Om afskeid te neem

Oktober 17, 2012 in Sonder kategorie

Ja, ek blog al lankal nie meer hier op litnet nie, maar litnet was nog altyd vir my ‘n lekker kuierplek laat in die aand wanneer ek wag dat sites install.  Dan het ek hier kom lees, gelag, kwaad geword, simpatie gevoel en partykeer ‘n traan gepik.

Nou skuif alles oor na WordPress, wat beslis ‘n goeie roep is en iets wat lankal gedoen moes gewees het.  Ja, by WordPress kry mens hier en daar ‘n spammer in the worx, maar met die nice ‘dashboard’ kan jy hulle vinnig elimineer.  Jy het beter beheer oor jou blog en als is sommer net beter.  Het ek al genoem ek ‘love WordPress’?

As julle enigsins vragies het, kan julle my enige tyd ‘n epossie stuur en ek sal help sover ek kan.

My blog is hier http://pienkpantoffels.wordpress.com/ vir die wat belangstel.

Ag ons het lekker tye hier op Letterdash gehad en ook slegte tye, maar all-in-all ‘n lekker ondervinding en die lekkerste is om te sien wat ander interesseer en wat ander doen om hulle ledige uurtjies te verwyl.

Ek sien julle aan die ander kant!

WordPress

Maart 11, 2012 in Sonder kategorie

Vir die wat nie weet hoe nie.  Hier is ‘n lekker handleiding.

http://easywpguide.com/download/

My swak hart Netta!

Junie 1, 2011 in Sonder kategorie

Die vorige een kan hier gevind word

Lettie Botha [lbotha@gmail.com]

Sent: Thursday 2011/04/07 08:00 AM

To:     nettavermaak@groenakkers.co.za

Eers skrik ek toe ek die ‘SWAK’ aan die einde van jou epos lees maar toe onthou ek hoe ons afkortings gemaak het en dit aan die einde van al ons briefies gesit het, dit was soos ons geheime kode. Hierdie een was sommer baie spesiaal! Sealed With A Kiss! Ons het altyd gedink die Engelse taal is so grênd. Ek wonder of die jongetjies nog sulke afkortings maak? Dis seker daardie vreemde taal van hulle waarvan jy geskryf het in jou epos. Ek het ook maar gesukkel om dit te ontsyfer.

Bertus het toe vir Ahmed afgehaal van my vriendelys. Hy sê dis een of ander Nigerian Scam. Toe vertel hy my, ek moet dit gaan google. Ek wonder nou nog wat vir ‘n ding is google? Onthou jy Netta toe die seuns ons so op en af gekyk het, dan het ons gegiggel en gesê hulle oogle ons? Dis seker maar dieselfde ding, net met ‘n fênsier naam. Maar ek weet nie waar om daardie google ding te kry nie. Ek het al oral daar op Facebook gesoek, maar ek wil nie te veel rondkarring nie, netnou breek ek iets. Ek sal hom maar vra as hy weer kom oë wys. Die arme kind skryf nou eksamen so hy spandeer bietjie tyd voor die boeke. Ook maar jammer dat my drome nou nie bewaarheid sal word nie. Lyk my ek is vir ewig verdoem om maar ‘n bietjie te sukkel.

Bertus vertel my dat die Madelein ogies maak vir die manne daar op Facebook. Sy het seker nou die ‘poke’ ding onder die knieg. Ek sal maar eerder nie vra nie, netnou dink sy ek spioeneer op haar. Ek en sy sit mos hoeka nie langs dieselfde vuur nie. Bertus wil nou by my weet of hy vir sy Pa moet vertel van Madelein se dinge daar op Facebook. Dit is seker sy goeie reg om te weet of wat praat ek Netta? Ek kon nog nooit vatplek aan die vrou kry nie maar sy was my seun se keuse. Wat kan ‘n ma doen as ‘n kind gekies het? Mens kan maar net bid en hoop vir die beste en eendag wanneer dinge uitmekaar val, moet mens maar help om die stukke op te tel en aanmekaar te las. Kinders hou mens maar nederig en op die knieë, maak nie saak wat hulle ouderdom of salaris is nie.

Ek is jammer om te hoor dat Japie so moeilik raak. Hy was altyd so ‘n harde werker en het goed gesorg vir julle. Maar om oud te word is mos nie vir sissies nie en ek vermoed dit raak die manne erger as wat dit vir ons raak. Ek was maar altyd so ‘n bietjie jaloers op jou met jou goeie man. Veral in die tyd toe ek met Hennerik getroud was. Die man was mos meer lief vir die Bybel as wat hy vir werk was. Ai, as ek dink hoe ek my vingers stompies moes werk om huis en haard aanmekaar te hou terwyl hy Bybelstudie doen, dan raak ek sommer weer die kluts kwyt van kwaad! Onthou jy Netta die dag toe ek my en my seuns se goedjies gepak het en hom en sy sewe Bybels gelos het? Onthou jy hoe ons my aardse besittings op die bakkie gelaai het sonder enige hulp? Kwaadgeit maak mens darem sterk. Die beste besluit wat ek ooit in my lewe gemaak het. Net jammer die kinders het so swaar gekry, maar gedane sake het nou eenmaal nie keer nie.

Ek is bly jy het ‘n werkie om jou besig te hou. Die geleerdes sê mos ons oumense moet die brein besig hou anders verloor ons dit. Die dat ek maar aanhou bak vir die tuisnywerheid hier op die hoek. Dit hou my besig en stop darem hier en daar ‘n gaatjie toe.

Ou Stefaans het my gisteraand uitgevat vir ‘n ete na ‘n deftige plek. Die plek ruik sommer na geld en dan wil ek nie eens praat van die vreemde benamings vir die kos nie. Pleks hou hulle by vis of hoender sodat mens kan verstaan! Ek bestel toe maar die eerste ding, wat vir my lyk of dit lekker kan wees, onder die ‘Main Course’ gedeelte.  Iets van ‘n terrein met guacamole – ek weet nie eens hoe om die vreemde woord uit te spreek nie – en polenta.

Nou sal jy my nie glo nie Netta! Daar daag die bord kos op met die boontjies wat so eenkant lê sonder aartappels en hulle is nie eers fyngedruk nie! Nee, hulle lê daar met ‘n strikkie van gras vasgemaak in ‘n bondeltjie!  Geen geel groente in sig nie.  Ek was juis lus vir ‘n skeppie stroopsoet pampoen!

Ek begin toe rondkyk om te sien of hulle nog ‘n bord gaan bring want daar is nie ‘n stukkie vleis te bespeur op my bord nie. Net so snaakse torinkie kos, gedrapeer met repies groen en ‘n smeerseltjie sous wat in kringe oor die bord lê. Die bord het mooi gelyk maar die kos was aan die skraps kant. Geen wonder die ryk vrouens lyk soos visgrate met vel oor nie. Mens kan mos nie oorleef met so min kos nie!

Stefaans het gesien ek kyk hulpeloos rond en hy vra my toe wat is fout. Ek sê toe vir hom hulle het ons vleis vergeet. Sal die man nou kliphard uitbars van die lag in daai deftige plek! Mens, ek wens jy kon die kyke sien wat ons gekry het! Hy vertel my toe dat die vleis weggesteek is in die torinkie ding. Tik my om met ‘n veer Netta!

Ek het maar langtand begin eet. Dit kos was toe heel smaaklik maar kan jy glo, daar was geen guacamole of polenta te bespeur nie – tensy dit die sous en die groen grasserige goed was. Ek wou ook maar nie weer vra nie want ek was bang die man lag weer vir my. Maar die Avokado was lekker. Ek het hom nog nooit so geproe nie! Heeltemal anders as die gewone Avokado en Mayonnaise konkoksie wat ek altyd aanmekaar slaan. Ek dink die kok het vermoed ek is eintlik in murg en been ‘n plaasmeisie, die dat hy pap ook in die torinkie gesit het. Maar bid jou aan Netta! Geel mieliemeel! Jy onthou daai jaar toe dit so erg droogte was toe ons net geel mieliemeel kon kry? Ek was mos so mal daaroor want dit het vir my soos regte mielies gesmaak. En hier loop ek dit weer raak in die deftige eersteklas restaurant! Ek het net nie baie gehou van die twee repies vleis wat tussen die Avokado en pap weggesteek was nie, hulle was maar aan die rouerige kant en jy weet ek hou van my vleis so gaar dat die veearts hom nie meer kan red nie.

Lyk my die Stefaans was op sy tyd ‘n vername man want toe die kelner, wit vegedoek oor die arm, die wyn tafel toe bring, gooi hy eers so bietjie in Stefaans se glas. Stefaans het die glas so skuinsweg na die lig gehou, daaraan geruik, ‘n klein slukkie gevat, dit so in sy mond gespoel en toe met ‘n kopknik aangedui dat die wyn reg is. Nou wonder ek, wat sou hulle met die wyn gemaak het as dit nie reg was nie? Ek wil nou nie skinder nie Netta, maar ek dink Stefaans se smaakgoed het iewers by sy agterstewe vasgeslaan want daardie wyn was so suur soos laasjaar se verslane asyn en as jy hom in jou mond kry, dan trek hy sommer die kiewe so bymekaar. Dit voel amper soos daardie saamtrekkery van die keel as mens pampoentjies het.

Volgende keer gaan ek vir hom vertel ons gaan eet eerder by die Spur. Ten minste verstaan ek hulle spyskaarte en hulle borde is nie so karig geskep nie.

Groete vir Japie en die kinders.

Lettie

Hallo Ouma!

Mei 31, 2011 in Sonder kategorie

Die vorige epos kan hier gevind word.

Bertus Botha [bbotha@uni.com]

Sent: Wed 2011/04/06 15:45 PM

To:     Lettie Botha lbotha@gmail.com

Jinne Ouma! Ouma kan mos nie ouma se ID en als vir die man stuur nie! Ek het sommer daar by Ouma se Facebook gaan inlog en die mannetjie van Ouma se vriendelys verwyder. Hierdie mense soek net die bankbesonderhede en voor Ouma jou oë uitvee, dan is die bankrekening leeg! Het Ouma nog nie gehoor van die Nigerian 419 scam nie? Ouma moet dit bietjie gaan google.

Ek is baie besig hierdie week met eksamens, so ek sal nie kan kom kuier nie. Maar miskien sal Pa-hulle. Ek kan ook nie gaan jol nie, want Pa sê as ek nie deurkom nie, moet ek gaan til slaan by Checkers. Hy sê ek moet nie probeer om ‘n vier jaar graad in vyf jaar in te squeeze nie.

Dit gaan goed met Ansie. Ek weet sy is die vrou vir my en dat ek en sy eendag gaan trou. Wat sê Ouma daarvan? Ouma hou mos van haar? Madelein hou nie baie van haar nie. Sy sê Ansie is ‘n fortuinsoeker – asof sy kan praat!  Blerry coogirl!  Ansie het my nog net goed behandel en sy swot hard op Universiteit want sy kan nie bekostig om haar beurs te verloor nie. Gelukkig is hierdie my finale jaar. Volgende jaar gaan ek en Ansie oorsee om eers die wêreld te leer ken. Ek sal vir Ouma poskaarte van al die plekke saambring. Noudat Ouma mos email het, kan ek baie spaar op posgeld. Maar moenie worry nie, ek sal elke dag vir Ouma ‘n email stuur!

Ek word so kwaad vir Madelein. Mens sou sweer sy het die graad agter haar naam en nie Pa nie. Al wat sy doen is in skoonheidsalonne rondlê en kuier met haar vriendinne in koffie winkels. Ouma sal nie glo nie, sy het nou vir die vierde keer hierdie jaar die sitkamer oor laat doen. Ek kan nie verstaan dat Pa dit sommer so aanvaar nie. Hy werk so hard en sy doen niks! Sy het nuwe skryfbehoeftes bestel met ‘n briefhoof as Mev. Dr. Botha. Sy is sommer aansitterig en ek kan nie glo dat Pa met so ‘n vrou kon trou nie. Sy is niks soos my Ma was nie.  

Sy weet ook nie dat ek op haar Facebook profile kan ingaan nie. Ouma moet sien watse messages sy van die mans kry. En dan antwoord sy hulle nogals! Partykeer is ek sommer lus en vertel vir Pa. Wat dink Ouma? Mens kan mos nie met ander mans flirt as jy getroud is nie? Maar ek wil ook nie hê die outoppie moet stress nie.

