by

As die Lag opdroog…

August 31, 2020 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

 As die Lag opdroog…

Aan die begin van die jaar het ek gelag tot die trane loop…vir videos uit China van mense wat uit hul motors gepluk word…oor hul temperature… want die probleem was kontinente ver…en dit was somer hier en ons het roomys ge-eet en die groenspan het die beker gewen op Atletiekdag by die skool…maar toe word die skool skielik gesluit en ons moes by die huis bly…

Die afgelope paar maande sedert lockdown was vir my erger as die ergste rit by Ratanga Junction…en vir iemand wat erg ly aan hoogte-vrees en nie eers dit naby hierdie adrenaline-junkie park ooit gewaag het nie, was hierdie experience iets waarvoor ek gladnie voorbereid was nie…

Ek het aan die heel begin vir myself gesê :  “Jy is ‘n ystertjie…jy het immers al die dood geface…en sterker anderkant uitgekom…You can do this!” Totdat ‘n tannie op die dorp haarself opgehang het … het my damwal ook gebreek, want hierdie Vrees vir ‘n onsigbare dood, om elke hoek en draai…van die skool se voordeur…tot in die isle van Shoprite…het my binneste binne totaal lam gelê…want jy is nêrens meer veilig, behalwe in jou eie bed nie…en hoe lank kan jy nou juis in jou bed bly? 

The show must go on…” het ek myself oortuig reg aan die begin…en Mamma was sterk vir Sussie en Kleinsus…wat nie kon verstaan hoekom hulle nie meer skooltoe kon gaan, vir maatjies gaan kuier, of vir ouma kon gaan halo sê nie…Ons het aan die begin koekies en beskuit gebak, laat perskes aan die bome op die plaas gaan pluk en kerrie-perskes ingelê vir die winter… Dit was baie lekker om ver ente te gaan stap en die kleintjies het fietsies gery…tot almal se wiele pap was…en die meel, suiker en eiers opgeraak het… Jy kan ook net soveel keer die huis uitvee of die kaste regpak…reg?  Aan die begin het ek saamgelag vir die klein videotjies op social media en snaakse home-made gesig maskers op straat…maar dit was eventually nie meer snaaks nie…en die trane van lag…het trane van frustrasie…en selfs woede geword, want as die lag opdroog…wat bly oor?

Om my…het mense begin moedeloos lyk…want niemand was meer verseker van werk nie…oproepe van nood en skenkings het opgeklink en ek het gesien hoe kinders begin tou-staan vir kos… Ek en die kleintjies het besluit om ook ons deel te doen en al die te klein kleertjies en skoentjies in twee groot swart sakke en een boks met kryte en speelgoed agter in die kar se boot gelaai…maar hulle kon nie saamgaan om dit uit te deel nie, want daarvoor het ons ‘n permit nodig gehad…en waar kry mens dit?  Op die eerste koue wintersoggend wou ek by Sussie weet waar haar pantoffels dan is?  “Mamma het dit mos weggegee” het sy laat hoor…en wie het nou kon predict dat Pep se deure toe kon wees?

Ek moes weer skool toe…om te help met die matrieks…maar dinge het nou baie anders gelyk…weg was die lag binne en buite die skoolgebou… weg was die drukkies gee en saam koek eet pouses…alles was nou stil…en ernstig…”Amper soos ‘n hospitaal” het ek vir iemand verduidelik toe hulle vra hoe is dit by die skool?  Alles word die heeldag gesanitise…en jy hoor net voetstappe en sien net ernstige oë agter maskers…die huis-toe-gaan-klok aan die einde van die dag…is ‘n verligting…

My coping mechanism en front van denial kon ek net vir so lank manage….en my maagseer van jare gelede het weer begin brand…snags kon ek nie meer slaap nie…en ewe skielik het my hart in my keel begin klop…Sussie het huilerig geword en ure op haar pienk bedjie begin lê en na die dak gestaar…en Kleinsus het geweier om by die huis te leer lees en skryf…en ek het gecrack…veral toe Sussie laasmaand verjaar en al wat sy vir haar verjaarsdag wou hê was om weer skool toe te kon gaan… Ek het probeer om haar by ‘n sielkundige te kry, maar hy wou eerder met my praat…en ek het nie gedink hy is snaaks nie…

Op aandrang van ‘n paar vriendinne is ek toe eindelik dokter toe.  Nou drink ek saans ‘n klein wit slaap-pilletjie…en soggens weer ‘n kalm-enetjie vir die eerste keer in my lewe…net tot die ergste storm verby is…sê ek vir myself…want nie alle storms hou vir ewig aan nie…reg?

More is dit die eerste September (dis heerlike lente…die winters verby….) en al lê die berge om ons (nie blou nie) maar nog wit van die sneeu…is ek oor-optimisties oor die vooruitsig van ‘n sonskyn-somer…ver weg van ‘n bang-koue-gevreesde-nare-vlermuis-griep-seisoen… en al sing Laurika Rauch dat Skoppensboer die een is wat laaste lag…wil ek glo dat dit ons is wat weer sal lag…totdat die trane loop…

Die nuwe normaal…

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *