You are browsing the archive for 2020 April.

by maraja

Martjie Louw…

April 20, 2020 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Martjie Louw….

Sê ek vanoggend vir my huismaat (heel ingenome met myself) :  “My volgende storie se titel gaan Martjie Louw wees…”  Hy het net vlugtig van sy bacon-en-eier brekfis opgekyk na my en met ‘n vraagteken tussen sy oë gevra :  “Wie is sy?”  Ek was heel geskok dat ‘n boerseun van die ou Transvaal die pad so byster kon wees…veral as dit kom by ‘n mens se roots, glo ek, moet jy jou voorsate baie dankbaar wees waarvoor hulle moes lei en ly om jou hier te kon kry…maar Heritage Day het mos in ‘n nasionale braaikompetisie ontaard…jaarliks.  “Wel, Martjie Louw is die naam wat die ou boeremense Martial Law genoem het tydens die Anglo-Boereoorlog…toe die Engelse ook die boerevolk onder Lockdown gehad het…so 20 jaar voor die Spaanse Griep van 1918…”  My huismaat het hom vinnig uit die voete gemaak hierna…bang dat juffrou hom ‘n hele geskiedenis-les sou gee (hy was nog nooit een vir handboeke en aantekeninge maak nie)

En so sit ons…nes ons voorsate…onder Lockdown…vir wat voel soos ‘n ewigheid…en elke dag voel soos dieselfde dag…wat elke oggend oor begin…

My eerste trippie op dag twee van Lockdown om kos en drinkwater op die dorp te gaan haal was iets vreeslik se-nu-ter-gend…en ek het juis nie senuwees van staal nie.  Ek het my verbeel hoe die dorp afgekordon sou wees van die buite wêreld, hoe manne in weermag uniforms spikes oor die teerstrate gegooi het, hoe brandende tyres voor die bottelstore uit protes swart wolke rook die lug in sou trek…ek was mos ‘n kind tydens die terrible eighties in Suid-Afrika…mens vergeet nie sommer so iets nie…

Ek het sommer onwillekeurig aan (kwaai) groot-ouma Grietjie Badenhorst gedink van die Colesberg-distrik wat (so lui die storie) tydens Lockdown, toe die Engelse al haar perde kom vat het op die plaas, een sonnige oggend (soos ek vanoggend met my rooi karretjie) dorp toe gery het met haar perdekar.  Maar plaas van perde, het sy haar wit diensmeisie en swart arbeider op die plaas ingespan om haar dorp toe te trek tot voor die engelse kommandant wat in beheer was van sake se office om haar karperde terug te eis, want hoe moet sy nou haar groceries op die dorp kry sonder haar vierpotige wiele?  Hy was glo so impressed of embarrased met ouma se trieks, dat hy summier georder het om vir haar ‘n swart en ‘n wit perd te laat haal in die stalle…

As ‘n mens in die oë van daardie (ou swart-en-wit foto’s) se ek-sal-nie-smile-nie boeretannies wat langs hul bebaarde-sittende ou mans kyk…wonder mens hoe swaar het hulle gekry in vergelyking met ons?  Hulle is deur ‘n regte oorlog of twee, het gewoonlik so sewe kinders begrawe, is deur die Groot Griep en daarna die Groot Depressie… 

Ons behoort ons te skaam omdat ons dit so maklik het…ons sit by ons huise en kla…of drink rou eiers…maar miskien is ons maar net bederf?  Ouma het tien teen een haar eie vleis gehad, haar eie hoenders, melk en botter.  Self seep, kerse en brood gemaak…en nou staan ons in rye (met gesigmaskers en ses voet uit mekaar) want baie het ook hul werk verloor…en hoe moet ons en die kinders dan nou eet?  Ek lees noudiedag dat daar kos-treine tydens die Griep- en Depressie jare in Suid-Afrika was om almal (wat ook hul werk verloor het en in afsondering moes bly) te voed…

Wat het dan nou juis verander in ‘n honderd jaar?  Absoluut niks…  Ons dink ons is so cool in ons fênsie huise en rygoed met ons blink selfone sonder data en ons surf op die internet soos tieners… maar een onsigbare virus laat ons bibberend wegkruip agter toe gordyne… Ons is gladnie selfonderhoudend nie…en staan bakhand om elke hoek en draai… Ek slaap sleg…want as juffrou wonder ek…het ek nog ‘n werk hierdie jaar?  Miskien gaan kinders van nou af beter doen on-line as by my in die klas?  Daar is net te veel onsekerhede wat ons daagliks in die gesig staar…

Dit was pas Paasfees en vir die eerste keer in my lewe kon ek nie kerk toe gaan nie…Ons moes “huis-kerk” hou en na die dominee se boodskap op Watsup luister gebluetooth na die naaste speaker…en dit het my laat wonder… wie het almal bloed aan hul deurkosyne geverf sodat die doodsengel slegs verby sal skuif gedurende hierdie pandemie van die 21ste eeu?

