Na-fees blues

Dis wat ek die beste onthou van Aardklop. Vir maande word daar voorberei en dan loop dit tot by die klimaks wanneer die tente opgeslaan word en die fees was net ‘n geroesmoes en oorlewing vir my gewees en dan daardie sondagmiddag………….. ek het gewoonlik in die koor gesing, die heel laaste item, altyd ‘n Requiem, baie gepas sou ek sê, en dan die laaste koffietjie. Strate verlate…ou vuilgetrapte plakate wat rondwaai… winkel-eienaars  hangskouers van moegheid…….. dit is na-fees blues in sy ergste vorm.

Ons gedigtefees was besonder lekker. Dit het op ‘n baie hoë noot begin. Met ‘n windstorm, die Moeder van windstorms. ‘n Boom het op die kragdrade geval en die helfte van die dorp se krag was af. Ek was in daardie helfte. Daar is net een elektrisiën, en die was besig  op ‘n plaas, so ons moes maar wag. Half nege het die krag eers aan gekom. My vriendin se stoep en tuin was een van die venues. Die aand se vertoning het uitgepeuter, want krag het te lank geneem om aan te kom. Raai wat was haar venue se naam………Windsong.

Ek het nie een vertoning bygewoon nie, was te besig om kos te maak en te verkoop. Daardie stukkie was baie suksesvol, ons kon vandag die eerste hout koop vir die kas in my kamer, dat die klere nie meer oor stoele gedrapeer hoef te word nie. Het wel saam met die kinders in die kroeg beland en Toast Coetser het vir ons bietjie van sy rap gedigte impromptu voorgesit en ek het dit woes geniet. Het wyzelik besluit om nie na die volgende kroeg oor te skuif nie (Ja, sowaar! Ons het nou twee kroeë)  Dit was maar vaal gesigte die volgende oggend aan ontbyt, wat om verstaanbare redes eers 12uur plaas gevind het.

Hier is vir julle ‘n foto van na-fees blues. Die venue is Windsong en dis Chris Wildman wat uitspan na die vertoning op die stoel.

 

12 thoughts on “Na-fees blues

  1. Wat is die gemiddelde ouderdom van die permanente inwoners ?
    Wie organiseer hoofsaaklik so n fees ? Die voltydse inwoners of die
    deeltydsers ?
    Hoeveel deeltydsers is Afrikaans ? Hoeveel Engels ?

    • Toe ek hier gekom het amper 6 jaar gelede was die gemiddelde ouderdom omtrent 60 maar die afdelope paar jaar het hier heelwat jong mense met klein kinders ingetrek. Interessant nè
      Maar die deeltydse inwoners is eintlik glad nie betrokke nie. Hulle wil wees maar in praktyk werk dit nie so nie, Baie se droom val plat. Om deel te wees van so ‘n klein gemeenskap soos ons vat baie meer guts as wat mense dink. Eerstens moet jy al jou stadsmaniere afskud, want dit werk glad nie hier nie. Verder moet jy “compassion” hê, min mense onthou nog wat dit is. Mense steun op mekaar nie omdat jy wil nie, maar omdat jy moet. Bv is die dorp nou al vir 5dae sonder petrol, iemand moet jou help dit kan nie anders nie. Verder is jy bootgestel, almal weet min of meer alles van jou. hier is nie wegkruip kans nie. MAAR as jy dit regkry kan jy nie ‘n meer geborge plek kry om in te woon nie. Die boere is almal afrikaans en die kleurling uit die aard van die saak ook, maar die res is 80% engels

Los ’n antwoord.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.