Profile photo of rolienv

by

Die kerk en die bar woon bymekaar.

Oktober 26, 2010 in Sonder kategorie

Hy het geglo dat skinder ‘n groter sonde as drink was, so het hy sy drinkery altyd reg gepraat as Ma so aangaan omdat sy alleen in die kerk moes sit en omdat die gemeente skinder. As ons van die kerk af gekom het was hy al so twee of drie biere sterk en ‘n gruwel in Ma se oë. Sy het dan met daardie klik klak skoene kamer toe gestorm en daardie deftige kerkklere uitgaan trek en dan met haar huis draklere agter die potte gaan park.

Pa wou eintlik net daar buite sit en ‘n bietjie braai, want dit is wat ‘n mens doen op ‘n Sondag; jy braai….Ons sal dan vir die res van die Sondag daar onder in Ma se “sunken down” braaivleisplek sit en kuier terwyl Ma nog ‘n Paar verstellings aan haar rotstuin gemaak het. Soos Ma met haar hande so diep in die grond gegrawe het, het sy rustiger geraak. Ek dink die aarde het die kwaad uitgetrek. Ek het partykeer vir Ma so dopgehou terwyl sy so afgekoel het in die tuin. Ek dink Party Sondae wou sy ook net by die huis bly, maar dit was asof sy bang was vir die Dominee of was dit miskien vir Lettie.

Ma het die gat laat grawe en toe die res self gedoen. Sy het die vloer met leiklip en sement gegooi en die walle uitgeplant met vetplante, klein en groot. Die rotse tussen in het maar gebeur soos Pa hulle gaan haal het. Dit was baie mooi en sy het haar doodgewerk daaraan. Pa het vir lank die verskoning gebruik om Trekoskraal toe te gaan. Hy is vroeg dag weg om klippe te gaan haal vir die tuin om in die aand terug te kom met ‘n paar; Ma was maar te dankbaar. Elke klip was vir haar soos ‘n ornament en het ‘n spesiale plekkie gekry.

As Ma so vir ‘n ruk lank daar in die grond gegrawe het , was sy heel rustig. Sy het dan later sommer net daar in die tuin op die grond bly sit en saam met ons gepraat en gelag oor dinge van die verlede en simpel goed wat ons al aangevang het. Dan het ons lekker verder aan die tafel gaan kuier met ons braaibroodjies of krummelpap en ‘n lekker slaai.

Een Sondag het Kleinboet te na aan Pa gesit; elke keer wat Pa gedraai het na die vuur het, het hy ‘n Paar slukke bier gevat en by die tyd wat ons heel rustig aan tafel gaan sit het, het hy met daai twee klein handjies vasgehou aan die tafel vir lewe. Toe Ma vra hoekom hy nie eet nie het hy met daai tuit bekkie gemompel; ”Dit voel of ek in ‘n vlietuig is”. Ma het sommer dadelik geweet en het kwaai vir Pa geskree;”Die kind is gesuip!” . Pa het gedink dit was baie snaaks.

6 antwoorde op Die kerk en die bar woon bymekaar.

  1. Druktyd het gesê op Oktober 26, 2010

    Weereens uitstekend geskryf!

  2. rolienv het gesê op Oktober 26, 2010

    Die lewe is met tye skeiend as ons dit weet sal ons meer insig he met ander se swakhede.

  3. rolienv het gesê op Oktober 26, 2010

    Dankie druktyd!

  4. uitstekend geskryf. wens sulke dinge het nooit, ooit iewers gebeur nie

  5. rolienv het gesê op Oktober 27, 2010

    Hierdie dinge is dinge is die hande wat my gevorm het, ek het geleer om lief te raak vir my verlede en dit te laat gaan…dis kosbare herinneringe en sal altyd deel van my getuie wees….deur genesing kan ons in ons verlede gaan sonder vrees en hartseer…

  6. jene, jy gee my nou groot insig in die lewe…..

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.