Lockdown toiletpapier…

by maraja

Tot die Dood ons Skei…

April 1, 2020 in Uncategorized

Mens is Nooit te oud om te Leer nie…

Tot die Dood ons Skei…

Vandag was ‘n hartseerdag…want ons het alweer begrafnis gehou…

Tien jaar gelede het jy, ‘n klein bolletjie wit en bruin wol, diep in my hart gekruip, toe ek saam met ‘n vriendin SPCA toe is om vir haar ‘n Siamese kat te soek.  Ek onthou (soos gister) hoe ons tussen histeries-blawwende honde-in-hokke verby geloop het op ‘n sement tuinpaadjie…en  terwyl honde om ons snuffel en hardloop…het ‘n klein bewende bondeltjie voor my in die paadjie gelê (bang om platgetrap te word deur groot Alsatian-pote) en ek het in die loop afgebuk, jou opgetel, omgedraai en in die twee grootste swart ogies en groter swart neusie vasgekyk… Ek was nie op soek na ‘n diertjie nie, maar het jou jammer gekry en voor by my rooi trui ingedruk, want dit was (soos vandag) ‘n mistroostige dag in Maart…en ons albei was alleen in hierdie groot, wrede wêreld…

Saam is ek en jy deur diep waters… Ek het aan die begin gespot en vir almal vertel eks broeis, want sien, ek was pas dertig en al my vriendinne al getroud met kinders…en ek?  Almal het gelag…behalwe ek en jy, want ons het geweet dis die waarheid.

Jy was by toe ek oor die internet begin vry het…en jy was ‘n vertroosting in my arms toe my hart gebreek is en het nie gemind dat ek jou teddiebeer lyfie natgehuil het nie…

Jy was saam opgewonde toe ek eindelik troukoors kry en het selfs toertjies aangeleer by die nuwe man in ons midde…ons het daaroor gelag, en ek het gespot jy’s ‘n regte “daddy’s girl”…

Die aanpassing  was maar moeilik vir jou toe daar ‘n mens-baba in ons lewe kom…jy het selfs een middag, toe die baba erg begin skop van binne my maag, jou vereg…en terug geskop!

Met baba nommer twee, het jy besef ons familie brei uit en daar was niks wat jy daaraan kon doen nie…aanvaarding was al genade, maar ek het altyd gesorg dat jy nie afgeskeep sou voel nie…

Jy was baie beskermend teenoor die nuwe toevoegings van ons familie…en een saterdagmiddag so vyf jaar gelede het twee groot swart honde dit te naby jou en die baba’s gedurf…en jy het hulle tweetjies met jou lewe probeer beskerm….hulle het jou verskeur…van bo tot onder…

As my man hulle nie met ‘n pyp bygedam het nie, was jy sekerlik dood…Drie dae lank het ek jou wonde skoongewas en probeer versorg saam met twee baba’s…maar die woensdagoggend kon ek die dood aan jou ruik… Ek het die skool gebel en gejok: “My baba is baie siek, ek moet dokter toe…” Ek’t pas doeke en blikmelk gekoop en my geld was min, maar ek’t petrol in die tenk gegooi en Dierehospitaal toe gery…waar ek met jou (toegedraai in ‘n babakombers) gestaan en huil het toe die ontvangsdame my wegwys, want ek het nie ‘n hospitaalplan vir my hond gehad nie en “Hoekom probeer mevrou nie die SPCA op die volgende dorp nie?”  Ek het desperaat verder gejaag en verblind deur my trane van wanhopigheid gekyk hoe die petroltenk se rooi liggie vir my flits…en die kwaai ou tannie by die SPCA het my skouerophalend betig en ook weggewys met ‘n vraagteken tussen haar oë :  “Hoekom kom jy dan noueers hieraan?”  Ek het verduidelik eks broke en het twee mensbaba’s ook…maar sy was koud en kil terwyl sy my by  die deur uithelp…en daar staan ek toe weer voor die ontvangsdame by die Dierehospitaal…met dik-gehuilde-oë…miskien het hulle my jammer gekry…i don’t know why, maar by haar telefoon het ek my baas gebel vir ‘n deposito…en na vyf dae in die hospitaal het jy (en ‘n vet rekening) huis toe gekom…en ek was kwaad-verlig, want wat doen arm mense wie se honde-kinders hul beste/enigste geselskap en vertroosting is?

Die afgelope vyf jaar was jy weer jou ou self..met so hier en daar ‘n borsluis-koors, maar jy was ‘n ystertjie…altyd gou weer op die been…tot laasweek…jy het ophou eet…en niks wat ek gedoen het, het jou beter laat voel nie…en toe ek gister met ‘n tenk vol petrol na die Dierehospitaal ry, was ek hoopvol, maar soos dejavu was jy weer in my arms…weer in ‘n baba-kombers…en ek het weer staan en huil….nie omdat ek nie geld gehad het nie, maar omdat selfs hulle niks vir jou kon doen nie….Ek het my favourite serpie om jou nek gedraai (sodat jy vir oulaas jou mens-ma kon ruik) in jou oor gefluister hoe lief ek jou het…en terwyl ek voel hoe jy swaar word in my arms…die mooiste hemel-blomtuin in my geestes-oog gesien waarin jy vry en ongebonde kon rondbaljaar…en self skoonma het later die aand gewonder of jy nou weer toertjies doen vir haar seun in die hemel…

By die huis het jou twee mens-sussies gehelp om jou uit die kar te dra…gehelp om jou graffie in die tuin te grawe en die mooiste blomme-kranse vir jou hare gevleg…en jy het gelyk of jy slaap in jou mooie graf… Sussie het nie die hele diens bygewoon nie, want sy het meteens haar eie pa se begrafnis onthou…en weggehardloop, maar Kleinsus het sedig ‘n bybelversie opgesê en vir Jesus gevra om mooi na jou te kyk…

Jy was die eerste slagoffer in hierdie Corona-virus tydperk van ons lewens en selfs nie die scary “lockdown”  of onsigbare kieme in die lug kon my keer om jou by ‘n emergency unit te kry nie…en al was dit te laat…het ek ook gebid dat ons nie sal moet voel hoe dit is om van ons mens-geliefdes finaal afskeid te neem met gevlegde blomme-kranse in hul hare nie…

Milly 2009-2020