by

Die Goeie ou Dae…

October 17, 2020 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

 Die Goeie ou dae…

Die kleintjies neul al heelweek in my ore oor hoe lus hulle vir hamburgers is…en met Lockdown wat al soos drie jaar voel…is Mamma ook al keelvol vir spa-getti-bolle-nys…En so staan ons saterdag oggend vroeg op, trek mooi rokkies aan, borsel tande en met strikkies in ons hare, reg vir die Groot outing na ons buurdorp (want ons dorpie is mos allergies vir fast-food-joints) Amper te vinnig, ry ons die 20km pad…en stop eers by KFC,  want  my mond water al maande vir my gunsteling, sappige Hoender-en-Pynappel hamburger.  “Jammer mevrou, ons maak al ses maande nie meer daai een nie…” sê ‘n vriendelike gesig met ‘n shower-cap agter die Kolonêl se counter vir my…en speechless prewel ek tog saggies terug…”maar ek eet dit al 20 jaar?” Bewus van twee sweterige handjies in myne…en die afwagting…draai ek om en sê…”Kom ons gaan Spur toe julle…dit was mos jou verjaarsdag Sussie en jy het ‘n birthday voucher gekry!” 

Opgewonde klouter die kleintjies weer in ons rooi kar en ons ry om die blok na die Rapid River Spur (wie dink aan hierdie belaglike name?)  en ‘n vriendelike meisie kom groet ons by die voordeur en ek vertel haar dat Sussie verjaar het en ons al 8 jaar na hierdie restaurant kom om dit te celebrate met ‘n Spur voucher… “Jammer mevrou,  ons gebruik al maande nie meer daai Secret Tribe plastiek kaartjies nie…en daar is ook geen voucher gelaai vir haar op die Family kaart nie…” sê sy toe ek vir haar nog ‘n plastiek kaartjie uit my beursie te voorskyn bring… en twee klein gesiggies staar op na my…vol afwagting…

Gelukkig was Wimpy net langsaan…en Sussie en Kleinsus het vir amper twee ure lank op die lugkasteel gebons totdat Mamma bang was die pienk milkshakes gaan ook saam met hulle spring…openaf…openaf…openaf… Ons almal weet Wimpy is nou nie juis bekend vir hul sappige hamburgers nie, maar die kleintjies was min gepla…en terwyl ek my droeë broodjie met ‘n skuimerige Mega koffie (dankietog Wimpy maak dit nog) afsluk…het ek alleen by die wit-en-rooi tafeltjie gesit en melancholies begin voel…want dit het regtig begin voel asof hierdie jaar met sy Lockdown en Stages 5-4-3-2-1…regtig alles verander het…of is dit net ek wat verander het?

Ek het teruggedink aan my eerste KFC StreetwiseTwo in standerd 5, toe ek en Ma vir ouboet gaan kuier het in die Transvaal (ek het mos gesê ek bly in ‘n klein dorpie).  Ook die pienk Island-sous van Spur(wat lankal ook nie meer bestaan nie)  wat ons vrydae as koshuiskinders by Bloemfontein se Hofmanplein ons slapchips mee verdrink het… en afgesluk het met ‘n John-Lee Special (Coke-en Suurlemoen) net omdat dit so cool geklink het…en omdat ons so graag wou cool wees en na alternatiewe bands soos Koos Kombuis en sy Voëlvry-maats geluister het…

Toe, later, op ‘n engelse universiteit, om nog cooler te wees, met my no.2 afgeskeerde hare, swart Dr Martins en Sinead O’Connor op ‘n tape in my geel Walkman…en my nuwe alternatiewe leefstyl as vegetariër en arm kunsstudent, was dit Spur se Salad Valley vir net R9,99 waar jy jou bordjie so hoog as moontlik kon opstapel met olywe en fetakaas…wat my van ‘n gewisse hongersnood gered het…en ja…dit bestaan seker al meer as ‘n dekade nie…

My ma vertel altyd met heimwee hoe amazing die Oros van haar kinderdae was…nogal met regte stukkies lemoen in….kan jy jou dit voorstel?  Sy het nie soos ek met TV grootgeword nie, vertrou gladnie die internet nie en het net ‘n selfoon omdat ek haar gedwing het om een in haar handsak te dra (netnou val sy en breek ‘n heup…en who are you going to call…hopelik nie Ghostbusters nie…) Sy gebruik dit…maar noem dit steeds “daai masjientjie” en het nog geen sms gestuur in 10 jaar nie…

Miskien behoort ek dalk nou ook aan daai club van mense wat tieners so kan irreteer met stories van die goeie ou dae…en die feit dat ek maande in huis-arres was…laat my dalk nou na die wêreld om my kyk met nuwe oë? 

Ek dink…die feit dat ek elke dag met tieners werk is ‘n blessing-in-disguise…want hoe anders sou ek geweet het van Wi-Fi, Share-it, tik-tok en Whatsup?  Hulle het my geleer waar jy cool movies kan download, na cool bands kan luister…en hoe ek ‘n zoom-meeting kan bywoon in Kaapstad, al sit ek nogsteeds op ‘n klein dorpie… want al was dinge miskien minder complicated in die goeie ou dae…is daar ook baie nuwe cool dinge wat ek nie as kind geken het nie…soos Basmati rys, Balsamic Vinegar en Bluetooth… 

Oud…en Nuut…

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *