by

‘n Verspeelde Lente…

September 6, 2019 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

 ‘n Verspeelde Lente… 

Vandag was Lentedag by die skool…Sussie moes  briefies met blommetjies op vir haar maatjies maak by die skool en kon met gewone klere skool toe gaan…en sy kon ‘n groot sticker wat sê “Loslitdag” op haar geblomde rokkie dra…

Kleinsus moes weer ‘n bordjie eetgoed saam skool toe neem (Mamma se budget is net groot genoeg vir eier-toebroodjies…thank you very much…) en sy kon opdress soos een-of-ander-prinses… Dis die eerste Vrydag in September…en terwyl Pappa hul vroeg-vroeg skool toe karwy het, het Mamma (in haar kamerjas) rustig in die kombuis die ketel aangesit vir nog ‘n koppie koffie…

Maar groot was my skok toe ek die een nuusberig na die ander oor die kombuis-radio begin hoor…van Ma’s…Dogters…en Klein Kinders…wat Vermoor, Verkrag en Vermink word…my selfoon het ewe skielik begin beep-beep met ‘n message wat geforward is deur ‘n bekommerde ma..en daar was ‘n foto van vier lelike verdagtes…wat glo klein kinders gryp, verkrag en laat verdwyn…en my hart wou uit my ribbekas klim van bekommernis…moet ek nie maar onmiddelik my twee Blommekinders gaan haal en in ‘n blik-trommel onder die bed, of dalk onder ‘n los vloerplank gaan wegsteek vir hierdie wrede wêreld nie?  Wat het my besiel om nog twee dogtertjies in hierdie klimaat van wreedheid in te bring?

Miskien moet ek hulle in ‘n hoë toring soos Rapunzel s’n opsluit en vir die res van hul lewens hul lang, pragtige hare kam en vleg?  Of dalk hulle laat slaap vir ‘n honderd jaar soos Doringrosie…totdat hierdie vlaag van geweld oorgewaai het?  My gedagtes het in sirkels begin hardloop soos ‘n afkop hoenderhen…maar ek kon aan geen oplossing dink nie… Later het ek vir ouma gebel…om te vra wat dink sy van my plan om na die Kalahari te trek…weg van die geweld af…maar sy het gesê ek moenie so dramaties wees nie…wreedheid vind jou op enige plek…

Soos ek kyk na al die pragtige lente-bloeisels (hoekom moet hulle nou juis “bloei”?) en lente blomme in die tuin…hoop ek in my hart, dat elke kind wat sterf…gepluk word vir Jesus se Blomtuin daarbo…ons het mos daarvan geleer toe ons klein was…” al die kinder gesiggies…soos die hemel se liggies…”

Ek het ‘n interessante boekie die afgelope week gelees van Dr. Isak Burger oor die seisoene van die lewe…en ook die storms… Natuurlik gaan dit altyd hunkey-dorey in die Lente tyd….bytjies en blommetjies en so aan…Somer is ook nie te bad nie, maar Herfs en Winter is waar jy vashou aan die goeie herinneringe van ‘n verspeelde Lente…

My eie Lente het vir vyf jaar geduur…Vyf wonderlike jare van verlief wees, trou en twee gesonde baba’s ryker… Ek was verblind deur my eie happiness…en het vrede gevoel vir ander se lot in die lewe…en met reg sê Dr. Burger…innerlike groei gebeur selde tydens ons Lentes… dis tydens die storms en wintertye van ons lewens…dat jy verdiep as mens…en waarlike empatie ontwikkel vir ander se pyn en lyding…

Volgens die kombuis-radio het tien-duisend mense (die meeste natuurlik vrouens) gister opgeruk na die parlement om hul stem dik te maak teen hierdie geweld teen vroue en kinders…en al was ek nie fisies daar nie, was ek trots om ook ‘n vrou te wees en ‘n ma van twee dogters.  Ek het besluit om nie weg te hardloop nie…en al is hulle nog broos en klein, sal ek seker maak hulle is twee sterk vroue wat ook eendag hul stemme kan laat hoor as dit werklik saak maak…

 

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *