Jy blaai in die argief vir 2011 Oktober.

Profile photo of rolienv

by rolienv

Lekker dag vir boomklim

Oktober 22, 2011 in Sonder kategorie

Vandag is ’n dwaaldag. Ek het vanoggend wakker geraak in ’n nostalgiese droomwolk wat my diep in my geheue weggevoer het na tye wat al verby is. Daar is voetspoortjies wat my terug lei na baie spesiale oomblike en wonderlike herinneringe na dinge sommer verspot en sommige baie diep en seer. Party oomblike het groot “Geen toegang” bortjies op en by hulle gaan ek gewoonlik verby. Met tye as ek daar verbygaan haal ek baie dapper die bortjie af en gaan daar in en kyk na die oomblike en weet ek het gegroei, ek kan nou maar die bortjies verhang. Dit raak my nie meer nie en die oomblike hoef nie meer ’n versperring in my weg te wees nie. By party oomblikke het ek ’n tuintjie gemaak en ’n plekkie gemaak waarby ek kan rus. Dis hierdie oomblikke wat ek indrink en alles kan onthou en dit my weer verfris in die grootheid van die oomblik. Ek kan dit weer beleef asof dit weer gebeur.Daar is oomblikke waaroor jy skaam is, wees bly hulle is verby. Oomblike waaroor jy spyt is , jy kan dit nie verander nie en dan natuurlik die oomblikke van antwoord. Daardie oomblikke wat jou insig gee en laat verstaan hoekom sekere dinge vir jou anders is as vir ander. Daar is so baie oomblikke en herinneringe in die skatkis van jou geheue en ingedagte raak jy weg in die lekkerte van gister. Jy gee jouself die vryheid van die oomblik…jy gaan op reis in die die gange van jou geheue en gedagtes. Jy gun jouself die oomblik om weer te ontdek en te droom. Jy gun jouself die tyd om net jy te wees. Jy weet dis net ’n oomblik waarin jy jou verdiep en dat jy nie daar kan bly nie, dit is verby maar nie vergete.

Die groot ding is , jy kan niks toemaak en vergeet nie, dit trek die donker na jou toe en dit maak skaduwees oor jou lewe. Jy moet alles oopmaak, party het nog bietjie tyd nodig, vir hulle los jy, maar vir daardie monsters wat jou bang maak, vir hulle moet jy jag soos ’n jagter soek na prooi, hulle is jou vrede diewe. Gooi hulle uit, skiet hulle en sit hulle op die spit of gooi hulle in die see vir die haaie. By elke een van daardie oomblike wat uitstaan in tye waardeur mens reis in die verlede is daar waardevolle lesse wat ek saamgevat het en en dit gehou het en dit bring my altyd weer terug na tye waar ek dit weer nodig het om te onthou, ek was al hier, dis net ’n ander prentjie. Ek sal okay wees. Ek kan dit doen, ek is al hier deur, ek hoef nie bang te wees nie. Ek het ’n baie goeie gedagte jagter geword oor die jare. Elke oomblik is nuut en spesiaal, elke oomblik verdien ’n nuwe kans. Die mooi moet van vooraf mooi wees en die lelik van vooraf lelik, niks moet vas wees aan die verlede nie, elke ervaring is nuut. Elke son kom van vooraf op en elke son sak in ’n unieke oomblik wat onthou kan word. Maar meeste van die sonne kan ons onthou oor die mense wat saam met ons was. Ons kan nie gedagte monsters bymekaar maak en ’n riller in ons geheue skryf en leef elke dag nie. Ons moet ons gedagtes skoon hou en vry van alle vrees om regtig vry te wees. Regtig onsself te wees.

Daar is mense wat net altyd daar is. Hulle gee struktuur aan jou lewe, hulle is altyd daar, al val alles om jou inmekaar is hulle daar. Nie altyd op wyses waarop jy dit wil hê nie, maar getrou daar waar jy hulle nodig het . Staatmakers. Deur dik en dun. Hulle is die ankers van jou menswees. Ek praat nou nie vandag van hulle nie. Ek dink sommer vandag aan al die mense wat al gekom en gegaan het in in my lewe. Mense bly mos maar vir seisoene in jou lewe en dan gaan hulle verby soos mis voor die son, maar jy kan agterna altyd stukkies van hulle uithaal en onthou waarom julle paaie gekruis het. Hierdie storie het so lang inleiding omdat ek lus was om so bietjie te filosofeer oor my gedagtegang . My gedagtes is baie arm aan desiplines maar baie ryk aan beelde soos Hunter Kenedy dit so mooi stel oor sy lerieke. So hier gaan ons nou.

So het daar bure agter ons ingetrek. Die kinders dieselfde ouderdom as ons kinders en dit was nie lank nie of daar word heen en weer oor die muur geklim asof dit ’n hek is. Kort voor lank het Ma en Pa ook oor die muur geklim en hulle self kom voorstel aangesien ons geen poging aangewend het nie vir een of ander rede, seker maar te besig gewees. Ons het ’n groot gemeenskaplike belangstelling gedeel en dit was dan die begin van die vriendskap. Ons kamp. Die manne het logistieke en tegniese vaardighede gedeel en ek en die vrou kon sommer lekker kuier oor ’n bietjie rooiwyn en vir ure gesels en filofiseer oor die lewe. Haar stories het my geweldig geskok en haar manier en uitkyk op die lewe. Sy het nie baie vrese gehad nie en het ’n tipe vryheid in haarself ondek wat ek begeer het. Sy was vry in haarself. Sy het haar uitgeleef in die manier hoe sy gekyk het na dinge, nie altyd volgens my die regte manier nie of moreel reg nie, maar so vry.

Die kinders het begin heen en weer oorslaap en dinge het meer en meer grys begin raak as jy nou sal weet wat ek bedoel. Die twee erwe het soortvan een begin raak en die twee huise se reëls het ook soortvan in mekaar begin vloei tot reg nie meer reg was nie en verkeerd nie meer eintlik verkeerd nie, want ons reg was anders as hulle reg en ons verkeerd anders as hulle verkeerd. So gaan dit toe maar aan en ons verdra maar alles en verduur maar alles om vrede te handhaaf met bure. Die vrou was ’n Kaptein in die Hillbrow polisie en nie eintlik die tipe waarmee jy nou wil vassit nie. Redelik uitgespoke en ’n uitgebreide woordeskat en het die taal van die gevalle engel vlot gepraat .Sy was rof en ombeskof, maar tog was daar iets in haar wat iets in my wakker gemaak het. Iets waarvan ek al lankal vergeet het, maar by haar het dit begin lewe.Dit was iets wat my weer laat lewe het. ’n Ondeuntheid wat my so lekker laat lag het.Sy het so lekker gespot oor die dinge waarmee ek issues gehad het en hoe meer sy dit belaglik gemaak het, hoe kleiner het die probleme geraak. Dinge wat my ondergekry het, het nie verhaar bestaan nie. Sy het net anders daarna gekyk. Sy het ’n stout dogtertjie in haar oë gehad wat so lekker gelag het oor klein goedtjies, sy het sulke stout uitdagende oë gehad en het vir niks teruggestaan nie, maar sy was moeg en stukkend en het weer in my iets gevind wat heelmaak. Iets wat troos en iets wat geweet het sy wil nie ’n preek hê nie, sy wil net ’n oor hê.

Haar man was …sal ons sê bietjie onbetrokke, of oorbetrokke, ek kon nie aflei nie. Bietjie baie in beheer van hulle, maar nie oor homself nie. Hulle moes rekenskap van alles gee en het hulle soos soldate behandel en hy die , ek weet nie wat ’n mens dit noem nie, sommer die hoof soldaat. En hulle het in angs en vrees gedans volgens sy bevele. So vol vrees. Sy het my vertel hoe hulle mense in Hilbrow gearresteer het, sommer groot gangsters, huh uh? Ek kon nooit verstaan hoe kon sy so vreesloos haarself wees en so vreesloos tussen die klomp kriminele en so in vrees lewe vir hom. Ek was beslis nie bang vir hom nie en toe ek nog hoor hy hou homself nog buite die huwelik gelukkig ook het ek finaal besluit, die buurman is ’n uitdaging om lief te kry. “Love your nabour” gaan nie werk vir die een.

Een oggend toe ek so naar was dat ek net wou lê , het sy sommer met haar kamerjas oor die muur geklim om vir my pille te bring en het vir ons gaan koffie maak en dis toe dat sy vir my sommer haar hele lewens verhaal vertel. Ek dink nie sy het ooit haar gedagtes skoongemaak nie. Alles om haar was vasgemaak aan haar verlede en die las wat sy gedra het was baie baie swaar en het haar onder gekry. Sy het nie geweet hoe om vry te kom van haar verlede nie en het dit saamgesleep soos ’n” ball and chain”. Sy was vry van haarself maar nie van haar verlede nie en ek weer anderom. Ek het net geluister en geluister, niks raad gegee nie, net gehoor hoe sy oopmaak en braak . Sy het haar hele verlede uitgebraak dat die trane loop en toe is my naarheid ook sommer weg. Die pil het gehelp vir my en die braak vir haar. Ek stel toe voor ons moet na ’n natuurreservaat toe gaan , om so bietjie uit te kom en tee te gaan drink en ek kon doen met koek.

Sy is weer terug oor die muur en en toe ons al twee klaar was, is ons daar weg. Haar oë bloedrooi en opgeswel en die trane wat vrylik geloop het sonder dat een van ons twee dit probeer keer het. Dit het haar skoon gespoel het ek geglo en ek wat nog bleek om die keuwe was het toe gaan wandel in die bome en bosse onder die pragtige berge met handsakke onder die arms en hoëhak bootse. Die vars lug van die oggend en reuk van varings en dennenaalde was al wat ek nodig gehad het om beter te voel. Sy het niks gepraat nie net diep asemgehaal terwyl die trane nog geloop het. Sy het gaan stop by ’n yslike groot groot boom en in verwondering bly staan. Ek het haar vir ’n rukkie gelos en my verloor in die grootheid van die bos en skoonheid van die natuur en toe ek na ’n rukkie terugkeer en sy staan nog steeds daar wou ek wee twat sien sy. Sy het my toe vertel van hulle kinderjare en hoe lekker hulle in die boom gekim het en altyd gekyk het wie klim die hoogste. Sy het vertel van haar boetie wat oorlede is en hoe hy haar altyd gewen het in boomklim . Sy het na my gedraai en stip na my gekyk en sê sym is regtig daardie kinderdae en hoe lekker dit was om sommer net kind te wees. “Nou kom ons klim ook boom” sê ek toe voor ek myself kon keer.

Sy het my met daardie stout ogies uitgedaag en gese date k nie regtig sal nie en ek het my al van kindertyd nie laat uitdaag nie en daar gaan ek toe. Ek is met daai handsak onder die arm en daai hoëhak boots op in daai boom en hoe meer sy begin lag het hoë meer klim ek. Toe ek eers in is, het dit goed begaan, ek het al vergeet hoe lekker dit was om boom te klim en het daai hakke effe moeilik gevind in die begin maar dit het my nie gestop nie. Die handsak het ek sommerso skuins gegooi oor die arm later en gewonder hoekom ek nie eder ’n rugsak dra nie. Toe ek ’n lekker ent in die boom is, het ek haar uitgedaag om my te beat en daar kom sy. So van bo het dit vreeslik snaaks gelyk en gekink met die gekreun en steun van jare wat nou teen ons tel en ek het begin lag. Onbedaarlik begin giggel wat oorgegaan het in skaterlag en toe hiteriese uitbarsting wat my heeltemal lam gemaak het, behalwe die feit date k teen die tyd die toilette nodig gehad het, het ek nou my greep op die tak verloor en het gesukkel om bo te bly. Die gelag was onbedaarlik en daar begin ek val. Ek val verby haar en val om elke tak en dit het gevoel of ek doodval en daar beland ek op die naat van my rug onder die masiewe boom. Sy het só groot geskrik dat sy behoorlik van bo afgespring het tot onderom te kom tot my redding maar dit was nog snaakser as die opklim en daar is ek weer histeries aan die lag, ek het net gelag en gelag soos ek in jare nooit gelag het nie. Ons het vir lank daar onder die boom gelê en lag en giggel oor wat kon gebeur het en hoe oud ons geraak het en hoe lekker dit was om sommer weer kind te wees, al was dit vir ’n klein rukkie. Ons is toe daar weg en het vir baie lank nog daaroor gespot. Ek het daarna sommer meer spontaan stupid goedgedoen en myself die vryheid gegun om net te wees. Om net op die ingewing van die oomblik impulsief te wees en net so bietjie te let go.

Hulle het nie baie lank daar gebly nie toe moes die Hoofsoldaat maar weer terug na waar hy vandaangekom het, ons paaie het geskei en ons het nie eintlik kontak behou nie, maar ek weet ek het weer die kind in myself ontdek op my pad met haar.Ons kon weer ons eie reg en ons eie verkeerd toepas en dit was hemels om weer ’n bietjie privaatheid en huis terug te kry. Ek loer so nou en dan na daardie muur as ek die skottelgoed was en dink altyd aan die oggend toe sy met haar kamerjas daar oorgeklim het en hoe sy uit daai boom uitgespring het. Miskien het ek haar gehelp op bietjie los te maak en bietjie oop te maak. Miskien is haar bagasie bietjie minder…Ek weet nie, maar vandag wens ek so daar was iemand wat saam met my wou boomklim. Sommer net iets simpel doen wat nie sin maak nie, sommer iets waaroor ’n mens lekker kan lag en sommer iets wat net uit die oomblik gebore word. Oomblike wat kleintjies kry se herinneringe is vrugbaar en kleurvol. So nou wonder julle seker hoekom ek hierdie nuttelose inligting wil deel met julle? Want ek wil!

Profile photo of rolienv

by rolienv

Emmers vol geloof

Oktober 2, 2011 in Sonder kategorie

Hierdie is nie my storie nie, ek ken dit ook nie goed nie, maar wil dit graag vertel .

‘n Chinese man wat eendag by ons geëet het, het die storie vertel omdat my kinders hom uitgevra het oor sy geloof en hardop gewonder het of Buda hemel toe gaan.Die manier waarop hy die gesprek hanteer het, het my so beïndruk dat dit my opinie oor ander gelowe en Budiste verander het. Hy was nie net volwasse genoeg om dit te hanteer nie, maar het genoeg karakter gehad om vir hulle ‘n morele voorbeeld te wees en te min ego om die aanval op sy geloof persoonlik op te neem. Die man het besef dat hulle groot geword het met net een geloof en nie verstaan dat daar baie ander gelowe is nie, hulle het aandagtig geluiser en het daarna beslis beter verstaan.

 ‘n Baie arm Chinese gesin het baie gelukkig gewoon en het elke dag in geloof geleef sonder dat dit ‘n godsdiens was. Die man het elke oggend die huis verlaat om te gaan visvang vir die gesin en die vrou het vas geglo hy gaan met ‘n vis terugkom en het klaar gemaak met die huis en die kinders sodat as hy saans tuis kom alles perfek was. Tafel was reeds gedek en alles was gereed om net daardie vis gaar te maak . Hulle het elke aand ‘n feesmaal gemaak van die vis wat hy huis toe gebring het. Die man het met tye van die vi swat hy gevang het vir die hander mans gegee wat nie gevang het nie, en met tye as hy niks gevang het nie, het hulle vir hom gegee.Hulle het nooit huis toe gegaan sonder kos nie.

 Soos die man ouer raak het die hy begin siek raak en toe hy op sy laaste was het sy vrou bitter gehuil en gesê sy sal nie sonder hom kan oorleef nie, want sy kan die visvang nie nie. Sy was gewoont daar aan om te wag vir voorsiening. Die man het geweet hy is besig om te sterf en kon nie sy vrou so hulpeloos agterlaat nie. Hy het geweet dat sy vrou honderd present geloof het in sy voorsiening en het toe sy vrou in geloof gelaat. Hy wou haar nie afhanklik maak van ander se geloof nie. Hy het vir haar gesê sy moet elke dag ‘n emmer vat en by die water gaan sit, sy moet net wag tot die vis in die emmer spring en dan kan sy maar huis toe kom. Die vrou wat so goedgelowig was het nie vrae gevra of getwyfel nie.

Vir lank daarna het sy en die kinders afgegaan na die water met die emmer en dan het hulle gewag totdat die vis in die emmer spring en dan het hulle huis toe gegaan, want haar man het so gesê. Sy het in volle geloof gaan sit met die verwagting van ‘n vis wat in haar emmer sou spring.

 Eendag het daar ‘n man gesit en gevra wat hulle doen.Sy het toe in volle geloof vetel dat hulle wag vir die vis om in die emmer te spring. Die man het gelag en gespot met hulle en hulle verseker dat ‘n vis nie sommer in die emmer spring nie, jy moet dit vang. Sy is belaglik om so te sit en wag. Die vrou en die kinders het begin twyfel en het nogal onseker en verspot gevoel so voor ‘n leë emmer, en toe hulle om hulle kyk het hulle gesien die ander lag vir hulle. Hulle het visstokke en nette gehad. Die vrou en haar kinders is toe huis toe en het nooit weer ‘n vis in die emmer gevang nie. Sy het met tye weer daar gaan sit voor die emmer as daar niemand anders was nie, maar haar geloof was geknak en haar kinders het geloof in hulle ouers verloor.

 Hulle was van daardie dag af afhanklik van ander se gunstes en gawes. Die storie is bleikbaar ‘n ou volksverhaal onder die Chinese maar het dit nog nooit weer raakgelees nie, sou graag wou, as iemand miskien die oorspronklik storie het, maar die waarde van die storie is min of meer dat ‘n mens ander se geloof moet respekteer. Dit is vir hulle die waarheid, al maak dit nie vir jou sin nie, gun elkeen die Vryheid van geloof.