You are browsing the archive for 2019 July.

Profile photo of maraja

by maraja

Nie alle Hekse is Scary nie…

July 26, 2019 in Uncategorized

 

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Nie alle Hekse is Scary nie….

My jongste boetie het jare gelede ‘n meisie een nag by die huis aangebring met die naam “Hester”…Ons het later eers uitgevind sy het weggeloop van die huis toe twee speurders (van die ou Transvaal) opdaag om die “ontvoerde” meisie aan haar bekommerde ouers terug te besorg… Wel, die klein, parmantige meisietjie het haar fyn no. 4 voetjies dwars gesit en gesê sy gaan nêrens nie…en Ma het haar spoedig herdoop na “Hestertjie Haarnaald” wat glo eendag op reis gegaan het…Nie lank daarna nie het sy ook my skoonsus geword en die oulikste klein weergawe van haarself in die wêreld gebring…maar geen somer hou virewig aan nie…

Later jare het ek ‘n kunsjuffrou geword en natuurlik wou Hessie se begaafde dogter Kuns by haar Tannie neem en hoekom dan nie?  Groot was my skok toe ek eendag agter in haar tekenboek kyk en daar ‘n skets van haar ma sien…wat ry op ‘n besem…getiteld “Heksie”… Ek het maar gemaak of ek dit nie sien nie…en verlig gedink dankietog…nie my probleem nie…

Die eerste Heks wat ek op drie ontmoet het was tannie Kosie by wie ek moes bly toe dit Oupa se begrafnis was…Sy het lang wit hare gehad, ‘n groot hoed op haar kop en ‘n moesie op haar neus en het gebly in ‘n groot, ou donker huis…en ek het die hele treurige dag van kamer tot kamer met haar wegkruipertjie gespeel… Gelukkig is Oupa net een maal begrawe, maar eks steeds versigtig vir tannies met lang wit hare en gaan selde hul groot, donker huise binne…

Ma Blackie is alombekend vir haar kennis van Kruie en ou Boererate en het my van kleinsaf kappertjieblare laat kou voor skool as ek dalk sou kla van ‘n seer keel, malvablare in die oor vir oorpyn of naeltjies op ‘n seer tand…  Ek was min beïndruk met haar wye kennis en het eenmaal, as tiener (verontwaardig) vir my dierbare, saggeaarde Ma gesê:  “Weet Ma wat?  As ons in die Middeleeue geleef het, sou Ma (en ek, sekerlik) al lankal op ‘n brandstapel uitgebrand gewees het…”  Sy wou geskok weet hoekom ek dan so sê?  Wel, ek het die voorhandliggende feite aan haar uitgestippel : “Eerstens hang daar oral gedroogte bossies kruie in die kombuis, buite die agterdeur sit ‘n mak, swart kraai… Ma dra meestal swart en mense noem jou selfs al “Blackie Swart”…?” Sy het gelukkig gedink ek is baie snaaks en het gesê ek het ‘n vreeslike verbeelding…

Fastforward so dertig jaar…dis winter in die Kaap en Sussie en Kleinsus sit opgewonde agter in die motor… Vandag is ‘n groot dag…want ons gaan Worcester Mall toe om ‘n movie te kyk… Dis amper die einde van die vakansie en ek het die tweetjies beloof ons gaan op ‘n outing omdat hulle so soet was die vakansie… Dis maar ‘n lang en vervelige pad en dis boonop ‘n koue, renerige dag…Skielik doem die majesteuse Heksrivier-berge voor ons op en ek roep opgewonde uit : “Kyk julle tweetjies…die Hekse is besig om sop te kook daar bo-op die berg..”

Kleinsus wil dadelik weet wat gooi hul als in hul groot, swart pot en terwyl ek begin met die laaaang lys van : “Muis-sterte, akkedis-tone, spinnekop-wekbroue, vlermui…”  hoor ek ‘n verskriklike geween hier agter die driver’s seat… Wat nou?

Sussie huilsê dat ons eerder maar moet omdraai, want sy’s baie bang vir die Hekse van die Worcester-berge…Ek voel onmiddellik vreeslik skuldig…miskien het my verbeelding hierdie keer te ver gegaan?  Ek is ‘n terrible ma…

Gelukkig kom Kleinsus tot my redding toe sy in ‘n helder stemmetjie sê:  “Liewe Heksie is nie scary nie Mamma…”