TEGNOLOGIE AS ONS SWAKHEID SKEP VERMORSING

Julie 25, 2011 in Sonder kategorie

 

Die kwessie dat Julie spaarmaand is en dat dit juis in die Woef-huishouding maar ‘n broekskeur-maand is vanweë al die spandabelheid van vakansie hou en alles wat daarmee gepaard gaan, het my nogal ook laat dink aan die rol wat tegnologie speel in mense se spandering – asook die vermorsing wat al ons tegnologie eintlik maar tot gevolg het.

 

In my tienerjare het ons nog musiek op bandjies (sommer “tapes” genoem) gekry.  Dit was vir elke tiener ‘n droom om darem sy eie bandopnemer te hê waarmee hulle ook self musiek kon opneem. Gewapen met die bandmasjien het jy by die radio gesit en die geliefde musiek opgeneem.  Daar was veral twee frustrasies van goed wat nie moes gebeur nie – die radio-omroeper moes nie halfpad deur die musiek begin praat nie (wat hulle wel gereeld gedoen het, juis om hierdie onwettige opnames te vermy) en jou ma of iemand anders moes nie daar verbyloop en een of ander irrelevante opmerking maak (soos in “kom dek gou die tafel”) terwyl jy besig is nie, want dan is jou musiek bederf.  Die ryker kinders het seker kabels gehad wat hulle direk by die musiekbron kon inprop, maar dit was nie vir Woef so beskore nie.  Eers toe ekself begin werk het, kon ek klaar opgeneemde musiekbande bekostig, maar ek het verkies om plate te koop omdat die bande maar maklik uitgerek het. Dit was vir my ‘n groot dag toe ek my eerste (en laaste) hoëtroustel kon koop: ‘n yslike kas met sy bandmasjien, amplifier, radio en platespeler, met luidsprekers so groot soos appelbokse.  Ek het vandag nog die stel.  Die luidsprekers is op ‘n tyd deur vismotte bygekom, maar die tegnologie herstelplek het my oortuig dat ek hulle net weer moet laat opbou eerder as nuwes koop, omdat jy nie meer daardie gehalte in die moderne tegnologie kry nie – aldus hulle.  Teenoor vandag se kompakte stelle, is daardie hoëtroustel feenomenaal groot.

 

Later het die videomasjien gekom.  Dit is nou ‘n stukkie tegnologie wat ons in die Woef-huishouding bitter baie gebruik het – nie soseer om video’s uit te neem nie, maar om programme op te neem wat ons nie wou mis terwyl ons by vergaderings of ander verpligtinge was nie.

 

Dit was ‘n skok om op ‘n jaar ‘n paar dae voor Kersfees in die winkels te kom en te besef dat ons nie vir onsself meer met ‘n plaat kan bederf nie – skielik was daar net CD’s op die rakke.  Ek skat ongeveer 1990? Nodeloos om te sê, ons moes mettertyd ‘n CD-speler aankoop.  Hy staan vandag stukkend en nutteloos in die einste hoëtroustel se kas, want toe hy vir die derde keer breek, het ons al ‘n videomasjien/DVD kombo gehad wat net so goed CD’s ook kan speel. Dit was ons derde videomasjien, die tweede een lê ook nog half nutteloos hier rond.

 

Toe kom die selfone.  Al om die ander jaar kry jy ‘n opgradering op jou kontrak en alles word net beter en mooier en platter.  Ek het nou ons sewende selfoon, die kinders is ook al elkeen deur ‘n paar.

 

Ek trek nou al by my vierde rekenaar. Die meeste van die voriges het ‘n paar opgraderings gekry voordat hulle vervang is.

 

Woef-man het sy alleenloper-jare met ‘n rolprentkamera begin.  Jy het die film op ‘n projektor teruggespeel. Daar was geen klank behalwe die getjirr van die band wat oor die projektor rol nie.  Hy het ook hope en hope foto-skuifies wat ek nie sal omgee om weer te sien nie, maar ai, die poging net om die projektor op te stel! Nodeloos om te sê, ons Pentax kamera wat met films werk, lê ook hier êrens en stof vergader.  Ons het nog nie ‘n digitale kamera nie. Ek wag nou sommer vir wat ook al hierdie model gaan opvolg – dalk so ‘n ogie wat jy sommer in jou voorkop inplant en dan foto’s neem wat sommer op jou rekenaar verskyn as jy na die skerm kyk?

 

Gevolglik is die Woef-huishouding vol goed wat nie meer gebruik word nie. Die rekenaars en sommige selfone het al ander paaie gekry, maar ek het steeds my hoëtroustel, waarvan die bandspeler nie meer werk nie. Ek weet nie of ek dit kan of wil laat regmaak nie. Om wat mee te doen?  Ek het bokse vol ou musiekbandjies, maar het nie meer ‘n begeerte om daarna te luister nie en vermoed die klankgehalte sal my irriteer.  Ons het ‘n hele paar langspeelplate wat ons verkieslik moet speel as die kinders nie tuis is nie, anders sal die oë weer rol.  Hulle dink dis verskriklik vorige eeu.  Ons het hope videobande wat seker maar sal verlore gaan as die videomasjien finaal die gees gee.

 

As ons ‘n som moet maak oor wat al ons selfoonkontrakte, plate, videobande, kameras, (o ja ons is al by ons tweede videokamera, wat ook nou verouderd is, want hy werk ook op videobande) en rekenaars ons met die jare gekos het, voel dit of dit my aftree-neseiertjie nogal ‘n aansienlike hupstoot sou gegee het as ek al die geld hierop spandeer eerder sou kon spaar!

 

Ek moet darem erken, ek het my plesiertjie op sy tyd aan al hierdie implemente gehad. Maar ek kan nie help om te wonder watter rol ek en al die ander eienaars van al die ou en moderne tegnologie speel in die besoedeling van die aarde nie.  Wat doen ‘n mens met die goed?  Jy kan dit nie saam graf toe neem nie, een of ander tyd wil jy afskaal en dan beland hierdie goed êrens buite op ‘n vullishoop.

 

Ek het vanaand op 50/50 gesien dat Nokia en ek glo ander selfone ook, se onderdele gemaak word uit minerale wat in haglike toestande in Afrika in myne gedelf word deur kinderarbeiders wat vir dae nie na die oppervlakte kom nie, terwyl die oorloë buite tussen faksies woed oor aan wie die rykdom van die myn behoort.  So word ook ek en ander selfoongebruikers deel van ‘n stelsel waar kinders misbruik word vir die rykdom van magsugtige en hebsugtige mense. Maar ons is nie onskuldig nie.  Omdat ons altyd wil hê en altyd beter moet kry, skep ons die vraag en onderhou ons die stelsel.

8 antwoorde op TEGNOLOGIE AS ONS SWAKHEID SKEP VERMORSING

  1. mandiebas het gesê op Julie 25, 2011

    Wat sal die mensdom nie alles prysgee vir vooruitgang nie. Ek self is ook al lekker bederf – nou nie heeltemal so slim soos my kinders nie, maar moet sê ek geniet internet vreeslik. Dis vreeslik die ding met die kinderarbeid.

  2. loudavisi het gesê op Julie 26, 2011

    Dit klink of ons in die selfde huis grootgeword het. Ek onthou die frustrasie as iemand hoes terwyl ek ‘n liedjie wou opneem!
    Ons moet seker maar go with the flow, Woef…niks wat ons doen kan vooruitgang keer nie.

    Ek het nie geweet van die kinderarbeid nie.

  3. TS het gesê op Julie 26, 2011

    Ja en so word die wereld ‘n elektoroniese ashoop

  4. ons het hope vinielplate maar nie meer werkende platespeler.
    Sien nou I Connection verkoop weer draaitafels. weet egter nie of dit die moeite werd is. baie musiek kan deur internet bekom word

  5. MEleroux het gesê op Julie 26, 2011

    Gelukkig werk my draaitafel nog, maar ek moet in ‘n vreeslike nostalgiese bui wees om die plate te speel. Gewoonlik moet hulle eers skoongemaak word en dan is hulle mos sommer gou klaargespeel en moet jy eers weer omdraai, nie soos ‘n CD wat maklik ‘n uur se luistergenot verskaf nie.

  6. MEleroux het gesê op Julie 26, 2011

    Ek hoor die ruimte is al vol ruimte-afval en daar is ‘n plek in die Stille Oseaan waar kilometers se plastiek wat van skepe afgegooi is, as gevolg van seestrome bymekaar kom. Die mensedom is besig om sy eie ondergang te bewerkstellig. Die ekonomie moedig dit aan want almal wil sy sente maak.

  7. MEleroux het gesê op Julie 26, 2011

    Jy is reg – ek kan net op ‘n hoop gaan sit en bekommer en dit sal my niks in die sak bring nie. Die lewe en al sy tegnologie gaan dan maar net voort sonder my. Die kinderarbeid ding het my regtig geruk. Die lewe is ‘n wrede plek. Nou kan ek ophou selfone gebruik, maar dit sal nie die ding keer nie. Tensy alle mense in massa protesteer. Hoeveel aandadigheid het ons in ons onkunde aan baie ander sulke onregte?

  8. MEleroux het gesê op Julie 26, 2011

    Helaas ja – ons kan dit nie keer nie, en het ook maar die tegnologie nodig. Internet het vir my al ‘n nuwe manier van kuier en van kennis en van gerief (banksake) geword. Dis ‘n leefstyl!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.

Jy mag hierdie HTML-merkers en eienskappe gebruik: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>