pekans

Hier is my pekan-neut bome. Die een met die geel blare  bo het ongelukkig kanker. Die hooftak moet uitgesny word en dan moet ons net hoop en bid die gesonde sytakke sal opgroei. Gelukkig is hier ‘n boomdokter, maar hy gaan ook weg. Nog ‘n lang storie vir ‘n ander dag.

Maar natuurlik moet hierdie neute geoes word en dis nou ‘n perd van ‘n ander kleur. Soos Lora sê; obsessief progressief, ek gaan gou uit om te kyk hoekom blaf die honde en dan sien ek ‘n neut, en dan sien ek nog een en dan vou ek die punte van my t-hemp om, omdat my hande te klein word en teen die tyd dat ek terug in die huis is het die wasbak oorgeloop of die kos verbrand. Nooit gedink dis moontlik nie……maar dit is…….

 

 

Hier lê ‘n klomp op die droograk anders muf hulle. Ek het groot skade gehad in die middag en oggend terwyl ek getrek het,met vrugte diewe. Die kinders van die oudorp het hier toegesak. Tannie Ina van die winkeltjie het gesê hulle het die volgende dag met sakke pekanneute daar aangekom om te verkoop. Sy het dit nie gekoop nie want sy weet dit was gesteel. Laat die middag van ons eerste dag hier, spring Minah op en blaf verskriklik met die ander twee agterna. Ek probeer kyk wat aangaan en so tussen die blare deur sien ek twee swart broekspype met wit tekkies wat in die lug hardloop om oor die heining te kom. Die volgend dag was daar ‘n paar kinders wat deur die hek wou kom, die honde het gestorm en ons het die kinders hoor gil tot in Voortrekkerstraat. Hulle hoef nie te weet dat my honde eintlik opgewonde was omdat hulle gedink het dit is speelmaatjies nie. Daaroor bly ons tjoepstil. Die boodskap het egter vinnig geloop, ons het nog nie weer besoekers gehad nie Ek plant in elk geval maar die heining nou vol bouginvilla en stekelrige goed, want dis maar die beste manier ongewenste diere en mense uit te hou, en ‘n slap draad…..Dis baie moeilik om oor ‘n slap hiening te klim het julle al daaraan gedink?

 

22 thoughts on “pekans

  1. My buurvrou hier in Randburg het twee groot bome. Ons kry sakke vol neute by haar. Dis heerlik om altyd neute byderhand te hê. Ek pes net die afdoppery, al my naels is gebreek want die neutkraker kan ook net soveel doen.

    • @avega
      Die ou oom wat die plek gehad het, het so megafterjie gemaak wat die neute uitdop, maar die familie wat geerf het, het dit opgekonfoes, maar hier is ‘n oom wat my sal help om dit reg te maak 🙂

      • My man dop die neute vir my uit, maar daar moet ‘n vinniger manier wees. Die neute breek baie… en ek kan nie gebreekte neute verkoop nie. Sovêr het ek 28 kg neute van 500g elk verpak en dit word op die dorp verkoop. Ons het gister alweer 1x 20 liter emmer se neute opgetel. Ek bly in die Uitenhage distrik.
        Monica… hoe lyk die apperaat waarmee jy die neute uitdop?

  2. boomkanker ? wonder wat veroorsaak dit …

    met neute is optelgoed nie vatgoed nie want dis mos hoe mens oes – skud die boom om die rypes te laat afval ?

    ‘n kei-appellaning werk ook om bose magte uit te hou met sy doringbedekte takke en met die mooiste oranje herfbessies . goei net bietjie stadig .

    kry ‘n zenofobiese hond wat dol is oor wurgbyt ook , later ! 🙂

  3. gooi groot lakens uit onder die bome en tel dit dan net op en skud die neute af.
    My broer hulle het net 1 boom in die tuin gehad en het die ganse familie en skoonfamilie van neute voorsien. Hulle honde het dit ook graag gevreet sy moes dus rats wees soggens met optel

  4. Ek het okalunga bome geplant so 10 net vir eie gebruik . wat kan jy my leer van die bome ek verneem hulle moet kruis bestuiwing kry wat beteken dit en watter soort boom moet ek plant saam hulle vir kruis bestuiwing

    Groete

    Gerrie

Los ’n antwoord.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.