Oom Stefaans het my nou die dag vertel hy hou baie van Ouma. Julle moet julle gedra en nie doen wat ek nie sou doen nie Ouma Laughing

Ek gaan nou eers groet Ouma. Ek moet oor tien minute in die klas en die proffie is maar streng op tyd. As mens vyf minute laat is, dan merk hy jou afwesig maar dis ‘n heel ander ball game as hy laat is. Dan moet ons daar sit soos uile op kluite en wag vir die sir om op te daag.

Sien Ouma volgende week.

Bertus

Ns: Sal Ouma asseblief weer vir my van daai Oats koekies bak? My koekblikke is maar leeg en Ouma weet dat daai ‘Ouma beskuit’ tog nooit soos Ouma se koekies kan proe nie.

Goeie dag Lettie

Mei 31, 2011 in Sonder kategorie

Epos een kan hier gevind word.

Lettie Botha [lbotha@gmail.com]

Sent: Wed 2011/04/06 13:30 PM

To:     nettavermaak@groenakkers.co.za

Mens, dit was nou ‘n lekkerte om ‘n briefie van jou hier in my ‘inbox’ te kry! Jy moet jouself nie te veel kwel oor die kostes van Facebook en eposse nie. Hulle is werklik gratis, maar mens betaal vir die lugtyd. Ek het jou ook terstond by my vriendelys gaan voeg en daardie foto van jou met die geel blom in jou hoed is pragtig Lettie. Nou kan jy spog dat jy reeds vier vriende op jou vriendelys het!  Jy lyk darem goed vir jou jare.  Baie goeie gene geërf.  Ek het gans en al te veel tyd in die son spandeer in my jongdae en die plooie is die bewys daarvan.  Die Cold Cream kon nie die son se strale wen nie.

Jy moet tog versigtig wees vir die Ahmed karakter. My vermaning is nie omdat hy ‘n Indiër is nie, maar wel dat jy hom nie ken nie en dat jy nie jou besonderhede soos jou ID nommer en bankbesonderhede sommer goedsmoeds met hom kan deel nie. Daar is maar baie slinkse karakters oral. Maar soos jy sê, ons pensioen is maar skraps, die dat ek maar help met die administrasie van die ouetehuis vir ‘n ekstra geldjie. Vind tog maar eers uit by Bertus oor die Ahmed karakter voor jy jou fotostate aanstuur.

Ek het nou vir die dertiende keer ouma geword. Ek is so bly vir die kinders en ons Vermaaks het nou ‘n goeie bydrae gemaak tot die Afrikanervolk.

Ek onthou ons kinderdae soos gister Lettie. Ons briefies en giggel oor die seuns. Ek verlang baie keer terug na daardie tyd toe ons so sorgeloos was. Nou is ons grootste bekommernis dat ons ons pensioen sal oorleef! Gelukkig het ons makelaar ons geldjies veilig belê in Propertyshare. Ons ontvang elke maand getrou ons tjekkie in die pos. Ek het al vir Japie gesê hy moet laat hulle dit met die internet oorbetaal, maar hy hou voet by stuk dat hy nie sy geld in die lug wil laat sweef nie. Hy voel dit is nie veilig nie. Die mansmense kan so hardkoppig wees! Soms beny ek jou wat nie ‘n man in die huis het nie. Jy moet maar ligloop vir Stefaans ook. Ek sien baie ou mans hier wat nesskrop by die tannies net omdat hulle iemand soek om skottelgoed en wasgoed te was en hulle kouse te stop. Mos gans en al te suining om nuwe sokkies te koop!

Ek het so uitgesien na my en Japie se aftrede. Gedink ek en hy sal lekker gesels, lees, saamkuier en ons land gaan verken. Maar die stomme man kan nou eenmaal nie ‘n boek in die hand vat en homself besig hou nie en sy vuis bly maar vasgeklem om die beursie. Elke sent moet tien keer omgedraai word voor hy dit spandeer met ‘n trek van misnoeë op sy gesig. Die dat ek maar uit die huis vlug met die werkie van my, anders sal hy my teen die mure uitdryf met sy alewige gepruttel oor pyne hier en skete daar! Hy tree partykeer ook heeltemal vreemd op. Vra aanhoudend dieselfde vrae en deesdae moet alles op ‘n lysie geskryf word. Asof ek die tyd het om dit te doen! Ek dink hy het te veel tyd op hande maar weier om deel te neem aan enige iets hier by die ouetehuis.

Lyk my die mans bly ook maar seuns. Wat vertel jy my van ‘n ‘poke’? Lyk my tye sal ook nooit verander nie. Altyd net die een ding op die brein. Wees maar versigtig, mens wil tog nie op mens se ou dag mens se naam beswadder nie.

Ek het ook by die twitter plekkie ingeloer maar ek verstaan nie aldag daai taal van hulle nie. Jy onthou vir Sara, my oudste dogter? Sy kla steen en been oor die kinders van vandag wat so vreemd skryf. Haar dogter, Santjie, het nou die dag vir my ‘n sms gestuur. ‘Alo ouma. Hu gaanit? Mt m gn dit gud. Ga nu dux. Luv u. Mwah.’ Dit het my ‘n halfuur gekos om dit te ontsyfer! Ons ouers sou nie sulke spelling geduld het nie! Onthou jy ons speltoetse en in die middae hoe ons die woorde tien keer in ons spelreëls boeke moes oorskryf? Tye het baie verander. Ek sukkel om by te bly!

Laat weet tog spoedig weer van jou.

SWAK

Netta

Vervolgverhaal Deel 2/10

Mei 30, 2011 in Sonder kategorie

Dit was ‘n donker stormagtige nag. Die bome in die woud het gekraak en gekreun onder die aanslag van die stormwind.

Om elke donker hoek van die ou murasie het die wind gehuil soos ‘n honderd verlore siele. Midde in die storm het ‘n deurnat gestalte staan en kyk na die ou murasie…

 

Die enigste drie mure wat nog staande was het geen skuiling gebied teen die storm nie. Met ’n diep gemoedssug het die man nader gestap aan die agterste muur waar die ou denneboom se wortels al vir jare deur die vloere gestoot het. Rus, dit is al wat ek nou wil doen, het hy by homself gedink terwyl hy steeds agterdogtig om hom rondkyk. Sy oë was reeds lankal gewoond aan die donker, tog het elke skaduwee, elke krakende tak hom onrustig gestel. Met sy rug teen die boom kon die snerpende wind hom darem nie heeltemal bykom nie en hy het die swaer leersak nadergetrek. Uit een van die kantsakkies het hy ’n foto gevis, sy hand daaroor gehou om dit te beskerm van die reën en in die donker die gelaatstrekke probeer raaksien. Hoekom hy nou juis na die foto moes kyk weet g’n mens, daardie gesig was verewig in sy geheue.

 

Uiteindelik het die storm begin bedaar, en saam met die sagte rammeling van die donderweer, nou kilometers weg het hy uiteindelik ingesluimer. ’n Onrustige, droomlose slaap het gevolg, maar kort voor lank het die koue en ongemak hom uit sy sluimer geforseer. Nou toe. Aanhou. Aanhou. Nie opgee nie.   Hy het sy sak weer oor sy rug gegooi, sy deurnat baadjie stywer om hom gevou en verder begin stap. Dit was steeds pikswartnag donker en hy kon geen ander teken van lewe sien nie. Doelgerig het hy na die Weste begin stap. Tyd was nie meer aan sy kant nie, die gebeure van die vorige twee dae het sy spoed heeltemal gebreuk. Hy moes van beter geweet het, maar die duiwel het ’n manier om mens se fyn beplanning deurmekaar te krap.

 

Die gebeure het soos ’n ou film in wit en swart deur sy gedagtes gedraai, herhaaldelik, oor en oor, asof die oomblikke hulleself wou verewig in sy geheue. Hy skrik toe hy besef hy het by ’n teerpad aangekom. Die metaforiese skeiding in paaie. Die teerpad sal hom vinniger by sy bestemming kry, maar die ongebruikte grond paadjie sal verseker dat hy nie gewaar word nie. Hy onthou in sy ouma se huis was daar ’n prent teen die muur, die maklike pad lei na die hel en die moeilike pad na die hemel. Die simboliek daaragter was vir hom altyd meer treffend, hy het niks gevoel vir die “eindbestemming“ nie, dit was die reis wat belangrik was. En hier, nou, staan hy voor daardie keuse. Die bestemming is dieselfde, maar die pad wat hy kies, wel, die pad sal beslis ’n invloed hê op hoe die toekoms daarvan gaan uitsien. Sy besluit is geneem en hy vat die……….

Grondpad. 

Hy was nog nooit ‘n man wat die maklike uitweg kies nie en hy is nie van plan om dit vandag te begin doen nie.  Buitendien is hy nie lus vir vraende kyke en nuuskierige vrae indien hy opgelaai word as hy die teerpad vat nie.  Hy wil, nee, hy moet alleen wees.  Alleen, afgesonderd en verwyderd sodat hy sy volgende stappe kan beplan.

Ag Here, dink hy, hoekom het U die mens keuses gegee?  Kon U nie dink dat ons, met ons brose ego’s en eiewaan, nooit die regte besluite sou kon neem nie?

In sy geestesoog sien hy hoe mense hom koggellag wanneer hulle uitvind van sy onbesonne daad.  Hy sien die koerantopskrifte, sien Riaan Cruywagen se afkeur wat pluk aan sy mondhoeke terwyl hy sy skandes vir die wêreld oopvlek.  Hy weet dat hy nie vir ewig sal kan wegkruip nie.  Hy weet dat hy een of ander tyd die gevolge van sy daad sal moet verduur … maar nie vandag nie.

Die reën begin bedaar en plek-plek maak die wolke oop sodat die oggend son kan deurbreek.  Hy voel verlig.  Dis asof die son vir hom ‘n teken van hoop inhou maar hy weet dit is valse hoop.

Van vêr af sien hy die rokie draai.  Nog net een bultjie, dink hy, dan kan ek rus.  

Hy staan besluiteloos voor die lamlendige tuinhekkie van die draadlose heining wat die stoftuin omhein.  Al kleur wat hy sien is die geel Checkers sakke wat rusteloos deur die wind rondgepluk word.  Dan hoor hy dit.  

“Kom oubaas se honne.  Dis tyd vir ontbyt.  Kom, kom …” raak die stem stil toe die man om die hoek van sy eenvertrek huis verskyn.

Hy kyk hom skuinskop met skrefiesoë aan.  Met al die plooie op die man se gesig kan hy nie uitmaak of die oë vriendelik of vyandig is nie.  Hy sit sy hand op die tuinhekkie.

“Nie ‘n tree verder nie Boet,” sê die man terwyl hy nader stap.  “Wat soek jy hier?  Hoe het jy my gekry?”

“Ek soek net koffie dan sal ek weer oppad wees.”

Die hond aan die man se sy begin knor.

“As jy nie vir my sê wie jy is en wat jy soek nie, sit ek die hond op jou.”

Hy staan besluiteloos.  Sal hy sy identiteit weggee of …

Ek tag vir Maankind!




Goeie dag Netta

Mei 30, 2011 in Sonder kategorie

Lettie Botha [lbotha@gmail.com]

Sent: Wed 2011/04/06 12:59 AM

To:     nettavermaak@groenakkers.co.za

Dit was darem alte gaaf van Bertussie, my jongste kleinseun, om vir my hierdie kompertjie persent te gee. Mens raak mos maar eensaam as die ouderdom so tussen mens se blaaie kom lêplek kry.

Onthou jy Netta, toe ons nog briewe geskryf het op daardie mooi skryfblokke? Ek onthou nog my gunsteling was die bloue met die blonde meisie wie se hare so oor die bokant van die bladjie gekartel het. Ek het al my briewe daarop geskryf. Joune was altyd daardie geel papier met die Sonneblomme so aan die linkerkand. Bertussie sê ek kan my briewe op die kompertjie ook so mooi maak, maar ek is te bang vir al hierdie volksvreemde woorde wat vir my loer. Wat vir ‘n ding is insert? My gunsteling posseël was ook die een met die Protea. Kan jy glo ons kan nou briewe stuur sonder om ‘n posseël op te plak? Bertussie sê ek kan ‘n ‘signature’ op my eposse sit, maar ek mos nou nie ‘n vername mens nie.

Ek is ook dankbaar dat jy ‘n kompertjie aangeskaf het. Bertussie sê algar vir my, as Tannie Netta een kan gebruik dan kan ek ook. En hier sit ek wraggies en tik vir jou ‘n briefie so met my twee wysvingers. En kan jy glo Netta dat hierdie brief so oor die lug sonder koevert daar by jou gaan aanland!?

Bertussie het vir my gesê ek moet vir my ‘n ‘account’ – die jongmense wat die tale so meng – daar op Facebook gaan oopmaak. Maar het hard teëgeskop want op my ouderdom met die pensioen wat so skraps is, wil ek nie nog rekeninge hê nie. Hy het lekker gelag en toe maar vir my die rekening daar oopgemaak. Dit is blykbaar heeltemal gratis. Dit wil ek nog sien, mens kry mos van vamelewe se tyd niks gratis nie of wat praat ek mens? Daar is mos altyd iets in die fynskrif. En daardie plek se fynskrif is alles in Engels wat ek nie so lekker verstaan nie. So ek gaan maar vinnig in die oggende loer wat aangaan en weer in die middae. Ek wil nou nie ‘n groot rekening opbou en dan die einde van die maand moet betaal nie.

Ek spog darem met drie vriende daar. Ou Stefaans van die meenthuis hier neffens my, Bertussie en kan jy glo, ‘n mannetjie genaamd Ahmed. Ek wonder hoe hy nou aan my gekom het? Maar ek was so opgewonde toe ek my eerste ‘friend request’ kry, dat ek sommer dadelik aanvaar het. Ek weet jy gaan my oor die vingers tik omdat Ahmed ‘n Indiër is, maar daai tyd is mos al lankal verby of wat praat ek? Hy is so vriendelik, die Ahmed en stuur elke dag vir my ‘n boodskappie. Nou die dag vertel hy my dat hy so bly is dat hy my opgespoor het na maande se soektog. Blykbaar is hy ‘n vername prokureur daar in Indië en een van sy ryk kliënte is onlangs oorlede. Dis toe dat sy soektog vir my begin het want die man het sy fortuin vir ene ‘Mrs L Botha’ gelos. En die is nou ek Netta! En dit klink vir my na ‘n allemintige bedrag! Die wêreld raak nou ‘n vreemde plek. Wie sou kon raai dat, wanneer ek die dag myself op die internet begewe, ek ‘n fortuin gaan losslaan? Hy noem my ook ‘Dear’ en het my vertel dat hy my foto gesien het en gedink het ons is ‘kindled spirits.’ Ek ken tog net een tipe spirits en dis daardie pers goed. Ek hoop nie hy gebruik daai goed vir ‘jy weet wat’ nie want hy klink na so ‘n gawe jongman. Ek dink ook die geel blom in my hoed op my foto laat my gesig ‘n bietjie jonger lyk. Die dat hy my raakgesien het tussen al die ander mense. Dis ‘n baie vleiende kiekie van my, mens kan tog sekerlik nie enige kiekie daar plaas nie, blykbaar kan die hele wêreld dit mos bekyk!

Ek moet juis more gaan en afskrifte maak van my ID en ‘n bewys van my bankstaat vir Ahmed aanstuur. Ai, Netta, miskien sal ons droom van ons huisie by die see vir ons twee tog nou bewaarheid word. Ek glo die belasting sal ‘n groot hap uit die geld vat, maar dit wat oorbly sal ons twee tog goed kan aanwend. Ek kort juis ‘n nuwe gehoorstuk en die valstande begin ook maar druk op plekke wat dit ongemaklik maak en het jy gesien hoe duur raak die Green Cross skoene deesdae? Dis al wat ek kan dra want die skoene druk nie op my eelte nie en die sole is mos spesiaal gemaak dat ons ou mense nie gly nie.

Ek het nou die dag daar op Bertus se rekening gaan loer op Facebook. Kan jy glo die kind het meer as ‘n duisend vriende? Ek wonder of hy hulle al almal in die oog gekyk het?

Die ou manne daar op Facebook is ook maar spils Netta. Dis ‘n alewige ge’pokery’! Ek het mos so die kinders staan en afluister daarom weet ek wat dit beteken! Ek kry net nie die kloutjie by die oor van hoe mens nou gaan ‘poke’ op die internet nie! Ag, lekker giggel ek nou. Ek en jy sou lekker gelag het oor die dinge toe ons nog bog snuiters was! Bertussie het my ook gewaarsku oor ‘applications’ wat net viruse is. Mens kan tog nie op ons ouderdom nog staan en virusse optel veral as die jig so in die heupe begin vasttrap plek kry nie. En soos dit is, is my karige mediese fonds al lankal uitgeput met al die pille wat ek elke maand moet gebruik. Blykbaar laai dit ook wurms af op mens se kompertjies en nie eens Doom kan daarvan ontslae raak nie! Baie vreemde verskynsels wat met die kompertjies hulle verskyning maak. Lyk my mens moet banger wees vir ‘n komper virus as vir die een wat sonder ‘n sneesdoekie langs jou nies. Kan jy nou meer?

Iederwel, ou Stefaans het gister hier vir my kom kuier met ‘n enkelte geel roos. Mensig Netta, daai roos ruik nog soos ‘n regte roos! Jy wil mos daai geur alewig inasem en ruik en ruik tot dit wegraak. Nie soos die bosse gekleurde blomme wat Bertussie hier aandra wat toegedraai is in sellofaan nie. Die blomme het mos so regte winkelreuk.

Ou Stefaans het maar ‘n leepoog vir my al vir jare van my Frans gesterwe het. Hy sê die roos herhinner hom aan my. Pragtige geel kop – verwys seker na my blonde hare wat nou so stuk stuk grys begin raak en dat ‘n mooi vrou nie sonder ‘n paar dorings kan wees nie. As ek nie my sonde ontsien nie, sal ek dink dat die man by my aanlê! Hy kom algar hier aan met sy netjiese geparste broek en die hare so mooi teruggekam en in plek gehou met Brill Cream. In die begin het hy my met die hand gegroet en soos ‘n skoorsoek seun buite die deur gestaan. Nou trek hy my nader ek soen my op die mond en stap dan sommer in. Baie stuitig en ek dink die man begin al gemaklik raak en dit wil lyk asof hy hier wil nesskrop. Hy het al lankal die ‘lazy boy’ in die hoek as sy eie geannekseer.

Bertussie het nou die dag vir my daai voëltjie plek op die internet gaan wys. Hulle noem dit Twitter. Daar kan jy nou ook boodskappe skryf van jou dag. Nou vra ek jou, wie sal wil weet van die rumatiek in my vingers en die winderigheid wat sy verskyning maak nadat ek my gunsteling groenboontjies geëet het? Ek dink daardie hoekie vir eensames is maar vir die voëls. Ek wil my nog nie in daardie nes begewe nie.

Wat maak mens op mens se oudag ook met so baie vriende en ‘fans’. Soos wafferse sterre moet mens nou ‘fans’ en ‘followers’ hê. Ek is maar tevrede met ou Oortjies, my hond, wat my heeldag volg.

Maar dis nou eers genoeg van my. Ek weet nie of die goed werk soos telegramme waar jy per woord moet betaal nie. Ek sal eerder afsluit en wag dat jy my antwoord. Mens moet maar altyd besparing in gedagte hou.

Stuur maar groete daar waar jy is en laat weet tog van jou.

Groete

Lettie

Vreemde verskynsels …

Mei 29, 2011 in Sonder kategorie

Lifiki sê mos ek het baie snaakse maniertjies en ek dink my grootste een is dat ek ‘n werklike vrees vir straf het, veral waar dit Godsdiens aangaan.  Glo my, ek glo in en aan God maar partykeer dink ek my vrees vir hom is dalk groter. 

Nou die dag ontvang ek ‘n ‘friend request’ van ‘n vrou op Facebook.  In die laaste tyd gaan kyk ek maar eers hoe die ‘profile wall’ lyk en hoeveel vriende hulle het voor ek sommer ‘n versoek aanvaar.  Na die ligte ondersoek kom ek agter dat daar ‘n paar van die mense wat op my lys is, ook op haar lys is.  Ek aanvaar toe die versoek.

Skaars vyf minute en die vrou spam my met HOOFLETTER GODSDIENSTIGE BOODSKAPPE op my wall.  I kid you not!  Alles in hoofletters.  Nou as jy my de harnas in wil jaag, SKRYF VIR MY ALLES IN HOOFLETTERS en as jy my nou helemal wil confuus, stuur vir my baie, ek bedoel BAIE godsdiens boodskappe.

Maar ek is mos ordentlik.  Ek stuur vir haar ‘n boodskappie “Please refrain from posting so many religious messages on my wall.  I do not mind having an inspirational one, once a day but one every five minutes is a bit much. Kind regards bla-bla-bla”

Jitte, toe is dit asof sy verander in ‘n “Save Maryke missionary”.  Wat elke vyf minute gebeur het, gebeur toe so vinnig dat sodra ek een uitvee, dan is die volgende een daar.  Ek het toe daardie cyber vriendskap draadjie kortgeknip.  Nou poke die vrou my!  En nou vrees ek dat ek gestraf gaan word omdat ‘n religious persoon van my vriendelys afgehaal het.

Nou wonder ek … wie is meer confused … ek of sy?

Die oë is die vensters van die siel …

Mei 26, 2011 in Sonder kategorie

Ek het lank terug die prentjie iewers op ‘n blog van my gesit om bietjie my talente af te show.

Kyk diep, diep hier binne in my siel

na waar my hart in ootmoed kniel.

Krap en grawe tot jy als uitvind

en besef, ek is nog maar net ‘n kind.

Kyk mens, kyk dieper weer

miskien kan dit jou woorde keer.

Eer jy uitspraak maak en oordeel vel

en vanuit jou onkunde my weer skel.

Kyk deur my oë verby die seer se dof

en besef ek is ‘n diamant, net grof.

Kyk diep, diep hier binne in my siel

na waar my hart in ootmoed kniel.

Willemiena

Mei 26, 2011 in Sonder kategorie

Oumie het altyd gesê ek is met die regte naam gebore maar het met die verkeerde van uit die bed geklim. Ek kon dit nooit verstaan nie, want ek het nie moeilikheid gesoek nie, moeilikheid het my gesoek. Eintlik uitgesnuffel want ek was nie altyd beskikbaar – as jy nou kan verstaan wat ek bedoel – vir moeilikheid nie.

Partykeer het ek werklik hard probeer om uit moeilikheid se pad te bly deur agter ‘n boek weg te kruip of dit toe te verf op ‘n skilderdoek. Maar gewoonlik het moeilikheid my daar kom uitlok en meeste van die tyd in warm water laat land.

En hier sit ek, Willemiena de Rust, vandag voor in die kerk soos dit ‘n goeie vrou betaam met ‘n stuk Wicky Wacks kougom in my mond om my kake besig te hou. Een van my talle maniere wat ek inspan om moeilikheid te fnuik. In ‘n kerk kan mens sekerlik nie moeilikheid maak nie?

Ek luister aandagtig terwyl ou Doom Labuschagne die tien gebooie voorlees en maak hier in my gedagtes ‘n regmerkie langs elke een soos hy hulle aflees. Toe hy die laaste een lees, slaak ek sommer ‘n sug van verligting toe ek besef ek is weer deur ‘n week sonder om iewers te oortree.

“Broers en susters,” dreunsang ou Doom se stem deur die Kerk. “Vandag is dit ons voorreg om dominee Barto Smits aan julle voor te stel. Die jongetjie kom van Sodom en Gomorra, maar het bo die stadsverleidinge uitgestyg en homself bekwaam as ‘n leraar om ander verlore skape weer terug te lei na die Herder.”

Hier en daar hoor ek ‘n broeder kug-kug want almal in die gemeente weet dat as ou Doom eers vlerke onder sy woorde kry, sal sy bekendstelling weliswaar langer as die preek wees. Ek onthou skielik die skaapboud in die oond, gebakte aartappels en die Malva Poeding wat Oumie al gister met haar vlytige hande begin aanmekaarslaan het en voel hoe my binneste begin kriewel.

Ek loer so onderlangs na Oumie wat langs my sit. Kordaat regop met die ligpershaartjies wat netjies onder haar hoed uitkrul. Sy was al vroeg gister haarkapper toe vir haar ‘set and tease’ en het die hele middag voor die kospotte spandeer, terwyl sy die heeltyd gepruttel het oor wat sy vandag gaan aantrek. Ek het haar ook so deur die loop van die middag gevang ‘tjie-tjie’ oor die foon, maar toe sy my sien het sy sommer hard begin praat oor die kermis wat eers oor drie maande voorlê.

Ek kan sien sy weet ek kyk vir haar want sy hou haar gesig strak voor haar. Gewoonlik glimlag sy vir my as ek vir haar kyk in die kerk, maar vandag hou sy haar vreemd. Ek kan voel dat iets nie pluis is nie.

Die geskuifel van die gemeente lei my gedagtes weer terug na die verrigtinge. “Broeder Smits,” hoor ek ou Doom se stem weer. “Dis vir my ‘n aangename voorreg om jou nou aan die gemeente voor te stel.”

Met die woorde staan Dominee Smits regop langs ou Doom en soos hy sy oë so oor die gemeente laat gly, blaas ek onwetend ‘n borrel met my kougom. Ek is so vasgevang in die oomblik en sy aantreklike gesig dat ek nie besef dat my kougom se borrel breekpunt bereik nie. Die volgende oomblik bars daai borrel met ‘n knal wat weergalm in die doodstil kerk.

Met die skrik, knyp Oumie my bobeen soos sy altyd gemaak het toe ek ‘n kind was. Die skok is so groot en die pyn so skielik dat ek verontwaardig uitroep, “Eina Oumie!”

Ja, mens kon ‘n speld hoor val. Die stilte voor die storm van proesgeluide soos die gemeente hulle lag sluk totdat ‘n dogtertjie agter in die kerk kliphard sê, “Sy was stout, nê Mammie.”

Toe is daar geen keer nie. Die hele gemeente begin lag en ek voel hoe die rooi oor my hals begin kruip, opklouter teen my nek en vasslaan teen my slape.

Ek kyk skuldig op na ou Doom wat my baie streng aankyk en dan vang my oog vir Dominee Smits. En terwyl ek probeer om die kougom slierte van my lippe af te trek, sien ek hoe hy skelmpies vir my knipoog terwyl ‘n glimlag aan sy mondhoeke pluk.

“Orde asseblief broers en susters,” probeer ou Doom die gemeente tot bedaring bring. “Suster Willemiena de Rust het nie bedoel om disrespekvol te wees nie. Kom ons gee vir broeder Smits die geleentheid om sy boodskap te bring.”

“Het ek jou nie al honderd maal gevra om nie kougom in die kerk te kou nie?” Stoom Oumie se eerste woorde oor my toe ons die huis instap.

“Ja Oumie maar …”

“Geen gemaars nie Willemiena! Daar waar jy gaan, slaan moeilikheid soos puisies op ‘n tiener se gesig uit. Dit is tyd dat jy man kry sodat ek rus en vrede vir my siel kan kry,” praat sy voort terwyl sy kamma stoffies van haar hoed afvee.

Ek probeer nog verduidelik maar sy maak haar uit die voete na haar kamer toe.

“Gaan trek jou kerkklere uit en trek daai mooi geel sonrokkie van jou aan. En ek wil nie ‘n denim sien nie. Onthou ons kry gaste vir middagete,” laat weet sy van haar binnekamer.

Ek weet dat ek nie in hierdie gesprek gaan hond haaraf maak nie en vind my weg na my kamer. My denim met ou t-hemp lê uitlokkend oor die stoel in die hoek gedrapeer, maar ek weet as ek dit aantrek sal Oumie my nooit vergewe nie. Eintlik sal ek veel eerder my nuutste skildery, wat nog onvoltooid op sy esel onder in my spesiale hoekie in die tuin staan, wou klaarmaak as om gaste te onthaal.

Ek wonder ook so in my stilligheid wie die kuiergaste is. Gewoonlik is Oumie so opgewonde as iemand kom kuier dat sy vir dae lank nie genoeg daaroor kan praat nie. Maar van hierdie skielike kuiergaste weet ek niks.

Met ‘n sug glip ek tog maar die geel sonrokkie oor my kop, tik ‘n smeersel lipstiffie aan my lippe en sluit by Oumie in die kombuis aan.

“Ag, jy lyk darem alte fraai in daardie rokkie kind. Soos ‘n sonstraal. Jy sal ‘n goeie vrou vir enige man maak.”

“Wat bedoel Oumie? Oumie weet ek soek nie man nie. Ek stel nie belang nie. Onthou Oumie nie hoe Pa vir Ma gelos het jare terug nie? Het Oumie vergeet hoe ons gesukkel het en toe eendag toe het sy net genoeg gehad? Nee! Ek wil niks ….”

“Middag susters,” onderbreek ou Doom se stem my anti-man tirade. “Kan ons maar binnekom?”

Oumie glimlag liefies en voel-voel of haar kapsel nog reg is. Ek het nog altyd gedink sy het ‘n gevoelentheid vir ou Doom gehad van sy vrou, tante Dorah, die tydelike met die ewige verwissel het. Maar Oumie het dit altyd as kindernonsens afgemaak wanneer ek haar daaroor geterg het.

“Middag Dominee. Baie welkom hier. Kom binne, kom binne. Julle kan maar sommer …”

Oumie se stem raak heeltemal weg toe ek vir Barto Smits agter ou Doom raaksien. Ek voel hoe my hart vinniger begin klop en ek voel ook hoe daai gehate bloossessie nou sterk begin aanspraak maak op my oorwegende blank gelaat. Ek weet ek lyk soos ‘n rooi tamatie en ek vervloek dadelik my gene wat my opgesaal het met hierdie alewige gebloserey net wanneer ek dit die minste nodig het.

“Vir wat staan jy daar en hap na lug soos ‘n vis op droeë grond Willemiena?” ruk Oumie se streng stem my weer terug na die werklikheid.

“Uhm, jammer Oumie. Ja, ‘n vis op droeë grond …” brabbel ek terwyl ek een borrel na die ander blaas en breek met meegaande klapgeluide.

Tot my onsteltenis sien ek hoe ‘n glimlag oor Barto se gesig versprei en hoe hy vooroor buig en begin lag dat die kranse antwoord gee.

Ek vererg my en draai om om die tafel te gaan dek maar my oog vang hoe ou Doom vir Oumie knipoog en hoe Oumie haar kop so liggies knik asof sy die boodskap wat ou Doom so woordeloos stuur, be-aam.

Dit is toe wat ek besef wat hierdie twee mense se plan is en ek weet sonder twyfel dat die middagete in ‘n lang uitgerekte “hemel vir Willemiena op” storie gaan ontaard. Sien jy dit ook in jou geestesoog? Oumie wat my goeie punte besing en opblaas tot bomenslikheid en ou Doom wat alles bevestig. Dan sal ou Doom so na elke ses of sewe sinne vir Barto vra of hy nie dink dat dit die eienskappe van ‘n deugsame vrou is nie? En dan sal Barto – teen hierdie tyd sal ons al op “noem my op die naam” basis wees – alles be-aam terwyl hy met sy servet sy mondhoeke afvee.

So was dit ook. Oumie het my lof so besing dat ek amper verlief geraak het op myself. Ou Doom het alles be-aam en aangeblaas dat ek amper begin vergeet het dat hy op ‘n stadium my nie wou voorstel en aanneem in die gemeente nie. Maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.

Na die hoofmaal is dit mos afdektyd en Barto bied toe ewe galant aan dat Oumie sit en dat hy my sal help om af te dek.

In die kombuis glimlag hy so skeefweg vir my. “Lyk my jy is ‘n voorslag vrou. Smaak my die manne in die kontrei kan hulle vrot skoene agterna gooi. Laat my tog wonder hoekom een van die hubare mans jou nog nie die strop om die nek gegooi het nie.”

“Ag moet jou tog nie laf hou nie. Elke Jan Raap en sy maat kan sien wat die twee ou mense beplan. Hulle wil my afsmeer aan jou. ‘n Dominee kan mos nie die amp ingaan sonder ‘n voorslag koeksister koker suster aan sy sy nie.”

Hy bars uit van die lag. “In die eerste plek Willemiena, word koeksisters nie gekook nie en in die tweede plek, sal ek my eie vrou soek. So tussen jou en my, ek het klaar my oog op ‘n meisie.”

Ek voel hoe my hart tot in my skoene sak. “Nou hoekom help jy hulle nie reg nie?” vra ek verontwaardig.

“Ag, ek gun tog elke diertjie sy plesiertjie.” Met die vat hy die bak poeding en stap eetkamer se kant toe. “Bring jy maar die vla.”

Na die nagereg se laaste krummeltjie uit die bak geskep en ingesluk is probeer ek myself van die tafel verskoon.

“Ai tante, maar die kos was nou werklik voorslag gewees! Tante is ‘n uithaler kok,” komplimenteer Barto vir Oumie. “Kan Willemiena ook so lekker kook soos tante?”

Oumie skuifel ongemaklik in haar stoel rond. ‘n Leuen kom mos nie maklik oor haar lippe nie. “Domineetjie,” begin sy onseker. “Die kind trek darem so nou en dan die Kook en Geniet nader en dan verbaas sy my met haar interessante geregte.”

Ek kry sommer lekker tot in my kleintoontjie toe ek die gewraakte familie vloek van bloos so op haar wange sien posvat. Laat dit nou vir haar ‘n les wees om te kom probeer Kupido speel.

“Dankie Oumie. Ek het lekker geëet. Ek gaan bietjie buitentoe en sal later kom afdek en was,” benut ek dadelik my kans. Ek weet dat ek hierdie keer my lui kan wegsteek en daarmee sal wegkom aangesien sy ‘n witleuentjie oor haar lippe laat glip het. “Dominee moet ‘n lekker middag verder hê en Barto, jy moet versigtig terugry na Sodom en Gomorra.”

Ek sien hoe Oumie se mond pruil en ou Doom se verbasing op sy gesig maar ek maak of ek niks raaksien nie en verlaat die eetkamer met ‘n vreemde gevoel van hartseer.

En hier sit ek nou, vrou alleen voor ‘n halfklaar doek en wonder hoekom ek hartseer voel. Ek staar na die skildery asof al die antwoorde daarin opgesluit lê. Ek begin lusteloos die verf meng en trek argeloos ‘n paar strepe. Ek het skielik my lus vir die skildery verloor en begin wens dat die kuiergaste hulle ry kan kry sodat ek in vrede my lewe verder kan leef.

“Verbeel ek my of pas daardie laaste streep wat jy gemaak het nie regtig daar nie?” klink Barto se stem skielik agter my op.

“Goeie uhm…uhm genugtig! Hoe laat jy my nou skrik. Wat weet jy in elk geval van skilderye af?” vra ek onhuts.

“Seker so min as wat jy van die binnekant van die Kook en Geniet weet.”

Ek begin giggel. “Het jy haar gesig gesien? Dit was …”

“Komieklik,” maak hy my sin vir my klaar.

Ons altwee begin skaterlag.

Skielik raak ons altwee stil. Barto plaas sy hand op my wang en kyk diep in my oë.

“Willemiena, van die eerste keer wat ek jou gesien het, vanoggend in die kerk, het iets hier binne met my gebeur. Jou glimlag ken geen gelyke en jou lewenslus is soos ‘n borrelende fontein.”

Ek voel hoe ek van skone senuwees ‘n borrel gaan begin blaas maar keer myself betyds. “Nou wat van die een waarop jy jou oog het?”

“Kan jy nie raai nie Willemiena? Jy is die een op wie ek my oog het.”

Ek voel hoe my hart vinniger begin klop en staan ‘n bietjie nader. Ek wil nie een woord mis wat uit sy mooi mond kom nie. “Maar dominees se vrouens moet kan kook en bak en …”

“Daarom sal ons ‘n ‘Kook en Geniet’ koop en saam leer kook en Willemiena …”

“Ja?”

“Die koeksisters kan ons altyd by die tuisnywerheid koop.”

Verbeel ek my of sien ek ou Doom en Oumie styf teen mekaar staan terwyl hulle ons vanuit die sitkamervenster afloer?