwyd beteken. Hy het vir sekere mense ‘n stereotipe verpersoonlik, vir ander was hy ‘n messias. Vir my is sy grootste nalatenskap dit wat hy agtergelaat het terwyl hy geleef het. Bitterheid.

Vir almal van ons: mag ons bitterheid laat opstyg soos balonne in die lug vandag en sien wegdryf. Bitterheid oor kinderdae, bitterheid oor mense wat weg is, bitterheid oor alles wat ons nie het nie, bitterheid oor mense wat ons nie kan verander het nie, bitterheid oor verlies, bitterheid soos etterende swere. Laat dit wegval.

Hoe swaar dit ook al is om hom te laat gaan, laat ons vandag méér laat gaan, soveel meer. Alles waaraan ons vasklou wat ons terughou en ons in ons eie tronke laat bly.

Vaarwel, Madiba.

Het jy ‘n navraag waarvan die LitNet-bestuur moet kennisneem?

November 8, 2013 in Geen Kategorie

Hallo bloggers

Ek sien hier verskyn nuwe bloginskrywings deur ‘n paar van julle omtrent navrae wat die LitNet-blogadministrateur nie beantwoord nie. Ek sal graag enige navraag beantwoord as ek daarvan weet, so mag ek versoek dat as daar iets dringends is, julle vir my ‘n direkte e-pos stuur na naomimeyer@litnet.co.za? Ek sal graag help. Die ruimte LitNet bestaan wel uit baie kamers, so soms is ek dalk besig om aandag te gee aan ‘n kwessie elders, soos dit mos maar by mens se werk gaan.

Ek is ook besig om stelselmatig te kyk na al die versoeke oor hoe om die ruimte te verbeter en sal julle laat weet wat nog hier gedoen kan word (soos die Facebook-like-funksie, of die moontlikheid om in te teken op mekaar se blogs). Ek hou julle op hoogte.

Groete, Naomi Meyer

LitNet se blogruimte

October 31, 2013 in Geen Kategorie

Hallo bloggers

Ek het baie reaksie en privaat-e-posse ontvang weens die bloginskrywing wat ek gister geskryf het. Dis vir my duidelik dat die blogruimte vir 99.9% van mense wat hier blog, ‘n lekker plek is. Hier gebeur kreatiewe dinge. Mense se woorde laat mekaar dink of saampraat. Openlike kommunikasie is vir julle belangrik. Julle wil ook graag die funksie behou om vir mekaar privaatboodskappe te stuur. Daar was ook ander voorstelle om die blogervaring by LitNet te verbeter. Ek sal dit alles ondersoek en mettertyd terugvoer gee.

Prakties, vir die handvol mense wat voel dat hier ‘n blogger of twee is wat mekaar slegsê: As hier openlik op LitNet se blogforum lasterlike bloginskrywings plaasvind, sal ek dit baie waardeer as enigiemand wat dit lees, vir my ‘n boodskap sal stuur met ‘n skakel na die betrokke bloginskrywing. Jy kan ‘n boodskap stuur na naomimeyer@litnet.co.za. ‘n Blogger wat ‘n ander blogger op LitNet se blogruimte beledig of laster of wat ‘n ander blogger hier se naam swartsmeer, is nie welkom nie. Daardie blogger en sy of haar bloginskrywings sal permanent verwyder word. As daar ‘n geveg agter die skerms plaasvind wat niemand anders kan sien nie, behalwe julle twee, versoek ek julle asseblief om dit privaat te hanteer. Dink aan ‘n geveg op ‘n speelgrond by ‘n skool vs ‘n geveg buite die skoolgronde. Ons by LitNet kan slegs verantwoordelikheid aanvaar vir materiaal wat op ons blogruimte geplaas word. As daardie materiaal egter lasterlik is, sal die betrokke blogger of bloggers nooit weer by LitNet mag blog nie. Want hierdie blogruimte is soos daardie ou sitcom van jare en jare gelede, “where everybody knows your name (and they’re always glad you came)”.

Klink dit te gemoedelik? Vriende kan mekaar ook soms aanvat. Rusies is normaal. Menseverhoudinge is morsig. Maar voortslepende onaangenaamheid waarby onskuldige partye betrek word wat niks daarmee te doen het nie, gaan nie geduld word nie. Laat my weet wat ek nie raaksien nie, asseblief, sodat ek kan optree.

Dankie vir elke kreatiewe bloginskrywing, vir die uitdagings wat hier voortgaan, vir mense wat met hul woorde na mekaar uitreik en mekaar se lewens verryk.

Groete, Naomi M