by

Tot die Dood ons Skei…

April 1, 2020 in Uncategorized

Mens is Nooit te oud om te Leer nie…

Tot die Dood ons Skei…

Vandag was ‘n hartseerdag…want ons het alweer begrafnis gehou…

Tien jaar gelede het jy, ‘n klein bolletjie wit en bruin wol, diep in my hart gekruip, toe ek saam met ‘n vriendin SPCA toe is om vir haar ‘n Siamese kat te soek.  Ek onthou (soos gister) hoe ons tussen histeries-blawwende honde-in-hokke verby geloop het op ‘n sement tuinpaadjie…en  terwyl honde om ons snuffel en hardloop…het ‘n klein bewende bondeltjie voor my in die paadjie gelê (bang om platgetrap te word deur groot Alsatian-pote) en ek het in die loop afgebuk, jou opgetel, omgedraai en in die twee grootste swart ogies en groter swart neusie vasgekyk… Ek was nie op soek na ‘n diertjie nie, maar het jou jammer gekry en voor by my rooi trui ingedruk, want dit was (soos vandag) ‘n mistroostige dag in Maart…en ons albei was alleen in hierdie groot, wrede wêreld…

Saam is ek en jy deur diep waters… Ek het aan die begin gespot en vir almal vertel eks broeis, want sien, ek was pas dertig en al my vriendinne al getroud met kinders…en ek?  Almal het gelag…behalwe ek en jy, want ons het geweet dis die waarheid.

Jy was by toe ek oor die internet begin vry het…en jy was ‘n vertroosting in my arms toe my hart gebreek is en het nie gemind dat ek jou teddiebeer lyfie natgehuil het nie…

Jy was saam opgewonde toe ek eindelik troukoors kry en het selfs toertjies aangeleer by die nuwe man in ons midde…ons het daaroor gelag, en ek het gespot jy’s ‘n regte “daddy’s girl”…

Die aanpassing  was maar moeilik vir jou toe daar ‘n mens-baba in ons lewe kom…jy het selfs een middag, toe die baba erg begin skop van binne my maag, jou vereg…en terug geskop!

Met baba nommer twee, het jy besef ons familie brei uit en daar was niks wat jy daaraan kon doen nie…aanvaarding was al genade, maar ek het altyd gesorg dat jy nie afgeskeep sou voel nie…

Jy was baie beskermend teenoor die nuwe toevoegings van ons familie…en een saterdagmiddag so vyf jaar gelede het twee groot swart honde dit te naby jou en die baba’s gedurf…en jy het hulle tweetjies met jou lewe probeer beskerm….hulle het jou verskeur…van bo tot onder…

As my man hulle nie met ‘n pyp bygedam het nie, was jy sekerlik dood…Drie dae lank het ek jou wonde skoongewas en probeer versorg saam met twee baba’s…maar die woensdagoggend kon ek die dood aan jou ruik… Ek het die skool gebel en gejok: “My baba is baie siek, ek moet dokter toe…” Ek’t pas doeke en blikmelk gekoop en my geld was min, maar ek’t petrol in die tenk gegooi en Dierehospitaal toe gery…waar ek met jou (toegedraai in ‘n babakombers) gestaan en huil het toe die ontvangsdame my wegwys, want ek het nie ‘n hospitaalplan vir my hond gehad nie en “Hoekom probeer mevrou nie die SPCA op die volgende dorp nie?”  Ek het desperaat verder gejaag en verblind deur my trane van wanhopigheid gekyk hoe die petroltenk se rooi liggie vir my flits…en die kwaai ou tannie by die SPCA het my skouerophalend betig en ook weggewys met ‘n vraagteken tussen haar oë :  “Hoekom kom jy dan noueers hieraan?”  Ek het verduidelik eks broke en het twee mensbaba’s ook…maar sy was koud en kil terwyl sy my by  die deur uithelp…en daar staan ek toe weer voor die ontvangsdame by die Dierehospitaal…met dik-gehuilde-oë…miskien het hulle my jammer gekry…i don’t know why, maar by haar telefoon het ek my baas gebel vir ‘n deposito…en na vyf dae in die hospitaal het jy (en ‘n vet rekening) huis toe gekom…en ek was kwaad-verlig, want wat doen arm mense wie se honde-kinders hul beste/enigste geselskap en vertroosting is?

Die afgelope vyf jaar was jy weer jou ou self..met so hier en daar ‘n borsluis-koors, maar jy was ‘n ystertjie…altyd gou weer op die been…tot laasweek…jy het ophou eet…en niks wat ek gedoen het, het jou beter laat voel nie…en toe ek gister met ‘n tenk vol petrol na die Dierehospitaal ry, was ek hoopvol, maar soos dejavu was jy weer in my arms…weer in ‘n baba-kombers…en ek het weer staan en huil….nie omdat ek nie geld gehad het nie, maar omdat selfs hulle niks vir jou kon doen nie….Ek het my favourite serpie om jou nek gedraai (sodat jy vir oulaas jou mens-ma kon ruik) in jou oor gefluister hoe lief ek jou het…en terwyl ek voel hoe jy swaar word in my arms…die mooiste hemel-blomtuin in my geestes-oog gesien waarin jy vry en ongebonde kon rondbaljaar…en self skoonma het later die aand gewonder of jy nou weer toertjies doen vir haar seun in die hemel…

By die huis het jou twee mens-sussies gehelp om jou uit die kar te dra…gehelp om jou graffie in die tuin te grawe en die mooiste blomme-kranse vir jou hare gevleg…en jy het gelyk of jy slaap in jou mooie graf… Sussie het nie die hele diens bygewoon nie, want sy het meteens haar eie pa se begrafnis onthou…en weggehardloop, maar Kleinsus het sedig ‘n bybelversie opgesê en vir Jesus gevra om mooi na jou te kyk…

Jy was die eerste slagoffer in hierdie Corona-virus tydperk van ons lewens en selfs nie die scary “lockdown”  of onsigbare kieme in die lug kon my keer om jou by ‘n emergency unit te kry nie…en al was dit te laat…het ek ook gebid dat ons nie sal moet voel hoe dit is om van ons mens-geliefdes finaal afskeid te neem met gevlegde blomme-kranse in hul hare nie…

Milly 2009-2020

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *